Koning Zwelithini: Toe word die media se eer darem gered

  • 1

Anne-Marie Mischke skryf op Facebook:

So hagiografies is die loftuitinge oor koning Zwelithini van die Zoeloes sedert sy dood ’n paar dae gelede, dat ’n mens moet dink óf almal glo ’n mens mag nie kwaad praat van die dooies nie óf hulle ken nie die geskiedenis nie óf hulle ag dit om politieke redes verstandig om met loftuitinge te volstaan – die Zoeloes, Zuma se mense – is immers ’n magtige kiesersblok.

Onthou julle daardie letterlike knieval van Cyril R voor hom twee jaar gelede? Tot gister het die media in ontledings en lewensketse saamgesing in dié koor wat talle Stigtings en politieke leiers ingesluit het. Dalk omdat niemand van die huidige geslag die geskiedenis van die 1980’s en 1990’s ken nie en nie opgelet het wat later onder meer rondom die Ingonyama-trust gebeur het nie (dit is onder meer as die koning se persoonlike spaarvarkie bestempel)? Dalk omdat hulle al die gekonkel tydens Kodesa vergeet het? Van al daardie dinge is niks gesê nie. G’n sprak is gesprook oor sy xenofobiese uitlatings in 2015, een van die aanleidings tot daardie jaar se erge xenofobiese aanvalle, nie. Nie ’n woord oor sy homofobiese uitlatings nie. Ensovoorts, ensovoorts.

Toe word die media se eer darem vandag gered deur Chris Barron se uitstekende nugtere “obituary” in die Sunday Times, en Mondli Makhanya se ergerlike uiteensetting in City Press van onder meer die koning se rol in die bloedige townshipstryd van die laat 1980’s en vroeg 1990’s en van sy bande met die apartheidsregering.

Maar mantels is daar om na die wind te draai, hy het vinnig die ANC-politiek begin speel. Ongelukkig kan ek nie ’n skakel na die twee artikels gee nie*, want net intekenare het toegang daartoe. Maar gaan lees dit, as julle die volle prentjie wil sien. City Press is ook toeganklik vir intekenare van News24.

***

* LitNet verskaf hiermee wel die skakels, maar ons kan nie toegang verleen tot die artikels vir mense wat nie intekenare is nie.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Andries G H van der Walt

    Ongelooflik! Dis seker omtrent al wat mens kan se van die feit dat dit Eskom R20 000 000 gekos het om die krag gister aan te hou vir die gedenkdiens van die Zoeloe koning.

    Mens wonder wat in die regering se kop aangaan. Al wat mens kan dink is dat dit gedoen is om die politieke wil van die Zoeloe bevolking te probeer behou.

    Die Zoeloes is sowat 12 miljoen sterk. Dis nou uit 'n totale bevolking van ongeveer 58 miljoen inwoners van die land. Dis amper net sowat 25% van die totale bevolking vir wie hy nou eintlik van belang was.

    Daarby was hy as een van elf konings in Suid Afrika nie eers werklik in beheer van sy eie gebied nie want dit is deel van die kwaZulu Natal Provinsie wat 'n eie regering het met 'n eerste minister wat eintlik die septer swaai.

    En toe moes Ramaphosa en sy gevolg ook nog vinnig vlug uit die paleis van die afgestorwe koning.

    Dit laat mens ook nou wonder of ons hier 'n herhaling gaan sien van wat in 1993 gebeur het toe van die Zoeloe stamme of politieke partye mekaar die stryd aangese het, veral ook in Soweto.

    Dit is natuurlik ook interessant dat geeneen van die twee top leiers van die ANC Zoloes is nie. Ace Magasule is in Parys in die Vrystaat gebore en Ramaphosa in Soweto, die kind van Venda ouers.

    Dit laat mens wonder vir hoe lank die Zoeloe bevolking, wat hulself as verhewe bo ander beskou, met die toedrag van sake tevrede gaan wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top