
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Briewe van heldinne, Ovidius se Heroïdes
Vertaal deur WJ Henderson
ISBN: 9781067234942
Uitgewer: Naledi
WJ Henderson se Briewe van heldinne, Ovidius se Heroïdes is ’n skitterende vertaling uit Latyn in Afrikaans.
Die buiteblad is vir my altyd ’n sleutel wat die deur na die inhoud oopsluit. Die pragtige en betekenisvolle buiteblad sluit die deur na die binneruim oop. Só of amper só het Helena van Troje gelyk.

Hierdie eksemplaar van die Heroïdes, geredigeer deur Peter Burmann, is in 1732 gepubliseer. (Foto beskikbaar gestel deur die Houghton-bibliotek, ’n deel van die Harvard Collge Libary.)
Die leser sal haar in Brief 16 en 17 beter leer ken. Verder sal die leser in Brief 1 kennis maak met Penelope (Ulysses se vrou).
1 Publius Ovidius en sy werk
Ek wil die leser aan die skrywer Publius Ovidius en sy werk voorstel. Hy is op 20 Maart 43 vC in Sulmo (vandag Sulmone) gebore. Hy het in Rome regte gestudeer. Sy leermeesters was manne van faam: Aurelius Fuscus en Porcius Latro.
Gelukkig het hy tot sy sinne gekom! Hy het toe sy lewe aan poësie gewy. Hy was bekend met Horatius en veral Tibullus. Hy het ook ’n oog vir skoonhede gehad. Drie maal het huweliksklokkies vir hom en sy bruid gelui. Ovidius het ’n dogter by sy tweede vrou gehad. Slegs sy derde vrou se naam is vir ons bekend. Haar naam was Fabia. Wat ’n mooie naam!
Ovidius se Metamorphoses beteken “gedaanteverwisselinge”. Dit is die Latynse woord vir die Griekse metamorfosis. Die meesterlike werk bestaan uit 15 boeke. Hy het dit vanaf 1 tot 8 n.C. geskryf.
Ovidius se Tristia beteken letterlik “treurige dinge, verdrietige berigte”. Dit is ’n onsydige meervoudsvorm van die byvoeglike naamwoord wat hartseer of treurig beteken en handel oor Ovidius se treursange in en oor sy ballingskap in Tomi (of Tomis) aan die noordweskus van die Swartsee. Dit is merkwaardig dat een van Van Wyk Louw se werke ook Tristia (1987) heet.
Net Catullus onder die Latynse digters het voor hom so persoonlik, outobiografies gedig, en nie op so ’n skaal nie. Sy lyding aan die noordweskus van die Swartsee was skrikwekkend as ’n mens dit vergelyk met sy lewe en sukses in Rome.
In November 8 n.C. tref ’n skok hom. Op 51-jarige leeftyd word die briljante digter na Tomi verban (vandag Constanta in Roemenië).
Tegnies was hy nie ’n balling (exul) nie, maar “verplaas” of “ingeperk” (relegatus deur relegatio), wat die behoud van sy eiendom en siviele regte behels het, maar hom tot ’n bepaalde gebied beperk het. Ovidius verskaf nooit die redes vir sy straf nie. Keiser Augustus het ook soos die graf oor die redes van Ovidius se verbanning geswyg. Ovidius noem wel ’n gedig (carmen) en ’n fout of dwaling (error). Hy vermoed die gedig is die een wat as onwelvoeglik beskou is en dus ontug en egbreek aangemoedig het. Oor die error moet hy egter swyg om nie weer die keiser se wonde oop te krap nie (Tristia 2:207–24).
Die betrokke digbundel was die Ars Amatoria, wat sedert sy verskyning gewild en invloedryk geword het. Augustus het dit verbied en uit biblioteke laat verwyder, juis vanweë die didaktiese aard daarvan. In dié tyd was Augustus besig om die Romeinse moraliteit te hervorm. Met Augustus se afsterwe in 14 nC het sy opvolger, Tiberius, die beleid gehandhaaf en Ovidius nie na Rome teruggeroep nie. Ovidius skryf meermale oor die error waaroor hy die swye moet bewaar.vanaf Hy het iets gesien wat hy nie moes sien nie en dit probeer wegsteek; dit was toevallig en hy wou geen voordeel daaruit put nie. Hy was egter nie heeltemal onskuldig nie; hy was dwaas en bitter spyt. Maar ons almal weet: Spyt is ’n goeie ding, maar dit kom altyd te laat. Hy wou nie daaroor praat nie. Ovidius pleit om versagting van sy afsondering en hoop die keiser se hart sal versag (vanaf 10 n.C. wy Ovidius sy aandag aan poësie: vier boeke Tristia en vyf boeke Epistulae ex Ponto (briewe van die Swartsee).
