
Uitgewer: Protea Boekhuis
Daardie lewe: Karel Schoeman
Ria Winters
Uitgewer: Protea
ISBN: 978-1-4853-1567-4
- Inleidend
“Hierdie is mý boek oor mý lewe.” So skryf Karel Schoeman in 2002 in sy outobiografie Die laaste Afrikaanse boek: outobiografiese aantekeninge (bl 59). Tromp (Karel) Schoeman was een van Afrikaans se belangrikste en grootste romansiers met ’n indrukwekkende oeuvre wat oor verskeie genres strek. As historikus het hy ’n nalatenskap van honderde navorsingsartikels en boeke wat deur talle lesers en historici van onskatbare waarde geag word. Sy werksywer was fenomenaal. Hy was ’n meesterstilis wat lesers sedert die verskyning van Veldslag in 1965 telkens oorbluf het met sy besonder poëtiese beskrywings van veral landskaptonele en die skep van ’n spesifieke atmosfeer in romans soos ’n Lug vol helder wolke (1967), ’n Ander land (1984) en Hierdie lewe (1993).

Human & Rousseau
Vir talle Afrikaanse lesers was Schoeman bloot die skrywer van ’n voorgeskrewe roman of twee wat hulle op skool of tydens hul voorgraadse letterkundestudies móés lees. Schoeman was egter veel meer as ’n skrywer. Hy was bekend vir sy teruggetrokke persoonlikheid en het grotendeels die allure van ’n kluisenaarslewenstyl probeer handhaaf. Die vraag is dus: Wie was Karel Schoeman?
Ten spyte van sy grootliks introverte persoonlikheid is dit opvallend dat hy in verskeie geskrifte outobiografies skryf. Hierdie geskrifte sluit, naas sy outobiografiese aantekeninge, tekste in soos Merksteen: ’n dubbelbiografie (1998), Afskeid van Europa: aantekeninge (2017a), Slot van die dag: gedagtes (2017b), en Die laaste reis (2017c). In hierdie tekste lig Schoeman die sluier, maar is deurentyd selfbewus, en beperk hy die hoeveelheid inligting wat weergegee word. Biografiese besonderhede word met die leser gedeel slegs sover as wat dit die skrywer behaag.

Human & Rousseau
Vir dekades was Schoeman se persona ’n enigma. Hy was kamerasku en het selfs geweier om sy boeke vir lesers te teken. Hierdie afstandelikheid is juis dié faktor wat mense nuuskierig maak omtrent die skrywer. Reeds in 1998 het JC Kannemeyer Schoeman gekontak en gepols rondom die skryf van sy biografie. Schoeman was nie hiervoor te vind nie: “John K het onlangs gebel om te laat weet dat hy met Leipoldt afgereken het en graag nou na my wil oorskakel, ’n gedagte wat ek nie aangemoedig het nie” (Winters 2020:461). Hierdie voorgenome biografie sou eers ’n dekade na Schoeman se dood gestalte kry in Ria Winters se biografie Daardie lewe: Karel Schoeman (2026). In die biografie delf die Nederlandse historikus diep en verken die vele gedaantes van Schoeman as mens, skrywer en historikus. Winters se biografie oor Schoeman is voorafgegaan deur ’n boek getiteld Reise met Schoeman: in die voetspore van die skrywer, wat in 2020 verskyn het. Hierin lewer sy hoofsaaklik verslag oor hul jare lange e-pos-korrespondensie oor verskeie onderwerpe. Ten spyte van ’n verskeidenheid tekste waarin outobiografiese herinneringe opgeroep word, bestaan daar steeds ’n geheimsinnigheid omtrent Schoeman as mens en was die skryf van ’n genuanseerde biografie soos Daardie lewe: Karel Schoeman (2026) broodnodig.
