Die hoop wat Desmond Tutu se Nobel-vredesprys vir Suid-Afrika gebring het

  • 0

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het in Oktober vanjaar 90 geword. Raymond van Diemel roep die toekenning van die Nobel-vredesprys in 1994 aan Tutu in herinnering.

Desmond Tutu in 2007 by die Deutscher Evangelischer Kirchentag in Keulen (Foto: Elke Wetzig; gebruik ingevolge die Creative Commons-lisiensieooreenkoms)

Die gevolg van hierdie Nobel-vredesprys is dat dit nuwe hoop gebring het in die harte van talle mense.
– Desmond Mpilo Tutu, Oslo, 12 Desember 1984

Suid-Afrika is voorwaar geseënd met legendariese figure wat met hul soeke na reg en geregtigheid nie net die bewondering van Suid-Afrikaanse burgers aangegryp nie, maar ook van mense regoor die wêreld.

Mense soos vader Trevor Huddleston, Beyers Naudé, Charlotte Maxeke, Abraham Fischer, Lilian Ngoyi, Chris Hani, Winnie Mandela, Albert Luthuli en Nelson Mandela, om maar net ’n paar te noem. Daar is talle ander. Sulke legendariese individue is terdeë bewus van hul roeping in die lewe en smag nie na erkenning of mag nie. Inteendeel, hul word gedryf deur hul plig om die mensdom te dien, al bedreig dit hul veiligheid of kos dit hul lewe.

Hierdie figure se lewens openbaar die hoogste graad van integriteit en daar is by hulle geen haat of wraakgierigheid te bespeur nie. Dit is daarom vanselfsprekend dat Desmond Tutu (hierna met agting soms na verwys as Tutu) in hierdie uitgelese geselskap van diensbare leiers behoort.

Maar wie is Desmond Tutu? Hoe het hy van onderwyser gevorder tot wenner van die Nobel-vredesprys? Waarom is hy deur die Noorweegse Nobelkomitee as ’n vredemaker gekies? Wat was die grondslag van sy toespraak tydens die aanvaarding van die Nobelprys? Antwoorde op die vrae word in dié artikel bespreek.

’n Vegter vir vrede, versoening en waardigheid

Daar is godsdienstige mense wat wil weet waarom biskoppe politieke kwessies aanspreek terwyl dit hul roeping is om oor verlossing te praat. Sulke mense het egter ’n eng siening – werk met ’n vals digotomie. Diegene wat enigiets van Desmond Tutu weet, sal besef dat hy geensins in kompartemente geplaas kan word nie. ’n Raak beskrywing van hom is dat hy tegelykertyd predikant, pastoor, teoloog, geskiedkundige, opvoedkundige, sowel as ’n aktiewe burger is – en hy is volkome vaardig in elke sfeer. Sy godsdiensuitlewing en -filosofie, asook die menseregtewaardes wat deur hom voorgestaan word, word weerspieël in sy preke, sy openbare toesprake en in boeke.

Een skrywer meen dat wyle Trevor Huddleston se eerbiedige aktivisme geïnspireer is deur ’n jong Tutu se strewe na geregtigheid in sy geboorteland. Huddleston was ’n Britise predikant en een van die eerste godsdiensleiers wat betrokke geraak het in die opstand teen apartheid in Suid-Afrika. Die tydperk tussen 1960 en 1980 was belangrike vir Suid-Afrikaners in die stryd vir menseregte en demokrasie. In hierdie belangrike tyd het Tutu verskeie posisies in die kerk en die openbare lewe beklee. In sy rol as sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (hy is in 1978 aangestel) het hy die wit minderheidsregering van die Nasionale Party erg gekritiseer – plaaslik sowel as internasionaal. Hierdie kritiek het daartoe gelei dat sy paspoort twee keer gekonfiskeer is. Ten spyte hiervan het hy in 1981 die status as hoogwaardigheidsbekleër tydens ’n besoek aan die VSA en Europa ontvang. Hy het Kurt Waldheim, die destydse sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), ontmoet, en het ook die VN se Spesiale Komitee teen Apartheid toegespreek. In Brittanje het hy besoek afgelê by Robert Runcie, die aartsbiskop van Kantelberg, wat hom genooi het om in Westminster Abbey te preek. In Rome het hy ’n paar minute met pous Johannnes II deurgebring.

