Boekevat met Deborah: Op die spoor van die stasiemoordenaar deur Julian Jansen en 18 years an addict deur Anne Lapedus Brest

  • 0

Op die spoor van die Stasiemoordenaar
Julian Jansen
ISBN: 9780624095200
Uitgewer: Tafelberg

18 Years an Addict: A Mother’s journey from despair to hope
Anne Lapedus Brest
Te koop op Amazon

  • Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
...
Dit bly ’n tergende raaisel, en van die bedroefde ouers se seuns is nooit opgespoor nie.
...

Ek lees nie genoeg niefiksie nie – daar is eenvoudig nie tyd nie. Ek het vriende wat graag waremisdaad- dokumentêre reekse kyk, maar ek vind dit te ontstellend om met die beeldmateriaal gekonfronteer te word. Ek kan slegs léés oor misdaad, met een oog toegeknyp.

Julian Jansen, vermaarde joernalis, het hom as waremisdaadskrywer onderskei. Hy het reeds boeke oor die De Zalze-moorde, moord op Stellenbosch en die moord op Deveney Nel gepubliseer. Ons almal het die moorde en ondersoeke in die pers gevolg, maar ’n mens vergeet soveel, of blok dit uit. Dit is fassinerend (die fassinasie van die gruwelooslike) om dit in een publikasie, chronologies, te volg.

Die sogenaamde stasiemoordenaar het in die laat 1980’s tot middel-’90’s ’n skrikbewind op die Kaapse vlakte gevoer. 22 seuns en jong mans het spoorloos verdwyn. Die gemeenskap was getraumatiseer. Die meeste van die lyke is eers heelwat later gevind, met die gevolg dat forensiese materiaal onbruikbaar was. Norman Simons, wat na Islam bekeer en sy naam na Avzal Safaraaz Simons verander het, is in 1995 skuldig bevind aan net een van die moorde. Dis al wat die polisie kon bewys.

Norman was ’n intelligente, gekwelde mens. Soos Nicky Pistorius voorspel/geïntueer het, was hy ’n onderwyser. Hy was welsprekend in verskeie tale en sy voorkoms heel aanvaarbaar. ’n Ooggetuie van een van sy ontvoerings het hom beskryf as “’n Bantoe wat soos ’n vrou stap”. Sy was deurslaggewend in sy uitkenning.

Sy pa was swart en ’n tweestryd het in hom gewoed oor sy verdeelde herkoms. Volgens bekentenisse (wat klokslag weer teruggetrek is) het demone en die gees van sy broer Bossy, wat hom as kind gesodomiseer het, van hom besit geneem. Hy het in ’n lang brief aan ’n landdros alles erken. Hoedat hy stemme hoor wat gil “KILL” en graag wil hê die grudade moet ophou.

Hy het later beweer hy is deur die polisie gemartel en geïntimideer om verklarings af te lê. Die polisie, onder wie Leonard Knipe, het dit ten sterkste ontken. Volgens hulle het hulle hom altyd met die grootste bedagsaamheid behandel. ’n Mens wonder darem.

Hy is soms in inrigtings opgeneem, maar daar is bevind dat hy wel toerekeningsvatbaar is. Etlike los drade het nog bly hang en die vermoede is dat hy nie vir al die moorde verantwoordelik was nie, of ten minste handlangers gehad het. Van die forensiese materiaal wat op die tonele gevind is, het nie tot sy bloedgroep behoort nie. Hy het aan die polisie moordtonele uitgewys waar daar geen liggame gevind is nie. ’n Verdere probleem is dat hy ’n nonsekretor is – daar is nie DNS in sy liggaamsvloeistowwe soos semen teenwoordig nie.

Dit bly ’n tergende raaisel, en van die bedroefde ouers se seuns is nooit opgespoor nie. Simon is intussen vrygelaat en woon in betreklike anonimiteit in Parow. En die vrae bly haper.

*

18 years an addict deur Anne Lapedus Brest

Anne Brest was ’n aantreklike, dinamiese, geskeide Joodse vrou van Parkhurst, Johannesburg. Haar enigste seun, Gregory, was ’n mooi, sjarmante kind. Na sy hoërskoolloopbaan aan King David’s in Victory Park het hy ’n BCom en honneurs aan Unisa behaal. Net voor sy gradeplegtigheid is hy op die ingewing van die oomblik Londen toe, glo net vir ses maande. Daar is hy by ’n groot bank, Barclays, aangestel. Vir ’n rukkie het dit gelyk asof hy op pad na sukses en welvaart is.

...
Sy het hom nooit versaak nie; sy het gereeld gaan kuier.
...

Toe begin die nagtelike oproepe na sy ma:

“Hello, Mom. Did I wake you, Mom? I wanted to tell you that Kahlil Gibran said your children are not your children. I’m so happy here, Mom. I’m so fucking happyyyyyyyyyy!”

As iemand in die nanagtelike ure Gibran aanhaal, is daar fout. Van daar was dit heelpad afdraande. Hy het sy werk verloor. Sy ma het gaan kuier en hy het haar oor allerlei dinge verwyt, soos die egskeiding.

I felt as though he had slapped me hard once. We were supposed to have gone out for supper, but he was on a mission from hell where everything was my fault – the haircuts that he hated as a child, the way I dressed him when he was a little fellow, like he had come out of nineteenth century Poland, the way I shoved Yiddishkeit down his throat, dragged him to shul, made him frum, and he hadn’t wanted to be. That’s not how I remembered it, but now I was hearing all of this for the first time.

Wat my aan die lees gehou het in hierdie uitmergelende relaas van verval, is die stem van die ma. ’n Jiddisje mama met ’n onblusbare gees, prakties en sonder nonsies, met ’n stortvloed uitasem woorde.

Greg het vir jare drank en gevaarlike dwelms misbruik en was (meestal) verstommend funksioneel. Sy droom was Hollywood. Hy is later Los Angeles toe, en omdat hy besonder aantreklik is en weet hoe om homself te verkoop, het hy rolletjies in sepies soos The bold and the beautiful losgeslaan. Nie praatrolle nie, want, anders as Charlize, kon hy maar nie die Amerikaanse aksent baasraak nie.

Hy het ook in luukse restaurante as kelner en kroegman gewerk en bly glo dat hy op die drumpel is van ’n deurbraak op die silwerdoek. Sy ma het haarself gekasty, haar eindeloos bekommer en woordryk uitgevaar teen hom. Sy beskryf so goed hoe sy op eiers geloop het; hy wou altyd voorgee dat hy skoon is, en om hom nie te antagoniseer en aggressie te ontlok nie, het sy saamgespeel, meestal.

Experts tell us over and over that it is not our fault that our children become addicts, that we didn’t cause it, that we can’t cure it, but somehow, I did believe that it was my fault. Both my children had turned to drugs, and Hymie had five other children from his first and third wives, respectively, yet none of them were addicts. So, as one irritating bird-brained yenta [loosely translated, an interesting person and an irritating pain in the toches] once pointed out to me, it had to be me.

Die ma se radeloosheid is aangrypend: “My once gorgeous little boy, now an adult, was putting every kind of dreck into his body. All those gorgeous little babies who grew up into hopeless drug addicts on cocaine, heroin and the millions of things out there, how do you come to terms with it?”

Sy het hom nooit versaak nie; sy het gereeld gaan kuier. En uiteindelik het hy huis toe gekom en – spoiler alert, maar die titel verklap dit reeds – skoon gekom en ’n sukses van sy lewe gemaak: “He was headlong into his voyage of self-discovery.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top