Caroline

  • 6

Prent: https://pixabay.com/photos/pocket-watch-time-sand-clock-3156771/

In hierdie teks kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal.


 

Dit was ’n moeilike tyd in my lewe. Vars geskei, terug op die plaas by my ouers met twee klein kinders onder die vlerk. Ek het ’n houthuis teen die hang laat opslaan waar ek en die kinders gewoon het. Ver genoeg van die plaasopstal dat ons luid musiek kon luister: Mercedes Soza en Leonard Cohen het oor die veld weergalm. Daar was nie ’n voordeursleutel of diefwering nie. Daar was veldgras, sand, klippe en bome, en snags het die jakkalse klaaglik gehuil onder die huis op pale. Huis Winderuis het gewieg in die wind.

Ek het in ’n fabriek in Brits as sekretaresse gewerk. Ek het hulp nodig gehad om die kinders te versorg. By die werk bring een van die werkers Caroline na my toe. Sy soek werk. Sy pluk onmiddellik aan my hart: Sy is nog baie jonk, met verskrikte, hartseer oë. Daar kleef aan haar iets van ’n vlugteling, ’n verrinneweerde. ’n Suiwerheid. Pure kind. Ek stel haar op die plek aan. Sy het ’n plastieksak met ’n paar kledingstukke by haar en kom saam met my huis toe. Sy kan onmiddellik begin.

My ouers was oorsee en ek installeer haar in hulle woonwa. Op die plek kry ek een van die smerigste griepe van my lewe en bly amper twee weke in die bed. Sy bad die kinders, trek hulle aan, stap saam met hulle skoolbus toe. Toe ek beter is, besluit ek om nog ’n kamer aan ons Wendy-huis vir haar te laat aanbou. Ek bestel dit, betaal en reël dat dit afgelewer en opgerig moet word. Ek vra my ouers se liewe werker, Hlamarisa, om die vragmotor te ontvang en te gaan wys waar ons huis sit, op met die slingerpad berg toe.

My selfoon lui by die werk. Dis Hlamarisa, hoogs ontsteld. “Die nonnie moet kom, die basies wil nie dat die lorrie verbykom nie.” Só het hulle gepraat, al het ek dikwels aangedring om op my naam genoem te word. Daar staan die vragmotor voor die plaashek, asook my tweelingbroers, kwaai, en Hlamarisa, handewringend. My een broer, wat gewoonlik hoog gerook en uitgechill was, sê op sy stadige, duidelike manier vir my: “Die kampong is daar onder. Hulle kan die kamer daar aflaai.”

“Sy kom by ons bly,” sê ek.

“En waar is haar badkamer?”

“Sy gebruik ons s’n.”

En hy antwoord: “Jy hóú net weer van die vrou en wil haar by jou hê.”

...........
En daar gebeur ’n kortsluiting in my kop. Ek begin op hom skree. Ek klim uit my lyf en sien hoog van êrens in die lug bokant ons koppe hoe ek hom verskree – monotoon en ver anderkant briesend. Die uiteinde is dat die vragmotor verbykom en die kamer aan die houthuis verbind word.
..............

En daar gebeur ’n kortsluiting in my kop. Ek begin op hom skree. Ek klim uit my lyf en sien hoog van êrens in die lug bokant ons koppe hoe ek hom verskree – monotoon en ver anderkant briesend. Die uiteinde is dat die vragmotor verbykom en die kamer aan die houthuis verbind word. Die heel uiteinde is dat my arme broer sy laaste dae, nadat my ma die plaas, in sy woorde, onder sy gat uit verkoop het, in die werkerskwartiere onder, die sogenaamde kampong, deurgebring het en daar dood is.

Soveel verlies.

