Meiose

  • 0

Ek wil hierdie geleentheid graag gebruik
om jou DNS te bedank
vir sy pragtige selfvertalings,
die selle wat vergader
om jou te bou,

die hoë konsentrasie melanien
wat jou oë spoelklippe maak,
die keratien wat hier
en daar haartjies kweek,
jou porieë wat bedwelmend
fluister, hul asems hoendervleis.

Laat ek dan ook sommer nou
jou bene bedank vir hulle ondersteuning –
sonder hulle sou jou spiere nie soos druiwe
in die wingerd van jou lyf kon hang nie;
en jou tendons, daardie onvolprese kabels,
wat jou bewegings glad laat geskied

en my snags sleg laat slaap:
die ritme van jou stap,
die grammatika van jou ver, ver hande
en die wegdraai van jou gesig
soos die laaste reël van ’n gedig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top