Estelle Kruger
Confrontation
Kirsty Steinberg
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928530229
Inleiding
Die meeste kunstenaars het die vermoë om iets uit hulle eie tydvak te reflekteer, maar niks meer nie. Die groot kunstenaar kry dit reg om die verbeelding van toekomstige geslagte aan te gryp en om iets te bied wat selfs vir hulle steeds direk relevant bly. Dit gebeur net in uitsonderlike gevalle, en is net moontlik as die kunstenaar vanuit sy diepste persoonlike oortuiging werk, met die drang om iets meer te bied as blote slim tegniek, en met ’n groter doelstelling as die blote bevrediging van die huidige kliënt [lees: leser] of bestaande gehoor. Die tydloosheid en die universaliteit van die werke van ’n grootse kunstenaar bestaan op grond daarvan dat hulle iets besonders het om te sê, iets van fundamentele menslike waarheid aanspreek (Robert Cumming, 1998; vertaling deur Piet van Rooyen).
Met die lees van Confrontation was ek sterk onder die indruk daarvan hoe kreatief die skrywer te werk gegaan het om hierdie sensitiewe verhaal met lesers te deel. Ook was ek bewus daarvan dat dit – behalwe die tematiese inhoud wat ek reeds bespreek het – meer as net ’n storie is. Nie alleenlik kry die hoofkarakter (die seun, CJ) se verbeelding, kreatiwiteit en kunstigheid gestalte in die uitleef van sy tekenkuns (18, 57, 59, 101), sy musiek (90, 1156) en sy liefde vir drama (14564) nie – dit is my oorwoë mening dat hierdie boek ’n kunswerk op sigself is.
Waar ek in die eerste deel van my lesersindruk Confrontation as tematiese memoire ondersoek het en gefokus het op die hooftema, naamlik dat daar ’n monster (aanvanklik onder die seun se bed) is wat vir CJ vir die eerste deel van sy lewe treiter, wil ek in hierdie gedeelte ondersoek instel na enkele tekstuele elemente wat die betekenis van die inhoud verskerp, sowel as aspekte van kreatiwiteit wat kreatiewe skryfkunde tot gevolg gehad het – sien die diagram aan die einde van die bespreking (my eie skepping).
Improvisasie en die maak van nuwe kombinasies
Reeds aan die begin van die verhaal kom die leser agter dat hier ’n spel met woorde is en intertekstuele begrippe integreer; ’n treffende buigsaamheid van idees wanneer die eerste hoofstuk se opskrif “little boxes” (11) is. Dit het my dadelik nuuskierig gemaak om te sien wat die volgende hoofstuk se opskrif sou wees. Voordat ek verder kon lees, wou ek dit eers vind – en daar was dit: “the pumpkin patch” (14). Selfs die lettertipe by die verskillende hoofstukke se opskrifte trek aandag – hier natuurlik met ’n pluimpie vir Naledi se uitlegkundige.
In “little boxes” (hoofstuk 1) kry die leser die kern van die verhaal: “I [lees CJ – die seun] should have been born female. Life would have been less complicated for me, would have held less torment, would have left me feeling less judged. But I wasn’t, so the result of that hormonal glitch had to be medically corrected” (13). Hierdie gedeelte toon nie net die pynlike andersheid van die hoofkarakter aan nie, maar ook is daar ’n sinspeling dat dit “reggemaak” kan word.
.........
Hierdie gedeelte toon nie net die pynlike andersheid van die hoofkarakter aan nie, maar ook is daar ’n sinspeling dat dit “reggemaak” kan word.
.........
Met die lees van “the pumpkin patch” (hoofstuk 1) kom die leser agter wat reeds by CJ se geboorte anders as by normale geboortes was – sy ouers se skok met hul seun se geboorte het gelei tot hul huwelikskonflik en uiteindelike egskeiding: “What should have been so easy, so natural, had degenerated into conflict – biological, domestic, emotional” (15). As CJ vanuit die baarmoeder iets kon sê, sou dit wees: “There’s something wrong in the pumpkin patch” (15).
Dadelik het ek as krities-waarderende leser terug na die inhoudsopgawe gegaan om die ander hoofstukke se opskrifte te vind (dit was die eerste keer dat ek regtig die inhoudsopgawe van ’n boek gelees het!). Ek is nie teleurgestel nie – die res van die hoofstukke se opskrifte was dieselfde kreatiewe improvisasie met treffende woorde wat duidelik die hoofkarakter se verskillende lewensfases en ongewone omstandighede uitbrei en verbeeld.
