Christiaan Bakkes (1965–)

  • 0

Gebore en getoë

Christiaan Bakkes is op 3 Augustus 1965 op Vredenburg aan die Weskus gebore as die jongste van vier kinders van die geskiedkundige Cas Bakkes en die bekende skrywer Margaret Bakkes. Sy oudste broer, Johan, ’n rekeningkundedosent aan die Universiteit van die Wes-Kaap, is ook ’n skrywer. Sy ander broer, Marius, werk in die rolprent- en televisiebedryf en sy suster, Mathilda, is ’n spraakterapeut wat saam met haar man in Kanada woon.

Vandat Christiaan kan onthou, wou hy veldwagter word, vertel hy aan Elise-Marie Tancred (Rooi Rose, 10 Junie 1998). As kind op sy pa se plaas duskant Hatfield het hy altyd na aan die veld gevoel. Pofadders en skerpioene het hom gefassineer. En hy wou altyd wildernis toe. Hy onthou dat hy altyd ’n prentjie van ’n ruiter met ’n rugsak en ’n perd geteken het.

Christiaan vertel verder aan Tancred: “Ek was so vier, vyf toe Johan eendag op sy fiets by my kom en sê: ‘Haai, boetie, wil jy saam met my na LC de Villiers gaan?’ ‘Wie’s sy?’ het ek gevra. ‘Nee, man, die sportgrond (van die Universiteit van Pretoria),’ het hy gesê. Hy het my toe voor op die stuur van sy fiets gelaai en vir ’n ride gevat. Dit is waar die reis begin het en dit het nog nie opgehou nie.”

Hy onthou ook dat hy ’n rebelse tiener was wat teen enige vorm van dissipline geskop het.

Christiaan matrikuleer in 1983 aan die Pro Arte Kunsskool in Pretoria.

Verdere studie en werk

In Huisgenoot van 24 Mei 2001 vertel Christiaan aan Dana Snyman dat hy na matriek filmproduksie gaan swot het, omdat hy graag natuurlewefilms wou maak. Maar die filmwêreld was nie wat hy gedink het dit is nie. Hy het opgeskop, sy pa se bakkie geleen en Krugerwildtuin toe gemik. “Ek het as ongeskoolde arbeider daar begin werk. Ek het lakens opgevou en till geslaat.”

Christiaan is terug Pretoria toe, waar hy sy familie inlig dat hy ’n kursus in natuurbewaring gaan volg. “Almal het net gefrons.” Hy vertel aan Tancred: “Vir die eerste keer het ek iets geleer wat vir my lekker was. Ek het my diploma gekry en op ’n wildplaas begin werk. Ek was in my element.”

Na sy eerste jaar diensplig in Kimberley is hy as luitenant “grens” toe gestuur – na die Wes-Caprivi, waar hy dertien maande lank saam met Boesmanspoorsnyers op die Kwandorivier patrollies moes doen om stropers en ivoordiewe te vang. Hy vertel aan Tancred dat sy liefde vir noord-Namibië daar begin het – “die kameeldorings, anabome, rivierlope”.

Sy groot wens was egter om ’n staptoerveldwagter – een van die "elite"-groep – in die Krugerwildtuin te word en sy vreugde was groot toe hy aanvaar is. Hy vertel aan Tancred: “Ek het ’n hoogtepunt bereik. Van kleins af het ek gehou van gevaar, opwinding. Ek weet nie wat dit in my is nie. Om op die spoor van grootwild te loop, of konfrontasies met wilde diere – dis die lewe. Ek was die koning van die wêreld. Niemand kon aan my raak nie. Die lewe was lekker. Om te sien hoe ’n trop leeus ’n luiperd jag, of om midde-in ’n buffelstormloop te bly staan, is alles goed wat die adrenaline laat pomp.”

Hy was gou bekend in daardie geweste, nie net as ’n uitstekende veldwagter nie, maar ook as ’n "wildewragtig en ’n meisiemagneet".

Toe, op ’n warm dag in 1994, gaan kyk Christiaan saam met vriende na wild in die Timbavati. Daar is ’n dam waarin almal spring om af te koel, hoewel almal bewus is van die krokodille in die dam. “Almal weet dit is gevaarlik, maar nou ja.”

Dié spesifieke dag was daar ’n krokodil aan die oorkantste wal. Christiaan het ingespring, maar toe hy die water tref, het hy reeds omgedraai om uit te klim. Hy moes langs ’n ander krokodil ingespring het, want toe hy in die water land, gryp die krokodil hom aan sy regterskouer. Christiaan het gestoei en baklei en gelukkig kon hy sy balans behou en op sy voete bly. “Stadig maar seker het ek teruggebeur wal toe, met die krokodil wat aan my skouer hang. My vriend het my pistool gaan haal om die ding te skiet. Weens al die gespartel in die water het die ander krokodil ook ingegly. Net toe ek amper halflyf uit is, het die eerste een my laat los. Skielik het die ander krokodil aan my linkerkant opgekom. Hy’t my arm net onder die elmboog afgebyt. Ek het my hand by sy bek sien uithang. Ek het nie gedink ek gaan dit oorleef nie.”

