
Boekomslag: Boekdiva Uitgewers
- Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Sterre is vir altyd
Sophia Kapp
Boekdiva Uitgewers
........
Ek was baie opgewonde vir Sophia Kapp se jongste boek, Sterre is vir altyd. Dit het ’n mooi voorblad. Die eerste boek in die reeks vertel die storie van Jane Barnard – oftewel Janie – en Max Rousseau wat oor ’n week in Parys verlief raak.
........
Ek was baie opgewonde vir Sophia Kapp se jongste boek, Sterre is vir altyd. Dit het ’n mooi voorblad. Die eerste boek in die reeks vertel die storie van Jane Barnard – oftewel Janie – en Max Rousseau wat oor ’n week in Parys verlief raak.
Die aanloopbaan van ’n storie
Janie – platsak en werkloos – gebruik haar laaste geld vir ’n vakansie saam met haar kêrel. Die kêrel, ’n lamsak van formaat, daag nie op nie. Sy klim steeds op die vliegtuig, want om haar bagasie te verwyder sou die ander passasiers verontrief.
Haar kêrel se sitplek word aan Max toegeken. Die twee vreemdelinge deel elf uur lank ’n vlug. Hulle leer ken mekaar en Max kan daarna nie van Janie wegbly nie.
Hierdie storie het ’n goeie raamwerk: ’n interessante en realistiese begin. Die stand van romanse lyk deesdae nogal woes – ten minste op sosiale media. ’n Romantiese stad. Twee mense wat tot mekaar aangetrokke is, maar meer bagasie dra as wat op ’n vlug toegelaat word.
Maar – en ek sê dit as ’n Sophia Kapp-aanhanger – die verhaal kom nie heeltemal bymekaar nie.
Janie
Die eerste 60 bladsye maak dit moeilik om van Janie te hou. Ja, haar verhouding het pas geëindig, maar haar selfbejammering en die houding van “ek gaan my droom opgee as gevolg van ’n man” raak gou irriterend.
Aan die een kant voel dit asof sy nie genoeg woede ervaar nie; aan die ander kant beskryf sy haar woede eerder as om dit werklik te beleef.
Na haar eerste dag in Parys begin Janie egter meer soos haarself voel. Die leser ontmoet haar vir die eerste keer – en dalk ontmoet sy ook haarself. Haar liefde vir kos, vir kuns, vir die mooi van die stad laat haar eg en opreg voel.
Sodra sy egter vanuit Max se perspektief beskryf word, raak sy soms die tipiese “not like other girls”-karakter. Janie is sterk genoeg om op haar eie voete te staan sonder dat ander vroue afgekraak word.
Max
Max is nie die tipiese “ryk held” wat geld najaag uit wraak nie. Hy werk hard vir jare en word skatryk daarvan. Hy koop sy wegloper-pa se plaas vir sy ma, maar erken nooit heeltemal aan homself dat hy dit ook vir homself gekoop het nie. Daardie erkenning sou vir sy karakter belangrik gewees het.
Ek het wel baie van die oomblik gehou waar hy ná ’n gesprek met sy prokureur besef hy is finansieel veilig. Dit voel soos ’n klein, maar betekenisvolle oomblik van groei.
Terwyl Max soek na sy Franse herkoms, kry die leser nooit die gevoel dat hy dieselfde doen vir sy bruin herkoms van Athlone nie. Hy praat van bolla en gatsby’s, maar dit lyk nie asof hy en sy ma ooit werklik by die gemeenskap ingeskakel het nie. Daar is geen bure wat familie geword het nie, geen koppie suiker wat oor ’n heining geleen is nie. Sy fokus op sy Franse erfenis plaas die gebrek aan belangstelling in die ander sy van sy herkoms onder die loep.
Wanneer Janie se suster, Elinor, hom aan die einde van die boek konfronteer, trap sy op ’n seerplek. Dis ongemaklik, maar nie onwaar nie.
Die skadu van Rose
Max se oorlede ma, Rose, is voelbaar deur die hele verhaal wanneer hy as perspektiefkarakter optree. Die leser leer haar ken deur sy oë: ’n vrou wat hy amper verhef tot iets heiligs.
Tog skyn daar klein stukkies van haar werklike lewe deur. Sy het haar droom verloor en die man wat sy liefhet, het haar verraai.
Dis ’n bekende geskiedenis, maar wat vir my ontbreek, is die gemeenskap se reaksie op Rose se ervaring. Nie net hul familie nie, maar die breër gemeenskap. Sommige sou hul verlekker in haar seerkry en ander sou teleurgesteld wees.
Dat Max dit nooit noem nie, kan beteken hulle het te vroeg weggetrek om dit te ervaar. Die gemeenskap se reaksie sou Max se ambisie beter gemotiveer het.
Lizzie se afwesigheid
Die onthulling oor Lizzie was vir my eintlik baie interessant. Dat Janie haar tweeling verloor het, gee groot emosionele diepte aan haar karakter en verduidelik baie van haar vrese rondom liefde en nie “genoeg” wees nie. Is jy nog ’n tweeling as die ander helfte nie meer leef nie?
Vir my het daardie onthulling egter redelik laat in die verhaal gekom. Indien Lizzie se afwesigheid vroeër subtiel genoem is, sou die leser se begrip van Janie en haar soeke na ’n ideale liefde nog meer versterk het.
Die einde
My grootste uitdaging met die boek was die einde. Wanneer Max opdaag vir Janie se verjaarsdag, sê hy hulle moet praat, maar dan hardloop hulle weer weg sonder om te gesels. Die feit dat hulle spring oor die “swaar” van hul verhouding laat my nie glo dat hulle gereed is om vir ewig die sonsondergang in te stap nie.
Sterre is vir altyd voel asof Sophia ’n eenvoudige liefdesverhaal wou skryf. Maar Janie en Max is komplekse karakters wat iets meer – en diepers – wou hê en verdien het.
Lees ook:
"Ek dink ek het liefdesverhale saam met melk ingekry!” – Elsa Winckler