Uitgesluit uit die ryk kulturele lewe in Rome en verlate in ’n koue en onvriendelike omgewing, het Ovidius in sy Tristia (in vyf boeke) en Epistolae ex Ponto (“Briewe uit die Swartsee”, in twee boeke) gedigte, soos reddingsboeie, aan familielede, vriende, vyande geskryf en ook Augustus uitgegooi en sy lewensomstandighede beklae. As daar net een oor was wat sy hulpkrete kon hoor en verstaan. Die persone aan wie hy sy Tristia-gedigte stuur bly anoniem om hulle te beskerm. Hy het egter keiser Augustus met sy titel Caesar aangespreek. Hiermee wou hy respek betoon. In sy Epistolae ex Ponto word die ontvangers wel by die naam genoem. Hy het dit seker gedoen, omdat dit duidelik was dat Augustus of Tiberius nie verdere stappe sou neem nie. Die metrum is elegies en die toonaard dié van treur, klagte, troos en weeklaag. In Ibis loods hy vir oulaas ’n aanval op ’n onbekende vyand. Ovidius het nooit weer na Rome teruggekeer nie.
Ovidius se poësie getuig van ’n hoë vlak van tegniese vaardigheid en vindingrykheid. Hy beweeg met oënskynlike gemak tussen outobiografie, liefdespoësie, geskiedenis en mitologie. Sy gebruik van die mitologiese exempla is des te meer verbysterend, omdat hy gedurende sy ballingskap in die vreemde geen toegang tot biblioteke, ander digters of vriende gehad het nie. Hy het hoogstens ’n beperkte aantal boeke saam met hom geneem. Sy ryk verbeelding, verstommende taalgebruik en die uitbeelding van dramatiese patos en menslike emosie het tematiese vernuwing en die gebruik van vorm (byvoorbeeld die epiese vers vir die Metamorphoses) en elegiese verse bewerk.
Hy skryf sy Ars Amatoria (“Die kuns van die liefde”) in die sogenaamde distigon, ’n tweereëlige kombinasie van heksameter en pentameter, oftewel van ’n sesvoetige en ’n vyfvoetige daktiliese vers. Die kombinasie van heksameter en pentameter vorm ’n kragtige afgeronde geheel. Ovidius het sy tweede werk, Heroïdes, geskep toe hy ongeveer 25 jaar oud was. In die werk kom die kenmerke van Ovidius se digterskap na vore: elegant, retories, vloeiend, vindingryk, humoristies en ironie duidelik aan die lig. Hy benut die elegiese koeplet (sesvoetige reël gevolg deur ’n vyfvoetige een) met vernuf en gemak (Henderson 2025:12). Hy gebruik die heksameter as metrum in sy Metamorphoses. Hy praat ook van “my Muse op ongelyke wawiele” (imparibus rotis). Dit is ’n beskeie manier om te beskryf dat sy wapens meer krag het as dié van sy sogenaamde voorgangers (Vos 2024:153–6; Henderson 2025:11–2).
Dit is merkwaardig hoe Dante (25 Mei 1265–14 September 1321) tussen 1304 en 1320 onder byna dieselfde omstandighede (ballingskap) as dié van Ovidius sy manjifieke La Divina Commedia geskep het. Die een groot verskil is net dat Dante se terugkeer na Florence vir hom die doodsvonnis sou beteken (Vos 2021:4–10).
Ovidius skryf: “Laeta fere laetus cecini, cano tristia tristis.” Die vertaling lui: “As byna gelukkige [mens] het ek oor blye dinge gesing / gedig, nou sing ek oor hartseer dinge as [iemand wat] hartseer [is]” (Epistolae ex Ponto 3:9–35). In die jaar 17 n.C. het Ovidius in Tomis gesterf.