In haar biografie oor die lewe van die skrywer Jeanne Goosen merk die biograaf Petrovna Metelerkamp (2020:10) op dat “[d]ie skrywer van ’n lewensverhaal nie sensuur [behoort] toe te pas nie [en] behoort nie [’n] sedebewaker te wees nie”. Alhoewel Schoeman in sy outobiografiese aantekeninge wel sommige aspekte van sy lewe indringend bespreek, is daar tog ’n mate van selfsensuur. In Die laaste Afrikaanse boek (2002) merk Schoeman op: “Opspraakwekkende onthullings kan ek nie maak nie, en amusante verhaaltjies oor die bekende figure van my tyd het ek nie om te vertel nie” (59). Hierdie uitspraak is tipies aan Schoeman se introverte persoonlikheid, maar soos Winters in haar biografie onthul, is Schoeman se stelling helaas bedenklik. Weens die aard van die outobiografie en die tydvak waartydens die biografiese aantekeninge verskyn het, kan die leser begryp waarom Schoeman biografiese inligting en sekere gebeurtenisse of interaksies met mense in sy outobiografie verswyg. Dit is die voordeel van ’n biografie: Die skrywer word nie beperk (en behoort nie beperk te word) tot watter inligting bekendgemaak mag word al dan nie. Meer nog in die geval van ’n geheimsinnige hermiet soos Karel Schoeman.

Human & Rousseau
- Die biograaf op Schoeman se spore
Van Gorp, Ghesquiere, Delabastita en Flamend (1991:50) definieer ’n biografie as ’n “[w]etenschappelijke studie of literaire genre waarin de levensloop van een persoon beschreven wordt. Zij verstrekt zowel gegevens over zijn innerlijke ontwikkeling als over zijn werk en situeert hem in tijd en omgeving.” Hierdie definisie is veelseggend, aangesien dit die werkswyse van die biograaf duidelik uiteensit: Die biograaf moet die mens (in dié geval die skrywer Karel Schoeman) se innerlike ontwikkeling aan sy werk (romans en historiese publikasies) koppel deur dit in die konteks van ’n spesifieke tydvak te interpreteer. In Daardie lewe slaag Winters daarin om presies dít te doen. In haar bespreking van beide fiksie en niefiksie betrek sy die konteks waarin ’n spesifieke teks soos byvoorbeeld die distopiese roman Na die geliefde land (1972) verskyn het. Die konteks van die publikasie asook die skrywerspersoon word as eenheid bespreek. In hierdie voorbeeld word daar verder ondersoek ingestel na Schoeman se politieke standpunt ten tye van die roman se verskyning. So merk Schoeman in ’n toespraak wat namens hom voorgelees is op dat hy “[t]eenswoordig trouens nog meer as ooit terug en met toenemende besorgdheid as Suid-Afrikaner [dink] oor wat daar in die land gebeur” (2026:188).
Volgens Brian Roberts (2002:52) word die outobiografie en biografie binne die literatuurwetenskap tradisioneel as vorme van tekskritiek beskou: “Autobiography and biography [are] commonly considered within literary study as criticism of writing by the self or about another.” Binne hierdie raamwerk poneer Roberts dat die leesproses ’n aktiewe uitbreiding van die skryfproses word; die leser is nie ’n passiewe ontvanger nie, maar neem deur kritiese analise en interpretasie van die outobiografie-as-teks aan die betekenisskepping deel. Sodoende word die subjek (in dié geval Karel Schoeman) van die lewensverhaal self as ’n teks geïnterpreteer wat ontleed en gedekodeer moet word. Hierdie siening stel die leser in staat om ook sy of haar eie afleidings te maak wat in konteks met dié van Winters as biograaf gelees word.
Op sy beurt omskryf Norman Denzin die biografiese werkswyse in sy Interpretive biography (1989) soos volg: “I define the biographical method as the studied use and collection of life documents, or documents of life, which describe turning-point moments in individuals’ lives” (7). Winters het verskeie uithoeke van die land besoek om soveel moontlik betroubare en relevante bronne omtrent Schoeman se lewe vir raadpleging op te spoor. Sodoende kon Winters verseker dat die biografiese gegewens oftewel “life documents” of “documents of life” ’n realistiese uitbeelding van sy menswees en skrywerskap in Daardie lewe uiteensit. Volgens Bisschoff (1992:42) maak “die biograaf gebruik van dokumente [en ...] strewe na ’n absolute outentieke en noukeurige weergawe van die betrokke persoon se lewe”. Bisschoff noem verder dat “die egte biografie geen ruimte vir sentimentaliteit [laat] nie, omdat dit die waarheid omtrent die betrokke persoon se lewe skade kan aandoen” (43). In dié opsig dien 78 bladsye se eindnotas en ’n uitgebreide bronnelys as bewys van Winters se nougesette werkswyse as biograaf.
