Desmond Tutu: Suid-Afrika se gewete tydens en ná apartheid

  • 1

Desmond Tutu in 2007 by die Deutscher Evangelischer Kirchentag in Keulen (Foto: Elke Wetzig; gebruik ingevolge die Creative Commons-lisiensieooreenkoms)

Met die dood van Desmond Mpilo Tutu, Suid-Afrika se laaste oorlewende wenner van die Nobel-vredesprys, het Suid-Afrika die laaste groot leier uit die geslag van Nelson Mandela verloor wat teen apartheid geveg het.

Met Tutu se afsterwe verloor die land ’n morele kompas wat ewe onverskrokke geveg het teen die vergrype van die Nasionale Party as teen die korrupsie en wanbestuur van die ANC.

.......

Met Tutu se afsterwe verloor die land ’n morele kompas wat ewe onverskrokke geveg het teen die vergrype van die Nasionale Party as teen die korrupsie en wanbestuur van die ANC.

........

Sy ouma het hom destyds die naam Mpilo gegee wat “lewe” of “goeie gesondheid” beteken. Maar as kind het dit nie gelyk of hy ’n danig lang lewe sou hê nie – hy het  tering gehad en twee jaar in ’n hospitaal deurgebring. Maar sy ouma se wens het waar geword: hy het nie net gesond geword nie. Jare der jare is by sy roemryke lewe gevoeg en hy het as’t ware die gewete van die ou én die nuwe Suid-Afrika geword voordat hy die afgelope Sondag, die dag na Kersfees, op 90-jarige ouderdom oorlede is.

........

Tutu was baie meer as net ’n vegter teen apartheid. Na die apartheidsjare het hy net so hard teen die ANC se magsvergrype geveg as teen apartheid. By geleentheid het hy gewaarsku dat die ANC met dieselfde ywer en vasberadenheid uit die kussings gelig sal word as die apartheidsregering indien die party nie tot inkeer kom nie.

..........

Tutu was baie meer as net ’n vegter teen apartheid. Na die apartheidsjare het hy net so hard teen die ANC se magsvergrype geveg as teen apartheid. By geleentheid het hy gewaarsku dat die ANC met dieselfde ywer en vasberadenheid uit die kussings gelig sal word as die apartheidsregering indien die party nie tot inkeer kom nie. Suid-Afrikaners sal bid vir die ondergang van die ANC soos wat hulle met die apartheidsregering gedoen het, het hy in 2011 gesê toe die ANC-regering nie ’n visum aan sy vriend die Tibettaanse geestelike leier, die Dalai Lama, wou toestaan nie.

"Ons sal bid soos ons gebid het vir die ondergang van [die] apartheidsregering, ons sal bid vir [die] ondergang van ’n regering wat ons wanvoorstel."

Hy het gesê die ANC het wel ’n groot meerderheid, maar ook die voormalige Egiptiese president Hosni Mubarak en die voormalige Libiese leier Muammar Gaddafi het dit gehad, en albei is in volksopstande omvergewerp. “Pasop. Ek waarsku julle. Pasop."

Sy woorde is weliswaar nie in sy leeftyd vervul nie. Die afgelope munisipale verkiesingsuitslae, waar die ANC vir die eerste keer sedert 1994 minder as 50% van die stemme kon kry, was egter ’n bevestiging dat Tutu se woorde inderdaad profeties was en nie net leë woorde nie.

Net so hard soos wat hy gewerk het om van apartheid ontslae te raak, het hy gewerk om die stigma van alle soorte homofobie en seksuele vooroordele te beëindig en hom teen die skending van LGBTI-regte regoor Afrika uitgespreek.

Uiteindelik is 50 eredoktorsgrade van regoor die wêreld aan hom toegeken (onder andere van Harvard, Oxford, Cam­bridge, Columbia en Pretoria).

Tutu is in 1931 in Klerksdorp gebore. Hy is as onderwyser opgelei en het ’n paar jaar skoolgehou voordat hy die roeping om priester in die Anglikaanse Kerk te word, ontvang het. Ná sy teologiese opleiding in Johannesburg en Londen het hy akademiese poste aan die Federal Theological Seminary (Fort Hare) en die Universiteite van Botswana, Lesotho en Swaziland beklee, voordat hy as mededirekteur van die teologiese-opleidingsfonds van die Wêreldraad van Kerke na Enge­land verhuis het.

In 1975 was Tutu terug in Suider-Afrika, waar hy tot 1994 vreesloos teen apartheid geveg het.

In ’n onderhoud wat Frits Gaum in 2001 vir Kerkbode met hom gevoer het toe hy 70 geword het, wou Gaum van hom weet waaroor hy die dankbaarste is as hy oor die sewe dekades terugkyk.

“Dat ons vry geword het. Dat ons ’n ’normale’ land geword het – met baie probleme, ja, maar ons is nie meer ’n abnormale samelewing met eersteklas- en tweedeklas- en derdeklas-mense nie. Waaroor ek in my lewe die blyste was? Dalk was dit die dag toe ek die eerste keer pa geword het. Dit was vir my ’n absolute wonderwerk. Ek het so ’n bietjie soos God gevoel – en dit ís mos so – God laat ’n mens toe om medeskepper te wees, om lewe voort te bring.”

Op die vraag waaroor hy die jammerste is, het Tutu gesê: “Dat dit vir baie mense in ons land so lank gevat het om te verstaan wat dit beteken om méns te wees. Te lank het miljoene mense in ons land hulleself nie regtig beskou as volledige mense nie, hulle het minderwaardig gevoel … Madiba sou dalk nie gewees het wat hy is as dit nie vir die 27 jaar in die gevangenis was nie. Ons moet wag dat die volheid van die tyd aanbreek. Maar vir baie van ons was dit so lank, te lank,” het hy 20 jaar gelede aan Gaum gesê.

