Dalene Matthee-boekefees 2026: ’n onderhoud met Darryl David

  • 0

...
Hierdie fees sal nie net die nalatenskap van Dalene Matthee eer nie. Dit sal Herold ook op die kaart plaas. En soos ek altyd sê, hoe kleiner die dorp, hoe groter die impak.
...

Darryl David vertel vir Naomi Meyer van die splinternuwe Dalene Matthee-fees wat binnekort in die dorpie Herold afskop.

Darryl, hoekom ’n Dalene Matthee-fees en hoekom Herold? Waar is Herold?

Herold ... Ek kan nie vir jou sê hoeveel probleme dié dorpie al veroorsaak het nie! ’n Sekere skrywer (wie se naam ek nie sal noem nie) het my gevra watter gastehuis ek in Heroldsbaai sou voorstel! Dus moet lesers weet: Ons praat hier van Herold in die middel van die Outeniquaberge, net oor die Outeniquapas van George se kant. 

Ek het Herold eerstens uit pure toeval gekies. Verlede jaar was ek met vakansie in Mosselbaai toe ek ’n man by die St Blaize-vuurtoring-restaurant raakloop wat my op my naam geken het. Dit het geblyk Theo Adams van die Herold Meander te wees. Ek het jare gelede gehoor van die herlewing wat hy deur sy landbou-inisiatiewe in Herold bewerkstellig het. Net toe ek wou loop, sê hy: “Jy moet ’n fees in Herold begin.”

Die oomblik toe hy daardie woorde sê, het ek dadelik gedink aan al die dorpe – van Knysna tot by Mosselbaai op die Tuinroete – wat my pogings om ’n Dalene Matthee-fees te begin van die hand gewys het. En toe sê ek vir hom: “Ek het net die regte fees vir jou.” 

Ek glo werklik dat Dalene Matthee gatvol geword het vir my onvermoë om vir meer as ’n dekade ’n fees in haar naam te begin, en my ontmoeting met Theo bewerkstellig het! Want waarlik, Theo Adams was ’n geskenk uit die hemel. Ons albei word gedryf deur ons begeerte om ’n sukses van hierdie fees te maak. Dit gebeur baie selde dat iemand wat jy eers ’n paar maande gelede ontmoet het, bereid is om sy hand in sy eie sak te steek om ‘n fees te laat gebeur. Ons besef albei dat die fees ’n eenmalige geleentheid bied vir wat geograwe “plekskepping” noem.

Let op hierdie woorde van my: Hierdie fees sal nie net die nalatenskap van Dalene Matthee eer nie. Dit sal Herold ook op die kaart plaas. En soos ek altyd sê, hoe kleiner die dorp, hoe groter die impak.

Dalene Matthee was ’n ikoniese skrywer, maar gaan daar slegs van haar boeke gelees en bespreek word? Vertel asseblief wat op die program is. Wie is die sprekers of die mense wat hulle boeke by die geleentheid bespreek?

Net soos met al my feeste: As ek ’n fees na ’n sekere skrywer vernoem, beteken dit nie dat elke praatjie oor daardie skrywer sal gaan nie. Ek gebruik ander skrywers om die program in te kleur. Dus het ons vanjaar ongeveer vyf sessies oor Dalene – eerstens ’n dokumentêr oor haar, en ek het vir Hennie van Coller genooi om die eerste Dalene Matthee-gedenklesing te lewer. Ek het een van Dalene se dogters genooi om haar herinneringe van haar ma met die gehoor te deel, en Riana Scheepers sal praat oor die impak van Dalene op haar eie reis as skrywer. (En tydens Riana se sessie sal ons ‘n groot aankondiging maak.) En dan sal Heindrich Wyngaard die fees afsluit met ’n praatjie oor “Wat is ’n huis sonder ’n Fiela?” Want hoe kan ons dan nie oor Dalene Matthee se ikoniese verhaal Fiela se kind praat nie.

Maar tussendeur sal ons praatjies hê soos Marita Lamprecht se memoires oor hoe sy midde-in haar loopbaan van rigting verander het om ’n meestersjokolademaker te word, Chris Marais en Julienne du Toit sal hul nuutste boek oor die Klein Karoo bekendstel; Louis Botha sal gehore meevoer met sy fotografiese loflied aan die Karoo; Joost Pyck sal praat oor sy uiters besonderse lewe as die klipkapper van die Klein Karoo. En ek hoop dat al sal niemand by hierdie fees weet wie ek is nie, hulle my sal onthou aan my boek Doggone Days, ’n boek oor my 20 jaar lange odusseë saam met my honde waarin ons die land deurkruis en deur meer as 100 dorpe van Suid-Afrika gereis het. Teen die tyd dat die naweek verby is, hoop ek die feesgangers sal so beïndruk wees met die pure verskeidenheid van die program dat hulle dalk die burgemeester sal versoek om die “vryheid van die dorp”-toekenning aan my te gee! Of om vir my ’n stuk grond vir my honde en my gesin te skenk.