Maar Caroline. Sy was ’n juweel. Sy was nie fluks nie en sy was nie netjies nie. My streng ma het gereeld in die agtermiddag opgestap na ons huisie. As ons haar wandelstaf hoor knars op die sand onder die huis, het die kinders en Caroline opgespring van die bank waar hulle lê en sepies kyk – sulke ledigheid het my ma nie goedgekeur nie. Dan het sy Caroline uitgetrap omdat die plek nie netjies is nie. Ek is spyt dat ek nooit die moed gehad om vir haar te sê nie: “Dis my huis, my kinders en my kinders se maatjie. Sy is geen huishulp nie.” Almal het besig probeer lyk tot my ma weer koers gekry het. Dan het hulle drie weer op die bank gaan lê en wag dat ek die kos wat ek gemaak het, vir hulle aandra. Kos is my liefdestaal. En daar was nie plek vir ’n eettafel nie.

Wanneer ons gaan uiteet het – een van ons vreugdes – het Caroline saamgegaan en altyd pizza met ham bestel, wat sy met groot genoegdoening verslind het, altyd met die hand, soos die kinders. Daar was iets ongerep aan haar, onverfynd – sy het oopmond met bolwange geëet, lippe blink van die vet, oë blink van vreugde. Maar haar siel was oneindig verfynd.

Ek het haar bederf soos my kinders. Sy was lief vir lang baddens en Afrikaanse sepies, al het ons met haar Engels gepraat. My kinders het ’n lekker inheemse Engels begin gooi. Toe my pa vir my jongste ’n babapop present gee, vra hy later wat die baba se naam is.

“Marycle,” verklaar Zita.

“Waar kom jy aan dié naam?” wil my pa weet.

“Caroline het gesê dis haar naam.”

En op die boks waarin Marycle gekom het, staan dit groot en duidelik: Miracle Baby.

Sweet Caroline. Daar was net skoonheid in haar. En eindelose weemoed, iets waarop ’n mens nie jou vinger kon lê nie. Sy het graag groente geëet en gesê sy wil haar bloed skoon kry. Dalk moes ek geweet het. Sy het ook graag sand geëet, spesiale sand wat sy in ’n plastieksakkie gehou het. Die kinders was gek oor haar.

Toe ons saam met Jeanne Goosen Johannesburg toe trek, kom sy saam. Die huis wat ons in Brixton gehuur het, het ’n groot buitekamer met badkamer, en bad, gehad. Haar suster en dié se man, ’n pastoor, het in Johannesburg gewoon en sy het naweke by hulle gaan kuier.

.........
Toe ons Kaap toe trek, moes ons haar agterlaat, want ons het na ’n klein woonstel verhuis. Sy het by haar suster gaan woon. Ons het lang trane gehuil, want sy was familie. Ons het mekaar soms gebel.
............

Toe ons Kaap toe trek, moes ons haar agterlaat, want ons het na ’n klein woonstel verhuis. Sy het by haar suster gaan woon. Ons het lang trane gehuil, want sy was familie. Ons het mekaar soms gebel.

’n Jaar of wat later laat weet Hlamarisa en sy vrou Nora ons: Caroline is dood. Haar voete het begin opswel, sê hulle, en toe kry sy sere. Sy het vigs gehad – dit van haar man gekry wat op die myn gewerk het.

Toe verstaan ek die hartseer oë, die ongebreidelde honger na die lewe, die behoefte om gepamperlang en vertroos te word, deel van ’n gesin te wees.

Sy het ons lewe vir ’n paar jaar gedeel, in ’n houthuis op pale teen die Magaliesberg. Daardie huis het later afgebrand en ons spore is toegewaai. Maar ons sal altyd na haar verlang.

Lees ook:

Sowat van ’n wolk!

  • 6

Kommentaar

  • Deborah Steinmair

    Dankie, Trisa. Ek sal dit graag 'n boek wil maak, as ek net kon weet of mense sal dit koop!

  • Julio Agrella

    Soveel mense, soveel stories wat vertel moet word. Dankie, Deborah, dat jy dit met ons deel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top