Boekevat met Deborah: En nog WAT deur Jana Luther en Trace deur Ryan Blumenthal

  • 0

  • Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

En nog WAT - Uit die woordeskat van Afrikaans
Jana Luther
Uitgewer: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal
ISBN: 978-1-0492-6057-0

Trace
Ryan Blumenthal
Jonathan Ball
ISBN: 9780624095989

En nog WAT deur Jana Luther

Saam met hulle is ek wat suiwer, beeldende taal wil besig, wat idiome aan die boesem vertroetel en wie se stokperdjie die metafoor is. Jana Luther is so ’n mens. Sy is ’n woordeboekmaker – mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – en sy deel reeds jare haar woordliefde in rubrieke. Die kollig het op woordeboekmakers geval in Pip Williams se trefferroman The dictionary of lost words. Dis ’n liefdestaak om woorde te versamel en aan die vergetelheid te ontruk, om lysies te maak en velle papier vol woorde saam te karwei.

Jana se lieflike ennumerering herinner my aan nog ’n boek wat my begogel het: The pillow book, waarin Shei Shōnagon lysies maak van dinge waarvan sy hou: “The eggs of the spot-billed duck. Shaved ice with a sweet syrup, served in a shiny new metal bowl. A crystal rosary.” Vergelyk Jana Luther in En nog WAT: “’n Vlaag, ’n (d)warrel, ’n fluistering. ’n Melodie deur riet en fluitjiesdoring. ’n Ritseling deur struike. ’n Luggie, ’n bries wat sonlig deur blare laat dartel, rimpels oor water stoot. ’n Fris wind wat droë takkies laat knak, ’n wind wat eikearms laat swaai, ’n stormsterk wind wat takke afskeur, bome ontwortel.”

Sy kruie haar taal met haas vergete woorde soos “joppelwind”. ’n Groot net waarmee vis uitgetrek word, is ’n “blaar”. “Soms hoef die skuit net voor die deur te parra (stil naby die kus lê en wag). ‘Parra!’ is ook die bevel vir die roeiers om stadiger te roei, of om op te hou roei.” In ’n kêrelwolk is daar drif, vertel sy. Maar ’n mannetjieswolk “vertoon belowend, maar hy stel teleur”.

Sy delf deur verskeie beroepe en nerings op soek na bedreigde woorde: “Eers skud die tapper die bobbejaan- of rofsif, die bybie (genoem na ’n Amerikaner met die van Babe), meer dikwels die dommie genoem. Die groot skommelsif word heen en weer gestoot, in sy houtraam gewieg – gebybie – om die fyner gruis van die dommierof en sand te skei.”

........
Etimologie is haar kos. Sy gaan soek na die komvandaan van woorde. Weet jy waar kom “skoenlapper” vandaan?
........

Etimologie is haar kos. Sy gaan soek na die komvandaan van woorde. Weet jy waar kom “skoenlapper” vandaan? Naas ’n skoenmaker was daar ook ’n skoenlapper wat skoene heelmaak, lap en versool. “Met hulle bruin, rooi of swart gevlekte vlerke laat sommige vlinders aan gelapte skoene dink.”

Sy grawe in die trommel van volkskatte en haal versreëls aan: “Soos Opperman se kwartels laat onmin ons dae in stiltes wegraak.” Sy verken die natuur en alles wat geboorte gegee het aan woorde en beelde. Sy vertel van die perdeblom (“dandelion”): “In die wind, deur die lug, oor velde straalblomme, dryf haar saadhofies, wit soos donse. Navorsers sê selfs ver oor die see. Valskermpies met sade soos briefies.” Só beskryf sy ’n geitjie: “stekelrige stert, wat by skrik afval en teruggroei, sagte vel, korrelskubbetjieskop, lidlose oë met vertikaal gesplete pupille, tong wat soos ’n ruitveër die oogballe klam hou”. Olifante se nabyverwante is dassies, manatees en doejongs – laasgenoemde twee is watersoogdiere wat hulle naamgewers aan meerminne laat dink het. Die Kaapse knorhaan is ’n vis wat nes ’n vark grom wanneer dit aan ’n lyn gevang word.

Die hele boek lees soos digkuns: “‘Bokmakierie,’ roep die geelgroen voël met die swart keeltjie, wat ook bokmakoer genoem word. ‘Kokkewiet,’ antwoord die wyfie, wat aan die bokmakierie sy ander naam besorg.” Dit tjienkerientjee is ’n plant wat sy naam van ’n geluid kry: “Van die tjienkgeluidjie wat ’n mens hoor wanneer sy tjienksteeltjies teen mekaar skuur.” In die Oos-Kaap is ’n dorp met ’n klanknabootsende naam: “Lusikisiki, die fluistering van gras en riete in die wind.” “In die Overberg heet die son Martha.”