Wat kos die kaartjies? Hoe kom mens daar? Verskaf asseblief praktiese reëlings.

Vir die eerste fees het ons gevoel dit is belangriker om ’n lojale ondersteunersbasis vir die daaropvolgende jare te bou. ’n Mens moet onthou dat ons presies halfpad tussen die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die Knysna Literary Festival geleë is. Ons ding mee teen baie gevestigde name in die literêre wêreld. Daarom sal toegang tot hierdie jaar se fees heeltemal gratis wees.

Ons is egter stilweg vol vertroue oor die Dalene Matthee Boekefees, want dit bied die suiwerste vorm van literêre toerisme in Suid-Afrika. Benewens Olive Schreiner, watter ander skrywer het ’n monument wat aan haar opgedra is? Watter ander skrywer het ’n boom wat na haar vernoem is? Watter ander skrywer het ’n wandelpad wat na haar vernoem is? Dit is waarom ek nog altyd probeer het om hierdie fees van stapel te stuur. Want Dalene Matthee is pure goud wanneer dit kom by die aanbied van ’n onvergeetlike ervaring vir bibliofiele.

Dit is waarom die fees op Donderdag 7 Mei om 14:30 sal open met ’n literêre toer deur die Knysna-bosse wat Dalene Matthee deur haar bosromans verewig het. Die toere sal R50 kos. Mense wat belangstel om by die toere aan te sluit, moet my kontak by 062 187 8399.

LW: Die fees begin eintlik met die ATKV Skoledag op Donderdag 7 Mei om 09:00. Die plaaslike skrywer Maretha van der Westhuizen en illustreerder Stanley Grootboom sal die kinders by die twee skole in Herold laat glimlag. ’n Woord van ontsaglike dank aan die ATKV wat vir ons ’n bietjie “mosterdsaadbefondsing” vir die geleentheid gegee het. Wat baie mense dalk nie weet nie, is dat dit die ATKV was wat gehelp het met befondsing vir my Soweto Literary Festival. Dit was die ATKV wat gehelp het om my Afrikaanse Kinderboekfees in Pietermaritzburg te begin. Dit was die ATKV wat gehelp het, en steeds help, met my Adam Small Boekefees. Hulle gee dalk nie yslike bedrae geld nie, maar wat hulle wel gee, maak die wêreld se verskil.

Jy reël altyd die interessantste feeste, Darryl! Hoe kry jy die mense bymekaar? En die gaste? Is daar mense wat by al jou feeste optree, en gaste wat almal bywoon?

In hierdie bedryf is ’n mens se reputasie alles. Mense ondersteun my feeste omdat hulle weet ek steel nie geld nie. Mense ondersteun my feeste omdat hulle uit ervaring geleer het dat hoewel ek nie die grootste name in die literêre wêreld kan bekostig nie, hulle weet dat die skrywers op my programme waarlik onvergeetlik is. Hierdie reputasie is in Boekedorp Richmond tydens BookBedonnerd gesmee. Daar is mense wat bloot deur die dorp ry en dan dikwels vir vier dae nadat hulle sommer op die ingewing van die oomblik na net een sessie geluister het, op die dorp bly. Vanjaar vier Richmond 20 jaar as Afrika se eie Hay-on-Wye. Dit het so lank geneem om by ’n stadium te kom waar mense jou nie as mal beskou omdat jy ’n Dalene Matthee Boekefees begin in ’n dorp waarmee sy geen direkte bande het nie. En ek het wonderlike vriende in die mediawêreld. Jy en LitNet is onder hulle, Naomi. Saam met Izak de Vries en Etienne van Heerden. Laetitia Pople en vir hierdie fees Elretha Britz van Die Burger was fenomenaal. So ook Maroela Media. Maar die mense wat dit alles moontlik maak, is die skrywers – veral die Afrikaanse skrywers. Wie sou voor demokrasie kon gedink het dat ’n Indiër die grootste organiseerder van Afrikaanse boekefeeste in hierdie land sou wees. Dit is die stof waarvan sprokies gemaak word.

Wat betref die vraag of enige skrywer of boekliefhebber al my feeste bygewoon het: Dit is nog nooit behaal nie. Wanneer dit by boekfeeste kom, het ek ’n bietjie van ’n verstrooide brein. Mense kan eenvoudig nie byhou met feeste oral oor die land nie.

Maar kom ons rig ’n uitdaging aan boekliefhebbers. Kom ons kyk wie die “grand slam” kan behaal!

Enigiets anders wat jy omtrent die fees wil deel, wat ek dalk nou vergeet om te vra?

Ten slotte wil ek dit op rekord plaas en sê: Ek dink daar is grootheid in hierdie fees. Ek het net ’n voorgevoel dat hierdie fees deur God beskik is. ’n Mens ontmoet nie sommer elke dag ’n totale vreemdeling in ’n restaurant wat aanbied om ’n fees aan te bied wat jy vir meer as tien jaar nie gereël kon kry nie. Dit is die hand van God.

Lees ook:

Program van die Dalene Matthee-boekefees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top