"Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur." Krige en Sorolla in gesprek oor die see

  • 1

Hierdie prent verskyn met die skriftelike toestemming van en erkenning aan die Prado-museum in Madrid, asook met erkenning aan die skilder, Sorolla. And They Still Say Fish Is Expensive!, Joaquín Sorolla y Bastida, Copyright © Museo Nacional del Prado; https://www.museodelprado.es/coleccion/obra-de-arte/aun-dicen-que-el-pescado-es-caro/a4fcf4c7-4d54-4e50-9255-25b44f0e0416

Op skool gedurende die 1980’s was daar een Afrikaanse skrywer en digter wat my wêreld oneindig verbreed het. Daardie skrywer was Uys Krige. Hy kon my in ’n oogwink van die skoolbanke op ’n klein Bolandse dorp na Las Ramblas in Barcelona of ’n tremrit al langs die Middellandse See wegvoer. Saam met hom en sy groepie krygsgevangenes het ek oor die Appenynse berge gevlug en was ons aangedaan oor die gasvryheid van die arm Abruzzi-boere in ’n oorloggeteisterde Italië. Soos ek later sou uitvind, was Krige egter nie net ’n waarnemer en verteller nie; sy vaardigheid in die Romaanse tale het hom toegerus om digters soos Pablo Neruda en Paul Eluard te vertaal en het ’n nuwe literêre wêreld vir Afrikaanse lesers ontsluit. In ’n geslote Suid-Afrika, waar die segregasiegordyn ons grootliks afgesonder het van mekaar en van buitelandse invloede, het sy Europese reisverhale en vertaalde poësie ons ’n prikkelende blik op ’n ryker, wyer wêreld gegee. 

........
’n Rukkie terug bevind ek my in Valencia, waar ek ’n paar genotvolle ure deurbring in die Museo de Bellas Artes om die Spaanse kunstenaar Sorolla – “die meester van lig” – se skilderye te betrag.
.........

’n Rukkie terug bevind ek my in Valencia, waar ek ’n paar genotvolle ure deurbring in die Museo de Bellas Artes om die Spaanse kunstenaar Sorolla – “die meester van lig” – se skilderye te betrag. Sorolla, ’n boorling van Valencia, is bekend vir sy unieke manier om die Mediterreense lig vas te vang, ’n tegniek wat hom internasionale roem besorg het en wat hom in die vroeë 1900’s as die beroemdste Spaanse kunstenaar van sy tyd bevestig. Soos baie kunstenaars eksperimenteer hy met verskeie vorme en ek lees dat sy ikoniese “lig-en-strand-fase” eers later sou volg nadat hy in die 1890’s meer gefokus was op “sosiale realisme”. Dit was ’n beweging wat die politieke en ekonomiese onstuimigheid sowel as sosiale onrus van hierdie tyd in Spanje wou uitbeeld. Sy skilderye gedurende hierdie periode fokus op die moeilike lewensomstandighede van gewone mense, veral die vissersgemeenskap van Valencia wat die jong Pablo Picasso ook later sterk sou beïnvloed. Die museum se literatuur oor hierdie beweging verwys na een van Sorolla se skilderye getitel ¡Y aún dicen que el pescado es caro! (En hulle sê nog vis is duur!) as ’n voorbeeld van hierdie periode. Die titel klink vir my bekend – die Prado in Madrid, sê Google – maar dit verklaar nog steeds nie die knaende gevoel dat ek al vantevore hierdie titel gehoor het nie. Dan skiet dit my te binne: Uys Krige se gedig “Ken jy die see” met die refrein “Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.”

Terug by die huis begin ek delf vir enige leidrade wat Krige se gedig en Sorolla se kunswerk koppel. Sorolla se skildery beeld die binnekant van ’n oop vissersboot uit met ’n beseerde jong visserman wie se wond deur twee ouer vissermanne versorg word. Dit is ’n besonderse komposisie – die manier waarop die lig in die boot val, beklemtoon die stil waardigheid waarmee die ouer mans na die jong man omsien. (In hul ontledings gaan kunshistorici selfs verder deur Sorolla se skildery met ’n religieuse pietà te vergelyk waarin Josef van Arimathea en Nikodemus Christus se liggaam van die kruis afdra.)