’n Kernaspek wat Bisschoff (1992:43) omtrent biografieë beklemtoon, is dat “[d]ie egte biografie nie te lank [moet] wees nie en [dat] dit ook nie verheerlikend van aard [moet] wees nie”. In laasgenoemde geval slaag Winters daarin om Bisschoff se mening omtrent die verheerliking van ’n individu te vermy. Omtrent die lengte van ’n biografie merk Lee (1971:39) op dat “[d]aar geen vasgestelde lengte vir die biografie is nie. Dit hang af van die hoeveelheid navorsingsmateriaal wat die biograaf tot sy [of haar] beskikking het, die belangrikheid van die persoon oor wie die biografie handel en die intrinsieke biografiese waarde van die beskikbare materiaal.” Ek is dit met Lee eens dat die lengte van ’n biografie nie die kwaliteit van die biografie kan of moet bepaal soos Bisschoff te kenne gee nie. In die geval van Daardie lewe het Winters op deeglikheid eerder as lengte van die biografie gefokus.

Human & Rousseau
- Mrs Dalloway van Trompsburg
Winters (2026:53) noem dat “[Virginia] Woolf se roman To the Lighthouse (1927) [een] van [Schoeman] se gunstelingboeke op hoërskool was”. Hierdie opmerking is veelseggend aangesien Woolf bekend is vir haar bewussynstroomtegniek, wat ook in Schoeman se skryfstyl voorkom. Ook haar werksvernuf, slapeloosheid, hoofpyne en depressie stem toevallig ooreen met eienskappe van Schoeman se karakter – hy het lewenslank aan migraineaanvalle asook depressie gely. Dit is dus geen verrassing dat Schoeman by Woolf aanklank gevind het nie.
Die Nederlandse digter Adriaan Roland Holst het eenkeer opgemerk dat die digter Simon Vestdijk vinniger skryf as wat God kan lees. Schoeman se werksywer en pligsgetrouheid was uitsonderlik en hy kon kers vashou by onder andere Vestdijk asook die Afrikaanse literator JC Kannemeyer, wat in literêre kringe bekend is vir sy vlyt as literatuurhistorikus, biograaf, resensent en navorser. Die leser bly deurgaans bewus van die dringendheid waarmee Schoeman sy navorsing en skryfwerk aangepak het. Ten spyte hiervan het hy meestal tot kort voor sy dood tegelykertyd aan drie of vier projekte gewerk.
........
Schoeman se historiese navorsing is van onskatbare waarde vir historici, maar ook vir Afrikaans in die breër konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing.
.........
Schoeman se historiese navorsing is van onskatbare waarde vir historici, maar ook vir Afrikaans in die breër konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit kan deels toegeskryf word aan sy weetgierige karakter asook sy voltydse betrekking as argivaris by die Suid-Afrikaanse Biblioteek (SAB) in Kaapstad, ’n betrekking wat hy tot sy aftrede in 1998 beklee het. Tydens indeksering het Schoeman gereeld op vergete materiaal afgekom wat sy belangstelling geprikkel het. Een voorbeeld is die moord van Hesje van der Merwe. In 1986 skryf hy ’n reeks van drie artikels oor die vrou wat in 1837 deur haar eggenoot vermoor is. Die skrywer Daniël Lötter se roman Douwenis, wat onlangs by Protea verskyn het, handel oor die moord van Hesje deur haar man, Carel, en is grootliks onder andere op Schoeman se navorsing gebaseer. Winters lewer uitgebreid verslag oor Schoeman se historiese navorsing met ’n groot hoeveelheid bladspasie wat daaraan toegestaan word. Die besprekings bevat soms lang aanhalings uit primêre tekste geskryf deur Schoeman wat in die breër konteks bespreek word. Diegene wat nie ’n voorliefde vir geskiedkundige tekste koester nie, mag hierdie afdeling van die biografie moontlik vervelig vind, maar dit kan geensins toegeskryf word aan Winters se aanbieding van die materiaal nie.