2 Helena se liefdesvlug lei tot Trojaanse Oorlog
Helena is die dogter van Tyndareus, koning van Sparta, en Leda, suster van Castor en Pollux. Die sterre-Tweeling (Gemini), vrou van Menelaüs, Paris het Helena, wonderskone vrou, na Troje ontvoer.
Helena, jy leef in beelde en herinneringe,
geen stuwende wind kan jou roemryke
naam ooit uit manne se gedagtes wis nie;
jou naam pols sag oor die skouers van berge.
In Brief 16 Paris aan Helena begin hy sy brief soos volg:
Ek, seun van Priamus, stuur aan jou dogter van Leda,
die gesondheid wat net jy my kan toewens.
Sal ek praat, of is melding van ’n bekende vlam onnodig
en my liefde al meer vertoon as wat ek kon wens? (Henderson 2025:92)
Paris se smagting na Helena word in Brief 16 met ’n treffende vergelyking uitgedruk:
Mag sy [Helena] my bybly en my hart se gety soos die see s’n
kalmeer, en my ede na hul bestemde hawens bring. (Henderson 2025:92)
Paris beskryf Helena ook met ’n hartroerende vergelyking:
borste witter as sneeu of melk of Jupiter toe
hy jou moeder omhels het. (Henderson 2025:99)
Paris maak sy bedoeling glashelder:
Mag die gode skik dat jy die prys in ’n groot wedstryd
was, en ek as wenner jou in die bed kon hê! (Henderson 2025:99)
Helena was egter nie onwillig nie. Sy verklaar aan Paris:
Jou aantreklikheid, erken ek, is ook skaars
en ’n vrou kan in jou omhelsings wil kom. (Henderson 2025:106)
Helena maak haar hart oop en verklaar aan Paris:
Ek sou van yster wees as ek so ’n hart nie bemin
nie. Van yster, glo my, is ek nie, maar ek veg teen liefde
vir ’n man wat ek skaars kan dink word myne. (Henderson 2025:108)
Nogtans het Helena haar aan die nuwe liefdesavontuur met Paris oorgegee.
Hierdie liefdesvlug het tot die Trojaanse Oorlog gelei. Die hel was nou los. ’n Groot vloot van talle Griekse vorste het onder Menelaüs bymekaargekom en oorlog teen Troje verklaar.
Ná die oorlog het Helena na haar paleis in Sparta teruggekeer.
3 Besinning oor vertaling
Hier word aandag gegee aan ’n voorbeeld van WJ Henderson se uitmuntende vertaling van Brief 1 Penelope aan Ulysses.
Penelope noem Ulysses, haar man, die “statige Ulysses”. Sy noem Paris, die seun van Hecuba en Priamus, die koning van Troje, ’n egbreker.
Penelope ween oor die oorlog. Maar die Trojane het die onderspit gedelf. “Troje lê in as.” En nog steeds is Ulysses nie in Ithaka by haar nie. Penelope voel soos ’n weduwee. Sy lê koud en verlate op haar bed. Haar hart het “kouer” as ys geword. Dié vergelyking gee Penelope se weerloosheid weer. Die oorlog is verby. Die vrou hang aan die man se lippe as hy vertel. Dit is ’n metafoor wat te kenne gee dat sy elke woord uit sy mond hoor. Dit gee nie te kenne dat sy werklik aan lippe hang nie.
Vertaling bring mee dat keuses gemaak moet word met die oog op ’n sinvolle vertaling. Dit is veral die geval as dit oor Hebreeuse, Griekse, Latynse en Italiaanse tekste gaan. Dit gaan nie net om keuses nie, maar ook ’n grondige kennis van die tale. WJ Henderson voldoen aan al die vereistes. Enkele voorbeelde hiervan is:
Was die egbreker [Paris] toe maar net, onderweg met die skip
na Sparta, deur tierende waters oorweldig!
