Christiaan Stoffel Mathysen Bakkes is ’n unieke mens

  • 0


NB-Fees: Krokodil aan my skouer, Woensdag 12 Maart

Dit was wel in die Boektent waar die wildeman van Palmwag in Namibië met Erns Grundling gesels het, maar dit het gou gevoel of hulle laatnag om ’n kampvuur sit. Waarskynlik het Christiaan Bakkes homself in sy verbeelding terugplaas in sy groot vlaktes waar hy natuurbewaarder is. Soos hy sê, hy is baie meer tuis daar saam met die plaaslike bevolking as in Stellenbosch tussen die smart mense.

Krokodil aan my skouer is sy nuutste boek en vir die eerste keer in ’n lang tyd is dit weer ’n roman. Die hoofkarakter is, soos altyd, Stoffel Mathysen, sy alter ego, en die roman is biografies. Erns het dit reggekry om Christiaan oor homself te laat praat, wat nie maklik gebeur nie. Hy voel gewoonlik hy hoef niks te sê nie – sy boeke en Stoffel sê alles.

Uiteraard verwys die titel na die feit dat ’n krokodil die helfte van sy linkerarm afgebyt het in die Krugerwildtuin, en die voorval is deel van die boek. Grappenderwys reken Christiaan dat hy nou die krokodil-episode in elke boek gaan skryf, sodat almal dit kan lees, want hy is al so gatvol om kort-kort te moet vertel wat gebeur het. Op ’n ernstiger noot sê hy dat die dieper betekenis daarvan verwys na die bagasie wat ’n mens saamsleep deur jou lewe.

Christiaan Bakkes is ’n unieke mens. Hy het deur sy wroeginge gewerk en leef voluit. Stoffel se jongste storie is die moeite werd om te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top