LitNet Akademies-resensie-essay: Bill Henderson se Afrikaanse vertaling van antieke Griekse poësie

  • 1

Die geleerde digter: Antieke Griekse pastorale en epigrammatiese poësie
WJ Henderson
Imprimatur
ISBN: 978-0-633-99219-0-7, 978-0-6399219-1-4, 978-0-6399219-1-4, 978-0-6399219-2-1 978-0-6399219-2-1

Met sy driedelige vertaling en toeligting van onbekende en ongekende Griekse gedigte in Afrikaans voltooi WJ Henderson sy vertaalprojek wat ongeëwenaard is. Hierdie resensie beoog om lesers onder die indruk van hierdie indrukwekkende werke te bring. Hierdie werke sal mettertyd as Africana beskou word wat die skatte van die Klassieke kultuur, letterkunde en geskiedenis vir die Afrikaanssprekende leserspubliek ontsluit het.

1.Inligting op die vertaler en sy werk

WJ (Bill) Henderson is ’n klassikus van internasionale statuur wat al navorsingstoekennings van sowel nasionale as buitelandse instansies ontvang het. Hy het wyd in Suid-Afrikaanse en buitelandse navorsingstydskrifte gepubliseer. Ná sy aftrede as voltydse dosent in 2004 het hy steeds aktief op akademiese terrein gebly, deeltyds gedoseer en sy navorsing oor veral die Griekse klassieke letterkunde voortgesit. Die erkenning wat sy werk geniet, blyk uit die groot aantal sitasies van sy navorsingswerk deur plaaslike en buitelandse klassici. Dit is verblydend dat hy steeds akademiese artikels in Afrikaans ook publiseer en op dié wyse ’n waardevolle bydrae tot die uitbreiding en instandhouding van Afrikaans as wetenskapstaal lewer.

Bill Henderson ’n vertaler van formaat. Van die publikasies wat in hierdie verband genoem kan word, is Kalliope I: Griekse jambiese en elegiese poësie van Archilochos tot Theognis (1986) en Kalliope II: ’n bloemlesing van Griekse liriese poësie van Alkman tot Pindaros (1988) (albei in samewerking met JH Barkhuizen en CA van Rooy); Op Griekse lier: vroeë Griekse liriese poësie ( 2004); Vir Griekse fluite: vroeë Griekse elegiese poësie (2009); en Die berispende stem: vroeë Griekse jambiese poësie vertaal en toegelig (2011).

In 2018 word Die geleerde digter: Antieke Griekse pastorale en epigrammatiese poësie gepubliseer, wat ’n formidabele werk in drie bande is. Die drie dele voltooi die vertaling van antieke digters op ’n meesterlike wyse.

Die Griekse digkuns van twee en ’n half millennia gelede het ’n beduidende invloed op die Westerse letterkunde gehad, al het slegs fragmente oorgebly van die grootste gedeelte van die vroeë Griekse poësie. Die moderne liriek, in Engels en in Afrikaans, toon nog steeds karaktertrekke wat tot die vroegste Westerse letterkunde teruggevoer kan word.

Henderson is ’n digter uit eie reg. DJ Opperman se digterslaboratorium het ’n stempel op hom afgedruk. Hiervan getuig sy indrukwekkende Engelse gedigte. ’n Voorbeeld hiervan is die volgende gedig:

Poem in autumn

The autumn trees shake their black horns,
Toss the red sun, and blood rusts
On the sweaty back of flecked trembling leaves;
The wounded sun sinks low and rests
While a still crowd stands round and mourns,
And the last pageant-colour turns and leaves.
We mourn nature’s bare arena’s loss
Of every coloured, every scented thing.
Summer’s notices are not yet in the press –
Only in winter do we long for spring.

  1. Die afdruk van antieke gedigte op die Afrikaanse letterkunde

Die Griekse vertalings van Bill Henderson moet binne die konteks van die invloed van antieke gedigte uit die Hebreeuse, Griekse en Latynse digkuns op sekere Afrikaanse gedigte verstaan word. Henderson se vertalings kan ook, soos die voorbeelde wat aangestip word, die Afrikaanse poëtiese landskap verryk.

Oor die algemeen word aanvaar dat die Psalmbundel uit die vaardige hand van Dawid kom. Dit is egter nie waar nie. Die Psalms het ’n lang mondelinge tradisie gehad. Die mees roemryke periode in Israel se geskiedenis, wat ook die Psalms insluit, is as ’n goue eeu beskou. Dit sluit die glorieryke tyd van Dawid en Salomo, van ongeveer 1020 tot 926 vC, in. Samaria swig 722 vC voor die Assiriese aanslag. In dié tyd het daar ook Psalms ontstaan. Dit is ook die geval met die Babiloniese ballingskap in 587 vC In die Persiese periode (ongeveer 538 tot 333 vC is ’n groot deel van die Psalms gemaak en/of verwerk. Die Psalmbundel in sy eindvorm het in die Griekse periode tussen 250 en 150 vC ontstaan.

