Boesak-toespraak aan DAK Netwerk: belowend, met enkele probleme

  • 2
...
Alle Afrikaanssprekers en hul voorouers is mede-eienaars van en mede-verantwoordelikes vir die Afrikaanse sambreeltaal, hoe dit ook al mag kreoliseer en verander in ons gedeelde toekoms.
...

2021 was ’n bedrywige jaar vir die Afrikaanse taalgemeenskap. Voordat die akademiese jaar nog behoorlik afgeskop het, skud ’n skandaal ’n aantal koshuise aan die Universiteit Stellenbosch: Studente word kwansuis deur koshuisleiers aangesê om ’n Slegs Engels-kommunikasiekultuur te bevorder, wat na blootlegging voor die Menseregtekommissie draai. Die US-bestuur kondig kort daarna ’n effektiewe afskaffing van die Afrikaanse taalaanbod aan, onder die dekmantel van noodsaak weens pandemietoestande. Die kwessie word tans deur die niewinsgewende organisasie StudentePlein na die howe geneem, nadat verskeie Inligtingswet-versoeke die onregmatigheid van die besluit duidelik gemaak het. Daar was ook die Unisa-taaluitspraak, ’n juridiese herverbintenis tot daadwerklike meertaligheid in Suid-Afrikaanse openbare akademiese ruimtes. Ten tye van hierdie skrywe word die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, deur verskeie groepe gekritiseer oor sy departement se etikettering van Afrikaans en San- en Khoitale as nie-inheems ingevolge die DHO se beleidsdokument oor taal in hoër onderwys.

2021 was ook moontlik die eerste keer dat daar grootskaals hande gevat is tussen uiteenlopende Afrikaanse taalgemeenskappe. DAK Netwerk, StudentePlein, die Afrikaanse Taalraad en talle ander groeperinge het geskiedenis gemaak deur in ’n breë koalisie vir Afrikaans saam te werk. Die 9 April-protesoptog was die eerste grootskaalse medewerking tussen Afrikaanse slagoffers en bevoordeeldes uit die jare van apartheidsonderdrukking, met die oog op daadwerklike, inklusiewe en volhoubare akademiese Afrikaans as gedeelde belang. Die aard van die gesprek oor aktivisme rondom Afrikaans het ook dramaties verander: Die dae van ’n Afrikaans-as-wit-belang is verby; nuwe inklusiewe insigte en doelwitte het na vore gekom en ’n grondwetlike, taalpositiewe raamwerk verryk die diskoers. Dit het moontlik geword om op so ’n wyse vir Afrikaanse taalbelange op te tree dat pogings om sodanige aktivisme as ’n voortsetting van wit baasskap te merk en te kanselleer onhoudbaar, uit voeling en verouderd geraak het.

In hierdie konteks het Allan Boesak, ’n struggle-strydros en bevrydingsteoloog wat gesaghebbend namens getalle bruin Afrikaanssprekendes kan praat, ’n belangrike toespraak by die 2021 DAK Netwerk gala-aand gelewer het.

Opsommenderwys bepleit Boesak ’n einde aan die kulturele hegemonie wat tussen die Afrikaansheid van wit Afrikaners en bruin Afrikaanssprekendes bestaan, ’n hegemonie wat sy wortels in wit meerderwaardigheid het en reeds sedert die vroegste Europese kontak met Afrika in die 1500’s met ons is. In sy woorde: “[Afrikaanssprekers van kleur] is moeg om minder werd te wees.”

