
Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir fiksie 2026
Wenner: Antjie Krog vir Binnerym van bloed (Penguin Books)
Commendatio: Deborah Steinmair
Sekere boeke is bakens wat die aangesig van die horison verander. So ’n boek is Antjie Krog se outobiografiese roman, Binnerym van bloed. Selde was daar so ’n waardevolle dokument oor die onwaardige aftakeling van oudword.
Hierdie genre-tergende roman se hoogste bereiking is die aweregse manier waarop Krog daarin slaag om haar ma, die skrywer Dot Serfontein, se murg en hartstog met die leser te deel, dikwels in haar ma se taal. Dot se eie woorde het haar lank reeds onsterflik gemaak; Antjie laat haar herleef deur haar aan die woord te stel.
Daar is min bejaardes wat die onelegante werklikheid van verswakking so klinkend sou kon verwoord soos Dot Serfontein. Daardie “hektare van vergetelheid wat so gestae brokkel in my brein”? En: “[...] terwyl ek onder ’n doodsbaldakyn desperaat spring om nog die paar aalmoese wat die lewe na my gooi te vang.”
Die vrou wat opera en klassieke musiek luister, Duitse filosowe en internasionale digters kon aanhaal, wat sinne soos die voriges besig, is in haar laaste dae gereduseer tot ’n kort inskrywing deur ’n versorger:
Koerant se mense was hier om met pasiënt te praat.
Pasiënt ken hulle nie. Dogter vra mense om te gaan.
Harde groot opelyf.
Uitskot, laat Antjie die leser sien, anker ons aan die aarde. Ons verloor selle en uitskeidings, ons word deel van die aarde. Die immer verbluffende teenstrydigheid word ook duidelik: party van ons, soos Dot en Antjie, kan soos engele sing en hul gedagtes raak aan die sterre, maar almal van ons ontlas.
Antjie span, met toestemming, haar ma se briewe en skryfsels in om aan Dot ’n laaste buiging te skenk. Sy is ’n plunderaar sonder weerga – dit wat geleen word, word naatloos geïntegreer. Sy is dirigent én rolprentregisseur wat tonele weeg en afwissel, in volmaakte ewewig. Wat die oomblik ontgin sonder om te lank te draal. Ook Dot se versorgers kom aan die woord in bondige inskrywings wat die verval karteer.
Die kollig val op Dot; Antjie kom in die negatiewe ruimtes na vore. Dis ’n duet waarin mens nie altyd seker is wie die sanger is nie. Niks word uitgespel nie. Hofdigteres wat sy is, laat Antjie simbole en beelde vir hulself praat.
Soos mens sou verwag van ’n gesoute joernalis en deurwinterde digter, beweeg Antjie van die moeder-dogter-kopstamp na breër temas: die Afrikaner – sy psige en selfbeeld beskadig deur die Anglo-Boereoorlog – wat op sy beurt onderdrukker word.
Die roman verbeeld die ma-dogter-verhouding as ’n benouende landskap van bekendheid, verknogtheid en wegbeur van die “Barones van Belediging”. Daardie bloedliefde kan so maklik tot haat skif, maar dit gebeur nie hier nie. Soos alle skrywers het Antjie iemand nodig as klankbord en dokument, geloofsbrief, geskiedenis, iemand wie se moesie-oor haar telefoon is. Ma en dogter deel ’n biblioteek vol verwysings en ’n goddelooslike humorsin. Die leser speel luistervink. Ademloos.
Dot was nie net die grondvester van Antjie se alfabet nie. Sy en Antjie was mekaar se Ander, in ’n gekompliseerde twostep. Vandaar Antjie se versugting aan die einde: “My wese wil haar brose, uitgeputte liggaam met sy skerp, intelligente blik wat my my lewe lank rig, volkome kannibaliseer, haar verorber, my snoet rooi van haar bloed, sodat die verskeurende gemis na die waaragtige Ander nooit in my tot niet gaan nie.”
Daarin slaag sy uitmuntend.
Binnerym van bloed is ’n roerende monument aan ’n monumentale ma en dis ’n liefdeslied aan Afrikaans. Die mooiste woorde is nog nie verby nie.
Ons weier om te glo dat dit, soos Antjie gesê het, haar laaste boek is.