Die derde hoofstuk se opskrif lui “living in a tight-knit community” (16), waar die eerstepersoonsverteller aandui dat hy “of Afrikaans farming stock [is] [...] good, old fashioned Christian values. Salt of the earth [...] conservative [...] decent, family-orientated [...].” Hierdie inleiding maak die leser bewus van die agtergrond en waardes van die hoofkarakter se omgewing en ’n mens kan dadelik ’n aanvoeling kry vir die (moontlike) interpersoonlike konflik wat daar in die plaaslike gemeenskap sou wees indien die “waarheid” uitlek, so ook die interpersoonlike konflik wat CJ self ervaar. Net bogenoemde drie hoofstukke se inligting het my as leser se empatie wakker en nuuskierig gemaak om verder te wil lees.
Die woorde “the ‘oh no!’ moment” (hoofstuk 4) skep die leser se verwagting dat hier iets gebeur wat nie aangenaam is nie. Dit is ook inderdaad die geval omdat CJ by sy eerste dag by die kleuterskool tot die besef kom:
That was [...] my moment of truth. I knew I wasn’t supposed to feel at home, planted between the flowering girls in the sandpit. I knew that the comfort I felt meant trouble for me, apart from the fact that I would probably have to join the boys eventually [...] I liked being with girls. It was dawning on me that that is why I felt so off at times, like when you finally find the splinter in your foot. It’s not painful, but you know that digging it out will be (26).
CJ raak bewus daarvan dat hy dit altyd moeilik sal vind “finding out where I fitted in. I would never be able to relax. I had a constant awareness of this ‘thing’ that felt so wrong, and already I knew I would have to monitor my behaviour in social settings” (26).
Verdere voorbeelde van intertekste en ander verwysings wat die verhaal se diepte verruim, is “red ridinghood and a wolf or two” (35), “the elephant in the room” (107), “bonjour” (161), “dropping the mask” (168), “big ben and the promise of love” (190), “rosh hashana” (223), “monday in a paler shade of blue” (262) en “tea with virginia woolf” (296).
........
Hierdie opskrifte het onmiddellik met my gepraat, omdat dit onderskeidelik verwys na ’n liedjie en die titel van ’n televisieprogram wat my kinders gekyk het toe hulle klein was, sowel as ’n opera, Frankryk, spreekwoordelike uitdrukkings, ’n Joodse tradisie, ’n erotiese roman deur EL James en die innoverende en omstrede skrywer Virginia Woolf.
........
Hierdie opskrifte het onmiddellik met my gepraat, omdat dit onderskeidelik verwys na ’n liedjie en die titel van ’n televisieprogram wat my kinders gekyk het toe hulle klein was, sowel as ’n opera, Frankryk, spreekwoordelike uitdrukkings, ’n Joodse tradisie, ’n erotiese roman deur EL James en die innoverende en omstrede skrywer Virginia Woolf se bekende woorde: “If you do not tell the truth about yourself you cannot tell it about other people. I can only note that the past is beautiful because one never realises an emotion at the time.”
Hierdie intertekste lig die verhaal buite die gewone memoire uit. Nie alleen dui dit op die skrywer se beresenheid en belesenheid nie – dit spreek dadelik tot die leser se verwysingsraamwerk, omdat dit (moontlik) verwys na dinge uit die alledaagse konteks van lesers se lewens in hul kinderjare, ook jong volwassenes se ervarings, leesstof en ander vermaaklikhede. Hiermee kan menige leser (ook volwassenes en ouers van kinders) maklik identifiseer, en dit kan hulle nuuskierig maak – soos vir my – om te sien wat gaan in hierdie hoofstukke aan. Dit het verder by my die verwagting en nuuskierigheid geskep om te sien waarheen die inhoud van elkeen van hierdie eiesoortige opskrifte my sou lei in my leesproses.
Op dieselfde manier kan die lesers se verwagtingshorison verbreed en hulle intens betrokke raak by die ervarings van die hoofkarakter deur selfs net die hoofstukke se opskrifte te lees. Dit alleen is genoeg stimulus om die leser se nuuskierigheid te laat kriewel en telkens in die hoofstuk te soek vir die gebeure wat deur die opskrif aangekondig word en bydra tot begrip.
Sintuiglike waarneming en gewaarwording
Wat my eerste (en deurgaans) opgeval het, was die skrywer se beelding van die uitwendige werklikheid – die milieu deur middel van die hoofkarakter (CJ) se sintuiglike ervarings waarmee die sensitiewe leser ingenooi word om deel te hê aan ’n aangrypende verhaal wat op ware gebeurtenisse gebaseer is.
As kind ruik CJ die soet geur van die rose en dit herinner die eerstepersoonsverteller aan die die tuin in die plaas: “[E]njoying the open space as my tiny body runs naked through the sprinklers” (14). Soos wat hy deur die warmte van die son beskerm word, omhels dit ook sy onskuld.
As jong seun geniet CJ dit om saam met sy pa en ma dinge te plant in die tuin. “They involved me once in planting a sapling sycamore in the back garden and told me that it was my tree. I would visit that tree every day and have conversations with it. I would lavish love on everything, regardless of what their love-needs were” (19).