Boesak se toespraak is ten spyte van die vordering wat ek hier bo vermeld het, uiters tersaaklik. Terwyl Afrikaanssprekende leiersfigure en aktiviste in die jare sedert die koms van die grondwetlike bestel grensverskuiwende vordering gemaak het om Afrikaans te “ontlaer”, te bevry van oorheersing deur Slegs Afrikaner-belange en oop te stel aan al sy sprekers, is daar steeds diep foutlyne in die Afrikaanssprekende wêreld. Afrikaners en Afrikaanssprekendes van kleur leef op voetsoolvlak steeds in aparte woonbuurte. Daar is groot verskille in welvaart en geleenthede tussen die twee oorhoofse groepe. Pleks van wydverspreide respek en samewerking is daar steeds (verstaanbare) wantroue jeens Afrikaners vanuit bruin geledere, en daar is ongelukkig ook steeds vooroordele wat samewerking verhoed. Daar is ook (en weens geleefde ervaring as Afrikaner kan ek hieroor praat) ’n ernstige kulturele en rassemeerderwaardigheidsin wat onder baie Afrikaners bly voortbestaan.

Daar is natuurlik nie een goue oplossing vir al hierdie uitdagings nie, maar Allan Boesak is heeltemal reg as hy sê dat die suiwerheidsdrang wat ’n deel van die Afrikanerpsige gevange hou, ’n nommer 1-prioriteit is om aan te spreek. Hy is korrek as hy aanvoer dat Afrikaners hulle misgis wat suiwerheidslogika betref: Die Afrikaanse taal is self geskep deur kreolisering, oftewel die samevloeiing van uiteenlopende tale en registers. Afrikanergenetika getuig van ’n bevolking wat vir eeue ook met mense van kleur ondertrou het. Afrikaners se kulturele gewaarwordinge is sameflansings uit Germaanse, Latynse, Suidoos-Asiese en Afrika-bronne.

...
Ek sou selfs redeneer dat die ganse menslike kultuurtoestand een van ooglopende, kruipende kreolisering en vermenging is. Die hele menslike storie, sedert ons migrasie uit suidelike Afrika na die noordelike vastelande, is een van saam-andersmaking.
...

Ek sou selfs redeneer dat die ganse menslike kultuurtoestand een van ooglopende, kruipende kreolisering en vermenging is. Die hele menslike storie, sedert ons migrasie uit suidelike Afrika na die noordelike vastelande, is een van saam-andersmaking. Suiwerheid is die vreemdheid, nie kreolisering nie. Om te redeneer dat suiwerheid een of ander bomenslike verbeterende uitwerking op kultuurlewe sal hê is al keer op keer as ’n Nazi-agtige pypdroom verkeerd bewys.

Twee aspekte van Boesak se toespraak het ek egter aanvegbaar gevind. Die eerste het meer te doen met uitleg en aanbieding van inligting as met Boesak se oorhoofse argument. Die punt moet ek egter opper, omdat daar in hierdie eeu van blitsinligtingverspreiding ’n beklemtoonde morele verpligting op alle openbare meningsvormers rus om hul feitelike aantygings tot op die haarwortel toe te fynkam vir akkuraatheid alvorens ’n argument daarop gebou word. Die tweede aspek wat ek sal aanspreek, is die kwessie van morele absolutisme en valse tweedeling wat ongelukkig in eietydse Suid-Afrikaanse geskiedkundige ontledings opduik. Ek vermeld hier spesifiek Tariq Patric Mellet se boek The lie of 1652 en Boesak se verwysings daarna.

Kritiekpunt 1: Wie is/was Adam Tas?

Die eerste punt betref Boesak se verwysing na die VOC-koloniale Kaapse wynboer, slawedrywer en teenkorrupsiestryder Adam Tas en die “jong, wit generasie” wat “Adam Tas vereer vir sy stryd teen die gemengdes en vir die gewaande suiwerheid van hul blankedom en van die taal wat hulle, net soos die land, gesteel en hulle s’n gemaak het”.

Die punt het my opgeval omdat ek in 2015–16 die voorsitter van die Adam Tas Studentevereniging vir Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch was. Hoewel die vereniging nie deur Boesak by die naam genoem word of aan die US geplaas word deur sy woorde nie, kon ek geen ander bestaande groep vind wat ’n verbintenis met Adam Tas het nie. Ek maak dus die redelike afleiding dat hy na die Stellenbosse studentevereniging verwys.

