
Klik op die video, of volg hierdie skakel na YouTube.
Goeiemiddag aan almal teenwoordig
Dit is nie die eerste keer dat Antjie Krog die UJ-prys vir Afrikaans ontvang nie. Dit is in 2023 aan haar toegeken vir haar digbundel Plunder (2022), en sy was ook in 2001 die eerste wenner van die prys vir haar digbundel Kleur kom nooit alleen nie (2000). Hierbenewens het sy al baie ander belangrike nasionale en internasionale toekennings ontvang, soos die Hertzogprys, wat al drie keer aan haar toegeken is.
Lesers weet dat Krog se werk met ’n treffende eerlikheid delf in die intimiteite van menswees, en ook die intimiteite tussen mense. Met Binnerym van bloed (2025) verken sy die besondere verhouding tussen haar en haar moeder, die skrywer Dot Serfontein. Hierdie roerende teks word egter meer as net ’n verkenning van hierdie verhouding. Enersyds is dit ’n kulturele en talige viering van die waardering van die skone in en deur Afrikaans aan die hand van twee vervlegte lewens. Andersyds is dit ’n teks wat met medelye worstel met aspekte van vooruitgang en behoudendheid, begrip en onbegrip, en verwantskap en weersin. Die leser vind talle skakels met Krog se vroeëre prosawerke, veral ’n Ander tongval, maar tematies sluit Binnerym van bloed ook nou aan by aspekte van haar poësie.
Op die voorplat word Binnerym van bloed beskryf as ’n “outobiografiese roman”, maar dit is uiteindelik ook biografies. Die dogter se verhaal – die outobiografiese vertelling van Krog – word immers omvou deur die biografie van die moeder, Serfontein. Die leser leer in hierdie boek vir Serfontein ken, en soos Janien Linde dit stel: “Sy kom staan as vlees en bloed [...] voor ’n mens; iemand met ’n geskiedenis, ’n konteks, liefdes, vrese en haat.”1 Hierdie vlees en bloed neem pragtig vorm aan in Serfontein se taalgebruik. In resensies van die roman word daar telkens gewys op die rykheid van die taal wat lesers in hierdie teks aantref. Die vervlegting van die moederfiguur met die moedertaal dans as ’t ware voor die leser se oë op elke bladsy van hierdie boek. Vroeg aan word daar deur die verteller na Serfontein verwys as “die grondvester van my alfabet” (9), en ons kry toegang tot ’n soort Afrikaans wat vandag nie meer bestaan nie. Die verteller se opmerking dat sy niemand ken “wat so akkuraat met Afrikaans kan omgaan” soos Serfontein nie (67) word ook keer op keer beaam – in ’n digterlike stelling van die moeder soos, ek haal aan: “Die dae saai voor my uit in oneindige nimmers” (26), maar ook in skreeusnaakse oomblikke, soos wanneer sy aan die verteller sê: “Jirder, maar jou hare lyk verwerp!” (4). Uit die wyse waarop hierdie karakter ingekleur word – ook in terme van haar perspektiewe op soveel aspekte van menswees; haar waardering van die skone; haar beskouing van haar verantwoordelikheid teenoor haar man, gesin en mense; en haar rol as skrywer – kom iets besonders genuanseerd uit die verf: die wonderlike teenstrydigheid van ’n vol lewe. Dit is by monde van Serfontein wat daar in hierdie skrywerlike teks ’n diepsinnige stelling gemaak word oor wat dit van ’n mens verg om ’n skrywer te wees. Ek haal aan: “Jy moet eensaamheid kan hanteer en leer hoe om dit te bevolk. Dan moet jy ’n medium kry om dit te beliggaam. Derdens moet jy met deursettingsvermoë tyd maak om dit te skryf. Jy moet bereid wees om te gaan sit. En vierdens moet jy vir iets wil kompenseer” (68).
Soos Mercy Kannemeyer noem: “Hierdie werk is nie slegs ’n diep persoonlike, kwesbare en onopgesmukte boek nie, maar ook ’n betekenisvolle geskiedkundige dokument.” Dit spreek van ’n vaardigheid dat Binnerym van bloed die persoonlike en die geskiedkundige so goed anker in die talige verwantskap wat uitgebeeld word in die verhouding tussen moeder en dogter. Ons sien die kompleksiteit en geskakeerdheid van hierdie verhouding in aanhalings uit briewe tussen hulle, stukke uit versorgingsverslae, dagboekinskrywings, gedeeltes van manuskripte, prente, foto’s, poësie en meer. Die aanbieding van hierdie elemente is uiters geslaagd, en soos Elodi Troskie dit stel, verskaf dit ons as lesers met “’n gefragmenteerde dog uiters koherente prosateks”.