Dit was nie net Tutu se politieke oortuigings wat by baie Suid-Afrikaners omstrede was nie. Sy teologie was in baie kringe ewe omstrede.

Op ’n vraag of Jesus na sy mening die enigste weg na God is, het hy geantwoord Christus is volgens hom die hoogtepunt van God se openbaring aan die mens.

“Maar dit is nie vir my om te sê dat Hy die enigste weg na God toe is nie. Hoe kan ek weet wat God se besluit is? Maar Christus is uniek, die hoogtepunt van die maniere waarop God met mense kommunikeer.”

By ’n ander geleentheid is hy skerp gekritiseer toe hy gesê het iets is nie noodwendig die waarheid net omdat dit in die Bybel staan nie.

“Dit is dalk ’n optog van getroue mislukkings wat die grond van goddelike sukses verryk. Getroue optrede is nie godsdienstige dade nie. Dit is nie eers nodige aksies wat deur mense van geloof onderneem word nie. Getroue aksies, of dit nou gekenmerk word deur sukses en of hulle eindig in mislukking, is aksies wat deur goedheid gedwing word,” het hy gesê.

Die afsterwe van aartsbiskop emeritus Desmond Tutu is in die woorde van president Cyril Ramaphosa  nog ’n hoofstuk van rou in ons land se afskeid van ’n generasie uitstaande Suid-Afrikaners wat ons ’n bevryde Suid-Afrika gemaak het.

Een van Tutu se grootste kenmerke was, behalwe sy strewe na geregtigheid en uitsonderlike humorsin, sy vermoë om grense oor te steek. Hy het ’n uitsonderlike vermoë gehad om met mense van ander gelowe, seksuele oriëntasies en politieke agtergronde bande te smee en respek by hulle af te dwing.

.........

Een van Tutu se grootste kenmerke was, behalwe sy strewe na geregtigheid en uitsonderlike humorsin, sy vermoë om grense oor te steek. Hy het ’n uitsonderlike vermoë gehad om met mense van ander gelowe, seksuele oriëntasies en politieke agtergronde bande te smee en respek by hulle af te dwing.

...........

Die Dalai Lama  het dit Sondag in sy huldeblyk aan die Tutu-familie beaam. Hy het gesê een van Tutu se grootste kenmerke was, behalwe sy strewe na geregtigheid oor grense heen, sy uitsonderlike humorsin en sy vermoë om oor grense heen te kon beweeg.

Tutu was geheel en al toegewyd daaraan om sy broers en susters vir die groter gemeenskaplike belang te dien.

Hy was ’n ware humanitêre en toegewyde voorstander van menseregte. Sy werk vir die Waarheid-en-Versoeningskommissie was ’n inspirasie vir ander regoor die wêreld.

.........

Hy was ’n ware humanitêre en toegewyde voorstander van menseregte. Sy werk vir die Waarheid-en-Versoeningskommissie was ’n inspirasie vir ander regoor die wêreld.

........

“Met sy heengaan het ons ’n groot man verloor wat ’n werklik betekenisvolle lewe gelei het. Hy was toegewyd aan die diens van ander, veral diegene wat die minste bevoorreg is. Ek is oortuig daarvan dat die beste huldeblyk wat ons aan hom kan bring en sy gees mee aan die lewe kan hou, is om te doen soos hy gedoen het en voortdurend te kyk hoe ons ook ander tot hulp kan wees,” het die Dalai Lama, ’n goeie vriend van Tutu, gesê.

Die laaste biografie oor Tutu, en een enig in sy soort (met ’n voorwoord deur die Dalai Lama en ’n nawoord deur Tutu self), Desmond Tutu – a spiritual biography of South Africa’s confessor, is vroeër vanjaar deur Naledi uitgegee.

Hierdie boek toon die innerlike landskap van Tutu se spiritualiteit, die mistieke begronding wat syne aangespoor het.

Die boek stel lesers bekend aan Tutu se geestelike lewe, sy gebedslewe en sy geestelike praktyke. Dit ondersoek ook sy verbintenis tot herstellende geregtigheid en versoening. Dit wys hoe ’n lewende legende se lewe ons in hierdie tye kan lei.

In hierdie laaste boek oor Tutu word hy beskryf as ’n deurslaggewende leier van die anti-apartheidsbeweging in Suid-Afrika en ’n geliefde en belangrike embleem van vrede en geregtigheid regoor die wêreld.

Selfs diegene wat nie die belangrikste gebeurtenisse van Tutu se lewe ken nie, erken hom as ’n charismatiese politieke en godsdienstige leier wat gehelp het om die grondslag te lê vir die herstel van ’n land wat verwoes is deur ontmensliking gekenmerk deur beleide en praktyke deur mense wat hulself Christene genoem het.

Desmond Tutu – a spiritual biography of South Africa’s confessor kan hier by Naledi bestel word.

Lees ook:

Uit die argief: Die hoop wat Desmond Tutu se Nobel-vredesprys vir Suid-Afrika gebring het

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Annora Eksteen

    "Net so hard soos wat hy gewerk het om van apartheid ontslae te raak, het hy gewerk om die stigma van alle soorte homofobie en seksuele vooroordele te beëindig en hom teen die skending van LGBTI-regte regoor Afrika uitgespreek."

    Dit inderdaad was vir my baie wonderlik - ook oor sy dogter toe met 'n vrou getrou het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top