Daar kom sprinkels van die Psalms in die Afrikaanse poësie voor. Veral Psalm 23 kan in dié verband genoem word (“Die Here is nie my herder nie” en “My anima is my herder”).

Die boek Job bestaan uit ’n verhalende inleiding (Job 1:2:13) en slot (Job 42:7–17). Van hoofstuk 3 tot 42:1–6 is die boek vol sprankelende poësie. Dit bevat onder andere verrassende metafore, vergelykings en redenasietegnieke. Job se lyding het veral onder TT Cloete se digterlike aandag gekom (“job die tweede”; “Job se lyftaal”). Cloete dig ook oor Job se onskuld (”V Job 5:23; 6:6”). Ina Rousseau identifiseer haar met Job se lyding en gewaande vriende (“Job se klag”).

Die twee lang, verhalende gedigte, die Ilias en die Odusseia van Homeros, word dikwels beskryf as die begin van die Westerse literêre kanon, selfs as die beginpunt van die wêreldletterkunde, omdat dit so ’n groot invloed op die verhaalkuns en poësie uitgeoefen het in die eeue ná die ontstaan iewers in die 9de en 7de eeu vC. Die ontstaanstyd van Homeros se Ilias en Odusseia kan moontlik tussen die 9de en 7de eeu v. C. geplaas word. Heelwat antieke tekste het ’n lang mondelinge tradisie gehad. Die ontsag vir hierdie tradisie was groot. Die invloed van die Odusseia is vandag anders as op die meeste Grieke in die antieke wêreld, veral vóór Alexander die Grote teen die einde van die 4de eeu vC. Benewens ’n geletterde elite het die Grieke in die antieke wêreld skaars tekste van Homeros gelees. Hulle het egter van hulle kleintyd af gehoor van die poësie van die Trojaanse Oorlog en van die reis van Odusseus na Ithaka.

Homeros Foto: Wikipedia

Homeros staan aan die spits van ’n epiese tradisie wat oor vele eeue voor hom ontwikkel het. Die Ilias en Odusseia vorm die hoogtepunt van die tradisie van reisende digter-sangers (’aoidoi) wat in die reël in die koninklike howe en voor aristokrate gesing of gedreun-sing het. Die liedere is ook tydens feesmaaltye gesing. Hierdie gedigte is voorts tydens feesvieringe en die plaaslike atletiekfeeste of musiekkompetisies gesing. Die Panatheense fees van atletiek, musiek, poësie en offerande, was ’n viering van Athena se verjaardag. Slegs mans het aan die Olimpiese Spele deelgeneem en is as toeskouers toegelaat.

Die sangers van die volk se verhale het allerlei mnemoniese tegnieke gebruik om die mites en sages uit die kop te kan voordra, maar ook om die hoorders se aandag vas te vang. Die orale tradisie was ’n manier om die geskiedenis of kultuur van mense in stand te hou. As ’n vorm van storievertelling was dit ’n gewilde manier om verhale oor te dra.

Presies wanneer die Homeriese gedigte skriftelike status verkry het, is onseker. Die tradisionele antwoord op dié vraag is die sg transkripsionele hipotese, waarvolgens die ongeletterde “Homeros” sy gedigte aan ’n geletterde skrywer iewers tussen die 8ste en 6de eeu vC sou gedikteer het. Die Griekse alfabet is vroeg in die 8ste eeu gevestig. Dit is ook moontlik dat Homeros een van die eerste generasie skrywers was wat ook geletterd was. Gregory Nagy is egter van mening dat die Homeriese gedigte as “geskrewe tekste” nie voor die Hellenistiese periode (3de tot 1ste eeu vC) bestaan het nie. Selfs al is die begrip kanon in ons tyd omstrede en kan lyste boeke “wat gelees moet word” verskil, is die Homeriese eposse van hulle plek verseker.

