
Notas deur Gert van der Westhuizen, na aanleiding van Maria Popova se plasing, Your brain on grief, your heart on healing (25 May 2022).
Hierdie plasing van Maria Popova is ’n gesprek oor hoe ’n mens se brein reageer op verlies, hoe dit jou hart raak en hoe jy met jou lewe kan voortgaan.
Die gesprek is ’n uitnodiging aan enigeen wat verlies dieper wil verstaan en daaroor gesprek wil voer.
Sy begin haar plasing met ’n verwysing na Emily Dickinson wat geskryf het: “’n Verlore liefde word altyd betreur.” Dit gaan aan, daar is ’n sekere ongoingness. Dickinson het dit as skrywer in haar eie werk omskep in ’n leeftyd se eie ervarings en kuns waarmee sy wys dat treur mettertyd die skerp kante verloor, en dat vandag se stomp pyn met ’n verlies wêrelde verwyder is van “die eerste steek”.
Maria Popova vra in die plasing op haar webblad: Wat beteken dit om ’n liefde te verloor? En: Hoe kan studies van die brein se werking mens help verstaan hoe om met verlies saam te leef? Sy maak die stelling dat die brein, die verstand “kom na vore met ’n verlies”. Sy praat van die “skitterende materialiteit van die brein – die majestueuse katedraal van die korteks en sinapse wat elke gedagte wat ons het en elke gevoel waarmee ons lewe” vorm.
Die brein is vol paradokse – ons verloor mense voortdurend, aan die dood, aan afstand en aan verskille. Hierdie ervarings is snellers in dieselfde neurale stroombane in die brein. Dit bring seer mee, gevorm deur die nabyheid en finaliteit van die verlies.
........
Maria Popova skryf dat op grond van breinnavorsing, dit aanvaar kan word dat geen mens vir wie jy lief was, ooit volledig weg is nie.
........
Maria Popova skryf dat op grond van breinnavorsing, dit aanvaar kan word dat geen mens vir wie jy lief was, ooit volledig weg is nie. Hulle is nie meer fisies teenwoordig nie, maar hulle persoonteenwoordigheid vul die sinapse met herinneringe en verstandsgewoontes in jou brein, met ’n allesoorheersende atmosfeer en gevoel dat ons hulle nie net by ons dra nie, maar dat hulle lewe en binne ons asemhaal. Die brein word dan gelos met die taak om sy kaart van jou leefwêreld weer saam te stel. Hierdie kartering behels ’n veranderende oriëntering in tyd-ruimte, wat ’n outonome bewustheid en self-verteenwoordiging insluit.
Maria Popova bied in haar skrywe ’n fyn lees van die werk van Mary-Frances O’Connor aan. Laasgenoemde is ’n neurowetenskaplike wat die boek The grieving brain: the surprising science of how we learn from love and loss geskryf het.
Volgens O’Connor karteer die brein in-lewe-ervarings met geliefdes met baie moeite, waar hulle gelewe het en waar jy hulle kan kry wanneer jy hulle nodig het. Die brein verkies hierdie voorspelbaarheid en sukkel om nuwe inligting soos die absolute afwesigheid van ’n geliefde te ignoreer.
Hartseer is ’n hartverskeurende seer probleem vir die brein om op te los. Treur noodsaak jou om in die wêreld te lewe in die afwesigheid van die mens vir wie jy intens lief is; iemand wat geïntegreerd is in jou begrip van die wêreld. Dit beteken dat jou geliefde vir die brein gelyktydig weg is, maar ook ewigdurend is. Jy loop deur twee wêrelde gelyktydig. Jy navigeer jou lewe ten spyte daarvan dat jou geliefde van jou gesteel is, ’n aanname wat geen sin maak nie, en tegelyk verwarrend en ontstellend is.
Bogenoemde is volgens O’Connor soos om jou kaart van jou lewe weg te gooi, en tegelyk jou verhouding met jou oorlede geliefde te transformeer.
Treur is om te leer om ’n sinvolle lewe te lewe sonder jou geliefde. Treur sien jy dan as ’n vorm van leer, en leer is in elk geval iets wat jy jou lewe lank doen. Sodoende begryp mens treur as iets wat meer bekend en verstaanbaar kan wees, en dit gee jou geduld om hierdie merkwaardige proses te laat ontvou, volgens O’Connor.
Maria Popova se plasing en haar aanhalings uit O’Connor gaan oor die brein en grieving. Die Afrikaans is treur, wat te doen het met bedroefdheid, droefheid, hartseer van die treurende, die betreurde. Mens kan dan seker ook praat van die bedroefde brein, die treurende brein.