Ek sou dan nie koud op my verlate bed gelê het of alleen
oor die dae se trae gang gekla het nie:
en die hangende net sou nie my weduwee se hande uitput,
as ek die uitgestrekte nag probeer bedrieg nie. (Henderson 2025:13)
Dit is ’n oorbekende waarheid dat daar in enige vertaling altyd ’n mate van verraad skuil. Die ou slagreël lui soos ’n klok: traduttore, traditore (“vertaler, verraaier”). Sodra een element van die struktuur, soos woordorde, ritme, sintaksis, metaforiek, vergelykings, sinstipe, poëtiese strategieë, tekstuur, strofiese samestelling, narratiewe funksies, linguistiese situasie en postuur (die liggaam, stem en asemhaling van die teks), verander word, is die oorspronklike teks reeds “verraai” (Heath-Stubbs 1998:179–94; Brink 1998:1–19; Eco 2005:180–200, 212–35). Tog is dit goed dat dit so is. ’n Omdigting (vertaling) in die eie taal smaak soos hanepootdruiwe in die mond. Die versvertaling kry in Afrikaans ’n eie lewe, ritme en stukrag. Elke taal bied ’n ander opvatting van kennis, en dus van die wêreld (Herbert 2012:24). Daarom verwelkom nuwe metafore die Griekse teks by die Afrikaanse hawe.
Om te vertaal is in die eerste plek om keuses te maak. Dit strek gedigte tot voordeel deur nie te hou by die vaste prosodie (maat en ritme) van die oorspronklike teks nie en deur ook nie die prosodie te domestikeer nie. Hiermee word bedoel dat die omdigter nie die oorspronklike gedigte so moet probeer tem dat hy dit vir sy doeleindes “inheems” maak nie.
’n Vertaling vra ook na die musikaliteit en samevoeging van woorde en sinne. Die vertaler moet na die woorde luister wat hy kies en dit vergelyk met die betekenis van die oorspronklike taal. Hy moet dan die gevoelswaarde daarteen opweeg ten einde die geskikte toonaard en kadens te vind (Herbert 2012:24). Ek stem saam met Evangelos Sachperoglou (2008:xi) as hy skryf: “The translator is bound to dispense with the aesthetic equivalents that seek to maximize the poetic effect of the original.”
Met sy sonar kan die vertaler die binnewerkinge van die teksliggaam sien en alles binne sy of haar vermoë doen om deur ’n kreatiewe en kundige vertaling ’n gesonde teks na die lesers toe te stuur.
WJ Henderson voldoen met onderskeiding aan al die eise. Henderson se vertaling sal die leser so aangryp dat hy / sy nie sal ophou lees nie. Selfs tot ná middernag!
Fady Joudah (2007:xv), wat van Mahmoud Darwish se gedigte uit Arabies in Engels vertaal het, sien die uitdaging van die vertaling van poësie soos volg: “Translation should, as Darwish suggests, become more than a new poem in another language. It should expand into the language new vastness.” Breyten Breytenbach (2009:60) beskou vertaling soos volg:
Vertaling, om oor te gaan van die een taal in ’n ander, is ook ’n reis. Die landskap verander, winde met die reuke van onbekende groei waai soos nuus oor die hoogland na laerliggende valleie, jou skaduwee verskiet, die lied bly ’n wisseltong tussen bekend en onbekend.
Volgens Breytenbach (2019:252) is vertaling om te vervel. Dit is ’n poging om die self te vertel en sodoende die diepweiding en -wydte van die gesigfokus te verstel. Die Chinese digter Yang Lian (2012:41) se uitlating oor die proses van vertaling is insiggewend: “[...] if the original is an extreme piece of writing, it challenges the translator to produce an extreme translation, and this leads on to truly exciting dialogues between the different cultures.” Die dialoog is oor die algemeen nie so maklik nie. Daarom is Brian Holton (2012:352–3) se kommentaar ewe geldig en navolgingswaardig:
Poems change, mutate and evolve into different creatures through the process of restatement in another language, and what works in one language doesn’t always work well in another, which is another reason why non-native versions rarely work as poetry; the non-native can never see the text in the same way as the native speaker – in effect they are reading different poems, as each brings a different set of values and expectations, and the text can’t be read through the lens of these values and expectations.
Ek is deeglik daarvan bewus dat vertalers langs donker afgronde loop. Vertalers moet steeds bewus bly van die risiko’s van vertaling. Die afstand tussen die kultuurhistoriese konteks van die oorspronklike gedig en die teks van die omdigting moet steeds in ag geneem word. Dit vra van die omdigter om so ver dit menslik moontlik is, kennis te dra van die kultuurhistoriese situasie van die oorspronklike teks. In ’n sekere sin is vertaling verduistering (Breytenbach 1993:54), maar dit is ook ’n verheldering.
