Vertaalkompetisie: Die repiesmat

  • 0

Iemand het een gemaak. Jy het dit bewonder.
Daarom dat jy jou eie klosmat begin ryg het.
Dit was nodig. Helder belig deur weerlig
Moes jy jou aan dit wat aards was, bind. ’n Gedagte. Miskien
Het jy dit nodig gevind om iets streepsgewys uit jouself te ryg –
’n Soort lintwurm van die onderbewuste. Ek was daarmee
Tevrede om jou skêr dop te hou terwyl dit, vreesloos,
Jou ou wolrokke versnipper het,
Jou uitgediendes, eenmaal so kosbaar,
Tot verbande. Donker diepaar-bloed,
Affodilgeel. Jy het dit
Tot tou gevleg. Dit saamgeknie
Tot ’n lewende, kleurige adder
Wat resussiteer uit die katakombe
Van jou klerekas. Soos grafdoeke
Van mummies en andersoortiges. Jy het gebuig
Soos ’n  pottebakker
Oor die wentelende skyf met jou weelderige toutjiesmat
Die wenteling al wyer,
Tastend na die buiterand van ’n  musikale klank –
Die tonge van los drade flits
Versprei ’n fuga uit die spilkatrol
Van jou vingerpunte. Dit kalmeer jou,
Skep die serpent wat aftol in ’n mat. En die mat
Lig ons uit, met die kronkel en terugkartel,
Tot buite die bloedkamer van ons hartsiek dae.
Dit bevry my. Dit bevry jou
Om alledaags amper-doenig te bly.
Wanneer jy mat gemaak het was ek gelukkig.
Ek kon dan Conrad se novelles aan jou voorlees.
Ek kon jou bevryde gedagtes bakhand,
Hoofstuk op hoofstuk, sin na sin,
Woord vir woord: The Heart of Darkness,
The Secret Sharer. Ek kon voel hoedat
Jou vingers my woorde liefkoos, uur na uur,
Terwyl hulle die slang se veelkleurige reënboog saamstrengel.
Ek was die slangbesweerder – my stem
Strelend oor die saamgestrengelde krulle.
Jy het iets dieper as ons verse opgediep.
’n Begrip soos van die twee pole van ’n gekraakte magneet.

Ek onthou
Ons lang karmosyn-skadu-aande
Soos die asem-ophou-oomblikke voor ’n kameraskoot
Soos asof ek jou hand in myne hou
Om ’n valk aan te raak voordat dit opswiep.

Later (nie veel later nie)

Het jy ? jou dagboek aan sommer enigeen toevertrou
Watter drifte jy in daardie mat kon inbloei.
Asof jy dit soos binnederms saamgesleep het,
Uit deur jou nawel.

Was ek die kind of die moeder? Het jy dit gevleg,
Die naelstring wat ons geskei het,
Om jouself te bevry van my sametrekkings of het dit my
Uit- en weggestoot? Het jy dit gekrul,
Jou nood-towerkuns-operasie
Om die knoeisel van gevoellose afstand
Wat tussen ons sekreer het te besweer? Of was dit
’n  Kwyl-vloek uit die roes mond van ’n  bitter ou vrou
Wat selfs in haar slaap waaksaam bly – haar verwensende
Kragspel wat lae van labirinte van verwarring
In die breedte van ’n haardmat tower? Die kronkels,
Onoorbrugbaar, het ’n mamba geword, fataal.
Sy sagte tik, wanneer jy oplaas daarop trap om uitsluitsel te kry,
Sal die samestelling van jou bloed verander. As ek daaroorheen stap,
Sou dit my brein en senu beïnvloed.

Ek het oor ons huis gedroom

Voordat ons dit gevind het. ’n Groot slang
Het vanuit die put in die middel van die huis sy kop gelig
Presies waar die put is, onder die leiblad,
In die middel van die huis.
’n  Goue slang, die omvang van ’n kind se lyf,
Het gevloei uit die donker put. En dit het uitgestort
Deur die agterdeur, oneindig lank het dit gelyk –
Totdat die stert oor die drempel gegly het.
Die deurtrapte, gekraakte drempel, binnekort ons s’n.
Dit was nadat die hele huis, in my droom,
Inmekaargetuimel het. En ’n perfekte weergawe
Spieëlbeeld van die huis – die put-wêreld se eie
Onderstebo refleksie –
Het oorskarnier, en regop vasgesteek
Onder sy verskillende sterre, met die rukslag van ’n aardbewing,
En die slang wakkergeskud.

Die repiesmat

Wat jou skoot volgelê het,
Het af na die vloer gegly. Daar het dit gelê, opgekrul
Tussen ons. Op watter manier dit mag verskyn het,
En waar dit ook aan sy tong, sy giftand, sy betekenis, mag gekom het,
Dit het ons Eden oorleef.

 

Vertaal deur Karlien van der Merwe. Oorspronklike gedig, Birthday Letters, deur Ted Hughes..]
 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top