Homeros weerklink ook in die Afrikaanse poësie. AG Visser se gedig “Lotus-land” is in die voorstelling van die fabelagtige land iets verskuldig aan Homeros (die negende boek van die Odusseia). In NP Van Wyk Louw se magistrale gedig “Groot ode” vibreer Homeros se Ilias en Odusseia. Antroposentriese begrippe soos pyn, liefde, dood / sterwe, bitterheid, vreugde, heiligheid en mooi/lieflik kom in “Groot Ode” voor. Al die begrippe is sentraal by Homeros. Die ek-figuur in “Groot ode” vaar in ’n “wit skip” – sy lewenskip – die toekoms en sy lot tegemoet. In die Odusseia vaar Odusseus ook in sy skip oor skuimkopbranders na sy tuisland, sy droomland, sy toekoms, sy Ithaka. Wat die toekoms inhou, is in “Groot ode” en die Odusseia onbekend.

Ook in ander gedigte kom die Homeriese afdruk voor. Sheila Cussons se “Die brons Poseidon” is ’n voorbeeld hiervan.

In DJ Opperman se manjifieke bundel Komas uit ’n bamboesstok resoneer die reismotief op talle plekke en vlakke. Die gedigte “Odysseus ruik moer”, “Penelope prewel by sy oor” en “Glaukus klim uit die water” is enkele voorbeelde van gedigte met ’n Homeriese verwantskap. Die boeiende is dat Opperman hierdie gedigte met hulle Homeriese stamboom in sy eietydse situasie laat bot.

Die Griekse digters het ’n stempel op verskeie Afrikaanse digters afgedruk. Hiervan is Adam Small se “Skottelgoed (sikloop)”, Breyten Breytenbach se liefdesvers “Ithaka”, Dolf van Niekerk se “Lang reis na Ithaka” en Marius Crous se “Ogugia” enkele voorbeelde.

Die wêreld van die Romeine het ’n sterk invloed op enkele van Van Wyk Louw se gedigte gehad (“Drie keiserportrette”). Sy drama Germanicus steun ook op Romeinse karakters. Die afdruk van oa Hadrianus kom in Johan Myburg se digwerk voor.

Hiermee is dit duidelik dat antieke tekste ’n afdruk op die Afrikaanse digkuns gehad het. Daar is egter ook nog ’n onbekende terrein van die Griekse digkuns wat Henderson meesterlik bekendstel.

  1. Fokus op WJ Henderson se Griekse vertalings

In die bundel Op Griekse lier (2004) vertaal en bespreek Henderson die liriek, in Vir Griekse fluite (2009) die elegie en in Die berispende stem (2011) die jambiese poësie.

Die vertaling en bespreking van fragmente en volledige gedigte word voorafgegaan deur ’n indringende bespreking van die betrokke genres. Die skrywer se diepgaande kennis van die klassieke kultuur met die oorgeblewe tekste as literêre uiting van hierdie kultuur blyk uit die historiese oorsig oor die oorsprong en ontwikkeling van die genre, die geleenthede waar die gedigte voorgedra is, soos die simposium of banket en die bespreking van die geleidelike oorgang van voordrag na geskrewe teks.

Vertaling kan verduistering wees, maar dit kan ook opluistering wees. Dit kan soos vars water uit die bron stroom om ’n nuwe landskap te versadig. Om te kan vertaal moet die bronteks gelees en verstaan word. (Soms word ’n vertaalde Griekse teks met die Griekse bronteks van Homeros verwar.) Dit is presies wat Bill Henderson doen. Hy vertaal uit die Griekse bronteks. Henderson se ontleding van die tematiek van die liriese digkuns, die elegie en die jambiese poësie toon sy uitgebreide kennis van hedendaagse literatuur oor die onderwerp en voeg sy eie insigte by dié van internasionale kenners van die klassieke literatuur. Henderson se eie Afrikaanse vertalings van die antieke poësie is self van hoogstaande gehalte en verdien om uit eie reg gelees te word. In baie gevalle gebruik hy nuutskeppinge in Afrikaans om die betekenis van die oorspronklike Grieks noukeuriger weer te gee. Danksy die toeligting word die relatiewe onbekendheid van die antieke verwysingswêreld gaandeweg toegankliker vir die leser sonder kennis van die klassieke.

Die geleerde digter (2018) handel oor die digkuns van die Hellenistiese periode. Ná Alexander die Grote se dood in 323 vC het die krag van die Griekse kultuur na Klein-Asië (vandag Turkye) en Noord-Afrika verskuif. Die stede wat ’n bloeitydperk beleef het, was Pergamon, Alexandrië, en later ook Antiogië. Hierdie nuwe kultuurwêreld en tydvak is “Hellenisties” genoem. Veral Alexandrië was die spitspunt van die literêre, wetenskaplike en filosofiese besinning en skepping.

Veral twee digvorme het in dié tydvak ontstaan: die pastorale (of bukoliese) gedig en die epigram. Die geleerde digter handel oor die pastorale gedig.