Die skerp en ironiese titel van die skildery, En hulle sê nog vis is duur! is duidelik daar om die kyker se sosiale gewete wakker te skud. Dit fokus op mense wat kla oor die prys van vis, terwyl die toneel in die boot die menslike prys uitbeeld: die fisieke lyding, die risiko en die harde realiteite van ’n visserman se bestaan. Sorolla se werk maak die onsigbare koste sigbaar: die werklike koste is nie die prys van vis nie, maar die menslike prys wat die vissermanne betaal. Hierdie insig weerklink op verskeie vlakke in Uys Krige se gedig.

Die literêre kritikus Jack Cope beskryf Krige as ’n “liriese digter” wat fokus op tradisionele en toeganklike vorme waar ritme en klank ’n belangrike rol speel. Sy gedigte spruit uit wat hy gesien, beleef en ervaar het, eerder as uit abstrakte idees. In “Ken jy die see” gee Krige ’n stem aan die visserman in versvorm. Die sentrale boodskap, soos in die titel van Sorolla se skildery, is die onkunde en onverskilligheid van die bevoorregte teenoor die werklikhede van die arm werkersklas. In Suid-Afrika het Krige ’n soortgelyke sosiale dinamika waargeneem waar die vissermanne se beperkte ekonomiese geleenthede en sosiale marginalisering eggo’s dra van hul Spaanse eweknieë.

Dan is daar ook die ooreenkoms met die gewonde seun in Sorolla se boot en mevrou Mathee. Krige se "krom ou vroutjie", mevrou Mathee, is die literêre ekwivalent van hierdie figuur. Waar Sorolla die gewonde seun skilder, beskryf Krige die moeder wie se drie seuns agter die kerkhofmuur lê. Beide figure staan weerloos voor die mag van die see – die jong seun met ’n fisieke wond en die ou vroutjie met haar emosionele pyn. Beide kunstenaars dwing ons om ons uitkyk en houding te herevalueer. Sorolla doen dit eerstens met sy intieme en byna tasbare voorstelling van die boot se binnekant wat die kyker as’t ware die boot binnenooi, en tweedens met die skildery se ironiese titel. Krige weier ook om abstrak te bly en spreek die leser direk aan deur sy verteller se stem: “Sien jy die krom ou vroutjie daar?”

Die ooreenkomste is treffend. Maar was Krige ooit bewus van Sorolla se skildery?

........
Die ooreenkomste is treffend. Maar was Krige ooit bewus van Sorolla se skildery?
........

Ons weet dat Krige in November of Desember 1933 in Spanje aankom. Hy spandeer etlike maande in Valencia, van Maart tot Oktober in 1934. In Peet van Aardt se boek Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje skryf Krige in April 1934 aan sy ouers dat hy Valencia ’n “baie bekoorlike stad” vind en dat die kunsmuseum hom “in ekstase” gehad het. Die Museo des Bellas Artes dateer van 1913, dus kan ’n redelike aanname gemaak word dat hy daar bekend geraak het met verskeie Spaanse kunstenaars, en waarskynlik ook met Joaquin Sorolla, ’n boorling van die stad.

Maar nou raak dinge interessant, want verdere speurwerk toon dat die onderwerp en titel van Sorolla se skildery op sy beurt geïnspireer was deur die finale toneel van ’n Spaanse skrywer, Blasco Ibáñez, se roman Flor de Mayo (The Mayflower) wat geskryf is terwyl Sorolla die skildery geskilder het, en in 1895 gepubliseer is. In die roman beskryf Ibáñez die harde lewe van vissers, wat eindig met 'n dramatiese ongeluk op see en die herwinning van 'n lewelose liggaam in die ruim van 'n boot, gevolg deur 'n vurige aanklag, “En nog sê hulle die vis is duur.” Sommige bronne bevraagteken die aanname dat Sorolla geïnspireer was deur Ibáñez  en argumenteer dat die teenoorgestelde waar is en dat Sorolla se skildery Ibáñez  geïnspireer het. Daar is nog steeds nie konsensus oor wie eerste met die frase vorendag gekom het nie – die datums is baie na aan mekaar. Desnieteenstaande beskryf Ibáñez  in die voorwoord tot die 1923-uitgawe van die roman sy hegte vriendskap met Sorolla en hul albei se fassinering met die see.

