
Boekomslag: Dalk vandag deur Karel Prinsloo; profielfoto: Karel Prinsloo (verskaf)
Die boek- en mediabedryf trek swaar. Daarom was dit ’n groot verrassing toe meer as 100 mense by Karel Prinsloo, hoofredakteur van die tydskrif Plus 50, se bekendstelling van sy digbundel, getiteld Dalk vandag, opgedaag het. Karel Prinsloo is ook by die gewilde TV-program Met ’n huppel in die stap en by Radiokansel betrokke.
Die motors was behoorlik soos sardientjies gepak in die parkeerterrein van die NG Kerk Lynnwood, waar die funksie gehou is.
Die gewilde akteur Simon Bruinders het van die gedigte voorgelees en die bekende sanger Jannie du Toit het ’n musiekuitvoering gelewer.
Toesprake is deur Karus Prinsloo, Johan Pienaar en Johann Lodewyk Marais gelewer.
Johann Lodewyk Marais het Karel Prinsloo se bundel geredigeer.

Karel Prinsloo en Johann Lodewyk Marais in gesprek (foto: verskaf)
In ’n gesprek met skrywer, digter en historikus Johann Lodewyk Marais oor verskillende aspekte van Karel se poësie, het Karel gesê die titel van die digbundel kan op verskillende maniere geïnterpreteer word en kan verskeie betekenisse hê.
“Dalk kan oor vandag se tyd handel.
“Dalk lewer dit ’n blik op ons omgewing en die wêreld waarin ons leef. ’n Sekere era.
“Of dalk wil dit dui op die belang van vandag, hierdie dag: dat dit dalk vir jou ’n geleentheid inhou om aan te gryp. Carpe diem.
“Dalk is vandag die laaste dag van jou lewe, selfs van die wêreld se bestaan. Hoe gaan jy dit dan hanteer?
“’n Vierde en laaste moontlikheid is dat jy dalk vandag moet vrede maak met dinge, mense en die lewe.
“Dalk is vandag die dag!”
Op ’n vraag van Johann Lodewyk of daar digters is wat hom in die besonder beïnvloed het, het Karel geantwoord dat hy van kindsbeen af die voorreg gehad het om digters soos DJ Opperman, ook dramaturg en kritikus, se werk te leer ken.
Hulle het later saam aan ’n rolprentprojek gewerk en deur sy leeftyd kontak gehou.
As taalkundige en sosiolinguis het hulle deurentyd kontak gehou.
Nog ’n digter wat vir Karel beïnvloed het, was TT Cloete.
“Gedurende my vroeë loopbaanjare was ek ’n ruk lank dosent by die Universiteit van Fort Hare. TT Cloete was toe dosent by UPE in Port Elizabeth. Ons het ook lewenslank kontak gehou en ek het baie by hom geleer.”
Terwyl Karel by die RGN gewerk het, het hy talle digters soos Joan Hambidge, Antjie Krog, Pirow Bekker, Eunice Basson en Martjie Bosman leer ken.
Op ’n vraag deur Johann Lodewyk oor die feit dat Karel “toeganklike poësie” skryf, het Karel dit benadruk dat hy sy lewe lank in die “leesbare” skryfkuns belang gestel het. Hy het tydens die sestiger- en sewentigerjare ’n in-diepte studie van onder meer Totius gemaak.
........
Johann Lodewyk wou weet vir wie hy skryf, waarop Karel geantwoord het: “My gesin, vriende, kollegas, familie, projekte, meedoeners, geselsgenote en vir myself.”
Hy skryf wel “betrokkenheidspoësie” wat die geval in al vier sy bundels is.
........
“Die sogenaamde ‘Duister digters’, mense met ingewikkelde en diep veronderstelde verwysingstelsels, het my nooit eintlik geïnteresseer nie. Ek self het ’n besondere voorliefde vir korter, beeldende verse wat natuurlik wel diepte suggereer.”
Johann Lodewyk wou weet vir wie hy skryf, waarop Karel geantwoord het: “My gesin, vriende, kollegas, familie, projekte, meedoeners, geselsgenote en vir myself.”
Hy skryf wel “betrokkenheidspoësie” wat die geval in al vier sy bundels is.
“Maar ek is nie daarop uit om sosiaal-betrokke verse te skep nie. Ek probeer nie veldtogte voer of om vir lesers oor sekere aangeleenthede te preek nie.
“Daar is wel sekere temas en tendense eie aan ons tyd wat vir my van belang is of my diep raak, soos die broosheid en kwesbaarheid van die mens maar ook oor die natuur wat seerkry en selfs deur die mens vernietig word.

Vier digbundels deur Karel Prinsloo: Tussen grensligte, Slimfoonflitse, In pas en Dalk vandag
“Nog ’n tema wat my as sosioloog interesseer, is die groot kontraste en struwelinge wat daardeur veroorsaak word. In ons land, asook elders, is daar dikwels groot spanning, selfs konflik oor stelsels en tradisies wat met mekaar bots. Mens sien dit raak en skryf daaroor.”
Hy vertel aan Johann Lodewyk dat daar natuurlik ook positiewe dinge is waarby mens betrokke voel en waaroor hy skryf, soos “die sierlikheid van die mooi mense wat inspirerende rolmodelle is en die verskynsel dat hoop en hoopgewing kan oorwin”.
“Hierdie is dinge waaroor ek sosiaal baie bewus is.”
Hy vertel dat tipiese aangeleenthede wat in sy vier digbundels voorkom en met ’n soort dringendheid aangebied word, is die oorsprong van groot landskappe soos plattelandse en stedelike landskappe, berge, see en die sterrebeelde.
Dan is daar simbole en ikone, noem dit maar menslike “afgode”, wat hom deurlopend interesseer, die werkwêreld en sy intriges, styltipes en die hebbelikhede van mense wat in sy bundels opduik.
Hy dig ook oor die verrassende dinge rondom diere, voëls en insekte en hul saamleef met die mens.
Pyn en pynhantering van die mens, ook lighartig beskou, is ook ’n tema wat plek-plek in al vier digbundels opduik.
Nog ’n onderwerp wat in sy digbundels na vore tree, is geloof en geloofuitlewing in verskeie geloofsgemeenskappe.
Dringender deur al vier sy bundels, is die “op-die-weg-wees” van die mens na êrens of nêrens.
Voorts is daar die mens as verantwoordelike besluitnemer oor al sy eie omstandighede.
“Die lewe bestaan uit keuses tussen goed en kwaad, tussen reg en verkeerd, ’n glas wat halfpad vol of halfpad leeg is, of jy positief verouder en of jy op die stoep wil sit en kla.
“Die implikasie is om die pad voluit te loop, aan die gang te bly en om aan te hou om die goeie stryd te stry.”
Lees ook:
Om ’n resensie te skryf: Is platvloers skryf dan die teenoorgestelde van "pretensieus"?