Sy vriende het hom in die bakkie gelaai en die mense by die kamp laat weet gebeur het. Hulle het sy wonde so goed moontlik toegebind. Christiaan kan self nie veel onthou van die jaagtog na die kamp en die helikopterrit hospitaal toe nie. Hy is na die militêre hospitaal in Pretoria geneem en die een operasie na die ander het gevolg. Hy het baie pyn verduur en daar was sprake dat hy sy ander arm ook sou verloor. Toe die dokters sê dit lyk of hy sy regterarm gaan behou, was dit die eerste ligpunt. “My gemaklike lewe het ek agtergelaat toe ek met my rehabilitasie begin het. Ek moes weer begin. Net om dáárdie besluit te neem, was vir my die moeilikste ding.”

Christiaan was voor die ongeluk linkshandig. Hy moes dus leer om met sy regterhand te skryf en te skiet en om met die kunsarm motor te bestuur. Maar hy wou so gou moontlik terug bos toe en sy lewe soos voor die ongeluk voortsit.

Oor hierdie ongeluk sê Christiaan byna twintig jaar later aan Nadine Petrick op LitNet: “Dit moes gebeur. Dit het my lewe in ’n baie interessanter rigting gestuur. Ek sal dit nie anders wou hê nie.”

’n Paar maande na die ongeluk meld hy hom weer by Skukuza aan, maar word vertel hy sal nooit weer ’n staptoerveldwagter wees nie. Hy vertel verder aan Petrick: “My lewe was aan flarde. Ek het vir ’n rukkie ’n ander werk gedoen, maar dit was nie goed genoeg vir my nie. Die ouens was ook nie meer dieselfde teenoor my nie. Voorheen was daar hierdie broederskap. Nou het hulle gedink ek is gebreklik. Ek moes wegkom van alles en almal. Dit was tyd vir ’n nuwe lewe. Ek moes ’n plek vind waar ek ’n veldwagter kon wees.”

In 1996 pak Christiaan sy rugsak en begin die lang pad Afrika in stap – aanvanklik in geen spesifieke rigting nie. Maar na ’n ruk was dit asof iets “ingekliek” het. “Ek het geweet ek stap na ’n nuwe lewe toe.” En dit is hier waar Stoffel Mathysen, die hoofkarakter is Christiaan se boeke, se reis deur Afrika begin het.

Sy reis het in die Kaap begin, waarna hy langs die Weskus op is tot in Namibië. Vroeg in sy reis het dit maar swaar gegaan weens sy verlange na sy mense. Ook moes hy nog die verlies van sy arm verwerk. Vanaf Namibië het sy reispad hom na Zambië geneem waar ‘n klein seuntjie hom vir Chuck Norris aangesien het. Gedurende die dag het hy duimgegooi of gestap en snags het hy by mense in die naaste dorpie vir slaapplek aangeklop. “Daar was altyd iemand wat vir jou ’n hut sou skoonmaak en slaapplek aanbied met ’n bord pap.”

Dit was ’n geluk dat Christiaan medisyne byderhand gehad het toe hy malaria in Zambië opgedoen het. In Malawi was hy die slagoffer van die berugte Malawi-diarree en dit het lank geneem voordat hy dit kon afskud. Ten spyte van ’n gebreekte hand het hy voortgegaan om die Serengeti in Tanzanië te besoek.

 “Ten minste was die Serengeti nie ’n teleurstelling nie. Daar is soveel wild dat sommige toeriste kla dit lyk soos ’n dieretuin. Troppe en troppe blouwildebeeste strek van horison tot horison. Een aand terwyl ek saam met ’n groep reisigers in ’n tent gelê het, het leeus hulle reg langs die tent kom tuismaak en ’n lang ruk daar gelê en brul voor hulle uiteindelik vort is. Selfs ná al my ervarings in die bos, is daardie nabyheid van diere, die wildernis elke keer ’n groot lekkerte.”

Daarna wou hy na Uganda, en in ’n boot op pad soontoe was daar ’n boodskap van sy ma, Margaret, dat hy so gou hy kon na die Kaokoveld in die noorde van Namibië moes gaan, omdat daar werk vir hom was.

Dit was in 1996 en hy werk vir drie jaar by WWF Internasionaal. Sy werk was om mense op te lei as veldwagters sodat hulle in staat sou wees om wild doeltreffend te bewaar. Dié werk was een van die dinge wat bygedra het tot sy aangetrokkenheid tot die Namib in al sy fasette. “Ek dink die Kaokoveld is miskien die laaste werklike wildernisgebied in Afrika waar mens en dier só kan saamwoon. Die gemeenskap trek voordeel uit die wild terwyl hulle terselfdertyd die gebied bewaar. Dis belangrik dat die gemeenskap se houding teenoor die wild gunstig moet bly. Die wild moet getel en uitgedun word. En planne moet beraam word om stropers weg te hou en olifante uit die inwoners se mielielande.”

Christiaan vertel aan Susan Lombaard (Die Taalgenoot, April 2001): "Almal dink dit is idillies en romanties om alleen in die bos en die woestyn te bly, maar party keer is dit bloedsweet. Die eerste drie jaar in Kaokoland het ek elke aand onder ’n ander boom geslaap, my bed-rol in die stof oopgevou en net pap en bokvleis geëet.”