CJ is baie sensitief en tussendeur die “ambient noise of children/s voices, I could hear someone crying” (24) – dit dra by tot die lig, kleur en beweging by die kleuterskool wat die angs van sy voete af boontoe laat beweeg. Ook die reuk en die tekstuur van “rotting guavas” en “dog droppings” (25) dra by tot die seun se getraumatiseerde gevoel en bewussyn daarvan dat hy ’n buitestaander is.
Ek vind dit nie nodig om al die gevalle van sintuiglike sensitiwiteit verder te illustreer nie. My hoop is dat die leser daarvan bewus kan wees by die verdere lees van die boek en dat dit sal bydra tot die verdieping van meegevoel en begrip vir die hoofkarakter se belewenisse (22, 25, 26, 27, 30, 57, 85).
Beeldspraak
Dit is alom bekend dat metafore (ook vergelykings) retoriese, figuurlike taalgebruik is waarin ’n woord of frase in ’n figuurlike sin gebruik word om iets anders as wat dit letterlik beteken, te beskryf of te vergelyk. Hiermee word dus ’n dieper dimensie van die karakter se persoonlikheid uitgebeeld.
........
Wat die innerlike werklikheid van die hoofkarakter in Confrontation gestalte gee, is die baie metafore wat voorkom. Dit skep ’n beeldende en emosionele voorstelling in die gees van die leser wat dieper begrip en emosie versterk.
........
Wat die innerlike werklikheid van die hoofkarakter in Confrontation gestalte gee, is die baie metafore wat voorkom. Dit skep ’n beeldende en emosionele voorstelling in die gees van die leser wat dieper begrip en emosie versterk – ek konsentreer op enkeles:
Wanneer CJ deur ’n groep skoolseuns getreiter word, eers deur die skelwoord “faggot” (80), dan deur hulle rondgestamp en fisies betas word, voel hy vuil en magteloos. Wanneer ’n groter seun hom oor CJ ontferm en die ander seuns ’n loesing gee, is dit asof sy “initial panicked reaction to the attack had exploded into volcanic grief and a new and frightening sense of what it meant to be different” (81).
Nadat hy ’n vriendelike boodskap kry van sy vriend Schalk wat saam met hom musiek skep en waardeer (88), is dit asof CJ dit nie kan verwerk nie – hy ervaar gemengde gevoelens van toegeneentheid en verliesangs. Hy voel fisies siek, tog besef hy dit is nie omdat hy iets verkeerds geëet het nie, maar dat dit ’n onbekende, diep emosionele gevoel is wanneer ’n “tsunami of worst-case scenarios flooded my mind. If I allowed myself to think further than my clear boundaries, I knew I would get hurt.” Hy begin die patroon raaksien; wanneer hy toegeneentheid ervaar, voel dit of sy “emotional compass seemed to spun out”. Hy twyfel in homself: “Had I really attracted his attention or was it all just wishful thinking? I was part of the flock milling about on the school grounds that morning, but I wasn’t all-present-and-correct. My mind was a cacophony of competing voices, each one telling me something different” (89).
Slotsom
As kreatiewe denker wat op verskeie terreine my gawes uitleef en kreatiwiteit bestudeer, het ek my onderwysstudente (en hul toekomstige leerders) begelei om hulle kreatiwiteit te leer ken en gestalte daaraan te gee in stories en gedigte. In die lig van my agtergrond was hierdie boek vir my as ingeligte leser ’n verfrissende voorbeeld van ’n kunswerk waarin die skrywer skeppend deur die verteller gestalte gee aan die hoofkarakter se begaafdhede, sy sintuiglike belewenisse en verwoording van sy ervarings deur beeldspraak. Dit maak deel van die verhaal uit wat my begrip van die verhaal nog verder verdiep het.
........
My uiteindelike lesersindruk is dat trauma omskep is tot triomf.
........
Die skrywer het myns insiens daarin geslaag om ’n balans te skep deur die hoofkarakter (CJ, die seun) se worsteling aangaande sy seksuele oriëntasie en genderidentiteit te jukstaponeer naas sy uitdrukking van veelvlakkige kreatiwiteit en begaafdheid. Vir my as krities-waarderende leser het dit ’n dieper dimensie van empatie oopgemaak en my oortuig daarvan dat Confrontation nie net ’n verhaal met angswekkende en stresvolle ervarings is nie; inteendeel, ’n waardering vir die skoonheid daarvan bly by my en my uiteindelike lesersindruk is dat trauma omskep is tot triomf.
Om gebruik te maak van Cumming se woorde hierbo: Hier is ’n skrywer wat vanuit haar diepste persoonlike oortuiging werk. Die tydloosheid en die universaliteit van die werk bestaan op grond daarvan dat die verteller iets besonders het om te sê, iets wat fundamentele menslike waarheid aanraak.
Lees ook:
Confrontation deur Kirsty Steinberg: ’n lesersindruk (Deel 1)
Lees ook: