Daar’s ’n Zoeloe in my ateljee

  • 2

Dit was opmerklik die afgelope week dat al die begrafnisreëlings van die ontslape Zoeloekoning, Goodwill Zwelithini, aangekondig is deur Mangosuthu Buthelezi. Dit het hy gedoen as “eerste minister” van die Zoeloe-koning en -volk. Buthelezi maak daarop aanspraak dat sy stam se leier meer as ’n eeu gelede, al tydens die bewind van koning Cetshwayo, opgetree het as die Zoeloekoning se eerste minister, oftewel raadgewer. Hy het ook deur sy ma ’n bloedlyn na die Zoeloe-koningshuis.

Maar sy interpretasie van sy posisie en gesag word nie noodwendig deur alle Zoeloes aanvaar nie. Daarby was die verhouding tussen die koning en Buthelezi nie altyd so goed nie. Buthelezi was tot twee jaar gelede die leier van die Inkatha Vryheidsparty (IVP). Hy het in 1972 die hoofminister van die KwaZulu-tuislandowerheid geword. Hoewel hy dit nooit oorweeg het vir KwaZulu om onafhanklik te word as deel van die apartheidregering se beleid van afsonderlike ontwikkeling nie, het hy nie toegegee aan die ANC se versoek dat hy uit alle apartheidstrukture moet bedank nie. Dus het hy die IVP gestig.

Die onmin tussen die ANC en die IVP het in die aanloop van vier jaar tot die verkiesing in 1994 tot die gewelddadige dood van ’n geraamde 14 000 mense gelei. Die Kodesa-onderhandelings het byna skripbreuk gely omdat Buthelezi aangedring het op ’n federale stelsel vir die beoogde nuwe KwaZulu-Natal-provinsie en die behoud van die monargie met uitgebreide magte.

Maar in dié tyd het die koning hom nader aan die ANC begin posisioneer – onder meer omdat hy geweet het waar die botter op sy brood vandaan kom. Voorheen het hy sy toelaag van miljoene rand gekry van die tuislandregering uit dié se begroting wat Pretoria toegewys het. Maar met die nuwe bedeling het die nasionale ANC-regering die bewilliging direk aan die koning gedoen.

Na die verkiesing van 1994 het die onderhandelings voortgeduur terwyl die Grondwet geskryf is. Dit was egter onduidelik wie nou eintlik namens die Zoeloes gepraat het: Buthelezi of die koning?

Oor dié vraag het ek ’n regstreekse Agenda-debat op televisie gefasiliteer. Natuurlik sou ons graag die koning self en Buthelezi as gaste wou gehad het, maar beide het woordvoerders benoem. Saam met my in die ateljee in Johannesburg was Themba Khoza, ’n Gautengse leier van die IVP, en per mikrogolfverbinding in Durban prins Sifiso Zulu, wat namens die koning sou praat. Dit was die eerste keer dat ek van Sifiso Zulu gehoor het. Hy was jonk, voortvarend en welsprekend. Daarteenoor was Buthelezi van die ou skool, waar Zoeloetradisie van kardinale belang is en die oueres met die grootste respek behandel moet word.

Toe ek aan prins Sifiso Zulu die vraag stel oor wie nou eintlik onder die Zoeloes die septer swaai, het hy losgetrek teen Buthelezi en hom afgemaak as bloot ’n politikus wat hom by sy partysake moet hou, dat hy glad nie die eerste minister van die koning is nie en geen blou bloed in hom het nie.

Ek het toe Khoza se reaksie gevra. Terwyl hy gepraat het, het die regisseur in die beheerkamer van die ateljee in Johannesburg in my oorfoon geskree: “Daar is chaos in die ateljee in Durban, ons gaan sny.” Ek het na ons monitor van die Durban-ateljee gekyk en gesien daar is moles. Toe vra ek die regisseur sommer regstreeks op die lug dat kontak behou moet word met die ateljee in Durban.

So sit en kyk ons, en waarskynlik miljoene kykers, na die spektakel.

Dit het gelyk of twee of drie mans handgemeen geraak het met prins Sifiso. In die geharwar het iemand ’n vuurwapen te voorskyn gebring. Sake het nou in ’n uiters gevaarlike situasie ontaard. In die voorgrond het ek ’n man gesien wat sy arms rondswaai en Sifiso Zulu verskeie dinge in Zoeloe toegesnou het. Hy het blykbaar onder meer geskreeu: “Hoekom sê jy hierdie dinge van my?” Ek het hom as dr Buthelezi herken.

Dit was tyd vir ingryp.

Wat ek nie geweet het nie, was dat Buthelezi dié aand ook by die SAUK se Durban- ateljees was vir ’n onderhoud met die aanbieder van ’n ander program. Hy het natuurlik geweet van ons debat en wou volg wat gesê word. Hy het saam met sy lyfwagte in ’n ander ateljee op ’n monitor na ons program gekyk. Buthelezi het hom gruwelik vererg oor die stellings van die jong, voortvarende prins Zulu. Hy besluit toe net daar om die koning se afgevaardigde te gaan konfronteer. Omdat hy al soveel kere by die SAUK se Durbanse ateljees was, het hy geweet waarheen om te gaan. Hy het in die ateljee ingebars terwyl ons nog regstreeks op die lug was. Die verskrikte prins Sifiso het opgespring en probeer vlug, maar Buthelezi se lyfwagte het hom vasgegryp terwyl Buthelezi hom in ’n kwaai stemtoon toegespreek het.

Ek het verskeie kere na prins Zulu geroep en hom gevra om te sit, maar niks het gebeur nie. Ek het Buthelezi toe in ’n rustige maar luide stem begin roep:

Dit het min of meer so verloop:

“Dr Buthelezi, can you hear me? It is Freek Robinson speaking to you from Johannesburg.”

Geen reaksie nie.

Luider: “Dr Buthelezi, I can see you, can you hear me?”

Buthelezi het omgedraai en kamera se kant toe gekyk.

“Who is this?” vra hy.

“It’s Freek Robinson, Dr Buthelezi. I am I am speaking to you from Johannesburg. Can you hear me?”

Die geraas van die vegtende manne in die agtergrond het begin bedaar.

“Dr Buthelezi, can you hear me?”

“Yes.”

“Dr Buthelezi can you please take a seat?”

Dringender maar nog in rustige toon: “Dr Buthelezi, please take a seat.”

Hy doen dit toe. Intussen het die vegtery bedaar omdat Buthelezi nie meer aandag gegee het en die situasie aangeblaas het nie.

“Dr Buthelezi, while you are sitting down, I am asking our camera person there in the studio with you to clip a microphone on to your jacket so that we can hear you ... There you are. Can you hear me clearly?

“Yes.”

“Dr Buthelezi, where is Prince Sifiso Zulu?”

“He left.”

“Is he OK?”

“He is fine.”

“Dr Buthelezi, I must inform you that you disrupted a live TV broadcast.”

“Is that so? I did not realise that. My apologies.”

“We are still on air. Now, can you please explain what happened there in the studio?”

Hy het toe verduidelik dat hy die jongman aangevat het omdat hy “leuens” vertel het oor sy, Buthelezi, se status in die Zoeloegemeenskap. Ek het hom toe nog ’n klompie vrae gevra om te probeer vasstel wat presies die probleem tussen hom en die koning is, maar hy wou nie veel daaroor sê nie.

Die volgende dag was die SAUK in rep en roer.

Die uitvoerende hoof, wat toe maar enkele weke in die pos was, Zwelakhe Sisulu, het in ’n verklaring Buthelezi se optrede verdoem.

Dit was ’n raaisel oor wat van die vuurwapen geword het, hoe dit die gebou binne geneem is en wie s’n dit was.

Ek moet ruiterlik sê ek was tevrede met my optrede.

Ek was deurgaans kalm.

Wat moes ek anders gedoen het in die omstandighede? Ek was honderde kilometer weg van die toneel en kon nie persoonlik tussenbeide tree nie. Daar was niemand anders wat kon help nie – net die kameraman, wat natuurlik nie redaksioneel betrokke kon raak nie.

Niks kan jou voorberei vir ’n hoogs onvoorspelbare situasie soos dié nie.

Nog minder as daar ’n vuurwapen by betrokke is wat enige oomblik kan afgaan te midde van die gestoei en dat iemand dan beseer of noodlottig getref kan word. Al wat ek gehad het om die situasie onder beheer te bring, was my stem. En die stem kan ’n kragtige instrument wees om gemoedere te hanteer. Dit het ek by Wynand Pienaar geleer. Hy was ’n kliniese sielkundige by Unisa.

Hy het gesê mense reageer gewoonlik op een van twee maniere op aggressie: veg of vlug. Al twee reaksies is ongewens. Hoe meer aggressief jy is teenoor sekere mense, hoe meer aggressief sal hulle teenoor jou reageer. Jy kry dus ’n geraas en nie antwoorde nie. Ander sal op aggressie reageer deur te onttrek en dus sal jy ook nie die antwoorde kry wat jy soek nie. Gebruik eerder ’n rustige, kalm stemtoon en laat die situasie afkoel.

Nie veel het gekom van die voorval nie. Maande later het ek Buthelezi weer raakgeloop. Hy het spesiaal moeite gedoen om vir my persoonlik jammer te sê.

En ons het op goeie voet gebly.

Lees ook:

His Majesty King Zwelithini is dead. Long live the King!

Koning Zwelithini: Toe word die media se eer darem gered

  • 2

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC
    Chris Marnewick SC

    Mangosuthu Buthelezi is, en was nog altyd, 'n gentleman. Maar hy is, en was nog altyd, 'n tradisionele Zoeloe, met 'n stel waardes waarmee ons nou beter af sou wees.

    En waar is Sifiso Zulu nou? 'n Verskietende ster wat die beginsel dat jy jou ouers moet respekteer misken het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top