Na die eerste drie jaar is hy vir ’n tyd lank Botswana toe, waar hy safari’s help reël het, maar sy hart het in Kaokoland agtergebly. Toe die pos van konsessiebestuurder in die Skedelkuspark oopgaan, is hy dadelik terug. “Hulle sal my nou óf moet uitskop, óf moet skiet om my daar weg te kry. Self gaan ek nie padgee nie!” sê hy aan Lombaard. Hy is ook gids op die Skedelkus, asook in die Kaokoveld in noordwestelike Namibië teen die Angolagrens.

In 2006 is Christiaan met Emsie Verwey getroud en werk hulle in Damaraland, waar hy gorillasafari’s in die woude van Uganda lei. Hy is ook nog gids en areabestuurder by Wilderness Safaris. Hy en Emsie woon saam met ’n hond, twee katte en ’n gemsbok met die naam Jakob in ’n tent in Damaraland in die noordweste van Namibië.

In 1998 verskyn Christiaan se eerste boek, Die lang pad van Stoffel Mathysen, by Human & Rousseau. Hierin word Christiaan se reis van vyf maande opgeteken deur die hoofkarakter Stoffel, ’n staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin. Christiaan sê dat hy die boek geskryf het om dinge te verstaan. “Ek kyk terug na die vier jaar wat sedert die aanval verloop het. En dis ’n intense, tevrede kyk. Dat ek my arm verloor het, is ten volle my skuld. Ek het vir myself gesê jy sal aangaan met jou lewe. Jy sal nie een keer kla nie. Ek dink ek het nogal oukei gevaar. Die doelwitte wat ek vir myself gestel het, het ek bereik. Dis genoeg.” Hy erken ook dat die boek soort van outobiografies is. “Dit is ’n reisverhaal, maar mense se name is verander.”

Manie Wolvaardt skryf in Volksblad (2 Oktober 1998) dat Christiaan Bakkes ’n opwindende nuwe talent is. “Hy vertel die ‘storie’ van Stoffel Mathysen sonder tierlantyntjies en woordoordaad. Die swerftog deur Afrika word ook vir die leser ’n ontdekkingsreis. [...] Voeg hierby die humor en deernis waarmee die innerlike katarsis van Stoffel Mathysen ontbloot word en dit word ’n verhaal wat die leser nie onaangeraak sal laat nie.”

Willlem M Botha (Die Burger, 20 Mei 1998) meen dat Christiaan hom as bobaas verteller bewys. “Hy gebruik die nugterste taal om op die gewoonste manier van die ongewoonste ervarings van ’n avontuurlustige, fikse, liggaamlik aktiewe jongman op ’n ryloop deur Suider-Afrika te vertel. [...] Stoffel Mathysen word ’n simbool van die jong mens in die heersende oorgangskoppelvlak van hierdie veranderende subkontinent. Hy onthul sonder kommentaar – net deur goeie vertelling, karakterisering en situasiebeskrywing – selfaanvaarding en ’n bepaalde psigiese instelling teenoor die omgewing, en ’n spontane aanvaarding van alle mense van en inskakeling by die nuwe Afrika. Alles met ’n volgehoue tikkie humor en ironie.”

LS Venter (Beeld, 8 Junie 1998) meen dat Christiaan vroeg in sy skrywersloopbaan alreeds ’n belangrike kuns geleer het: naamlik om die leser nuuskierig te hou. Want lank nadat bykarakters reeds weet wat met Stoffel gebeur het, weet die leser steeds nie.

Die lang pad van Stoffel Mathysen word later vir graad 10-leerlinge voorgeskryf, maar ’n groepie ouers van die Hoërskool Overkruin in Gauteng het skerp kapsie gemaak daarteen en gevra dat dit vervang moet word, omdat dit volgens hulle van die vloekwoorde en godslastering wemel.

Stoffel in die wildernis word in 2000 gepubliseer. Dit is ’n bundel kortverhale en sketse waarin Stoffel se avonture in die wildernis beskryf word vanaf sy kommerlose studente- en weermagjare tot sy lewe as ’n ervare veldwagter in die afgeleë Kaokoland.

Vir Andries Visagie (Beeld, 11 Desember 2000) is al hierdie vertellings nie altyd geslaag as kortverhale nie, maar die skrywer se prosa is onopgesmuk, "waardeur hy blyke gee van ’n sekere integriteit as skrywer. Hy slaag ook daarin om nuwe en voorheen verhulde werklikhede oop te skryf.”

Charles Smith (Volksblad, 23 Oktober 2000) meen dat Bakkes op sy beste ’n tweede Doc Immelman is en dat Afrikaans ware avontuurverhale bitter nodig het.

Volgens Jan-Jan Joubert (Rapport, 20 Mei 2001)  is dit in die jagverhale dat Bakkes uitblink. “Die liefde vir die diere en die natuur is enigmaties vervleg met die bloedlus van die jagters.”

Christiaan se stories uit die oogpunt van die karakter Stoffel Mathysen handel oor wat hy self beleef het. “Ek verduidelik wat natuurlewebestuur en die wildernis is. ’n Sentrale tema in my skryfwerk is die onderlinge afhanklikheid tussen die mens en die wildernis – ongeag wie en wat jy is. Ook die interaksie tussen mens en dier.”

In 2002 word Skuilplek ook deur Human & Rousseau uitgegee. Die drie hoofkarakters is lede van die teenstropereenheid in die Wes-Caprivi in 1989. “Dit was amptelik my beste jaar, ná dit was alles ’n antiklimaks,” vertel Christiaan aan Charles Smith (Die Burger, 9 September 2003).

Hoewel die boek die waarheid as grondslag het, is die karakters fiktief, aangesien die gebeure plaasgevind het nie lank voor die boek verskyn het nie. ’n Patrollie in die Caprivi kom op die laaste paar swartrenosters in die gebied af en ’n wildvangspan word soontoe gestuur. Ernstige spanning ontstaan tussen die twee groepe en hulle leiers.

Skuilplek het vir Jaco Nel (Beeld, 25 Julie 2002) met nuwe oë na die wêreld van wildbewaring laat kyk. Die spanning en die drama van oorlog, die bewaring van die natuur en die menslike emosies wat daarmee gepaardgaan, was vir Nel die aspekte wat die sterkste na vore getree het.

Gretel Wybenga (Beeld, 2 September 2002) het geskryf: "Hierdie toeganklike verhaal is besonder filmies van aard. Reeds in daardie eerste paragrawe is dit asof ’n kameralens die loop van die rivier volg en dan vassteek by die vervalle houthuis met ’n man op die stoep. Een voorbehoud het ek egter: met so ’n magtige hoeveelheid stof het dit vir my gevoel of die verhaal roep om nog breër en voller uitgewerk te word. En die vaardige pen van Bakkes is beslis daartoe in staat. Die boek bevat beslis al die elemente wat Christiaan se eerste twee so aantreklik gemaak het vir lesers wat daarin belangstel om te lees oor die misterie van die harde lewe in Afrika se afgeleë streke, en veral oor die mens wat hom alleen in daardie wildernis bevind."

Christiaan se volgende Stoffel-boek word in 2004 uitgegee: Stoffel by die afdraaipad, wat in 2005 op die kortlys was vir die M-Net-prys in die kategorie “kort formaat”. In hierdie 26 verhale word die leser weer eens na die wilderniswêreld van Stoffel Mathysen teruggevoer. Daar is verhale uit sy tydperk as veldwagter in die Kaokoveld wat aansluit by die wêreld wat in Stoffel in die wildernis verken is, en dan ook verhale uit sy jare as safarileier aan die Skedelkus.

Fanie Olivier (Beeld, 21 Maart 2005) skryf dat die styl en aanslag van die stukke dieselfde is: “gestroopte prosa, kort sinne, ’n slot wat dikwels onderbeklemtoond is, maar ook verhaalmatig bedag of na my gevoel onbeholpe kan voorkom. Die Afrikaans altyd mooi. Ek sou egter wou sien dat Bakkes sy Stoffel Mathysen-bakkie moet los en die eindelose wildernis van sy verbeelding aandurf, want hy kan dit doen, en ek sidder om te dink wat met die stoftrappende konvooie van die Afrikaanse prosa in die proses kan gebeur.”

Stoffel se vierde boek, Stoffel se veldnotas, verskyn in 2007. Thomas Minnaar skryf in Die Burger (7 Mei 2007) dat die 25 stories in gestroopte taal saam ’n geheel vorm. “Aan die hand van nostalgiese herinnerings aan verlies én vrolikheid uit sy ‘jongmansdae’ neem die verteller ’n bestek op van sy huidige posisie: ’n man in sy veertigs wat eindelik ’n ewewig bereik het met sy omgewing én die mense wat hom omgeef. [...] En dis lekker om te lees oor ’n aardse man wat vrede maak met homself en met oudword, iemand uit die ou bedeling wat in postkoloniale Afrika tuiskom.”

In sy resensie in Beeld (25 Junie 2007) merk Dirk Jordaan op dat die stories kort is, met bondige taalgebruik en beskrywings. “Sommige van die stories kry dit tog reg om, in hul slotparagrawe, die ooglopende te oorbrug. Dan kry hulle meer universele waarde en laat dit die leser dink oor sy plek in die natuur en daardie mees natuurlike van al sy eienskappe, die feit dat die dood onvermydelik is. Die verhale is onpretensieus wat nie probeer om grootse literatuur te wees nie."

Volgens Graffiti Books is hier ’n nuwe Stoffel aan die woord: ouer, wyser en, op veertig, rustiger. “Maar steeds spreek elke ‘veldnota’ van ’n skerp aanvoeling, onopgesmukte egtheid en fyn waarneming.”

’n Keur uit Christiaan se werke word in 2008 deur Elsa Silke vertaal en deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel In Bushveld and desert: a game ranger’s life. Anthony Stidolph (The Witness, 20 Augustus 2008) skryf daaroor: “Living in one of Africa’s last true wilderness areas – where threatened species like the black rhino are still able to roam freely outside the protective confines of game parks and private sanctuaries – Bakkes writes about his experiences in this harsh environment in a stripped-down, economical prose style that manages to capture the desolation and magic of the landscape. His writing is evocative and informative and he has produced a highly readable, honest and humorous account of a life spent beyond the fringes of civilisation.”