Die eerste ooglopende probleem met hierdie stelling van Boesak is dat die Adam Tas Studentevereniging al ’n geruime tyd nie meer bestaan nie, wat die eietydse verwysing in sy toespraak weerspreek. Boonop was dit ten tye van die vereniging se uiteindelike wegkwyning beslis nie ’n dampkring van jong witmeerderwaardiges nie. In my termyn reeds was die aktiewe ledetal hoofsaaklik Afrikaanse studente van kleur, asook Afrikanerstudente met ’n alternatiewe ingesteldheid wat ’n onbevange Afrikaanse studente-ervaring wou geniet. Ons byeenkomste was juis ’n kreoliserende ervaring waar jongmense saam verantwoordelikheid vir Afrikaans kon neem en broodnodige, rare inter-Afrikaanse kulturele kontak kon maak. In 2015 het ons billike voorstelle vir ’n nuwe taalbedeling gemaak wat akademiese inklusiwiteit met volhoubare akademiese Afrikaans probeer balanseer het. Die beleidsdokumente wat hierdie prentjie steun, kan ek met liefde vir dr Boesak aanstuur. Hy kan gerus ook eerstehandse kennis van ons alumnifigure inwin, wat leidende jong Afrikaanssprekers soos die dramaturg Herschel Benjamin insluit.

Dit is als merkbaar anders as die drogbeeld wat uit Boesak se argument te voorskyn kom. Dit is uiters belangrik dat hierdie feitefout aan die lig gebring word: Dit dui daarop dat Boesak se insigte oor die taaldebat oor Afrikaans en meertaligheid in hoër onderwys dalk nie so goed gestaaf is as wat ’n mens vanuit sy toespraak sal glo nie, en dat hy hom nie vergewis het van wat in die verwikkelde tydperk sedert 2015 aan die US gebeur het nie. Adam Tas Studentevereniging was nié dit wat Boesak vermoedelik probeer skets nie, en dit het ten tye van sy toespraak lankal nie meer bestaan nie, soos ek reeds gesê het. Na my wete het die laaste voorsitter in 2018 reeds uitgetree. Onder die laaste voorsitters was daar ’n Xhosa-persoon, ’n Afrikaner wat vlot Sotho kon praat en ’n bruin Afrikaanssprekende persoon. Laasgenoemde het ’n kernrol daarin gespeel om die vereniging toe te spits op die bruin Afrikaanse leefervaring. Dit is dalk nie die oorspronklike doel van die vereniging om grootliks ’n tipe veilige ruimte vir Afrikaanssprekers van kleur te wees nie, maar na my mening was dit ’n gesonde en nodige verwikkeling. Daar was in daardie tyd nie ’n studenteorganisasie wat so ’n spesifieke doel kon dien nie. Die vereniging was butiendien van die begin af ’n eksperiment; ’n toetsing om te sien wat uiteenlopende Afrikaanssprekende jongmense op Stellenbosch saam kan verrig.

Die vereniging was ook deeglik bewus van die onregte wat Adam Tas die slawe-eienaar gepleeg het (weer eens ingevolge die laaste beleidsdokumente), ’n geskiedkundige feit wat ons nie ontken het nie. Die vereniging het Adam Tas as naam én as gespreksneller gebruik: as herdenkingsmiddel van ’n figuur wat enersyds korrupsie onder die VOC-amptenary kaalvuis aangevat het en sodoende as voorbeeld vir alle Suid-Afrikaners kan dien, en andersyds as ’n slawedrywer wat onmenslike onderdrukking teen sy medemens gepleeg het, wat ons as kreoliserende studenteruimte tot nadenking, kritiese gesprek en saam-andersmaking moes aanspoor.

...
Uit die staanspoor stel ek dit onomwonde dat ons nie amoreel teenoor die geskiedenis kan staan nie.
...

Kritiekpunt 2: Pasop vir die lig/donker-dogma

Terwyl ek met Boesak se oorhoofse argument saamstem, is sy onderliggende benadering tot ons gedeelde geskiedenis aanvegbaar.

