Nicol Stassen praat met Naomi Meyer oor die effek van inperking op ’n winkel soos die Protea-boekwinkel op Stellenbosch, waar die Saterdagoggend-bekendstellings ’n instelling is.
Nicol, ek beskou Protea-boekwinkel op Stellenbosch as ’n baie belangrike boekhandelaar in die land. Wil jy dalk uitbrei op hoe dit julle winkel affekteer as papiereksemplare van boeke nie verkoop mag word nie? Persoonlike terugvoer is ook welkom, asook enige terugvoer van julle gereelde kopers.
Stellenbosch is eintlik een van ons kleiner takke. Dis maar ons sesde grootste tak.
Uiteraard kan ons op die oomblik geen enkele boek verkoop nie en het dus al vir vyf weke lank geen inkomste nie. Dis natuurlik ook vir die klante ’n groot frustrasie.
Die grootste deel van ons inkomste is opvoedkundige boeke (skool- en universiteitsboeke). Dit lyk op die oomblik of opvoedkundige boeke van vlak 4 af, wat Vrydag 1 Mei in werking tree, verkoop kan word. Dit sal ten minste verligting vir ons en studente en skoliere bring. Dit is egter nog onseker van wanneer af algemene boeke verkoop sal kan word.
Daar is heelwat mense wat nuwe boeke wat pas verskyn het, wil lees, maar ongelukkig vir ’n ruk lank sal moet vasbyt. Vir studente is dit ook ’n groot frustrasie om sonder handboeke te studeer.
Die regering moet hierdie situasie van pandemie versus hongersnood baie versigtig bestuur. Samedrommings van mense is nie ’n goeie idee nie. Wat sou jy kon voorstel om die verkoop van boeke vanuit ’n winkel soos Protea se winkels (in enige van die takke) op ’n veilige manier te bewerkstellig?
Boekwinkels is nooit plekke waar groot klompe mense saamdrom nie, en skep dus nie so groot risiko as supermarkte nie.
Die volgende sou geïmplementeer kon word sonder enige noemenswaardige risiko:
* elektroniese en telefoniese bestellings met aflewering deur koeriers
* boeke wat vooraf bestel word en by die winkel afgehaal word sodra dit gereed is
* mense wat self winkel toe kom en boeke normaal aankoop mits die normale distansiërings- en veiligheisreëls nagekom word.
Boeke kan dalk nie, as mens na Maslow se hiërargie van behoeftes kyk, as lewensnoodsaaklik beskou word nie. Maar gedurende grendeltyd en wanneer maatreëls verslap word, is dit ’n veel beter idee om boeke eerder as sekere ander produkte wat as noodsaaklik beskou word, te verkoop, is my persoonlike mening. Wat dink jy kan lesers wat hiermee saamstem, prakties doen – om so gou dit wettig is, weer boeke in die hande te kry?
In baie lande word boeke as essensiële produkte beskou en boekwinkels kan vrylik op bg maniere handel dryf. Ons sal bg maatreëls van 1 Mei af implementeer vir opvoedkundige boeke en skryfbehoeftes, en so spoedig moontlik ook vir ander boeke as die maatreëls verslap sal word om ook ander boeke in te sluit.
Ons sal waarskynlik vir ’n paar maande lank op hierdie wyse moet voortgaan.
Inligting oor al ons boeke, sowel as die pryse en beskikbaarheid daarvan en koeriertariewe, is op ons webwerf beskikbaar. Dit behoort dus maklik te wees om met die klik van ’n knoppie boeke te bestel. Vir diegene wat sku is om op hierdie manier te bestel, sal dit steeds maklik wees om per e-pos en telefonies boeke te bestel.
Ouer mense en mense in risikogroepe sal verkieslik nie direk die winkel moet besoek nie en boeke eerder op een van die ander maniere moet bestel.
Lees ook:



Kommentaar
'n Baie belangrike vraag waaroor die regering meer leiding sal moet verskaf is watter tipe boeke as "opvoedkundige" boeke beskou word. As letterkundedosent is 'n roman of digbundel deel van my eie (sowel as my studente) se "opvoedkundige" boeke. So die vraag is dus of dramatekste of romans dus verkoop mag word aangesien dit myns insiens as "opvoedkundige" boeke vir universiteite se taaldepartemente beskou kan word.
Dewald, ek vermoed alle boeke wat by universiteite en skole voorgeskryf word, sal kan deurgaan as "opvoedkundige" boeke. Dit is egter so dat daar geen duidelike omskrywing is van wat presies 'n "opvoedkundige" boek is nie. (Eintlik is alle boeke "opvoedkundig", wil ek tong in die kies sê.)
Presies. En is alle niefiksie in beginsel maar opvoedkundig nie?
Ons sal by Protea alle opvoedkundige boeke, insluitende dramas/romans/digbundels wat deur dosente voorgeskryf word, beskikbaar stel. Jy kan met ’n gerusde hart al jou studente na ons verwys.
Boeke (oor die grense van genres) IS opvoedkundig omdat hulle lees- en skryfvaardighede verbeter deur inoefening en kennisverbreding, punt. Dit gaan seker oor wat die regering as sondig WIL beskou – helaas.