In 1983 is hy as die beskermheer van die United Democratic Front (UDF) aangestel. Tutu se meedoënlose aanvalle op die Suid-Afrikaanse regering in ’n tyd van “totale strategie teen totale aanslag” het hom verdere nasionale en internasionale erkenning as ’n belangrike en bekwame leier besorg. Sy aanstelling as biskop van Johannesburg in 1984 het konflik in die Anglikaanse kerk veroorsaak, met talle wit lede wat al hoe meer ongemaklik met sy uitgesprokenheid begin raak het (Albeldas en Fischer, 1987).

Afrika se biskop van vrede

Die dag van 5 Oktober 1984 was ’n betekenisvolle dag in die lewe van Tutu en Suid-Afrika. Dit was die dag toe die wêreld verneem het dat die Nobelkomitee besluit het om die Nobel-vredesprys vir 1984 aan hom toe te ken.

Die Nobelkomitee het groot waarde geheg aan Tutu se versoenende leierskapsrol in die veldtog teen apartheid in Suid-Afrika. Met dié prys het die komitee gehoop om die aandag direk toe te spits op die niegewelddadige vryheidstryd wat Tutu voorgestaan het – ’n stryd waarin swart en wit Suid-Afrikaners saamstaan om die land te verlos van die konflik en krisis waarin dit verkeer. Verder moes die toekenning gesien word as hernude erkenning vir die moed en heldhaftigheid van swart Suid-Afrikaners om vreedsame metodes te gebruik in die stryd teen apartheid. Hierdie erkenning was ook gemik op almal dwarsoor die wêreld om vreedsame metodes te gebruik in die veldtog vir rassegelykheid as deel van elkeen se menseregte. Met die toekenning van die Vredesprys aan Desmond Tutu het die Nobelkomitee gehoop dat dit nie slegs gesien moes word as ’n gebaar van steun vir Tutu en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, wie se leier hy was nie, maar dat dit ook gesien sal word as steun aan alle individue en groepe in Suid-Afrika wat met hul sin vir waardigheid, broederskap en demokrasie die bewondering van die wêreld aangegryp het.

Hoop vir die toekoms

Desmond Tutu (Foto: Dale Frost, Port of San Diego; foto gebruik ingevolge die Creative Commons-lisiensieooreenkoms)

Op Maandag 10 Desember 1984 het ’n bomdreigement die seremonie waar Tutu die Vredesprys sou ontvang, vir byna anderhalfuur onderbreek. ’n Naamlose persoon het ’n Oslo-koerant met die bomdreigement gebel. Die polisie het die Oslo-universiteitsaal waar die seremonie gehou sou word, ontruim en koning Olaf, biskop Tutu en honderde gaste gevra om buite te wag terwyl snuffelhonde en spesialiste die saal vir die bom deursoek het. Gelukkig is geen plofstowwe gevind nie. Buite die Oslo-universiteit se Aula-saal, op dié vars, sonnige dag, geklee in ’n pers toga en boordjie, het Tutu aan die ander hoogwaardigheidsbekleërs en gaste gesê dat die bomdreigement “wys hoe desperaat diegene raak wat teen vrede en geregtigheid is” (New York Times, 1984).

Egil Aarvik, voorsitter van die Nobelkomitee, se reaksie was dat “ons eenvoudig die bomdreigement ernstig moes opneem”. Hans Beukes, ’n uitgeweke Namibiër wat sedert die vroeë 1960’s in Noorweë woon, het die geleentheid met sy twee seuns bygewoon. Hy het my vertel dat hy die Noorweegse Koning hoor sê het dat “geen prys oorhandig moet word voordat hy nie na die seremonie teruggekeer het nie”.

In sy wysheid het Tutu die waarde en inspirasie in ’n Afrika-lied gesien as die gepaste inleiding tot sy toespraak. Dit is juis die verbintenis van sang tydens protesoptogte teen verdrukking en ongeregtigheid wat steeds diep aanklank vind in talle Afrika-kulture. Hier was dit die alombekende Christen-lied met die Xhosa-titel “Ma Sibulele kuYesu” (’n dankseggingslied aan Jesus) wat Tutu, sy gesin en hul geselskap in die Aula-saal opgevoer het. Ondanks die streng konvensies en protokol van die seremonie, is die lied warm toegejuig.