Christiaan voel dat hy dié Afrika wat hy ken, deur sy stories met mense deel wat nie so bevoorreg is om te kan reis nie. “Ons bly op ’n opwindende kontinent. Maar almal het nie dieselfde geleenthede nie. Sommige mense is dalk vasgevang in hul werk en kan nie self reis nie. Maar daar is ’n groot verlange in mense vir die wydheid, vreedsaamheid en wonderlikheid van Afrika en ek probeer die liefde vir die wye vlaktes in my boeke uitbring.” (Beeld, 21 Augustus 2008)

Christiaan lees graag Hemingway, en sy gunsteling is In our time. En wanneer hy gedigte nader trek, is dit dié van ’n Amerikaanse prospekteerder, Robert Service, wat meestal oor die wildernis dig. “Ek dink ek is ook op soek na die Wilde Weste. Dis seker maar hoekom ek skryf oor mans wat nie inpas nie en ouens wat nie sissies is nie, alhoewel hulle dikwels weghardloop van gebroke verhoudings.”

Hierdie gebied waar Christiaan bly, is “’n wye, groot gebied, sonder heinings. Dit is vir my die belangrikste. Sonder obstruksies en versperrings. Die enigste duidelike grens is as jy op die strand staan en kyk na die Atlantiese Oseaan. Dan weet jy nou, nou kan jy nie meer verder wes nie. My verhouding met die gebied is ’n absolute liefdesverhouding. Daar beleef ek oomblikke van ekstase, alleen of met besoekers” (aan Charles Smith, Volksblad, 17 Julie 2004).

Christiaan vertel aan Charles Smith: "Die natuur is een groot legkaart, waar jy altyd moet weet wie jy is en waar jy is. Ek weet ek is ’n Dorslandtrekker in die tradisie van oom Gert Alberts onder wie die Dorsland-jagters in Namibië in die klipklowe ingery het, te perd, om te soek na ’n hawe vir die republiek. Hulle enigste navigasie was die sakkende son. Hulle het van die Etosha gery. Dit is ’n geweldige dramatiese landskap langs die Huanibrivier, onheilspellend.

Hulle het bewus geword van ’n dreuning en gesoek na die bergsebras wat so hardloop. Een man het gesê dis ’n aardskudding, nog een, ’n diep Calvinis, het gesê nee man, hulle het nou so ver gery, hulle is naby aan die hel. Net Naas Labuschagne het gesê hy was al by die see voor die trek, en die klink net soos die see. Die storie is belangrik, omdat ek myself as ’n Dorslander beskou – een wat bewaar."

Stoffel se avonture en ervarings word in 2010 verder beskryf in Stoffel in Afrika. Sarel van der Walt (Beeld, 13 September 2010) skryf dat Bakkes bekend is daarvoor dat hy ’n gemaklike manier van vertel het. In dié boek lees die leser meer oor Stoffel en sy avonture in Mosambiek, in Rwanda met sy gorillas, sy dae in die weermag in die Caprivi en dan ook sy terugkeer soontoe, asook van sy besoeke aan Engeland. Van der Walt verkies egter die stories wat in Namibië afspeel. "Dit is ’n boek wat jy in een of twee sessies kan deurlees. Dis een van daai boeke wat ’n mens wil lees om te ontvlug as die verkeer op die Ben Schoeman-hoofweg jou tot raserny dryf en jy wil wegkom veld toe.

Vir Charles Smith (Volksblad, 7 Augustus 2010) is Stoffel baie dinge, maar nie ’n sissie nie. “Ná dekades in die bos en woestyn (Die lang pad van Stoffel Mathysen het in 1998 verskyn) bespeur ’n mens hier ’n ouer Bakkes. Hy is nie meer die cowboy wat ’n buffel in die Kruger-wildtuin met sy rewolwer in die kop geskiet het wat hom teen die heining vasgepen het nie. Die taai outjie wat in die krokodildam geduik het (en sy arm verloor het) is ouer, stiller, getroud en intens lief vir die natuur en hul lewe in die safarikamp aan die Skedelkus in Namibië. Die man met die af-arm, kom ’n mens agter, het nou ook ’n af-rug danksy ’n harde safaritrok.

“Stoffel is natuurlik Bakkes in kamoefleerdrag. Die meeste stories is sy lewenstories, al laat hy Stoffel die praatwerk doen. Ek was verbaas om te sien Bakkes is ook met tye ’n safarileier na die gorillas in Uganda. Hier is ook stories oor die Anglo-Boereoorlog en Afrikaners en Suid-Afrikaners wat orals in Afrika en elders opduik.

“Dis ’n man van die veld wat hier praat: kort, gestroopte sinne ryk aan verwysings na die veld, wild- en voëllewe en die mense. Sy invloede is PJ Schoeman as natuurbewaarder (sien Schoeman se Van jagter tot wildliefhebber) en sy vertelstyl naby aan die ander groot Suidwes-verteller, Doc Immelman.