Van meer belang is die vraag of Uys Krige bekend was met Ibáñez  se boek wat hom later sou beïnvloed in sy skrywe van “Ken jy die see”. Krige skryf aan sy ouers dat hy homself ingeskryf het aan die Universiteit van Valencia in April 1934, waar hy drie “konferensies” per week bywoon, en die hele biblioteek, skryf hy, is elke dag tot sy beskikking. Hy “lees baie Spaans en vorder goed met Don Quijote”. Krige het hom egter nie net verdiep in die Spaanse literatuur en kuns nie; hy was ook geraak deur die politieke onstuimigheid in Spanje gedurende hierdie tyd. Tydens ’n staking in Valencia gedurende die vorige April, in 1934, skryf hy aan sy suster dat die arbeiders sonder kos is ... “Al my simpatie is met die werksman.”

Daar is verskeie redes wat die argument staaf dat Krige bewus sou gewees het van Ibáñez  en sy boek: Krige was simpatiek gesind teenoor die republikeine (Ibáñez  was ’n vurige republikein wat selfs sy eie koerant begin het); hy kon vlot Spaanse lees (die boek was ook in Engels beskikbaar sedert 1921 en Krige kon dit in Spaans of Engels lees); en Ibáñez  was wyd bekend in Spanje as ’n gevierde skrywer.

Dit was ’n lang en interessante soektog om die bron van die frase “En nog sê hulle die vis is duur” op te spoor. Die kans dat kunstenaars onafhanklik van mekaar dieselfde spesifieke idioom as middelpunt van hulle werk gekies het, sonder enige kulturele kontak, is gering. Ek laat dit egter aan die leser oor om te bespiegel of Krige beïnvloed was deur een of beide van hierdie kunstenaars. Gegewe die bewyse het hy moontlik beide Ibáñez se roman én Sorolla se skildery geken, maar die roman was die meer toeganklike, meer uitgebreide, en polities meer resonante werk vir 'n digter soos Krige. 

Wat is egter die punt van my soektog? Gaan dit net oor die bespiegeling en soeke na Krige se oorspronklike bron? Ek sien voor my geestesoog hoe Krige, wat later in Onrus sou woon en bewus sou wees van die naburige arm vissersgemeenskap van Hawston, op ’n dag, iewers diep in sy geheue, ’n uittreksel uit Ibáñez  se boek onthou het of die beeld van Sorolla se skildery herroep het en dat dít die vonk sou gewees het vir die skepping van “Ken jy die see”.

Dan tref dit my dat die eintlike doel van hierdie soektog nooit bloot akademies was nie. Dit was 'n poging om die binnewêreld van Uys Krige te betree, om te verstaan hoe 'n leeftyd van reise, leeservaringe en politieke bewussyn saamgekom het in 'n enkele skeppende oomblik. Dit is immers wat kunstenaars doen: Hul absorbeer ’n wêreld en gee dit in ’n nuwe vorm terug.

Lees ook:

Kunstenaars se plek in die samelewing

Deaccessioned: a review

  • 1

Kommentaar

  • Wie Uys Krige geïnspireer het om te verwoord: “Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur,” is bysaak. Ek kan ook nie sy binnewêreld betree nie (te arm) en skaar my volstoom by die stakers van Valencia: “Al my simpatie is met die werksman.”

    Die boek is te duur, Meneer. (Daarom maak boekwinkels toe.)

    Na die hel met die elite!

    [Ja, dankie, lekker gelees aan die artikel.]

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top