- Schoeman agter geslote deure
In sy humoristiese memoires getiteld Seks & drugs & boeremusiek: die memoires van ’n volksverraaier merk Koos Kombuis (2000:138) in ’n voetnota op: “My apologie vir die toutologie. Volgens ingeligte bronne is Karel Schoeman anyway altyd in ’n slegte bui.” Hierdie opmerking moet met die tong in die kies gelees word, maar soos die leser self te wete sal kom, is dit opvallend dat Schoeman met tye misverstaan is en kort van draad of bloot onbeskof kon voorkom. Hierdie karaktereienskappe kan aan sy introverte geaardheid en voorkoms toegeskryf word. Sy selfopgelegde kluisenaarsbestaan het bygedra tot die enigma wat rondom hom as skrywerspersona bestaan het. Tog was daar ook ’n mens met ’n groot hart wat agter hierdie skugter masker geskuil het.
Schoeman se lewenslange smagting op soek na liefde word uitgebreid deur die loop van die biografie weergegee. Winters skryf ongesensureerd oor Schoeman se privaat lewe en veral sy seksualiteit wat vir sommige lesers moontlik verrassend sal wees. Heelwat van die meer intieme inligting ontbreek in sy outobiografie, wat toegeskryf kan word aan ’n vorm van selfsensuur aangesien hy homself of ander persone moontlik enige negatiewe reaksies wou spaar. In die laaste hoofstuk van sy outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek, merk Schoeman op dat “[w]erklikheid, fiksie en verbeelding mekaar ingehaal en oorvleuel [het], en die onderskeie fasette van [s]y lewe saamgesmelt [het] tot ’n enkele geheel” (bl 676). Sekere van hierdie “fasette” waarna Schoeman verwys, met spesifieke klem op sy liefdeslewe (of gebrek daaraan), is ongesensureerd deur Winters ondersoek.
Schoeman het nie sy seksualiteit slegs deur sy karakters in sy romans uitgeleef nie. Op bl 165 verwys Winters na ’n gesprek wat Schoeman met die filosoof Johann Rossouw gehad het waarin hy erken dat hy tydens sy lewe met meer as ’n duisend mans seksueel verkeer het. Hierdie stelling klink amper te dik vir ’n daalder gesien in die konteks van die tydvak waarin Schoeman geleef het. Sy wisselende, tydelike verblyf in Europa het vanselfsprekend meer geleenthede gebied om ander gay mans te ontmoet, alhoewel ontmoetings met ander homoseksuele mans ook in die konteks van ’n streng Calvinistiese Suid-Afrikaanse milieu geskied het. Hierdie aspek van Schoeman se lewe is ’n studie op sigself werd. Homoseksualiteit en homoseks was vir die grootste deel van sy lewe onwettig in Suid-Afrika. Weens sy bekendheid as skrywer was dit ’n riskante spel wat Schoeman gespeel het wanneer hy ander gay mans ontmoet het. Naas enkele liefdesverhoudinge, waarvan sommige kortstondig was, het liefde hom lewenslank ontgaan. In later jare het hy veral met die skrywer Fanie Viljoen gesprekke hieroor gevoer.
Die biografie bevat ’n magdom inligting wat Schoeman as mens verder belig, aangesien heelwat van die inligting – hoe triviaal dit ook al mag wees – andersins nie aan die leserspubliek bekend sal of mag wees nie. Hier is enkele interessante feite oor Karel Schoeman wat die speurende (en nuuskierige) leser van die biografie sal waardeer: Schoeman is in 1939 in ’n hotelkamer gebore. Die politikus Piet Koornhof se pa, ds GW Koornhof, het Schoeman gedoop. Sy oupa, HH van Rooijen, het in 1922 die stigter en eerste bestuurder van die begrafnisondernemer AVBOB geword. Schoeman en die digter Philip de Vos het vir drie jaar lank gedurende die Afrikaans-Nederlandse lesings langs mekaar in ’n klas by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (nou UV) gesit. Schoeman was (wisselvallig) vriende met onder andere die digter Elisabeth Eybers en skrywer Dot Serfontein. André P Brink was Schoeman se bête noire – hulle het geen ooghare vir mekaar gehad nie. As opskrif vir ’n resensie van Die noorderlig skryf Brink dat “Karel Schoeman al hoe meer ’n tantetjie wat doilies hekel [is]” (Winters 2026:230). Jare later weier Schoeman om tydens ’n funksie in dieselfde vertrek met Brink te wees. Schoeman het dit geniet om binnenshuise versiering te doen en het ’n aanleg vir teken gehad. Die nou afgetrede regter Edwin Cameron is Karel se halfsuster, Salomé, se seun.