“‘’n Flou maan kom oor Sarusas-fontein op. 'Dit verlig die verlate landskap dof,' lees ek in die storie 'Leeunagte', wat my gunsteling is. Bakkes, sy vrou, Nina, Willie en Monica, die nuwe bestuurders van die Skedelkuskamp, spook dae lank om ’n trop leeus om die Himba-nedersettings van Puros en Okongombe Themba te verskuif.

“As jy wil lees hoe ’n groep mense intens omgee vir die natuur, vir die leeus én die Himbas, en hulle hul hande deurwerk om ’n holistiese oplossing vir ’n leeuprobleem te kry, lees hierdie storie. Geen sprake van ’n geweer nie; geen leeu is dood nie. Weeg dit op teen leeuplase in die Vrystaat waar jagters halfmak leeus skiet wat in hokke was. 

Stoffel in Afrika is vol mensestories van ’n wildbewaarder, sy vrou en hul diere wat in Kaokoland se sand en tussen sy vrylopende diere geluk en pyn ervaar. Hul honde en katte word deur ’n luiperd gevang en hulle jaag ure om die hond, Tier, te red. Kortom: Hierdie stories gaan oor lewe. Hulle en hul makkers is die laaste bewaarders van hierdie vasteland wat leegbloei weens die sielloses, die korruptes, die viertrekbrigades met groot ego’s en die wildstropers.”

In die uitgewer se inligtingstuk word Stoffel in Afrika as volg beskryf: "Hierdie vyfde boek van Stoffel bied ’n nuwe invalshoek en nuwe ervarings. Hoewel hy reeds dekades lank in Suider-Afrika werk, neem sy ekspedisies na Midde-Afrika hom tot in die hart van die ware, ongetemde Afrika. Om skatryk kliënte op die gesogte gorillasafari’s in Uganda en Rwanda te begelei, is nie altyd so glansryk soos dit klink nie, maar met sy kenmerkende humor, fyn mensekennis en ironiese kyk maak Stoffel telkens daarvan ’n andersoortige avontuur. Deur dit alles en oor alles heen strek sy gedagtes en gesprekke in ’n durende poging om Afrika te deurgrond.

"Stoffel op Afrika se 27 verhale volg opnuut ’n kronkelpad deur Stoffel se kleurryke lewe: sy vroeë jare as wildbewaarder en sy werk as soldaat en teenstroper-veldwagter, sy tyd as WWF-beampte in die Kaokoveld, en sy huidige betrokkenheid in Damaraland by die bewaring van swartrenosters. Die leser leer ook die heel persoonlike Stoffel ken, saam met sy geliefde Nina en hulle troeteldiere – wat altyd sorg vir ’n krisis of twee!"

Een van Christiaan se eie avonture wat bo die res uitstaan, was op 6 Junie 1989, toe hy en sy boesemvriend Simon Mayes ’n bende ivoorstropers in die Wes-Caprivi-bosse vasgetrek het. Daarna was die res van sy lewe, sê hy, ’n “antiklimaks”.

Al Christiaan se stories is op ware gebeure of eerstehandse kennis gegrond. Hy moet soms navorsing doen om hom van tegniese besonderhede te vergewis. Hy stel egter al meer en meer belang in geskiedkundige verhale wat meer noukeurige navorsing sou verg indien hy in daardie rigting gaan begin skryf.

Tydens 2012 se Woordfees is Christiaan se sesde Stoffel-boek bekendgestel, naamlik Stoffel op safari: ’n veldwagter se ervarings. In die uitgewer se inligtingstuk oor Stoffel op safari word gesê: "Vertelkuns soos dié van Christiaan Bakkes is skaars in Afrikaans. Sy jongste bundel omvat weer eens ’n veelheid fasette van sy lewe in die wildernis van die Kaokoveld en Damaraland. Daar is boeiende diereverhale en hartverskeurende hondeverhale. Daar is die stories van gewone mense sowel as skatryk safarikliënte. Daar is soldateverhale en ’n eenmanrebellie. Daar is boeke, musiek en stukkies geskiedenis uit Afrika, Amerika en Europa. Daar is die navorsingswerk van sy vrou Nina en die avonture van sekerlik die dapperste Jack Russell ooit, Tier met die tien lewens.

"Sedert die vorige Stoffel-bundel het veral een onderwerp in bewaringskringe op die voorgrond getree: renosterstropery. Bakkes spreek dit aan in drie verhale – insigryk, oorwoë én met humor. ’n Verhaal soos 'Grense' toon by uitstek hoe hierdie skrywer nie bloot reis- of avontuurvertellings weergee nie, maar dat sy werk transendeer na iets meer, na die diepere betekenis van die ragfyn netwerk van verbintenisse waaruit ons lewe op hierdie planeet bestaan."

“Christiaan Bakkes hoort in die veld. Dit besef jy as jy die verhale lees. Sy liefde en passie vir die veld kan jy voel in hoe hy oor sy doen en late skryf. Hy sou beslis nie lank in die stad kon woon nie – dié omgewing sou net te klein en versmorend wees. Bowendien, daar waar hy nou is, ry hy en sy hond, Tier, saam agter leeus aan om hulle te vang sodat hulle na ’n ander gebied geskuif kan word. Verder loop die woelige en kordate hondjie oral saam waar Stoffel gaan en het al vir baie drama gesorg. Maar die verhale is nie net oor Stoffel en sy avonture nie – hy vertel ook van dinge wat hy sien en hoor wanneer hy in Suid-Afrika kom kuier. Sy perspektief is verfrissend anders, want hy kyk anders na sake, soms effe lakonies, maar op so ’n wyse dat dit jou oor stedelinge en hul lewens laat wonder.