Theokritos Foto: Wikipedia

Theokritos van Sirakuse het tussen 300 en 260 vC geleef. Hy het veral erkenning gekry vir die ontginning van die literêre pastorale gedig. Ná hom het Moschos van Sirakuse en Bion van Smirna ook tot die digvorm bygedra. Henderson gee ’n sinryke en kundige oorsig oor die pastorale poësie. Nie net sy vertalings is voortreflik en verrassend nie; dit geld ook sy letterkundige toeligting wat elke vertaalde gedig belig.

Die gesofistikeerde literêre taal van die digters van hierdie periode stel hoë eise aan die vertaler. Henderson se magistrale vertalings is in keurige Afrikaans wat steeds aan die oorspronklike Grieks getrou is.

Band 1 handel oor die pastorale of herderspoësie. Die drie pastoraaldigters wat aan bod kom, is Theokritos van Sirakuse, Moschos van Sirakuse en Bion van Smirna.

Die pastorale gedig is op die hoorders ingestem. Hierdie soort gedig wek ook veral verbeelding by die hoorders. Die gedig roep ’n landelike omgewing op. Maar die gedig vra ook veewagters wat die gewone alledaagse verpligting van versorging en beskerming nakom. Die pastorale gedig bevat gemengde genres, met elemente van vertelling (verhale), drama (dialoog en liriek).

 In Theokritos se gedigte kom daar bees-, skaap- en bokwagters voor.

Die pastorale wêreld word deur konvensionele onderwerpe geteken: die beeswagter, trop, fontein, kudde, bokwagter, fluit en skape. Sang en fluitspel speel ’n belangrike rol in die herdersliedere. Nie net in die pastorale gedig nie, maar ook in die gehoor wat saamsing en meeleef.

Hierdie sang vind veral in ’n mededingende omgewing plaas, waar twee sangers om die beurt sing. Die term idille beteken “klein tipe gedig”. Die term word spesifiek aan Theokritos se gedigte gekoppel. Twee verskynsels speel ’n groot rol in die plattelandse lewe: die liefde en sang. ’n Voortreflike voorbeeld van ’n herderslied is “Komos (Serenade)”. Die hartklop van die herdersgedig is dat ’n naamlose bokwagter sy beminde Amarullis besoek. Hy sing dan buite die grot waar sy woon ’n serenade oor sy liefde. Die bokwagter skep in ’n kort proloog (1–5) die dramatiese situasie: hy gaan vir Amarullis sing. Intussen pas sy medeherder Tituros sy bokke op. Dan volg die serenade (6–36, 40–51). Twee onderbrekings kom voor waar die bokwagter met homself praat (37–9, 52–4).

Ag, hoe droewig is die slot tog nie. Onbeantwoorde liefde. Die bokwagter se liefdespleidooi val op Amarullis se dowe ore. Hy kry hoofpyn en staak sy sang. Hy sal maar buite die grot gaan lê waar wolwe hom kan opvreet. Sy wens is dat dit so soet soos heuning in haar keel sal wees.

Die bokwagter het ’n “stompneus”. Klaar ’n agterstand wanneer dit by liefde kom. Die bokwagter verwys na ’n “spiertrekking ” in sy oog. Hy wonder of dit hom gaan verhinder om sy geliefde te sien.

Henderson het hierdie herdersgedig uitmuntend vertaal. Daar is talle nuutskeppings in Afrikaans deur die vertaler.

Komos (Serenade)

Ek gaan om vir Amarullis te sing, en my bokke
wei op die heuwel, en Tituros pas hulle op.
Tituros, my dierbaarste vriend, laat wei my bokke,
en lei hul na die bron, Tituros. En die bokram,
5        die tanige Libiër, pasop dat hy jou nie stoot nie. 

[Voor Amarullis se grot]