Uit die staanspoor stel ek dit onomwonde dat ons nie amoreel teenoor die geskiedenis kan staan nie. Die algemene argument dat ons nie geskiedkundige (veral koloniale) figure moet veroordeel nie omdat die “gebruike van hul tyd” anders was en hulle sodoende “buite moraliteit” gestaan het, is moreel-relativisties en dus onhoudbaar. Ons moet en kan geskiedkundige vergrype veroordeel, en as gemeenskappe saam besluit hoe en tot watter mate die geskiedenis in die openbaar herdenkbaar is. Ons kan egter nie met ’n dogmatiese, ongenuanseerde kombersbenadering na historiese konflikte kyk nie, en dit is die gevoel wat ek kry wanneer ek dele van Boesak se toespraak bekyk.

Boesak maak sterk staat op Mellet se Lie of 1652. Hierdie boek “slaag [daarin] om ’n verfrissende aksent van heroïsme, grootsheid, romantiese opstandigheid, weelde en sofistikasie aan die lankverdoeselde Afrika-geskiedenis te gee”. Die boek misluk egter in sover dit, volgens my resensie, bedenklik omgaan met goedgestaafde geskiedenisbronne. Hierdie losse onfeitelikheid vuur weer ’n narratief aan dat Europees-afkomstige spore in suidelike Afrika noodwendig en altyd deel is van gruwels, onreg en georkestreerde meesterplanne om te oorheers, terwyl Afrikane noodwendig en altyd uit ’n utopiese nirvana en morele onskuldstoestand verdryf is.

My punt is nie om ’n vingerwysery te begin oor wie se voorouers meer en minder moreel aandadig was nie, maar om uit te wys dat politieke intrige, veglustigheid en oorheersingsdrang nie ’n unieke koloniale skepsel is nie. Ons voorouers was meer dikwels die gewone mense gewees wat aan die ontvangkant van groot politieke omwentelinge en stelsels was: In suidelike Afrika was hier geen utopie nie, maar ’n menslike beskawing wat, nes Europa, vol onreg, oorlog en onverligtheid was. In Europa van die 16de eeu, aldus die boek Skepelinge (2017) van die ontslape geskiedskrywer en romansier Karel Schoeman, het feodale onreg en ongelykheid duisende armsalige jongmense uit Germaanse streke na die hawestad Amsterdam gedryf, waar hulle deur sogenaamde “zieleverkopers” tot onderbetaalde skeepsknegte, matrose en soldate van die VOC gemaak is. Die Hugenote het weer gevlug van volksmoord en die Engelse setlaars van 1820 was meesal verarmde Kelte uit Skotland, Ierland en Cornwall, of agterbuurtbewoners uit proto-industriële Engeland. Hierdie mense was nie moreel onskuldige slagoffertjies nie, maar hulle was beslis ook nie doelbewuste inkopelinge by ’n duistere, allesomvattende koloniale meesterplan nie. Hulle was eerder inboekelinge van die heersers van die dag wat ondemokraties en polities opportunistiese besluite geneem het. Europese voormense het op hierdie stuk aarde, vandag bekend as Suid-Afrika, ook betekenisvolle en waardige lewens kom lei.

Ons kan dus ons voorouers eer én blameer sonder om hulle en hul nageslag in twee kampe – die ewige goeies en die ewige slegtes – te verdeel. Die geskiedenis is meer veelkantig as wat Boesak dalk te kenne gee. Wat Afrikaans betref, dit het uit hierdie mengelmoes van klassige kreolisering ontstaan, en daarom is nie net Camissa-Afrikaans waardig nie, maar ook die Afrikaans van Afrikaners. Alle Afrikaanssprekers en hul voorouers is mede-eienaars van en medeverantwoordelikes vir die Afrikaanse sambreeltaal, hoe dit ook al mag kreoliseer en verander in ons gedeelde toekoms.