In die Briewe van heldinne sing die vertalings ’n eie lied met die Latynse teks wat oral eggo – oor die bruisende see, berge, dale, grotte en diep slote. Die vertaler moet die woorde van die bronteks oorweeg en heroorweeg. Kennis van taalspel is ’n noodsaaklike vereiste vir enige vertaling. Kennis van die funksie en krag van onder andere metafore is met die oog op vertaling onmisbaar. Die woord metafoor kom van die Griekse woorde meta (“oor”) en pherein (“dra”). Hieruit is die Latynse woord metaphora geskep, wat figuurlik beteken (Degenaar 1970:294; Hirsch 1999:13). ’n Metafoor is die oordra van energie, ’n wyse van interpretasie, ’n saak van identiteit en verskil. Die metafoor beskryf die werklikheid op ’n nuwe en verrassende wyse.
Paul Ricoeur (1977:44) wys daarop dat “die primêre eenheid van betekenis” die sin is en nie die woord nie. As daar na metaforiese taal verwys word, gaan dit nie slegs om ’n funksie van woorde nie, maar ook om die totale konteks waarbinne woorde (frases) gebruik word.
Taal is deurdrenk met metafore. Talle metafore het egter tot dooie metafore verslyt, omdat hulle met verloop van tyd ’n meer letterlike betekenis verkry het. Dit beteken nie dat verslete metafore nie weer nuut gemaak kan word nie.
Net soos prosa, gebruik poësie taal. Maar die digter kleur taal anders as die prosaskrywer. Wat is die kenmerke van poëtiese taal? Soos ’n rivier vol water is, is ’n gedig vol beelde en metafore. ’n Metafoor handel oor uitbeelding en verbeelding. Sonder verbeelding kom ons nêrens nie, bly ons rigtingloos rondswerwe (Schuman 1998:50). Verbeelding is iets anders as fantasie. Waar fantasie ’n ontsnapping uit die werklikheid is, verruim en verryk verbeelding juis die werklikheid. Die appels op die doek van die kunstenaar is in wese geen appels nie, maar geskilderde kleure en vorme wat in die ruimte hang. In die verbygaan sien ons dit as appels; die volgende keer as ons regte appels sien, kyk ons met ’n gewysigde verwagting daarna. Dit is ons verbeelding wat uit die geskilderde kleure en vorme appels laat groei, wat ons nie alleen appels laat sien nie, maar méér as dit. Wanneer ons met die oog van die verbeelding kyk, kom daar ’n werklike ervaring van aanwesigheid, bemoediging en troos tot stand. Die rede hiervoor is dat ’n mens met die oog van verbeelding verder kyk as wat hy / sy werklik sien (Vos 2024:50).
Deur die verbeelding word diepere lae van die innerlike bereik as deur die rede (Siertsema 1998:379). In sulke gevalle kan dit gebeur dat daar ’n vrugbare spanning ontstaan tussen die innerlike belewing van die werklikheid en die werklikheid self. In die woord verskuif verbeeldingskrag die aksent van krag na verbeelding. Onder krag word die moontlikhede wat in die natuur en ook in die menslike natuur opgesluit is, verstaan. So ’n innerlike krag kan ’n bron van kreatiwiteit wees. Met verbeelding word die direkte band tussen natuur en gees verbreek en verskuif die aksent na die beeldvorming wat op sintuiglike waarneming berus. Hierdie waarneming het betrekking op die werklikheid buite ons, waar ons indrukke opdoen wat in ons innerlike neerslag vind (Degenaar 1970:94.) ’n Metafoor maak ons oë oop om te sien. Die resultaat is meestal verrassend en vreemd.
’n Metafoor is soos ’n paling: Dit is glad, vinnig, glibberig en vars. Dit maak taal nuut en lewendig. Die wonder van ’n metafoor is dat dit mense in staat stel om sake te verbind wat andersins nie die geval sou wees nie. Dit skep die moontlikheid om nuut na sake, ander mense en die wêreld te kyk. Metafore is soos dinamiet. Dit ruk nuwe wêrelde oop waarna die leser met verwondering kan kyk.