Met al die aandag op hom gevestig – en met ’n glinstering in sy oog, sy kop gevul met geestelike krag – het Tutu die “mag van die preekstoel” ten volle benut (Binfield 1999). Hy het verwys na die “geweldige aantal gelukwense van staatshoofde, wêreldleiers van die Christelike geloof, asook ander gelowe. Maar dat gelukwense van die regering van die Sowjetunie en van Suid-Afrika in hul afwesigheid geskitter het.” Hy het daarop klem gelê dat die wêreld in ’n wurggreep van moedeloosheid is en dat sy Nobelprys vars hoop bied aan ’n wêreld waar talle mense in hopeloosheid verval weens lyding, siektes, armoede, hongersnood, verdrukking, onregverdigheid, boosheid en oorlog:

’n Wurggreep wat baie laat wonder of God enigsins omgee; of Hy almagtig is; of Hy regtig liefdevol en deernisvol is. Die nood in die wêreld is erg en desperaat. Die wêreld verkeer in so ’n verskriklike gemors dat dit byna voldoende bewyse is dat ’n goeie en magtige en liefdevolle God – een wat die Christendom en ander gelowe sê hul in glo – glad nie kan bestaan nie. En indien Hy wel bestaan, kan Hy nie ’n God wees wat regtig baie omgee oor die lot van sy skepping of die wêreld waarin hulle hul bevind nie. Dit wil voorkom asof ons so vyandig is teenoor ander se aspirasies dat ons as onmenslik voorkom.

Nie iemand wat wegskram van ’n grap of twee nie, het Tutu vertel van die keer toe hy by ’n vriend in Engeland gekuier het. “Ek het op ’n snaakse spotprentboek afgekom met die titel My God.” Een spotprent was van God wat gebombardeer word met gebede en smekinge van mense op aarde. God se reaksie hierop was: “Ek wens ek kon sê moenie my bel nie, ek sal julle bel.” Nog ’n spotprent het verklaar: “Skep in ses dae, wees vir spyt vir ewig.” Tutu se gunsteling was die spotprent van ’n ietwat troostelose God wat sê: “O wêreld, ek dink ek het my afskrif van die Goddelike Plan verloor.”

Tutu het hierna teruggekeer na sy toespraak en gesê dat “die gevolg van hierdie Nobel-vredesprys is dat dit nuwe hoop gebring het in die harte van talle mense”:

Aan die ma wat moet kyk hoe haar kind honger ly in ’n hervestigingskamp in ’n Bantoestan-tuisland; of een wie se dun, plastiekbedekking deur die owerhede in die KTC-plakkerskamp in Kaapstad afgebreek word. Aan die man – reeds ontman deur die paswette – wat vir elf maande in ’n manshostel moet woon. Aan die student wat ’n minderwaardige opvoeding ontvang. Aan die aktivis wat kwyn in ’n konsulaat of in eensame afsondering in ’n sel, en wat gemartel word omdat hy gedink het hy is ’n mens en dat hy ’n Godgegewe reg het op erkenning. Aan die uitgewekene wat daarna smag om weer die grond van haar geliefde moederland te soen. Aan die politieke gevangene wat die dae van sy lewenslange tronkstraf sien verbygaan soos ’n kraan wat drup – in die tronk omdat hy weet hy is deur God geskape, en dat hy nie verdien om in die tronk te wees waar sy waardigheid en trots vertrap word nie.

Tutu het die stryd in Suid-Afrika verweef met die stryd in ander lande, en die gehoor verseker dat

’n nuwe hoop aan die brand is in die binneste van miljoene wat stemloos is, onderdruk, onteien en gemartel word deur die magtige onderdrukkers wat nie oor die basiese menseregte-eienskappe beskik nie. Verdruktes in Latyns-Amerika, Suidoos-Asië, die Verre Ooste en in baie dele van Afrika, en agter die Ystergordyn, wie se neuse gereeld in die grond gevryf word.

Hoe wonderlik, hoe gepas dat hierdie prys vandag oorhandig word – op 10 Desember – Menseregtedag. Meer as enigiets anders sê dit op gepaste wyse dat hierdie God se wêreld is en dat Hy in beheer is. Dat ons saak ’n regverdige saak is, dat ons menseregte sal kry in Suid-Afrika en in die res van die wêreld. Ons sal vry wees in Suid-Afrika en in die res van die wêreld.