Konflik oor grond en hulpbronne was kompleks en veelsydig, met gruweldade wedersyds en alliansies tussen groepe wat nie gemaklik by ’n dogmatiese “Europees-teenoor-Afrikaan”-geskiedenisbeskouing kan inpas nie. Die migrasiegeskiedenis van suidelike Afrika is nie veel anders as dié van enige groot, konflikgevulde menslike migrasie sedert die vroegste mensdom nie. Al wat sedertdien verander het, is dat ons in die moderne era daadwerklik probeer wegbreek van oorheersing en geweld as samelewingstrategieë. ’n Lig/donker-, wit/swart-, onderdrukker/onderdrukte- en inheems/uitheems-wêreldbeskouing ignoreer ook die filosofiese problematiek rondom eienaarskap van grond. Mellet kritiseer self in The lie of 1652 sogenaamde “first-ism” en “inheemsheid” as bepalend vir die krag van ’n groep se aanspraak op eienaarskap van grond en hulpbronne. Is ons plig nie eerder, sedert die vroegste tye, om billike toegang tot grond en hulpbronne te bewerkstellig nie? Sal dít ons nie juis anders en moreel gesonder as ons voorouers en hul politieke strategieë daar laat uitsien nie?

’n Eenogige uitleg dat ons geskiedenis uit barbaarse wit identiteitsrowers teenoor vredeliewende en moreel meerderwaardige inheemse mense bestaan, bevorder nie die kernbelangrikheid van die Universele Verklaring van Menseregte (1948) of ons eie grondwetlike skikking van 1996 nie. Daardie gebeurtenisse was morele strepe in die sand om af te sien van ’n eeue oue menslike kultuurstrategie wat gebaseer was op oorheersing en geweld tussen groepe, en om te begin werk aan ’n toekoms gebaseer op gelykheid, menswaardigheid, vryheid en nie-oorheersing.

In hierdie tyd is daar nie plek vir ’n dogmatiese lig/donker-benadering wat mense ewig as uitheemse inkommers verwens bloot op grond van hul voorouerskap nie. Ons moet eerder saamwerk, regstel, ophef en kreoliseer vir ’n gedeelde, beter toekoms.

  • 2

Kommentaar

  • Johann Basson

    Die mens se lewensduurte is uiters kortstondig gemeet teen die onmeetbare tydlyn.

    So, wat doen ek en u en ons wat 'n opbouende betekenisvolle nalatenskap laat?

    Kyk om u en sien hoe mense hul kosbare lewenstyd vermors. Ons land is aan die brand met ongebreidelde bevolkingsaanwas, uiterste kriminalieit en die stroping van die omgewing en die fona en flora. GIERIGHEID (magsug, eersug, hebsug, genotsug) is 'n verterende pandemie van 'n nasie se psige.

    Welke Suid-Afrikaner kan bewys dat hy nie kreoolse bloed in sy are het nie. Wie kan bewys dat geen van sy voorouers bygedra het om hul medemens te verslaaf en aan buitelandse slawehandelaars te verkoop nie? Wie kan bewys dat hy en sy voorouers nie setlaars in Suider-Afrika was of is nie?

    En bowenal: wie kan bewys dat by verre die meerderheid van die mensdom stroomaf nie koperkleurig gaan wees nie: nie wit of swart nie, maar koperkleurig?

    So, kom ons fokus daarop om saam opbouend aan beter en sinvoller toekomsvooruitsigte vir ons nageslagte te werk. En bowenal: om te lewe soos wat ons Skepper verwag dat ons moet lewe.

    Laat ons nie mekaar slawe van die verlede maak nie. Fokus eerbaar op die toekoms. Hoe gaan die geskiedenis ons beoordeel?

  • anthony 'Speedo' Wilosn

    Ek stem dat ons op die toekoms moet konsentreer, maar nie die lesse vergeet wat ons uit die verlede en die geskiedenis geleer het nie - ons nabetragting moet eerlik geskied. Dit is al manier hoe ons saam die toekoms sal binnegaan. Dié herinner my aan die gedig van die digter Eugene Beukes waar hy sê: "Ek wil jou hande vat en saam met jou na die horison stap maar daar is 'n drol in die drinkwater jy sien nog ek is bruin."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top