O skone Amarullis, waarom loer jy nie meer by dié grot
uit en nooi jy my, jou liefling, nie? Haat jy my dan?
Lyk ek dan vir jou van naby te stompneus, my bruid,
en steek my baard uit? Jy sal maak dat ek my ophang.
10      Kyk, ek bring vir jou tien appels. Ek het hulle gepluk
waar jy gesê het ek moet. Môre sal ek ander vir jou bring.
Maar kyk: my pyn breek my hart. Ek wens ek kon
die gonsende by word en jou grot binnegaan,
deur die klimop en die varing wat jou wegsteek.
15      Nou ken ek Eros: ’n pynlike god. Hy’t sowaar gesuig
aan ’n leeuwyfie, en in ’n woud het sy ma hom grootgemaak.
Hy brand my met stadige vuur en skiet my tot op die been.
Meisie met die mooi blik, maar als van klip, donkerblou
meisie, omhels my, ’n bokwagter, sodat ek jou kan soen.
20      Selfs in leë soene is daar ’n soete plesier.
Jy sal maak dat ek die krans van klimop wat ek vir jou dra,
dierbare Amarullis, gevleg met rose en lekkerruikende
seldery, onmiddellik in klein stukkies opskeur.
Helaas, wat gaan word van my, ellendeling? Jy luister nie.
25      Ek gaan my klere uittrek en in die branders spring, dáár
waar die visser Olpis vir die tornyn sy oog oophou.
En as ek sterf, sal jou wens ten minste vervul wees.
Ek het dit onlangs uitgevind, toe ek gewonder het of jy
my liefhet, en die “liefde-van-ver” nie wou vassit toe ek
30      dit slaan nie, maar vergeefs op my gladde arm opgekrul het.
Ook Agroio, waarsêer met haar sif, het die waarheid vertel –
sy’t nou die dag langs my kruie gepluk – hoedat ek jou
gans en al bemin, maar jy glad nie vir my omgee nie.
En tóg bewaar ek vir jou ’n wit bokooi met twee bokkies
35      wat die donker diensmeisie van Mermnôn ook van my
wil hê. En ek gaan dit vir haar gee, want jy mors met my. 

[Hou op sing; vir homself]

Ek het ’n spiertrekking in my regteroog; gaan ek haar regtig
sien? Ek gaan na hierdie denneboom beweeg en dan sing,
en dalk sal sy na my kyk, want sy’s nie van yster gemaak nie. 

[Sing weer]

40      Toe Hippomenes met die meisie wou trou, het hy
appels in sy hand geneem en die wedloop gewen.
En toe Atalanta dit sien, het sy geyl en diep verlief geraak.
Die waarsêer Melampos van berg Othrus het ook die trop
na Pulos gebring; en in Bias se arms is gelê
45      die grasieuse moeder van wyse Alphesiboia.
Het Adonis, toe hy sy skape in die berge laat wei het,
nie vir skone Aphrodite tot sulke waansin gedryf,
dat sy hom selfs ná sy dood nie uit haar hart kan kry nie?
Gelukkig na my mening is Endumion wat die slaap slaap
50      wat nie verander nie. En gelukkig Iasion, dierbare vrou,
wat soveel ervaar het, wat julle onheiliges nooit sal weet nie. 

[Eindig lied]

My kop is seer, maar dit raak jou nie. Ek sing nie meer nie;
ek gaan lê waar ek geval het, en hier gaan wolwe my opvreet.
En mag dit so soet soos heuning in jou keel wees.

’n Gedig wat op intertekstualiteit met Homeros se Odusseia berus, is Theokritos se “Poluphemos, die Sikloop”. Intertekstualiteit is ooglopend, maar die poëtiese inkleding van Theokritos is oorspronklik en vindingryk.

Poluphemos die sikloop. Foto: The Web Gallery of Art

In die episode van Poluphemos, die eenoogmonster en mensvretende sikloop, verklap Homeros Odusseia se ontsnappingsplan langsaam en subtiel. Op meesterlike wyse onthul Homeros Odusseus se geslepenheid voordat hy Poluphemos met ’n skerp paal verblind. Odusseus se bekendmaking van sy naam is ’n daad van hubris. Nie alleen stel hy sy eie en sy kamerade se lewens in gevaar nie, maar hy wek ook Poseidon se woede teen hom op. Poseidon is woedend omdat Odusseus sy seun Poluphemos verblind het. Sy vermomming is sowel fisiek (verandering van gestalte) as verbaal, deur aan die sikloop Poluphemos te vertel dat sy naam Οὖτις, “Niemand”, is. Dan ontsnap hy uit die kloue van Poluphemos nadat hy hom verblind het. Toe die ander siklope hom vra waarom hy skreeu, antwoord hy dat “Niemand” hom leed aandoen. Nogtans gee Odusseus sy naam, sy identiteit aan Poluphemos prys.

Die mees sigbare fout is Odusseus se arrogansie, sy trots, sy hubris. Ná sy vertrek van die eiland van die siklope af roem hy dat niemand die “groot Odusseus” kan oorwin nie. Die sikloop gooi toe die boonste helfte van ’n berg na hom en sê biddend vir Poseidon dat Odusseus hom verblind het. Dit maak Poseidon so woedend dat hy Odusseus se tuiskoms vir ’n lang tyd vertraag.

Theokritos se Poluphemos het buie en word in sy selfbedrog voorgestel. Hy het ook gevoelens en kan seerkry. Verder het hy ook alledaagse take om te verrig . Hy wil bemin word en belangrik voel. By Theokritos kry die onaansienlike reus met sy een oog ’n eie persoonlikheid. Iemand wat die leser jammer kry.