Daar is spronge tussen verskillende tye – van die Anglo-Boereoorlog na Serfontein se jongdae, die verteller se kinderdae, die dekades voor en ná die eerste demokratiese verkiesings en die roerende laaste jare van Serfontein se lewe. In laasgenoemde tref ons die onvermydelike aftakeling van die moeder se liggaam en sin aan en word die leser saam met die verteller deur die groeiende wete gekonfronteer dat lewens verbygaan en dat daar pyn en lyding in hierdie agteruitgang wag. Om weer vir Janien Linde aan te haal: “Met ’n mengsel van humor, ongemak en soms selfs brutaliteit word hierdie onderwerpe nie versag of verdoesel nie; die kriptiese versorgersverslae, veral, dra daartoe by dat die verhaal van die verlies aan (liggaamlike) agentskap juis so menslik en oortuigend aangeteken word.”
Binnerym van bloed bied natuurlik ook ’n verkenning van Krog se eie lewe en skrywerskap. Ons kom meer te wete oor ’n familiedinamiek deur verwysings na die verteller se vader en sibbe, en hoe hierdie dinamiek saamgebind word deur die moeder. Hierdeur keer Krog nie net terug na haar kinderjare en gepaardgaande herinneringe nie, maar sy keer ook terug na die Vrystaatse landskap – ’n landskap waarin sy en Serfontein sterk geanker staan. In Ihette Senekal se resensie van die roman dui sy aan dat Krog hierdie grondige verbintenis met dié omgewing gebruik vir die verkenning van kwessies soos grondbesit en ’n identiteit wat ten nouste daarmee verbind word. En dan, deur die gesprekke oor hierdie kwessie tussen moeder en dogter wat uit die teks na vore tree, sien die leser die vormende invloed wat Serfontein as skrywer op haar dogter had ten spyte van hulle baie verskillende benaderings tot hierdie kwessies.
In die uitbeelding van hierdie twee vroue se lewens sien die leser ook ’n parallel met die onstuitbare verandering van Afrikaner-politiek en -kultuur. Dit is weliswaar nie ’n oorvereenvoudigde aanbieding nie. Die roman vang die tydsgees van die land op verskillende momente vas, en laat die leser toe om sekere historiese gebeurtenisse – soos die begrafnis van Verwoerd – op verrassende wyse opnuut te beskou. Dit laat die ingewikkelde aard van die land en sy geskiedenis in hierdie gelaagde roman tot volvoering kom. Die roman maak nie verskonings vir die wandade van die verlede nie. Veeleer laat dit ons binne-in die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse verlede – en hede – staan. Dit verken ’n ruimte waarin ’n veelheid van herinneringe en beskouings nie in ’n enkele narratief ingedwing word nie, maar toegelaat word om saam te bestaan in hulle ryk en menslik morsige ingewikkeldheid.
Deur die moeilike konteks van die verlede aan te pak met ’n perspektief wat wissel tussen ongenaakbaarheid en deernis (van ma en ook van dogter), word Serfontein se lewe saam met Krog se eie lewe ondersoek, en voor die leser se oë gedy ’n vol en ryk verhaal. Binnerym van bloed is ’n verruimende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde
Ek vra nou dat die dekaan van geesteswetenskappe, Kammila Naidoo, die 2026-Universiteit van Johannesburg-prys vir Afrikaans aan Antjie Krog oorhandig vir die aangrypende roman Binnerym van bloed.

Antjie Krog en Kammila Naidoo, dekaan Geesteswetenskappe, UJ
- Foto’s en video verskaf deur UJ
Bronnelys
Krog, A. 2025. Binnerym van bloed. Kaapstad: Penguin Random House.
Senekal, I. 2025. Binnerym van bloed deur Antjie Krog: ’n resensie. LitNet. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/binnerym-van-bloed-deur-antjie-krog-n-resensie/ (10 Augustus 2026 geraadpleeg).
Nota:
1 Aanhalings van medebeoordelaars Janien Linde, Mercy Kannemeyer en Elodi Troskie is geneem uit hulle onderskeie beoordelingsverslae.

