
Boekomslag: Die 13de dag in Chengdu deur De Wet Hugo (LAPA, 2025)
- Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Titel: Die 13de dag in Chengdu
Skrywer: De Wet Hugo
Uitgewers: LAPA
ISBN: 9780637007900
Henk en sy ma het na Chengdu in China verhuis. Henk is nogal ’n senuweeagtige kind en hy het allerhande bygelowe – boaan die lys is die nommer 13. Almal weet immers bose dinge gebeur as daardie nommer betrokke is. Wanneer die hysbak in hul woonstelgebou aanhou om by die 13de verdieping te stop en Henk begin knipperende oë in die donker sien wanneer die deure oopgaan, beteken dit sekerlik dat die spook van Sarah Mallory hom teister, nie waar nie? Hoekom anders gebeur allerhande vreemde en onverklaarbare dinge met Henk in hierdie land vol mites en legendes?
........
Vir my as iemand wat ’n bietjie – oukei, baie – bygelowig is oor Vrydag die 13de, was hierdie boek heerlik om te lees.
........
Vir my as iemand wat ’n bietjie – oukei, baie – bygelowig is oor Vrydag die 13de, was hierdie boek heerlik om te lees. De Wet Hugo se jongste jeugroman, Die 13de dag in Chengdu, neem die leser saam na China – die land van gedroogde visvelle en jiāngsjī. Hier ontmoet ons Henk, wat saam met sy ma na China verhuis wanneer sy ’n onderwyspos daar aanvaar.
Henk en sy erfenis van bygeloof
Henk se karakter word sterk gekleur deur sy bygelowe. Hy het immers ’n ouma gehad wat hom grootgemaak het terwyl sy ma in die buiteland gewerk het. By haar het hy sy diep vrees vir swart katte, oop sambrele binnenshuis en natuurlik die gevreesde nommer 13 geërf.
Hierdie fobies is nie net komies nie, maar skep ook ’n konstante gevoel van spanning. Die tragedie wat op die 13de verdieping van hulle nuwe woonstelgebou plaasgevind het, is genoeg om hom onmiddellik angstig te maak.
En sy angs is nie ongegrond nie – vreemde dinge begin gebeur wanneer hy alleen in die hysbak is. Hy voel asof iemand of iets hom dophou.
Die krisiskoningin en nuwe vriende
Gelukkig ontmoet Henk vroeg in sy nuwe avontuur vir Gaby, ’n selfversekerde en bekkige klasmaat. Sy is die tipiese krisiskoningin: iemand wat “Ag nee, hel!” kan uitroep en omkap in die gesig van gevaar. Haar humor en vreesloosheid balanseer Henk se senuweeagtigheid perfek. Waar Henk oordink en huiwer, spring Gaby sommer in.
By hulle twee voeg Steven hom ook. Hy is ’n Chinese Suid-Afrikaner wat ’n brug tussen wêrelde vorm en Henk en Gaby help om in die vreemde land aan te pas.
’n Land van mitologie en tegnologie
Een van die dinge wat Hugo besonder goed regkry, is om die tegnologie van ’n ander land en die nuuskierigheid wat dit ontlok, vas te vang. Henk en sy ma se ervaring van China is vol klein verrassings en vreemde ontdekkings wat die storie eg laat voel. Daarby verweef hy mitologie lekker deur die verhaal. Die jiāngsjī en Huli jing bring ’n rilling saam met die lekkerkry.
’n Jong seun met ’n ou siel
Henk werk goed as hoofkarakter. Sy maniertjies en woordgebruik wys dat hy grootgeword het met ’n ouma, nie ’n jonger ma nie. Hy dink en praat soms soos iemand uit ’n ander generasie, en dit maak hom interessant – nie die tipiese “cool tiener” nie, maar eerder ’n seun wat nog soekend en effens uit voeling is met sy maats. Dit gee hom ’n unieke stem wat jong lesers gaan herken en ouer lesers gaan waardeer.
Wat ek graag meer wou gehad het
My enigste kritiek teen Die 13de dag in Chengdu is dat ek graag meer sou wou gehad het. Ek het gehoop op ’n dieper uitbeelding van die spanning en vervreemding tussen Henk en sy ma, veral omdat sy al voorheen gereis het en hy by sy ouma grootgeword het. Hoe voel dit vir ’n amper tiener om sy veilige hawe van sy ouma te verruil vir die onsekerheid van ’n nuwe lewe?
Ek sou ook meer van Henk se ervaring van Chongqing self wou gehad het – veral omdat hy dit sonder sy maats Gaby en Steven beleef.
Tempo en spanningslyn
Tog is dit moeilik om nie saamgesleep te word deur die pas van die boek nie. Al sleep sekere gedeeltes effens vroeg in die verhaal, bou die spanning stadig maar seker op. Teen die einde het ek myself betrap dat ek nie vinnig genoeg kon blaai om uit te vind wat volgende gebeur nie. Dit is daardie lekker gevoel van ’n naelsbytavontuur wat jou dwing om nog ’n hoofstuk te lees.
Die 13de dag in Chengdu is ’n boek wat jonger tieners beslis gaan geniet. ’n Naelsbytverhaal met genoeg humor en hart om selfs die mees bygelowige leser se aandag vas te hou!
Lees ook:
Cliff-hanger: Ek skryf nie om bruin te wees nie – ek skryf vir my karakters
Cliff-hanger: Geheim in die riete deur Constant van Graan: ’n resensie
Cliff-hanger: A thousand eyes on you by Mia Arderne – a book review
Cliff-hanger: Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout – ’n resensie