Met digterlike krag gebruik Theokritos ironie en humor dwarsdeur die gedig. Daar is die gedrag van Poluphemos wat as minnaar reken dat vee, beeste, melk, kaas, herte, beertjies, ’n grot, bome, wingerd, koue water en blomme soos papawers die seenimf sal bekoor. Dan twyfel die arme kolos of sang en lied ’n geneesmiddel vir liefde se pyn is. Dis alles alte menslik.

Weer eens slaag Henderson se vertaling summa cum laude. Lees en kyk wat daar staan:

Geen ander balsem of salf of versoete medisyne
het ooit die liefde genees nie, Nikias, so lyk dit my,
behalwe die Muses; en dít is vir mense aangenaam
en soet, maar dit is nie maklik om te vind nie.
5        Ek vermoed jy weet dit al te goed, jy is ’n dokter
én deur die nege Muses buitengewoon bemin.
So, byvoorbeeld, het die Sikloop, daar by ons, maklik
herstel, Poluphemos vanouds wat sy Galateia bemin het,
toe hy pas baard om sy mond en slape begin kry het.
10      En hy’t nie met appels, of rose, of haarlokke gevry nie,
maar met regte waansin, en als as nietighede beskou.
Dikwels het sy skape vanself na die kraal teruggekom
van die groen weiding. Maar hyself het van Galateia
gesing en weggekwyn op die strand vol seewier,
15      van soggens af, met ’n bitter wond diep binne-in,
wat magtige Aphrodite se pyl in sy lewer geplant het.
Tog het hy die geneesmiddel gevind, op ’n hoë rots
gaan sit, oor die see heengekyk, en soos volg gesing:
“O spierwit Galateia, waarom verwerp jy jou minnaar –
20      jy, witter as roomkaas om te aanskou, sagter as ’n lam,
lewendiger as ’n kalf, glansender as ’n groen druif?
Waarom kom jy dan net wanneer soete slaap my vashou,
maar gaan spoedig weg wanneer soete slaap my los,
en vlug soos ’n ooi as sy ’n grys wolf sien?
25      Ek het jou begin bemin, meisie, toe jy eers
gekom het saam met jou moeder om hiasintblomme
op die berg te pluk. Ek het nog die pad gewys.
Na ek jou aanskou het, van toe tot nou, kan ek
nie ophou nie. Maar, by Zeus, jy gee niks om nie.
30      Ek weet, skone meisie, waarom jy wegvlug:
dis omdat ’n harige wenkbrou, net een grote,
oor my hele voorkop strek van oor tot oor,
en net een oog daaronder is, en ’n plat neusgat bo my lip.
Maar lelik soos ek is, ek pas ’n duisend beeste op,
35      en van hulle trek en drink ek die beste melk.
Aan kaas het ek geen tekort, nie in die somer, herfs
of einde winter nie: my rakke is altyd swaar gelaai.
Ek kan fluit speel soos geeneen van die Siklope hier,
as ek, my heuningsoet appel, van jou en my sing
40      dikwels diep in die nag. Vir jou maak ek elf jong herte
groot, almal met nekmerke, en vier beerwelpies.
Maar kom na my; jy sal nie slegter vaar nie.
Laat die groen see toe om op die strand te slaan;
jy sal die nag soeter in die grot by my deurbring.
45      Daar’s lourierbome daar, daar’s slanke sipresse,
daar’s donker klimop, daar’s ’n wingerd met soet vrugte,
daar’s koue water wat boomryke Etna vir my
uit die wit sneeu voortbring, soos ’n teug ambrosyn.
Wie sou tog bo dié dinge die see en branders kies?
50      Maar as ek self vir jou te harig blyk te wees,
het ek eikehout, en ’n vuur wat altyd onder die as brand;
en ek sou toelaat dat my siel deur jou verbrand word,
en my een oog, my dierbaarste besitting.
Helaas, dat my moeder my nie met kieue gebaar het nie,
55      sodat ek na jou kon afduik en jou hand kon soen,
indien dan nie jou mond nie; en ek sou jou ’n wit narsing
gebring het, en ’n sagte papawer met sy rooi kroonblare.
Maar die een groei in die somer, die ander in die winter,
dus sal ek mos nie vir jou albei tegelyk kan bring nie.
60      Nou, meisie, sommer nou dadelik gaan ek tog leer swem,
as een of ander vreemdeling per skip hierheen seil,
sodat ek julle plesier kan ken om in die dieptes te woon.
Kom uit, Galateia, en as jy uit is, vergeet dan,
soos ek wat nou hier sit, om weer huis toe te gaan.
65      Stem tog in om skape saam met my op te pas, en te melk,
en om kaas te stol deur skerp stremsel in te sit.
Net my moeder veronreg my, en ek verwyt haar;
want nog nooit het sy vir jou iets goeds van my gesê nie,
en sy sien dag na dag dat ek maerder word.
70      Ek gaan haar sê dat my kop en albei my voete
pynlik klop, sodat sy kan ly, aangesien ek ook ly.
O Sikloop, Sikloop, waarheen het jou verstand gedwaal?
As jy kaasmandjies gaan vleg en eerder groengoed
vir die lammers dra, sal jy gou baie meer verstandig wees.
75      Melk die ooi hier naby; hoekom jaag jy een wat vlug?
Jy sal dalk ’n ander en mooier Galateia vind.
Baie meisies vra my om die nag saam met hul te speel,
en almal giggel wanneer ek aan hulle gehoor gee.
Dis duidelik dat ek op die land ook iemand blyk te wees.”
80      So het Poluphemos sy liefde hokgeslaan met sang,
en makliker gevaar as sou hy goud betaal het.