Schoeman het nooit geleer om ’n motor te bestuur, te swem of fiets te ry nie. Hy het ’n lewenslange liefde vir duur sjampanje gekoester.
........
Schoeman het nooit geleer om ’n motor te bestuur, te swem of fiets te ry nie. Hy het ’n lewenslange liefde vir duur sjampanje gekoester.
........
Die liggaamlike en verstandelike aftakeling deur die ouderdom het Schoeman genoop om selfdood te pleeg, ’n ideaal waarna hy vir jare gestreef het. Sy besluit om te sterf word breedvoerig in Slot van die dag (2017b) uiteengesit. Bisschoff (1992:43) voer aan dat “[die klem] [i]n die moderne biografie op die individualiteit van die persoon waaroor die biografie handel [val] en die anekdote verval”. Winters se uiteensetting van hierdie “individualiteit” geskied op eerlike, feitelike wyse. Oor Schoeman se beplande selfdood skryf sy sonder vooroordeel en handhaaf die objektiwiteit wat van ’n goeie biograaf verwag word.
Winters het Schoeman se besluit om te sterf verder ondersoek. Een van die belangrike onthullings is Schoeman se eerste selfdoodpoging van twee jaar tevore op Vrydag 2 Oktober 2015. Hy het die proses deeglik beplan deur ’n oordosis slaaptablette in te neem en sy dag so te reël dat hy nie gesteur sou word nie. ’n Verpleër van Noorderbloem het hom egter toevallig betyds in sy woning aangetref, en alhoewel hy bewusteloos was, kon hulle daarin slaag om hom by te bring. Hy was teleurgesteld en woedend. Hy sou seker maak dat dit nie weer gebeur nie.
Twee jaar later, op 1 Mei 2017, sterf Schoeman in sy eie bed deur selfdood soos hy dit beplan het, na maande se navorsing en gesprekke. Tipies aan sy karakter was sy dood steriel tot op die letter beplan en uitgevoer. Aan sentiment het hy geen behoefte gehad nie. Winters se persoonlike korrespondensie in die voorafgaande jare bied ’n veel dieper insig in Schoeman se denke en besluite wat sy selfdood voorafgegaan het.
- Slot
Dit is kommerwekkend dat Schoeman se literêre en navorsingsnalatenskap in die vorm van manuskripte en allerlei navorsingsmateriaal nie as eenheid behoue gebly het vir argivale bewaring nie. Winters se uitgebreide speurtog na dokumentasie omtrent Schoeman se skrywerskap het haar na verskeie uithoeke van die land geneem, aangesien Schoeman sy navorsingsnalatenskap aan verskeie argiewe en instellings bemaak het. Literêre en historiese dokumente wat deur universiteitsbiblioteke en instansies soos die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) bewaar word (wat glo bitter min van Schoeman se literêre nalatenskap in hul besit het), is tot ’n mate veilig vir toekomstige generasies bewaar. Die feit dat belangrike dokumente soos die handgeskrewe manuskrip van een van Schoeman se beste romans, ’n Ander land (1986), in die Stadsbiblioteek in Johannesburg se besit is, is hoogs kommerwekkend. Met kwynende staatsubsidies wat die nasionale en provinsiale regerings aan biblioteke en museums toewys, kan ’n mens maar net raai wat in die toekoms van kosbare argiefmateriaal gaan word indien dit nie korrek bewaar word nie of die historiese en argivale waarde daaraan verbonde nie aan die betrokke owerhede bekend is nie.