Dit is die onderskeid wat O’Connor in haar boek maak: Sien treur as die erge emosie wat jou oorspoel en geheel oorweldig soos ’n golf wat jy nie kan ignoreer nie, en sien dit as ’n proses van leer vol herhaalde/herhalende momente wat aangaan en deel is van die groter trajek van jou lewe.
O’Connor stel dit so: Gegewe die werking van die brein, is dit so dat treur nie ophou nie. Pyne van hartseer sal jy altyd ervaar. Jy sal momente ervaar waartydens dit jou sal oorweldig, selfs jare ná jy jou lewe as sinvolle en vervullende ervaring aangepas het. Jy twyfel dan of jy regtig aangepas het.
Dit help om die emosie van seer te onderskei van jou proses van aanpassing. Jy ervaar seer, al het jy vir ’n lang tyd getreur. In haar Marginalian-plasing gee Maria Popova ’n lang beskrywing van ghosting, wat volgens O’Connor ’n soort sekondêre verbeelding is, wat die term van breinnavorsers is. Mens kan dit vertaal met verlating, waar jou verstandsbeeld van iemand verkrummel het en in stukke geskeur is. Só pas jou brein aan by jou nuwe realiteit, by die onverstaanbare realiteit van verlating.
Die brein verstaan nie dat iets abstraks soos die dood kan gebeur nie, waar die oorledene is in tyd en plek en hoekom sy nie hier en naby is nie. Die brein doen ghosting en aanvaar nie dat die persoon weg is nie, maar net verwyderd. Dis ’n onlogiese begrip vir die brein. Hoe kon die persoon sonder verduideliking ophou kommunikeer met ons? Die brein verstaan dit nie.
In die fisiese hardeware van die brein het die persoon steeds ’n teenwoordigheid en dis ’n ingeboude “GPS van liefde”. Dood veroorsaak dat die GPS van liefde sy ware noord verloor. Jou brein hou aan herkalibreer, herposisioneer. Die deel van die brein wat die GPS van liefde is, kalibreer die psigologiese afstand tussen ons en die mense vir wie ons lief is voortdurend. So transformeer mens jou verhouding met jou geliefde. Dit bepaal jou verhoudings met mense en ook jou vermoë om ’n vol lewe te lei. Dit kan jou ook help om meer in aanraking of gekonnekteer te voel met ander.
Dit beteken dat jou verhouding met jou oorlede geliefde gereflekteer word in wie jy nou is, met ervarings en wyshede wat jy gekry het deur jou hartseer. Só restoureer jy jou lewe na ’n sinvolle lewe. O’Connor stel dit so:
Within the brain, every person we love leaves a tangible, structural imprint, encoded in synapses that can never be vanquished or replaced by new and different love. Because that bond – like every bond, like every idea, like the universe itself – was “only ever conjured up in the mind,” it is there too that it always lives, unassailable by other minds and other events.
Hoe nou met die noodsaak om ’n nuwe, betekenisvolle lewe te lei met jou GPS van liefde uit plek uit? Liefhê word nou ’n eienskap van jou, ongeag met wie jy dit deel en ongeag wat jy in ruil daarvoor kry. Dis ’n transendente ervaring, ’n ervaarde belewing van liefgehê wees sonder om enigiets in ruil daarvoor te kry.
In the very best moments together, we learned to love and to be loved. Because of our bonded experience, that loved one and that loving are a part of us now, to call up and act on as we see fit in the present and the future.
Jy kan daarom die gevolgtrekking maak: Jou verhouding met jou oorlede geliefde het jou gemaak wie jy nou is. Wanneer jy dan aanbeweeg, is ’n vervullende verhouding een wat verskillend en meer sinvol en volhoubaar is as tevore.
- Notas deur Gert van der Westhuizen in sy hoedanigheid as treurende en gesprekvoerder. Sy vrou Leonie is op 28 Maart 2023 oorlede ná ’n klipaanval vir haar selfoon in Gugulethu, Suid-Afrika.
Lees ook:


Kommentaar
Dankie hiervoor.
Gert, Anita Moorjani het ‘n boek getiteld ‘Dying to be Me’ geskryf. Die narratief is anders, maar uiteindelik blyk dit dood en geestelike groei loop hand aan hand. As dit nie ‘groei’ is nie, lei die belewenis minstens tot diepe introspeksie en selfs ‘wysheid’. Kyk gerus op YT hoe sy haar verhaal en insig deel.
https://youtu.be/T2XGZmPX-0g?si=38ZNN2YrZJq5aWGN
Goeie stukkie werk, Gert! Jou persoonlike ervaring is tasbaar daarin.