
- Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
Spirits and spaces
Roger Ballen
Thames & Hudson
ISBN: 9780500028926
Die laaste leuen
Anita du Preez
Queillerie
ISBN: 9780795803130
Ons het Roger Ballen leer ken as fotograaf van armblankes, as so ’n woord nog korrek is. Swart-wit-foto’s van tweelingbroers met klein koppies, reuseore en vuil hemde, van interieurs waar ’n stukkende pop op ’n vuil matras sit-lê onder ’n muurtekening van ’n dreigende penis en verlepte balle. Dit bly aangrypend. Die wêreld van mense wat onder die broodlyn leef, is immers nog altyd vergestalt deur bevoorregtes, soos PG du Plessis, Marlene van Niekerk en Jeanne Goosen.
Maar wie is Ballen? Hy is ’n Amerikaner wat in New York gebore is. Hy het onder andere sielkunde en mynbou studeer. In 1973 het hy vir vyf jaar deur die wêreld gereis en sy vrou in Kaapstad ontmoet. Hy vestig hom in 1982 permanent in Johannesburg.
In Suid-Afrika het hy gemarginaliseerdes begin fotografeer. Hy het dit benadruk dat sy werk nie ’n sosiopolitieke agenda het nie, maar eerder ’n psigologiese en estetiese statement wil maak. En dat sy onderwerpe nie anoniem is nie, dat hy deur die jare vriendskappe met hulle ontwikkel het.
Nou is daar ’n koffietafelboek in kleur: Sprits and spaces. Dit is, soos sy foto’s van verarmde mense en hulle interieurs, geanker in die chaotiese en die absurde. Nagmerrie-agtige ruimtes, onheilspellend en visueel aangrypend. Hierdie versameling vang die bisarre ruimtes van Ballen vas, oorheers deur diere, voorwerpe en primitiewe sketse. Mense is gereduseer tot stokfigure in die skadu of ontlyfde liggaamsdele. Dis foto’s van ruimtes wat hy gekurateer het, opgestel het, van sketse en rekwisiete voorsien het. Ruimtes vol engtevrees en skadu, verweerde houtpanele met muurpapier wat afdop en skrapse beligting. Dis ’n wêreld anderkant woorde, waar die absurde, die makabere, chaotiese en die tragi-komiese hoogty vier.
’n Beswaarde pop wie se lyf ’n hempsmou is waaruit ’n hand loer wat in ’n verrinneweerde boek blaai, met ’n muis wat uit die palm glip, lê op ’n tafel teen ’n muur met ’n naïewe lynskets van ’n mannetjie met ’n lang, dun penis soos ’n derde beentjie.
Nog ’n pop met die kop van ’n volwasse vrou en die skoppende pokkelbene van ’n baba lê op drie bruin bankkussings. Agter haar teen die muur is ’n versameling lynsketse van mense en katte soos ’n groot, disfunksionele gesin. In die voorgrond skarrel ’n witrot weg.
Wat was sy oogmerk? Colin Rhodes verduidelik in die voorwoord – die enigste teks behalwe die titels van die foto’s – dat kleur vir Ballen ’n nuwe uitdaging was waarmee (nie waartéén nie) hy gewoeker het. Hy verduidelik ook dat daar geen ware teenstrydigheid met sy ouer werk is nie; dat ’n halfeeu se soektog na die vervlietende bestanddele wat verhelderende oomblikke van psigologiese realisme verskaf, hom nou in staat gestel het om daardie bestanddele self bymekaar te sit.
Ek is effe ambivalent oor hierdie lieflike boek – lieflik in die sin van die fassinerende aantrekkingskrag van die afgryslike – soos ek is oor digitale kuns en kunsmatige intelligensie. Daar is iets berekends. Die skoonheid van Ballen se vorige foto’s het myns insiens gelê in die spontaniteit daarvan: Sy gawe was ’n oog om die absurde raak te sien, die oomblik te raam en vas te vang. Nou word die ruimtes gekurateer, geregisseer. Nou word dit saamgestel, opgestel soos winkelversiering.
........