“Al wat ’n mens oor Stoffel se lewe kan sê, is: 'it’s a charmed life', maar weliswaar een met sy eie uitdagings. Die voorreg wat hy het om sy passie uit te leef, is fantasties en dis nog ’n groter voorreg dat hy daardie lewe met lesers kan deel," skryf Phyllis Green in Sarie (28 Julie 2010).

Tier is in Maart 2014 dood. In Weg! (27 Maart 2014) skryf Christiaan as volg aan Erns Grundling oor Tier se afsterwe: "Ek het gister vir Tier Langs Mike Hearn se graf op die oewers van die Uniab begrawe. Hy is gegaffel deur ‘n springbok. Die springbok se horing het hom diep in die lies getref. Dit het ‘n groot gat gemaak. Ek dink dit het organe beseer. Ek was nog op pad toe dit gebeur. Tier het homself aan die lewe gehou totdat ek by hom was. Hy is in my Landie dood met my gesig teen syne. Marcia het haar Indiaan fluit gespeel terwyl ek vir Tier toe gepak het. Hy kyk in die rigting van Rhino Camp.”

Christiaan is deesdae veldwagter van die Palmwag-konsessie, ‘n halfmiljoen hektaar van klipwoestyn waarin  swartrenosters bewaar word. Hy bring die meeste van sy tyd deur deur patrolliediens in die wildernis te doen, maar sal wel, as hy gevra word, nog safari's aanbied.

In 2014 is Christiaan Bakkes deur Condé Nast Traveller aangewys as een van die 25 beste safaritoergidse in Afrika.

Met sy volgende boek, wat in 2014 verskyn het, Krokodil aan my skouer: Stoffel toe en nou, gaan Christiaan terug na die gebeure van 1994 toe ’n krokodil sy arm afgebyt het.

In Sarie van 4 April 2014 vertel Bakkes aan Phyllis Green dat Krokodil aan my skouer nie soseer gaan oor die aanval van 1994 nie, maar dat die titel verwys na die bagasie wat almal met hulle saamdra.

Green wou weet of dit vir hom makliker is om as "Stoffel" te skryf. Hy antwoord: "Stoffel het ‘n gerieflike buffer geword. Hy stel my in staat om myself van die storie te distansieer. Deur hom mag ek ook die waarheid manipuleer. Met my kort verhale was dit nodig om fiksie uit werklike gebeure te skep. Ek en Stoffel loop ‘n lang pad saam."

Hy vertel ook aan Green hoekom hy eerder as Stoffel skryf en nie as homself nie: "Hierdie roman gaan hoofsaaklik oor ‘n jong veldwagter se vormingsjare. Die lesers het hierdie veldwagter leer ken in Die langpad van Stoffel Mathysen. Met my eerste boek was die krokodilwonde nog rou. Ek wou afstand skep. Stoffel het met die ander boeke gegroei en bekend geword. Krokodil aan my skouer is eintlik die begin-verhaal. Hoewel dit nou makliker is om oor myself te skryf, het ek steeds besluit om Stoffel as my anti-held te behou."

Oor die redes agter die skryf van Krokodil verduidelik Christiaan aan Phyllis Green dat daar nog so baie was om te vertel: "Wat beweeg ‘n jongmens om ‘n pad te kies? Watter invloede speel ‘n rol? Wat laat ‘n stadsjapie die wildernis kies? Die omstandighede waarin mens groot word, het baie daarmee te doen. Die tyd in ons geskiedenis was ook van groot belang."

In sy resensie op LitNet skryf Gerrit Rautenbach: "Aanvanklik het ek gewonder hoekom ek nou die moeite sal doen om te gaan lees oor hoe die karakter se lewe geloop het, hoe sy ouers gedink het hy is ’n volslae mislukking in die lewe en hoe hy nooit nêrens kon inpas nie. Dis mos nou maar net soort van ’n stereotiepe lewensverhaal van nog ’n mens wat gesukkel het om te behoort en met wat om eendag te word as hy groot is.

"Maar die ding is, Christiaan Bakkes is nie stereotipies of alledaags of gewoon nie. Inteendeel. Hy lewe teen 200%; hy moes net alles uitwoed om te kan weet wat hý gaan word eendag as hy groot is. Daar is dus twee belangrike aspekte hier wat die boek goed maak: unieke interessante inhoudelike stof en ’n ewe unieke skryfstyl. Soos in al sy boeke gebruik hy sy kort masjiengeweersinne, en in vier of vyf sulke sinne spring hy maklik heen en weer tussen drie verskillende onderwerpe. Hier vat en daar los, soos iemand wat nie seker is wat hy met sy lewe wil doen nie. Maar slim genoeg geskryf dat alles sin maak. (...)

