
Boekomslag: Jonathan Ball
- Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Steierwerk
Johan Myburgh
Jonathan Ball-uitgewers
SKU: 9780798186346
Ek verkies om digkuns nie tegnies te ontleed en nie die boer die kuns af te vra nie; ek verwonder my veel eerder aan die oënskynlike eenvoud daarvan terwyl ek dit amper binneaars inneem, direk na my onderbewuste. Ek voel oor poësie soos Johan Myburg oor die godheid voel: “Oor die goddelike dimensie … dink ek met verwondering. En ek hoop om hierdie verwondering te behou, eerder as om vas te draai in komplekse teologie (eng menslike nadenke oor God, wat paradeer as die denke van God self).” So het hy in ’n onderhoud aan Joan Hambidge vertel.
Maar sekere bundels, soos hierdie een, vereis ontleding van vorm, nie omdat die tegniese onderbou uithang nie, maar omdat dit so slim verskans is. Die titel kan verwys na tydelike stellasies in die bouproses, maar ook na armatuur: die onsigbare struktuur binne ’n gebou of beeldhouwerk wat dit versterk en regop hou. Daar is ook natuurlik die dieper betekenis van aftakeling, verswakking, terloops.
Steierwerk bestaan uit sonnette. ’n Sonnet is ’n gedig van 14 reëls; die metrum is gewoonlik vyfvoetige jambe; en daar is ’n tematiese wending aan die einde. Die Italiaanse woord sonetto beteken “liedjie”. Hier is net een gedig wat slegs 13 reëls bevat, en die eerste reël verduidelik die weglating: “Probeer ek oopgelate sinne skryf”. Daar is een gedig met 15 reëls en dit handel oor iemand wat oorbodig geword het: Eckstein, stigter van Johannesburg. Daar is 71 gedigte en Myburg se oogmerk, soos vertel aan Hambidge, was om ’n bundel met minder as 1 000 lettergrepe te maak.
Wat is vyfvoetige jambe? Digters, het ek agtergekom, tel lettergrepe. Iambic pentameter of vyfvoetige jambe is ’n poëtiese metrum waar versreëls 10 lettergrepe bevat, of vyf metriese voete (jambes). Elke jambe bestaan uit ’n onbeklemtoonde lettergreep gevolg deur ’n beklemtoonde een. Dit skep ’n natuurlike kadens soos hartklop: da-DAM da-DAM da-DAM da-DUM da-DAM. Toe ek jonk was, het ek in Rodney Seale se boek gelees dat rockmusiek gebruik maak van ’n gebroke anapestiese ritme, wat doelbewus lettergrepe (of beats) invoeg of weglaat om ’n sangerige ritme te verbreek, om kontras of huiwering te skep, om spanning op te bou of om jongmense op te sweep tot revolusie.
In hierdie bundel is die tweede deel, gedigte 10 tot 16, ’n korona. Dis ’n reeks van sewe sonnette waar die laaste reël van ‘n gedig die eerste reël van die volgende gedig is.
........
Sien jy dus, gedigte word nie heelhuids deur engele ingegee op die aandlug nie. Almal sing nie in vrye vers nie. Dis ’n verbysterende vaardigheid.
........
Sien jy dus, gedigte word nie heelhuids deur engele ingegee op die aandlug nie. Almal sing nie in vrye vers nie. Dis ’n verbysterende vaardigheid. Johan Myburg het in die onderhoud met Joan Hambidge gesê: “Waar ek tans is bekoor die vryheid van die vrye vers my minder, en is ek dwingend bewus van die feit dat die verbluffendste inhoud nie ’n gawe gedig waarborg nie ... Daarvoor is die dissipline van tegniese vaardigheid nodig. ‘Wie geen belang stelt in de structuur van een gedicht, houdt niet van poëzie.’ In die woorde van Jan Greshoff.”
Van die temas wat ontgin word, is:
Liefde
Bleik winters mettertyd jou jeug, oor tien
of twintig jaar, verouder soepel vel
tot perkament, bly in glos op glos
my vingers op jou blaaie verse skryf.
En as die winter weldra kom, verbeel
ek my, soos nou, jou ingehoue blos. (Uit “4”)
Die heelal en die mens daarin
Ver in ’n uithoek van die bleek heelal,
’n kopspeldprik of minder in die waai
van Orion se arm, hou die blou
planeet voorlopig koers, al om die son. (Uit “12”)
Die huis
Wat anders is ’n huis as selfportret,
abstraksie van geleefde lewe, vel
gespan oor been en spier, sinaps en aar
wat vloei konstitueer van vloer tot nok. (Uit “22”)
Die verval van stede soos Johannesburg
die skimme van pionne en passant
geoffer steeds, wat snags by selfoonlig
in uitgebrande toringblokke soek
na lêplek en ’n holte vir die voet. (Uit “33”)
Digkuns
en vrá vir dwang van rym, vir prosodie,
vir pret, nóg vaster knoop in ’n gedig.
En speel ek mee, snap ek hoe sy my meer
in dissipline in interesseer.
Herinnering
Wat buite is dreig om in te kom, van vroeg
af broei die gloor – dis somer, die Levant
lê oop, lê loom, reg vir impromptu reis –
en penetreer soos voëlgesang die huis
Tuinmaak
Miskien is ’n tuinier se hand nog raak
te lees in uitleg van ’n aard, hoewel
die tuin sy loop geneem het, welig wyd
gerank het, vasgevleg in web en opskietloot. (Uit “62”)
Die Godheid
Oor God is kwalik iets te sê wat wind
nie al in dennebome kan bely.
My harsreuk hou ek eers terug, intiem,
versigtig om nie aan die dweep te gaan. (Uit “57”)
Myburg verwys in die gesprek met Hambidge na “Oomblikke van vervlietende emosies; oomblikke van disteldons en spinnerak.”
Hy het ook vertel dat daar veral nou plek is vir poësie met ’n oog vir prosodie. Prosodie is die ritmiese en musikale aspek van spraak, die “melodie van taal”. Dit omvat die intonasie, die volume en die ritme van woorde en dit verleen emosie, doel en betekenis anderkant die letterlike betekenis van die woorde self.
Die bundel bevat woorde om soos herfsblare in rond te rol, vreemdklinkende woorde soos “tollofia” (turksvy) “psithuries” (die geluid van die wind wat deur bome ritsel en blaai), “pasodoble” (’n dramatiese Latynse ballroom dans wat die storie van ’n Spaanse stiergeveg vertel). Mense word aangespreek: Digters wie se woorde hom bybly; ’n Spaanse pianis soos Alicia de Larrocha. Hy praat met mense vir wie struktuur belangrik is – “argitekte en bouers, digters en denkers, ontwerpers en komponiste, skrywers en kunstenaars, tuiniers en hier en daar ’n slaapwandelaar” – so vertel hy aan Hambidge.
Myburg is ’n prosodis van die eerste water. ’n Meester van metrum. ’n Vakman van vorm, ’n oopoog dromer met gedissiplineerde, gestruktureerde verse wat die nou poort van die wonder deur is. Hierdie bundel met sy netjiese, gestroopte uitleg en korterige verse bevat ’n heelal en kan soos ’n heilige skrif weer en weer opgeneem word ter verheldering. Sy pogings om begrip te vorm van ons blou planeet en al die wêrelde daarvan word ’n lamp vir ons voet.
Lees ook:
Boekevat met Deborah: En nog WAT deur Jana Luther en Trace deur Ryan Blumenthal