Die geleerde digter, Band 2 en 3, handel oor epigrammatiese poësie van Simonides van Keos tot Meleagros van Gadara. Die begeerte om nuwe lewe aan die ou Griekse poësie te gee het veral tot die epigram gelei. Duisende epigramme is oor die tydperk van byna ’n millennium geskryf. Die meeste daarvan het egter verlore gegaan. ’n Eerste versameling epigramme is teen ongeveer 80 vC deur die digter Meleagros saamgestel. Hierop het ander versamelings gevolg en in ongeveer 900 nC het ’n Bisantynse monnik, Konstantinos Kephalas ’n bloemlesing, die Anthologia Graeca (Griekse bloemlesing) saamgestel.

In Die Griekse geleerde, Band 2 vertaal en bespreek Henderson epigramme uit ongeveer 550 vC tot 250 vC Die epigramme uit ongeveer 250 vC tot ongeveer 80 vC word in Die Griekse geleerde, Band 3 bespreek en toegelig. Net soos Dante het Henderson ’n byna bomenslike taak op hom geneem. Om die byna onbegonne taak te voltooi, is net ’n digter én kenner van die Griekse taal en letterkunde beskore. En dié persoon is: WJ Henderson.

Die epigram het ’n vaste, beknopte vorm: een of meer koeplette in die sogenaamde elegiese koeplet wat besondere eise aan die digter (en vertaler) gestel het. In die epigrammatiese gedigte is dit, in teenstelling met die pastorale poësie, die stad, en meer bepaald Alexandrië, wat die agtergrond skep. Die heersers in die paleis, die nuwe ekonomiese en politieke mag van Egipte in die Middellandse See, die mense van die verskillende rasse en kulture, die sake van die dag, die handelinge binne die Mouseion en die lesende publieke bied die grondstof vir hierdie soort gedig.

Die woord term epigram kom van die Griekse epigramma wat “inskripsie” beteken. Aanvanklik is die epigram of puntdig in prosa sowel as in poësie geskryf. Geleidelik het dit egter oorwegend ’n versvorm geword. Verskillende soorte epigrammatiese gedigte kan onderskei word. Hieroor skryf Henderson indringend en verhelderend. Die grafskrif is, om verskeie redes, ’n aangewese vorm. Aanvanklik is epigramme vir grafte of dankoffers geskryf. Later ontwikkel die digvorm ’n vryheid om enige persoon te loof of te kritiseer. Nog later het die Hellenistiese digters nuwe landskappe ontgin: die familie en huwelik, die sug na rykdom en goud, menslike emosies en kenmerke, insluitend gebreke, dwaashede en tekortkominge. Die oorheersende tema in die Hellenistiese epigram is die liefde in al sy ryk skakerings.

Enkele voorbeelde van die vertaling en bespreking van die digvorm word hier aangedui. Leonidas van Tarentum se epigram lui soos volg:

Gaan saggies verby die graf sodat jy nie die skerp
 perdeby wat lê en slaap, wakker maak nie.
Want so pas is die gees van Hipponax wat selfs
 op sy ouers geknor het, ter ruste gelê.
Maar wees versigtig! Want sy vuurwarm woorde
 Weet hoe om selfs in Hades te skaad.