Tutu het afgesluit met ’n dankbetuiging aan die Nobelkomitee:

Ek wil aan die kerke in Noorweë en oral in die wêreld dankie sê vir hul ondersteuning, hul liefde en hul gebede. Namens diegene vir wie julle ’n nuwe hoop gegee het, ’n nuwe rede vir vreugde, wil ek hierdie toekenning aanvaar in ’n heilige en verteenwoordigende hoedanigheid. Ek aanvaar hierdie gesogte toekenning namens my familie, namens die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, namens almal in my moederland, namens almal wat toegewyd is tot die saak van geregtigheid, vrede en erkenning, waar ook al. As God vir ons is, wie kan teen ons wees?

Ten slotte

Die Vredesprys het ongetwyfeld Tutu se internasionale aansien as vredemaker bevestig. Dit het die wêreld se aandag aangegryp en aan Suid-Afrikaners ’n gevoel van hoop gegee. Die breë mediadekking het Tutu tot die lewende simbool van die vryheidstryd verhef, iemand wat die lyding en verwagting van die verdrukte Suid-Afrikaners kon verwoord. Daar is talle aanduidings dat Tutu se Vredesprys talle lande gedwing het om kennis te neem van die verwoestende gevolge van apartheid. Sy toespraak het die pad oopgemaak vir ’n beleid van strenger sanksies teen Suid-Afrika in die 1980’s. Sy aanvaardingstoespraak was die vonk vir wat uiteindelik in 1990 die eens magtige apartheidsregering uit die kussings gelig het. In 1994, ’n dekade nadat Tutu die Nobel-vredesprys ontvang het, is die eerste demokratiese regering in Suid-Afrika verkies.

 

Bibliografie

Albeldas, M en A Fischer. 1987. A question of survival: conversations with key South Africans. Johannesburg: Jonathan Ball, ble 139–47.

Allen, John (red). 1994. Archbishop Desmond Tutu: The Rainbow People of God: South Africa's victory over apartheid. Londen, VK: Transworld Publishers.

Binfield, C. 199. The cross and the city, Essays in commemoration of Robert William Dale, 1829–1895. Cambridge, Brittanje: URC History Society, ble 43–54.

Chidester, David. 1992. Shots in the streets: violence and religion in South Africa. Kaapstad: Oxford University Press.

Crawford-Browne, Lavinia en Piet Meiring (reds). 2006. Tutu as I know him: On a personal note. Pretoria: Umuzi.

Crompton, SW. 2007. Desmond Tutu: fighting apartheid. New York, Chelsea House Publishers.

De Gruchy, John. 1997. Grappling with a colonial heritage: the English speaking churches under imperialism and

apartheid. In Richard Elphic en Rodney Davenport (reds), Christianity in South Africa: a political, social and cultural history. Kaapstad: David Philip, ble 155–72.

Haron, M. 2014. Peace profile, Desmond Mpilo Tutu. A Journal of Social Justice, 26(4): Issue 1. 578-586.

Heffermehl, FS. 2010. The Nobel Peace Prize, what Nobel really wanted. Santa Barbara, California, Praeger.

Hulley, Leonard, Louise Kretzschmar en Luke Lungile Pato (reds). 1996. Archbishop Desmond Tutu: prophetic witness in South Africa. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lown, B. 1986. Nobel Peace Prize Lecture. The New England Journal of Medicine. 314:985-987.

Lubbe, Gerrie. 1996. Living in Multifaith South Africa. In Hulley ea (reds), Archbishop Desmond Tutu: prophetic witness in South Africa. Kaapstad: Human & Rousseau.

Sparks, Allister en Mpho Tutu. 2011. Tutu: the authorized portrait. Doug Abrams (red). Johannesburg: Pan Macmillan.

Tutu, Desmond. 1994. “Let us celebrate our diversity”. In Gerrie Lubbe (red.), A decade of inter-faith dialogue. Johannesburg: South African Chapter of World Conference.  

Villa-Vicencio, Charles. 1996. Tough and compassionate: Desmond M Tutu. In Hulley ea (reds), Archbishop Desmond Tutu: prophetic witness in South Africa. Kaapstad: Human & Rousseau, ble 36–48.

Walshe, Peter. 1997. Christianity and the anti-apartheid struggle: the prophetic voice within the divided churches. In Richard Elphic en Rodney Davenport (reds), Christianity in South Africa: a political, social and cultural history. Kaapstad: David Philip, ble 383–99.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top