Cliff-hanger: Jy hóéf nie nou te lees wat almal lees nie

  • 0
  • Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
........
Ek is baie lief vir lees. Indien iemand my wou borg, sou ek twintig miljoen en ’n huis in ’n warm streek vat, en my dae bestee aan lees, met my geliefde Ramsey en Lola gaan stap, lees en lees. Ek glo vir die meeste lesers sal dit soos ’n droom klink. Veral as KI intussen die skottelgoed kan was, soos die dansende borde in Beauty and the Beast.

In die era van #BookTok lyk dit asof daar mense is wat reeds hierdie droom leef. Tydens my “net tien minute scroll” (wat altyd in ’n uur verander) op sosiale media, sien ek lesers wat trots aankondig: “Ek het 14 boeke dié maand gelees!” of “Ek is al op my 16de boek!” En dan begin ek wonder: Lees ek genoeg?

Maar hier is die waarheid: Lees is nie ’n wedloop nie. En boeke leef baie langer as wat dit in die hande van jou gunsteling-influencer oor jou skerm dans.  

........
Maar hier is die waarheid: Lees is nie ’n wedloop nie. En boeke leef baie langer as wat dit in die hande van jou gunsteling-influencer oor jou skerm dans.  
........

Klassiekers kry nuwe lewe

Moet my glad nie verkeerd verstaan nie – sosiale media is ’n lekker bron vir gemeenskap, om ’n passie vir boeke te deel, en nuwe boeke te ontdek. Nie net dié wat hierdie maand gedruk is nie.

Volgens die Forbes-artikel “The power of BookTok: Why TikTok’s book community is driving a new era in publishing” is een van BookTok se groot kragte dat dit nie net die nuutste boeke bevoordeel nie; dit blaas ook nuwe asem in ouer, minder bekende boeke deur nuwe lesers te lok.

Ek het self onlangs boeke ontdek soos Parable of the sower deur Octavia E Butler (nog nie gelees nie) en Jane Austen se Lady Susan. Ek is nie mal oor Lady Susan nie – sy is nogal mislik – maar as ’n Jane Austen fan was ek verbaas hoe hierdie boek amper nooit in gesprekke oor haar werke genoem word nie.

FOMO? Nee, dankie

Tog fokus die oorheersende video’s op sosiale media op die jongste boeke: Fouth wing (deur Rebecca Yarros), of Bury our bones in the midnight soil en The invisible life of Addie LaRue, beide deur VE Schwab. (Ek wens Afrikaanse boeke kan op hierdie skaal vlamvat!)

Die druk voel soms oorweldigend om hierdie boeke nóú te lees, want hoekom raak die skare so mal oor hulle. Ek weet natuurlik dit is deels bemarking, maar dis die video’s wat eg voel wat dikwels my aandag trek en my amper laat ingee.

Maar ’n goeie boek het nie ’n vervaldatum nie.

........
Maar ’n goeie boek het nie ’n vervaldatum nie.
........

Verlede jaar was The comrade’s wife deur Barbara Boswell op almal se lippe. Ek het dit eers onlangs gelees – nadat die gons sagter gedraai is – en steeds dieselfde krag daarin gevind. Dit was beslis die hype werd, en ek kan my voorstel dat iemand dit oor 20 of 30 jaar optel en net so in awe is.

Op die oomblik lees ek The book thief deur Markus Zusak stadig en doelbewus – en dit is een van die lekkerste leeservarings wat ek in jare gehad het. ’n Goeie vriend het dit aanbeveel, en al vat dit my langer as gewoonlik, geniet ek elke bladsy.

As jy jou leeskeuses net baseer op wat op sosiale media trend, verloor jy iets kosbaars: die element van verrassing en eiesoortige ontdekking.

Hoekom stadig lees saak maak

Sosiale media bevoordeel spoed: kitsmenings, kort aanhalings, vinnige resensies. Maar jou gunstelingboeke – dié wat jou lewe verander of dié waarin jy dele van jouself vind – kan die jongste treffers wees of al jare op die boekrak vir jou wag. Dit kan boeke wees wat jy op ’n vriendin se aanbeveling gelees het in plaas van die populêrste boeke van die oomblik. Ek is mal oor die Nieu-Seelandse skrywer Nalini Singh, asook die kortverhaalskrywer Ling Ma, maar hul werke is selde op sosiale media.

Sommige van die boeke op my rak wag al jare. Nie omdat ek hulle vermy nie, maar omdat die lewe gebeur en omdat lees vir seker ook gaan oor die regte gesindheid. Die regte boek, op die regte oomblik, kan meer beteken as tien haastige leeservarings saam.

........
Of jy nou 16 boeke per maand lees of net een per jaar, jy is steeds ’n leser. Jy hoef nie die nuutste publikasie na te jaag om deel van die gesprek te wees nie. Goeie boeke vind hul lesers – soms onmiddellik, soms jare later.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top