In ’n metafoor gaan dit om die uitbeelding en verbeelding. Wanneer ’n metafoor ’n verhouding tussen twee gebiede of persone daarstel, word nuwe assosiatiewe samehange tot stand gebring. Die metafoor maak ons oë oop vir “sien as”. Die uitkoms is meestal verrassend en vreemd. Dit plaas die ontvanger in ’n nuwe lig.
Die betekenis van die metafoor staan nie klinkklaar vas nie en die uitwerking daarvan kan nie presies voorspel word nie. Metafore is “ongebonde taal”. Mense laat hulle nie deur die gangbare voorsê nie, maar skep betekenismoontlikhede wat tot nou toe nie ontgin is nie. Die lewende metafoor maak die taal nuut. Die vernuwing en nuwe insigte kom tot stand deurdat ’n metafoor normaalweg ’n woord of segging is wat binne ’n ongewone konteks gebruik word (Ricoeur 1975:77, 79, 92–3, 95).
Die metafoor is ’n vonk in die hand van die digter. Hy / sy steek die wêreld daarmee aan die brand. Die metafoor stel hom / haar in staat om die verrassende, die onopvallende, die skynbaar teenstrydige en ironiese te vind.
’n Metafoor help om die onbekende in terme van die bekende te verstaan.
Metafore dien nie net om iets te “benoem” nie, maar dit verleen ook toegang tot dit waarna verwys word. Op dié manier word ’n brug, ’n tussenspel tussen “saak” en “beeld” geskep. Deur die beeld word toegang tot die saak bewerk.
Eie aan die metafoor, is dat dit taalspanning skep (Vos 2002:86).
Dit bied ’n “stereoskopiese visie” en bind altwee die helftes, die saak en die beeld (Vos 2002:86). Die metafore skep ’n komplekse spanning wat sowel die ooreenkomste as die verskille erken. Hierdie interaksie wat metafore bewerk, skep ruimte vir verbeelding.
Volgens Ricoeur (1979:15–27) werk die metafoor tegelykertyd met die paradoks van die “is” en “is ook nie”. Die spanningskwaliteit van ’n metafoor bevestig en ontken terselfdertyd dat daar iets gebeur. Daar is, volgens Ricoeur (1977:221–24, 255–36), ’n implisiete “is en is ook nie” in elke positiewe metaforiese bewering.
WJ Henderson se uitnemende summa cum laude vertaling gee aan taalverskynsels deeglik aandag. Penelope se verwysing na die uitgestrekte nag (reël 10) is ’n voorbeeld van ’n metafoor. Die nag is vir Penelope uitgestrek, maar vir iemand wat rus en vrede in sy / haar hart het, is dit tyd van rus en slaap. Die vrou hang aan haar man se lippe (reël 30) is nog ’n voorbeeld van die metafoor wat ’n dubbele funksie het. Die hang aan sy lippe as hy vertel, dui op die “is”-funksie van die metafoor. Dit druk die vrou se liefde uit. Die hang aan sy lippe kan egter nie letterlik verstaan word nie. Hiermee word die “is nie”-funksie van die metafoor benadruk.
“Troje lê in as” (reël 24, Henderson 2025:13) is ’n metafoor wat daarop dui dat Troje die onderspit gedelf het. “In as” wys op algehele verlatenheid. En tog is “as” ’n alledaagse verskynsel wanneer vuur hout tot as verbrand.
Ulysses is nog steeds ná jare van alleenheid nog nie in Ithaka by haar nie. Penelope voel soos ’n weduwee. Sy lê koud en verlate op haar bed. Haar hart het “kouer as ys geword” (reël 22, Henderson 2025:13). Die vergelyking haar hart het “kouer as ys geword”, beskryf Penelope se verlange en verlatenheid treffend. In Brief 16 Paris aan Helena, gebruik Paris van Troje ’n ontroerende vergelyking.
Mag sy [Helena] my bybly en my hart se gety soos die see s’n
kalmeer, en my ede na hulle bestemde hawens bring. (Henderson 2025:92)
Paris beskryf Helena met ’n trefseker vergelyking.
Jou borste is witter as sneeu of melk of Jupiter toe
hy jou moeder omhels het. (Henderson 2025:99)
Jupiter het die gedaante van ’n wit swaan aangeneem.
Ovidius gebruik simpatie en empatie om Ulysses, as hy nog lewe, aan te moedig om na Ithaka terug te keer. Om dit metafories te beskryf: Sy geliefdes het hom broodnodig.