Die bitsige en bitter aggressiewe jambiese digter Hipponax van Efese het twee en ’n half eeue voor Leonidas geleef. Leonidas roep deur die epigrammatiese gedig Hipponax in herinnering. Leonidas waarsku die verbyganger om sagvoets verby die graf te loop en nie die oorledene wakker te maak nie. Hy steek soos ’n perdeby en het selfs sy ouers nie ontsien nie. Sy tong is skerp en hy kan selfs die onderwêreld in beroering bring. Die speelsheid en ironiese toon in die gedig moet nie gering geag word nie.

Asklepiades van Samos se epigram oor die liefde is besonder treffend. Henderson het dit uitstekend vertaal. Dit lui soos volg:

Wyn is ’n bewys van liefde. Al die heildronke het Nikagoras,
 wat aan ons ontken het dat hy verlief was, verraai.
Hy het trane gestort, sy kop laat sak, en nogal mistroostig gelyk,
 en die krans, om sy kop gebind, wou nie bo bly nie.

Asklepiades noem wyn as ’n “bewys” van die liefde. Hierna gee hy ’n voorbeeld. ’n Sekere jongman, Nikagoras, drink te veel en toon tekens van verliefdheid. Hy ontken eers dat hy verlief is; dan drink hy heildronke – die gewones aan gode en vername persone. En miskien ook per ongeluk een aan sy geliefde. Daarna raak hy diep bedroef. Sy kop is onderstebo en die blommekrans wieg skeef op sy kop. Hierdie epigrammatiese gedig is vol humor en ironie.

 In Die geleerde digter, Band 3 kom die volgende treffende epigram van Antipatros van Sidon voor:

     Hier langs die dorsvloer het ek vir jou, swoegende mier,
      ’n grafheuwel van dorstige kluit opgerig,
     sodat jy, selfs dood, Demeter se koringvoedende voor
      kan geniet, waar jy in ’n saailandlêplek lê.

Die meeste lesers is vertroud met die wysheidspreuk:

     Gaan kyk na die mier, luiaard,
     kyk hoe hy werk, en leer by hom.

Hierdie “grafskrif” van Antipatros vir ’n mier is een van talle epigramme oor insekte, voëls en diere. Die digter dig oor die kleinste insek wat hy ken. Vir al sy ywer dwarsdeur sy lewe word die mier begrawe onder ’n hopie grond in ’n voor digby die dorsvloer. Daar is vir die mier nog hoop op lewe, selfs ná sy dood. Hy sal steeds van die graan kan geniet. Fyn humor en wysheid kom in die epigram voor.

Henderson verdien lof vir die knap vertalings en insigryke verklarings van die epigramme. Hy open vir lesers ’n nuwe wêreld. Die vertalings is met sensitiwiteit gemaak. Min vertalers is vir die taak opgewasse. Dit lees pragtig vloeiend en natuurlik. Redes hiervoor is dat Henderson self ’n bedrewe en knap digter en ’n uitmuntende kenner van die Griekse poësie en leefwêreld is. Hy beweeg op die grense van wat die Afrikaanse taal moontlik maak en verryk die taal met talle nuutskeppinge. Hierdie skitterende werke behoort voorgeskrewe materiaal vir elke (voornemende) literatuurwetenskaplike te wees, nie alleen wat betref die inhoud nie, maar veral wat die skrywer se metodologiese omgang met die tekste betref. Dié publikasies is ’n hoogs sonderlinge werk oor die Oudgriekse digkuns waarvoor die outeur en sy uitgewer geloof moet word. In enige taal sou dit ’n monumentale aanwins wees.

Ons behoort die wonder van die Griekse poësie te vier. Daarom word elke leser na ’n feesmaal uitgenooi. Hier klink ons ’n glasie op die uitgewer, Imprimatur, die keurige en noukeurige redigering en taalversorging deur Martjie Bosman en die pragtige ontwerpe deur Annemart Swanepoel. En voor ek vergeet: twee glasies op die maestro Bill Henderson. Hy het ’n skat van gedigte ontsluit deur meesterlik uit die bronteks te vertaal en insiggewende toeligting van die aard en geaardheid van die verskillende digvorme te gee. Dit is Bill Henderson wat namens die Griekse meesters hierdie ryk skat aan Afrikaans skenk.

Mag daar uit hierdie skitterende vertalings en verklarings metafore in Afrikaanse gedigte vonk.

  • 1

Kommentaar

  • Die werk van Bill Henderson is fenomenaal en enig van sy soort. Hy is een van die min klassieke geleerdes wat met sy intellek en vermoë sy studente tot die hoogste motivering van uitnemendheid aangespoor het, en met sy werk steeds aanspoor. As mentor wat vir my ook die liefde vir Latyn en Grieks verdiep het, was hy een van my beste dosente ooit. Dankie aan Cas Vos wat die waarde van sy werk met uitnemendheid belig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top