"Die deurlopende tema is sy soeke na om te behoort. Hy het altyd uitgesluit gevoel, maar hy het sy liefde vir die veld begin gebruik om by mense uit te  kom wat soos hy is. En die ander patroon regdeur is een waar hy homself elke keer nes dit begin goed gaan, in ’n eie lokval lei om te faal. Te veel partytjies en dagga op filmskool. Te veel biere, en sinnelose bravade om in ’n poel water in die wildtuin te spring waar die krokodil sy lyf en toekoms aan flarde geskeur het. Elke keer het hy met meer eelte en littekens meer insig gehad oor die pad vorentoe. Totdat hy onlangs deur Condé Nast Traveller as nommer sewe op hul lys van die top 25 safarigidse aangewys is.

"Bakkes het nog altyd weggeskram van die krokodil wat deel van sy linkerarm verslind het, maar nou het hy dit uitgeskryf. Dit is waarskynlik die belangrikste ding wat hy moes doen om alles in die regte plek in sy lewe te kry.  Ja, Krokodil aan my skouer is ’n unieke boek: gewoon ’n outobiografie van ’n baie ongewone ou. ’n Mens wonder net of daar na dese plek vir nog ’n Stoffel-storie is ..."

Vir Charles Smith (Beeld, 10 April 2014) is Bakkes se boek "sonder pretensie. Hy skiet steeds kort sinne soos ’n soldaat wat ’n R4-geweer in die bos afvuur. En hy tref. Dit is eerlik, op die man af en veel meer van ’n storie as ’n ou wat deur ’n krokodil gebyt is."

En in Rapport (14 April 2014) skryf Johan Smith (Krokodil aan my skouer was die eerste Christiaan Bakkes-boek wat hy gelees het): "Bakkes se vertelstyl laat die leser voel of jy langs hom om ’n vleisbraaivuur sit. Dis vol ironie en dit laat ’n mens gereeld glimlag. Sy bekoring lê in eenvoud, en die leser raak soms jaloers op sy vol, interessante lewe. Benewens die verhaal se intrinsieke waarde, het dit ’n inspirerende uitwerking op die leser sodat jy voel of jy jou rugsak wil pak, in jou motor wil klim, die stad wil verlaat en iets gaan doen wat régtig saak maak."

In ’n artikel in Die Laevelder van 11 Desember 2014 skryf Christiaan se broer, Marius, oor die krokodilaanval soos Christiaan dit self in Die lang pad van Stoffel Mathysen beskryf het. Hy eindig dan sy artikel met ‘n aanhaling uit ’n onderhoud wat Mariana Balt van Die Republikein in Namibië met Christiaan gehad het: "Sedert ek kon onthou wou ek nog altyd ’n avontuurlike beroep in die buitelewe beoefen. Ek is van kleins af getrek deur die natuur. Dit was asof die wildernis my geroep het.

“As kind het my pa ’n naweekplasie buite Pretoria gehad. Daar was kliprante en beboste klowe en ’n rivier. Dit is waar dit begin het. Ek het besef dat as ek my liefde vir die buitelewe kombineer met my liefde vir die natuur dat ek ’n diens kan lewer en ’n verskil sal maak.

"Die lekkerste deel van my beroep is om elke dag die wildernis te verken. Die ooptes en die wydtes van die Kaokoveld bekoor my oneindig. Dit is ook lekker om ’n woestynolifant of swart renoster te agtervolg. Dit gaan oor vryheid. Om die wildernis lief te hê is bevrydend. Dit is ook wonderlik om te sien hoe die wildernis deur jou interpretasie vir gaste openbaar word.

"Ek dink my passie en my energie maak my suksesvol. Ek het ’n opregte liefde vir die veld. Elke dag in die wildernis is vir my ’n voorreg. Ek hou daarvan om my liefde vir die natuur met mense te deel.

"Ek voel ongetwyfeld geëerd om sulke erkenning te kry. Condé Nast is ’n prominente reis-publikasie. Mens moet egter versigtig wees. Daar is baie safari-gidse wat beter as ek is, wat nie die blootstelling gekry het nie. Ek dink aan soveel ouens by wie ek geleer het. Ouens soos Festus Binga, Aloisieus Waterboer en Gerhard Thirion. Daar is vele ander. Ek wil nie uitgesonder word nie."

Publikasies:

Publikasie

Die lang pad van Stoffel Mathysen

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2004

ISBN

0798137800 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stoffel in die wildernis

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140674 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skuilplek

Publikasiedatum

2002

ISBN

0798142294 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stoffel by die afdraaipad

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798144300 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stoffel se veldnotas

Publikasiedatum

2007

ISBN

0798148144 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In Bushveld and desert: a game ranger’s life

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149280 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertalings uit al sy boeke in Engels deur Elsa Silke

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stoffel in Afrika

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151290 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jag- en veldverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bushveld, desert and dogs: a game ranger's life

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156899

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Uitgesoek deur Suzette Kotze-Myburgh en vertaal deur Elsa Silke

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stoffel op safari: ’n veldwagter se ervarings

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156233 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jag- en veldverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Krokodil aan my skouer: Stoffel toe en nou

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798164979 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor en deur Christiaan Bakkes beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-05-22

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top