Ek gee ’n voorbeeld van WJ Henderson (2025:15–6) se uitmuntende vertaling wat aan alle vertalingsvereistes voldoen.
Penelope druk haar wanhoop uit deur haar opmerking (reël 88):
[...] ’n wulpse klomp, prinse, vry na my.
Reëls 97–116 het die volgende verloop:
Ons is drie wat nie kan veg nie: ’n magtelose vrou,
Laërtes ’n ou man, en Telemachus, ’n kind.
Onlangs is hy byna in ’n lokval van my weggeneem, toe
hy hom berei om teen almal se sin na Pylos te gaan.
Die gode skenk, bid ek, dat wanneer ons lotsbestemmings
mettertyd kom, hy my en jou oë sal sluit!
Jou beeswagter en die bejaarde sorgvrou sorg vir ons, en as
derde die getroue versorger van die vuil kraal.
Maar Laërtes wat onbedrewe met wapens is, kan nie
te midde van die vyande die koninkryk beheer nie.
Telemachus, as hy lewe, sal ’n sterker ouderdom bereik;
nou benodig hy sy vader se hulp en bewaring.
Ek het ook nie die krag om vyandige mans uit ons huis
te dryf nie. Kom gou, jou gesin se hawe en altaar!
Jy’t ’n seun (en ek bid dis vir lank); hy moes in sy teder
jare sy vader se vaardighede geleer het.
Ontsien Laërtes; sodat jy sy oë eendag mag sluit,
verset hy hom teen die laaste dag van sy lot.
Ek wat nog ’n meisie was, toe jy vertrek het, sal
seker, al kom jy gou, na ’n ou vrou lyk.
Die storie het ’n gelukkige einde: Ulysses het na 20 jaar, 10 jaar van oorlog in Troje en 10 jaar op reis, na Ithaka teruggekeer.
WJ Henderson se vertaling van Ovidius se Heroïdes is soos vars, murmelende water in ’n stroom. Dit laaf die oë, denke en hart van die leser.
Hy skenk aan die leser digterlike weelde. Daar is soveel raakpunte tussen die Romeinse wêreld en die wêreld van ons tyd. Ek nooi elke leser van gedigte en romans uit om die briljante en glansryke Afrikaanse vertaling te lees.
Bronnelys
Breytenbach, B. 1993. Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde. Groenkloof en Somersert-Wes: Hond/Intaka
Breytenbach, B. 2009. Oorblyfsel / Voice over (op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj) / (the nomadic conversation with Mahmoud Darwish). Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2019. Op weg na kû. Kaapstad: Human & Rousseau.
Brink, A.P. 1998. The novel. Language and narrative from Cervantes to Calvino. Kaapstad: University of Cape Town Press.
Dante. 2021. Inferno. Vertaal deur C. Vos. Gansbaai: Naledi.
Degenaar, J.J. 1970. Iets oor die metafoor. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 10(4):294.
Eco, U. 2005. on literature. Londen: Harper Collins Publishers.
Heath-Stubbs, J. 1998. The literary essays. Manchester: Carcanet Press.
Herbert, N.W. en Y. Lian (met B. Holton en Q. Xiaoyu). 2012. Jade ladder. Contemporary Chinese poetry. Glasgow, Skotland: Bell and Bain Limited.
Hirsch, E. 1999. How to read a poem. San Diego, New York, Londen: A Harvest Book, Harcourt.
Henderson, WJ. 2025. Briewe van heldinne. Ovidius se Heroïdes. Gansbaai: Naledi.
Holton, B. 2012. Phrases that shall be musical in the mouth. In: N.W. Herbert en Y. Lian (reds.). Jade ladder. Contemporary Chinese poetry. Northumberland: Bloodaxe Books.
Joudah, F. 2008. Translater’s preface. Vertaling van Mahmoed Darwish se The butterfly’s burden. Northumberland: Bloodaxe Books.
Louw. N.P. van Wyk. 1987. Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.
Ricoeur, P. 1975. Biblical hermeneutics. Semeia 4.
Ricoeur, P. 1977. The rule of metaphor: Multi-disciplinary studies in the creation of meaning in language. Vertaal deur R. Czerny, met K. McLaughlin en J. Costello. Londen: Routledge.