Sy betrek al die sintuie en vertel daar word ongeveer 3 000 geure onderskei en ’n geurmeester moet almal by die naam ken en blind kan identifiseer. “Konsepte soos aards, fris, fyn, groen, rokerig, soet, vars, vrugtig … Asynagtig, houtagtig, neutagtig, metaalagtig, sitrusagtig …”

Haar aanslag is humoristies: “Kateders is vir preek. Kateters is vir piepie.” Sy reis deur die land en versamel streekstaal en vergete idiome: “As jy van jou klip af is, is jy van stryk. Op jou klip, daarenteen, gaan dit goed met jou, en as jy op ’n kissie is, voorstebos.” ’n Deegpop met rosyntjie-oë is iemand wat toekyk en swyg.

Sy waarsku dat sy jou gaan ontvriend as jy haar aanhou aapstert (@). ’n “Prompt” is ’n por. As ons in die era van KI nie aanhou om vir onsself te dink nie, voorspel sy “’n verdommende mensdom, twakrokers sonder bogantennas, onsinverklikkers …”

Dis ook ’n boek vol lewenswaarhede en besinning, in die keurigste Afrikaans: “Pluk elke dag. Maak so min moontlik staat op môre. En basta eers met gister.”

Wil jy weet waar “skobbejak” en “parfuum” vandaan kom, watter woorde om in te span in die plek van “awesome”? Wat ’n “desnoodsie” is? Lees die boek. Weeg die taaljuwele tussen jou vingers.

Hierdie boek vol skitterende rubrieke sit my op my klip. Dis voorstebos.

Trace deur Ryan Blumenthal

Ryan Blumenthal is een van ons voorste forensiese patoloë – dis ’n beroep wat onder beleg is, vertel hy, met slegs 80 tot 90 gekwalifiseerde patoloë wat meer as 64 miljoen mense in Suid-Afrika bedien, en dit terwyl daar in ons land ongeveer 70 000 onnatuurlike sterftes per jaar voorkom. Elke patoloog voer dus meer as 250 nadoodse ondersoeke per jaar uit. Om ’n patoloog te wees is ’n roeping, glo hy. ’n Patoloog word gebore, nie net opgelei nie. Al jou sintuie moet fyn ontwikkel wees. Patoloë reis dag en nag na ongewone plekke, na sterftonele (dikwels misdaadtonele) in hotelle, tronke, op sportvelde, in grotte, pondokke, sjebeens, parke, bo-op berge, onder in myne. ’n Kollega van hom het ’n toneel as “mentally scarring” beskryf.

.......
KI is ’n hulpmiddel, glo hy, maar kan nie die plek van ’n patoloog inneem nie. Vyf sintuie is nie genoeg nie. Hommeltuie kan tonele vanuit die lug identifiseer en ’n robothond genaamd smWoef kan ’n gevaarlike toneel beveilig voordat deskundiges dit betree. Maar daar is altyd iets wat KI miskyk.
.........

KI is ’n hulpmiddel, glo hy, maar kan nie die plek van ’n patoloog inneem nie. Vyf sintuie is nie genoeg nie. Hommeltuie kan tonele vanuit die lug identifiseer en ’n robothond genaamd smWoef kan ’n gevaarlike toneel beveilig voordat deskundiges dit betree. Maar daar is altyd iets wat KI miskyk.

Hy vertel van die verskillende maniere waarop mense doodgaan en verskaf gevallestudies. ’n Mens kan selfs per selfoon moor as jy iemand se insuliendrup in ’n hospitaal vanaf ’n afstand, vanuit ’n ander provinsie, afskakel.

Trace is terselfdertyd ’n selfhelpboek met lewensraad: As ’n gevaarlike hond op jou afstorm, trek ’n kledingstuk uit en draai dit om jou voorarm; dit is waar hy waarskynlik gaan byt. Hondevlooie kan hoër spring as katvlooie. Om ’n puisie uit te druk, kan tot ’n dodelike infeksie lei: “Yes, this may be hard to believe, you can die from fiddling with a pimple.” Tatoes is gevaarlik, want die giftige ink word in die bloedstroom opgeneem. Soms is die tatoeëerkunstenaar se spelling beroerd en sit jy met ‘n inskripsie soos: “Dance like nobody is washing.”

Trace is ’n grinterige en heel onderhoudende allegaartjie oor ’n ondankbare beroep wat danksy TV-reekse cool geraak het.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Op die spoor van die stasiemoordenaar deur Julian Jansen en 18 years an addict deur Anne Lapedus Brest

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top