Darryl David oor die tweede Adam Small-fees

  • 0

Darryl David (fotobron: https://www.litnet.co.za/durban-first-city-african-continent-become-unesco-world-city-literature/)

Die Adam Small-fees vind vanaf 23 tot 25 Februarie 2018 in Pniël plaas. Darryl David gesels gou met Naomi Meyer net voordat die fees afskop.

Darryl, oor ’n paar dae vind daar weer ’n Adam Small-fees plaas! Wil jy vertel waar kom hierdie idee vandaan?

Hallo Naomi. Die idee vir ’n Adam Small-fees het ontstaan na Breyten Breytenbach se pleidooi dat Adam Small in sy leeftyd die Hertzogprys moet kry. Maar ek is ’n man van baie feeste en ek was altyd huiwerig om ’n fees vir Small op Wellington te begin want dis ook die geboortedorp van Breytenbach. Ek wou nie hê so ’n fees moes in die skadu van die lang man in die groen trui staan nie. Na Adam Small se afsterwe, het ek gevoel ek moet iets doen. En dis hoe ek by Pniël gekom het.

Dis die tweede Adam Small-fees wat plaasvind. Hoe gaan dit verskil van verlede jaar se fees?

Dit gaan nie veel verskil nie. Laasjaar se fees was ’n reuse-sukses. Ek wil nie te veel aan ’n wenresep verander nie. Maar vir volgende jaar het ons groot planne. Mense moet maar wag en sien!

Wat en wie kan mense op die program verwag?

Ek sal net ’n paar van die hoogtepunte noem. Fanie Olivier se lesing oor Small, Rosalie Small se huldeblyk aan haar man, Basil Appollis se sessie oor Richard Rive. Breyten Breytenbach. Hemelbesem. Valda Jansen. Braam de Vries se onvergeetlike dokumentêr van Small, Diana Ferrus se huldeblyk aan “Bra Willie”, Ghaireyah Fredericks se dramaopvoerings vir skoolkinders, voormalige konstitusionelehofregter Johann Kriegler en Adrian Lackay gaan oor die SARS “Rogue Unit” gesels. En ons is baie trots: Jacques Pauw gaan die fees afsluit.

Vertel asseblief vir mense wat die fees wil kom bywoon 'n paar praktiese dinge: wat kos dit, is daar kaartjies wat gekoop moet word (en waar), waar word dit aangebied?

Die fees gaan by die Pniël Museum plaasvind. Mense kan nie die pragtige kerk misloop nie. Dis waar jy moet parkeer. Alle lesings is gratis. Behalwe Peter Braaf se opvoering van Joanie Galant en What about the Lô wat R50 kos. En Ghaireyah se opvoering kos ’n skamele R5 per leerling. En ek het nie eers die kos genoem nie. Beslis ’n hoogtepunt van die fees.

Hoop om ou vriende en liefhebbers van Adam Small en Afrikaanse letterkunde oor die naweek van 23-25 Februarie by Pniël te sien. Ek is verstom as Stellenbossers my vra waar is Pniël. Dis vir my een van die mooiste buurte in Stellenbosch. Asemrowend mooi!

'n Paar bedankings van my kant af ook: Ons is baie dankbaar aan die Kunstekaap en die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) wat aangebied het om ’n Adam Small-uitstalling spesiaal aan Pniël Museum te leen vir die Adam Small-fees. Hierdie uitstalling, wat bestaan uit panele van amper 7 meter breed, beeld die hoogtepunte van Adam Small se lewe kragtig uit. So iets sou ons nooit op ons eie kon bekostig nie en ons is baie dankbaar aan Jacob Meiring wat die feeskomitee genader het met hierdie gawe aanbod. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top