Ricoeur, P. 1979. Naming God. USQR 4(4).
Sachperoglou, E. 2008. Note on translation. New York: Oxford University Press.
Schuman, N. 1998. Vertakkingen. In: M. Barnard en N. Schuman (reds.). Nieuwe wegen in de liturgie. De weg van de liturgie – een vervolg. Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.
Siertsema, B. 1998. Verbeelding in de liturgie. In: P. Oskamp en N. Schuman (reds.). De weg in de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.
Vos, C. 2002. Liturgische taal als metaforische taal. In: M. Barnard en N. Schuman (reds.). Nieuwe wegen in de liturgie. De weg van de liturgie – een vervolg. Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.
Vos, C. 2024. Wisselende stemminge. Gansbaai: Naledi.
Vos, C. 2024. Geloofsgedigte. Gansbaai: Naledi.
Lees ook:
Die Satyrica van Petronius, vertaal deur WJ Henderson: ’n lesersindruk
LitNet Akademies-resensie-essay: Bill Henderson se Afrikaanse vertaling van antieke Griekse poësie



Kommentaar
Cas Vos hartlike dank dat jy my en ander lesers van LitNet inlig met jou insigvolle kommentaar op WJ Henderson se vertaling van Ovidius se Heroides uit Latyn.
Ek leer baie oor die omstandighede in Rome en die Romeinse Ryk in die tyd van Keiser Augustus: dit is werklik insiggewend!
Dan leer ek ook baie en diepsinnig oor taal, poësie en metafore. Dit is 'n kursus oor die letterkunde.
Bravo, ek bedank jou.
Beide Bill Henderson en Cas Vos was my mentors. Cas gee 'n uitstekende resensie van Henderson se buitengewone werk. Henderson het my as student ook ingelei in die liefdesgedigte van Ovidius. 'n Wonderlike ervaring.
Dankie, Cas, dat jy hierdie klassieke akademikus se werk so uitnemend bespreek.
Die lesersindruk uit die pen van Cas Vos is omvattend, insiggewend en ophelderend. Dit is duidelik die resultaat van indiepte kennis en sy gawe om dit oor te dra. Dit word raak beskryf deur Hennie Smith as 'n kursus. Die inhoud in Afrikaans skep beelde en die drang om meer te wete te kom. WJ Henderson se uitstaande vertaling verdien die deeglike kundige kommentaar.
Beste Cas.
Jou resensie oor Briewe van Heldinne is briljant en dit voel of 'n nuwe wêreld vir my oopgaan.
Dit is 'n fantastiese vooruitsig wat geskep word om die leser honger te laat om die woorde wat in die boek volg op te slurp soos wat 'n spons water sou absorbeer.
Die opgewondenheid word aangevoel, asof die vertalings jou eie woorde is. Dit is ryk in taal en inligting, steeds interessant en maak voorbrand vir die diep emosies wat in die gedigte aangeraak word.
Met rede kan jy met groot trots die komplimente neem wat almal welverdiend is.
Baie geluk Cas, met jou resensie oor Briewe van heldinne. Jy slaag daarin om my en ander lesers hiervan aan te spoor om meer daarvan te wil lees.
Ek stem saam met Hennie Smith, dit het soos 'n kort kursus vir my ou vensters oopgemaak met jou verduideliking van oorspronklike Latynse woorde.
Jy neem my gedagtes direk na die Bybel met jou verwysings na die geharde keiser Augustus uit die vroeë jare n.C.
Jou insiggewende indrukke van WJ Henderson se vertaling, is 'n oordrag van jou eie jarelange indiepte kennis van die ou ou meesters, soos Ovidius.
Baie dankie, Cas, vir jou insiggewende en verrykende resensie oor WJ Henderson se Briewe van Heldinne, Ovidius se Heroïdes.
Dit getuig van jou eie entoesiasme en bemeestering van die tale, vertalings en die kuns van poësie, en jou vermoë om konsepte raak te verwoord in kleurvolle taal.
Ek wil iets uit jou resensie aanhaal: “Metafore is soos dinamiet. Dit ruk nuwe wêrelde oop waarna die leser met verwondering kan kyk.”
Vir iemand wat baie meer werk met tegnologie as met poësie is, is so ‘n resensie en so ‘n boek soos dinamiet.