Dark Horizon deur James Swallow: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Dark Horizon
Skrywer: James Swallow
Uitgewer: Welbeck
ISBN: 9781802793185

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Van die beste spioenasierillers skep spanning deur ’n gewone mens in ’n agent te verander te midde van ’n dodelike samesweringskomplot. Lesers identifiseer makliker hiermee as met die hoogs opgeleide black ops-operateurs, aangesien ons almal daarvan hou as die underdog triomfeer.

Die Skots-Amerikaanse spioenasieskrywer Helen MacInnes het gewone landsburgers as helde ingespan om Nazi’s, kommuniste en wêreldwye samesweringskomplotte te beveg. In James Swallow se nuutste politieke spanningsriller, Dark Horizon, wonder lesers: Presies wie is Kate Hood en hoekom is sy oneervol uit die weermag ontslaan? Wie is die gevangene wat sy vervoer?

Swallow het MacInnes se formule reeds met sy eerste Marc Dane-boek, Nomad, bemeester, maar met Dark Horizon – nie deel van die reeks nie – het hy die hele konsep in ’n tuimeldroër gegooi en op vinnige spoed gedraai. Om die spanningstou verder om die leser se nek styf te trek, plaas hy vir Kate in ’n vliegtuig, met nêrens om heen te vlug nie. Die moontlikhede om die spanningstempo in ’n vliegtuig te versnel, is legio, en hy geniet dit om lesers na hul asem te laat snak.

Maar die veteraanskrywer van meer as 60 boeke stop nie daar nie. Op die grond word Kate se vriend en sy seun deur ’n moordbende gyselaar gehou en as troefkaart gebruik om haar te dwing om rigting te verander. Uiteraard gaan almal nie sit en teedrink nie, so hierdie storielyn verhoog die spanningstempo verder.

Ek was nie altyd seker of die skrywer ’n goeie einde vir sy karakters in gedagte het nie.

Vir my het Nomad te lank gevat om uit die blokke weg te spring, maar sedertdien het daar vyf Dane-rillers gevolg waarin die skrywer sy ritme kon vind sodat Dark Horizon die heeltyd teen hoë snelheid kan lees. Die feit dat laasgenoemde boek ten minste 200 bladsye korter is as eersgenoemde help die skrywer om nie die storie uit te rek nie.

Hy skryf in die alomteenwoordige tyd en omdat dit een van die doodsondes in moderne Afrikaanse literatuur is, het ek plek-plek daarmee geworstel. Die skrywer gooi egter kort-kort ’n spanner in die wiel; dit laat my dus nie stilstaan en wonder wat als met die boek verkeerd is nie.

Een stukkie kritiek oor Nomad wat ’n paar keer uitgewys is, is die tegniese aspekte. Ek was so in die wel en wee van die hoofkarakter en haar vriend meegevoer dat ek nie opgelet het of als geloofwaardig is nie. Terugskouend mag daar ’n paar plekke wees waar Swallow die plot se fyner detail beter kon oordink, maar dit het geensins die storie vir my afgebreek nie.

Sedert James Grady se klasieke 1974-blitsverkoper Three days of the condor geniet ek dié tipe boeke – Dark Horizon onderstreep hoekom.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top