Ek is effe ambivalent oor hierdie lieflike boek – lieflik in die sin van die fassinerende aantrekkingskrag van die afgryslike – soos ek is oor digitale kuns en kunsmatige intelligensie. Daar is iets berekends. Die skoonheid van Ballen se vorige foto’s het myns insiens gelê in die spontaniteit daarvan: Sy gawe was ’n oog om die absurde raak te sien, die oomblik te raam en vas te vang. Nou word die ruimtes gekurateer, geregisseer. Nou word dit saamgestel, opgestel soos winkelversiering.
........
Ja, Roger Ballen is nog hý en hy het ’n sonderlinge talent. Hierdie foto’s, of eerder kunswerke, spook soos hallusinasies. Dit vervreem en verruk. Dit wys ’n middelvinger vir die fascistiese ideaal van skoonheid. Die makabere is magies en hipnoties – die smerige verhoog van die onderbewuste, vol demone en ontliggaamde geslagsdele. Uit die swartste modder groei die witste lelie.
Op dieselfde trant het ek ’n Afrikaanse noir gelees wat my oorweldig het soos ’n wegholtrein wat ontspoor: Anita du Preez se Die laaste leuen. Wie is Anita du Preez? Ek sien sy het voorheen liefdesverhale geskryf, soos Bambi en die boef, Dokter Dierbaar en Letitia en die lektor. Sy het kanker oorwin en verklaar: “Daar is ’n groot verskil tussen Anita BC en Anita AC. Daar is nou ’n dringendheid in my wat nie meer nonsens wil vat nie.” Haar persverklaring lui: “Voor borskanker was sy ’n goeie, gawe liefdesromanskrywer. Ná kanker is sy ’n meneer van ’n vrou, ’n rillerskrywer wat op 76 wedlope hardloop, vloek en die middelvinger wys.” Inderdaad. Hierdie roman is vol gru, gruwel en grieselrigheid – volwaardige huishoudelike noir.
Dit begin met huishoudelike geweld en verloor nooit stoom nie. Die hoofkarakter, Sophia Blijdenstein, is ’n senuwrak wat aan episodes van dissonansie ly en hallusineer. Dus nie ’n betroubare verteller nie. Sy gesels met haar oorlede pa, die troetelhen wat sy as kind gehad het en haar dooie sustertjie. En later met Ingrid Jonker.
Sy word wakker uit ’n nagmerrie waarin sy haar man se skedel met ’n staanlamp vergruis. Sy gaan sitkamer toe en tref hom op die rusbank aan met sy kop vergruis. Daar is ook ’n bebloede staanlamp. Sy glo nie sy het hom aangeval nie, maar sy kan nie seker wees nie. Natuurlik is sy die enigste verdagte en word eers Pollsmoor en dan Valkenburg toe gepos.
Haar man is ’n Afrikaanse popster, Max Blade. Hy is gelukkig nie dood nie, maar in ’n koma. Dit ontaard in ’n mediasirkus. Dit word duidelik dat hulle huwelik ver van gelukkig was; dat hy ’n dominerende rokjagter is. Dit hou sy stil, want dit sou dui op motief, natuurlik.
Die tronk en inrigting word grinterig beskryf in al hul groteskheid. Haar kinderjare kom ook aan die bod, met ’n afwesige ma verpletter deur die dood van die gestremde suster wat net ouer as sy was. Daar is episodes van outomatisme en gate in haar geheue. Die leser hou duimvas vir haar geestesgesondheid.
Die einde was vir my effens geforseerd, hoewel ’n mens dit sien kom het. Dis ’n onneersitbare riller en my enigste kritiek is dat dit op een toonhoogte geskryf is: histeries. Ek smag na stilte binne ’n storm, oomblikke om asem te skep op die lip van die vulkaan. Nogtans beveel ek dit hoog aan vir rillerryers en sien uit na haar volgende roman.
........
Dis ’n onneersitbare riller en my enigste kritiek is dat dit op een toonhoogte geskryf is: histeries. Ek smag na stilte binne ’n storm, oomblikke om asem te skep op die lip van die vulkaan. Nogtans beveel ek dit hoog aan vir rillerryers en sien uit na haar volgende roman.
........
Lees ook:
Boekevat met Deborah: Die drie weduwees deur Irma Venter en Nobody’s girl deur Virginia Giuffre
Boekevat met Deborah: Sjoe! deur Petrovna Metelerkamp en Roulette deur Sidney Gilroy