Ria Winters se biografie oor die lief en leed van een van Afrikaans se beste en produktiefste skrywers is ’n reuse bydrae tot die biografiese genre in Afrikaans. In die afwesigheid van wyle JC Kannemeyer was dit byna ondenkbaar dat enige literator ’n taak so veeleisend en tydrowend soos die navorsing vir en skryf van Daardie lewe: Karel Schoeman sou kon aanpak. Danksy Winters kan Schoeman se biografie naas uitmuntende skrywersbiografieë soos dié van Uys Krige, MER, NP Van Wyk Louw, CJ Langenhoven, Etienne Leroux, C Louis Leipoldt, DJ Opperman en Jan Rabie op die boekrak pronk. Daardie lewe: Karel Schoeman is ’n biografie wat Schoeman heel waarskynlik in die privaatheid van sy kluisenaarswese nie sou gelees het nie, maar hom perdalks ’n effense tinteling van ’n goedkeurende glimlag sou besorg het sou hy dit ooit onder oë kon gekry het.
Die skrywer en uitgewer moet geloof word vir die kwaliteit van hierdie publikasie. Dit gebeur selde dat ’n Afrikaanse boek in hardeband met stofomslag verskyn. Die taalversorging is keurig, met volledige eindnotas en ’n deeglike register. Die foto’s verdien lof, veral gesien in die konteks van Schoeman se afkeer van publisiteit. Voorheen ongepubliseerde foto’s van Schoeman komplementeer die biografie. Wie sou ooit kon gedink het dat die Afrikaanse leserspubliek ’n foto van Karel Schoeman te siene sou kry waarin hy in vroulike gewaad verskyn tydens ’n Kersspel in 1963 waarin hy die rol van ’n Arabiese prinses in die toneelstuk The private life of Ali Baba vertolk?
.........
Wie sou ooit kon gedink het dat die Afrikaanse leserspubliek ’n foto van Karel Schoeman te siene sou kry waarin hy in vroulike gewaad verskyn tydens ’n Kersspel in 1963 waarin hy die rol van ’n Arabiese prinses in die toneelstuk The private life of Ali Baba vertolk?
..........
Daardie lewe: Karel Schoeman is geen hagiografie nie. Winters ontsien geen heilige koeie nie en takel elke aspek van Schoeman se menswees met eerlikheid gegrond op feitelike gegewens soos argivale dokumentasie asook Schoeman se eie skryfwerk. Soos enige goeie biograaf en historikus gaan sy deeglik te werk met die beskikbare bronne om te verseker dat die mens onder bespreking so volledig en getrou weergegee word, met gebreke en al.
Daardie lewe: Karel Schoeman is ’n magistrale teks wat die Afrikaanse literêre biografie opnuut op die voorgrond plaas. Winters verdien ’n pluimpie vir hierdie pragboek. Lesers, veral Schoeman-aanhangers, sal die insigryke biografie geniet. Hierdie boek verdien ’n ereplek op elke boekrak.
Bibliografie
Bisschoff, A. 1992. Biografie. In Cloete (red) 1992.
Cloete, TT (red). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.
Denzin, NK. 1989. Interpretive biography. Newbury Park, Londen en Nieu-Delhi: Sage Publications.
Kombuis, KA. 2000. Seks & drugs & boeremusiek: die memoires van ’n volksverraaier. Kaapstad: Human & Rousseau.
Lee, S. 1971. Principles of biography: the Leslie Stephen Lecture. Folcroft: Folcroft Library Editions.
Lötter, D. 2026. Douwenis. Pretoria: Protea Boekhuis.
Metelerkamp, P. 2020. Jeanne Goosen: ’n lewe vol sinne. Hermanus. Hemel en See Boeke.
Roberts, B. 2002. Biographical research. Buckingham: Open University Press.
Schoeman, K. 1965. Veldslag. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 1967. ’n Lug vol helder wolke. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 1984. ’n Ander land. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 1993. Hierdie lewe. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 1998. Merksteen: ’n dubbelbiografie. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2002. Die laaste Afrikaanse boek: outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2017a. Afskeid van Europa: aantekeninge. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2017b. Slot van die dag: gedagtes. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2017c. Die laaste reis. Pretoria: Protea Boekhuis.
Van Gorp, H, R Ghesquiere, D Delabastita en J Flamend. 1991. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Winters, R. 2020. Reise met Schoeman: in die voetspore van die skrywer. Pretoria: Protea Boekhuis.
Lees ook:
Karel Schoeman (1939–2017) – herinneringe aan die buitestander

