Die week in woorde
Idees vir gedigte lei ’n mens soms na water waar daar (opwindende) onrus is. Ek wou vroeër die week in die eerste reël van ’n gedig ’n uitspraak oor Darwin maak – meer gebaseer op oulike alliterasie as op enige feite. Maar goeie dogter van ’n wetenskaplike wat ek is, besluit ek toe om eers net seker te maak of Darwin wel ’n ding-wat-met-’n-d-begin was.

Ek besit net twee boeke wat enigsins iets met Darwin te doen het – en nie een van die twee is On the Origin of Species nie. Die eerste is ’n boek oor bekende wetenskaplike navorsingsekspedisies wat ek aangeskaf het omdat die illustrasies daarin potensiaal getoon het om mooi muurpapier te maak. Daar is wel heelwat feite oor Darwin se reis op die Beagle, maar nie die tipe goed wat mens veel insig in sy persoonlikheid gee nie. Meer nuttig was ’n gedeelte van ’n boek getiteld The Little Big Book of Love – Journals, Letters, Literature, Poetry, Recipes and Songs. Hierin is (buiten die genoemde literatuur, liedjies en resepte) ’n gedeelte van Darwin se dagboek afgedruk waarin die groot naturalis à la Hamlet worstel met ’n groot vraag: "This is the question – Marry – Not Marry." Onder die twee opsies lys hy dan heel saaklik ’n klomp voordele en nadele van elke uitweg – voordele van die huwelik, wat dinge insluit soos: "Home and someone to take care of house; Charms of music and female chit-chat". Die voordele van die enkelloper se lewe is onder andere "Conversation of clever men at clubs" en dat ongetroude mans (blykbaar) meer geld het om op boeke te spandeer.
Darwin se vergelykende studie van die getroude en ongetroude lewe is vandag veral tersaaklik omdat dit Skrikkeldag is, en ek (as lid van die geslag wat geassosieer word met musiek en die sjarme van vroulike geselsies) die rare geleentheid het om iemand (hopelik iemand wat intelligente geselskap kan maak in ’n klub) te vra om te trou.

Maar trou is, helaas, nie perde koop nie. En in die geval van baie digters, nog veel minder. Daar is heelwat digters wat famously nooit tot trou gekom het nie: Keats en Emily Dickinson is twee voorbeelde wat onmiddellik klokkies lui (nie trouklokke nie – die teenoorgestelde tipe). Ander trou en sukkel dan. Kyk nou maar na die tragiese verhaal van Ted Hughes en Sylvia Plath wat in sulke pynlike fragmente opgeteken is in Birthday Letters. Margaret Atwood het verkies om na die mislukking van haar eerste huwelik eerder nie weer te trou nie – sy en Graeme Gibson het ’n permanente verhouding (en ’n kind) wat suksesvol skyn te wees, ten spyte van die feit (of dalk vanweë die feit?) dat sy nooit soos ’n sjiek meringue aangetrek het en trou gesweer het aan die liefde van haar lewe nie.
So is die Atwood-opsie die enigste manier om langtermyn-sukses op romantiese front te verseker?
My soektog na voorbeelde van voordelige en nadelige huwelike het my gelei na die storie van Mary Jo Salter en Brad Leithauser (beide digters) wat dit reggekry het om (a) te trou en (b) getroud te bly terwyl hulle (c) ook saam werk. Moderne sprokiesverhaal, onwaarskynlike wonderwerk, of gelukkige wenners van die liefdes-Lotto? Wie sou kon sê?

Ek het wel nog ’n paar uur oor om die groot besluit te maak. As ek dus in die volgende weke stil is, is ek óf op honeymoon óf besig om met die werklikheid van my ewigdurende allenigheid te deal.
Of dalk net by die Woordfees.
Groete, for better or worse en 'til death do us part.
Bibi
Voorgeskrewe leesstof
Vir alle ander wat dit ook oorweeg om die knoop deur te haak, of verskonings soek om dit eerder nie te doen nie, hier is ’n klomp gedigte as voorgeskrewe leesstof. Dis ’n veilige manier om die water te toets, sonder enige langtermyn commitment.
"I Married You" deur Linda Pastan
"The Elephant is slow to mate" deur DH Lawrence
"Failing and flying" deur Jack Gilbert
"This Was Once a Love Poem" deur Jane Hirshfield
"I May After Leaving You Walk Quickly or Even Run" deur Matthea Harvey
"One art" deur Elizabeth Bishop
"Why you should never love a poet is because" deur Richard Higgs
Gaan soek ook Finuala Dowling se gedig "The Falling Feeling" en Ingrid de Kok se "I married early, I married late" (uit Other Signs).
Met ander (se) woorde
Ek het op hierdie aanhaling afgekom van Brad Leithauser, oor skrywerskap:
"The goal of a writer is to get into a state of productive self-pity."
Ek besluit nog of ek saamstem.
En hierdie een oor die huwelik, die digkuns en deadlines, uit hierdie nuusberig:
A successful poet, it seems – and, dare we add, a successful marriage – must combine the thrill of the deadline moment, with a major commitment over the long haul.
Poësie in die nuus
Ronelda Kamfer word vanjaar met ’n KKNK Afrikaans Onbeperk-toekenning vir ’n jong stem vereer. Lees Alfred Schaffer se artikel oor haar digkuns hier.
Gedigte op LitNet
Lees gerus al die inskrywings vir ons vertaalkompetisie wat vandag (op Skrikkeldag) sluit.
Perfekte Lig deur Marietjie Botes
Spieël deur Tilla Diedericks
29 Februarie 1958 deur Rene Annandale
Tulpe deur René Bohnen
Rooi deur Helize van Vuuren
Wilde saad deur Elza Smal
Ariël deur Paula Hartzenberg
Kind deur Adriaan Coetzee
Tulpe deur Paula Hartzenberg
Kind deur Taki
Epifanie deur Waldemar Gouws
Die repiesmat deur Karlien van der Merwe
Die seevaart deur Ilze Brüggemann
Pasop deur Vidette Zeeman
Supermark in Hillbrow deur Bruno Andries
Laaste brief deur Johann de Lange
Kneusplek deur W Miles.
Daar is ook ’n nuwe gedig deur Pieter Odendaal wat deel vorm van sy optrede by die Woordfees, Transkripsie. Lees ook my onderhoud met Pieter hier.

