Biebouw-resensie: Krokodil aan my skouer deur Christiaan Bakkes

  • 0

 
Titel: Krokodil aan my skouer
Samesteller: Christiaan Bakkes
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164979

Koop Krokodil aan my skouer by Kalahari.com

Op die agterblad van die boek lees ek dat die boek ressorteer onder fiksie. Voor op die voorblad, in die onderste hoekie, lees ek “Stoffel toe en nou”. Tussen dié voor- en agterblaaie kry jy een van die mees interessante boeke denkbaar. Alhoewel ek aanvanklik nie so gedink het nie.

Die boek gaan oor die skrywer se lewe. Dus ’n outobiografie. Dit word bemark as fiksie omdat hy die hoofkarakter weer eens Stoffel Matthysen sy alter ego gemaak het. Christiaan erken self dat Stoffel hom die geleentheid gun om met sy kortverhale die waarheid te  manipuleer (sonder om die storie dood te lieg), en ook help dit hom om hom van die werklikheid te distansieer. Benewens dit is Krokodil aan my skouer ongemanipuleerde waarheid en jy as leser staan kniediep binne-in Christiaan se werklikheid. Al vertel Stoffel die storie.

Aanvanklik het ek gewonder hoekom ek nou die moeite sal doen om te gaan lees oor hoe die karakter se lewe geloop het, hoe sy ouers gedink het hy is ’n volslae mislukking in die lewe en hoe hy nooit nêrens kon inpas nie. Dis mos nou maar net soort van ’n stereotiepe lewensverhaal van nog ’n mens wat gesukkel het om te behoort en met wat om eendag te word as hy groot is.

Maar die ding is, Christiaan Bakkes is nie stereotipies of alledaags of gewoon nie. Inteendeel. Hy lewe teen 200%; hy moes net alles uitwoed om te kan weet wat hý gaan word eendag as hy groot is. Daar is dus twee belangrike aspekte hier wat die boek goed maak: unieke interessante inhoudelike stof en ’n ewe unieke skryfstyl. Soos in al sy boeke gebruik hy sy kort masjiengeweersinne, en in vier of vyf sulke sinne spring hy maklik heen en weer tussen drie verskillende onderwerpe. Hier vat en daar los, soos iemand wat nie seker is wat hy met sy lewe wil doen nie. Maar slim genoeg geskryf dat alles sin maak.

Op ’n kol vertel hy dat hy gedink het die filmwese is sy ding. Halfpad deur die voltooiing van ’n Camel man-advertensie (wat hy geregisseer het) word hy ingelig hy het al sy vakke gedop en is van die kursus af. Daarna kry hy toevallig werk in die Krugerwildtuin. Lekker! Die wildtuin! Bosse en diere! Dit was die droomgedagtes. Die werklikheid was dat hy Skukuza se lakenstoorman geword het. ’n Nederige begin in die natuur ...

Ten minste het dit die lont aangesteek van dit wat hy eendag sou word. Natuurbewaarder. Tog is sy lewe as natuurbewaarder nie die grootste element van die boek nie. Die belangrikste nuwe inligting is sy tyd in die weermag. Hoe en wat hy gedoen het en hoe goed hy dit gedoen het. Maar veral hoe dit sy lewe beïnvloed het. En hoe dit hom nader aan mense en die natuur gebring het.

Die deurlopende tema is sy soeke na om te behoort. Hy het altyd uitgesluit gevoel, maar hy het sy liefde vir die veld begin gebruik om by mense uit te  kom wat soos hy is. En die ander patroon regdeur is een waar hy homself elke keer nes dit begin goed gaan, in ’n eie lokval lei om te faal. Te veel partytjies en dagga op filmskool. Te veel biere, en sinnelose bravade om in ’n poel water in die wildtuin te spring waar die krokodil sy lyf en toekoms aan flarde geskeur het. Elke keer het hy met meer eelte en littekens meer insig gehad oor die pad vorentoe. Totdat hy onlangs deur Condé Nast Traveller as nommer sewe op hul lys van die top 25 safarigidse aangewys is.

Bakkes het nog altyd weggeskram van die krokodil wat deel van sy linkerarm verslind het, maar nou het hy dit uitgeskryf. Dit is waarskynlik die belangrikste ding wat hy moes doen om alles in die regte plek in sy lewe te kry.  Ja, Krokodil aan my skouer is ’n unieke boek: gewoon ’n outobiografie van ’n baie ongewone ou. ’n Mens wonder net of daar na dese plek vir nog ’n Stoffel-storie is ...

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top