Boekevat met Deborah: Roelf Meyer, ’n politieke memoires deur Annelise Burgess

  • 0

  • Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

Roelf Meyer, ’n politieke memoires
Annelise Burgess
Jonathan Ball-uitgewers
SKU 9780624097051

Agter elke memoire (ja, die woord bestaan in die enkelvoud ook, en daarom is ek dronkgeslaan deur beide die “memoires” en die “’n” in die subtitel) soek ek na die onderwerp, die mens oor wie dit gaan, wie se herinneringe dit is. Hier word die leser gewaarsku deur die kwalifikasie “politieke”. Ja, dit gaan oor die openbare figuur Roelf Meyer, as politieke dier en onderhandelaar, nie as eggenoot of vader nie. Daar word wel in die verbygaan na vroue en kinders verwys.

Ek het, toe ek jonk was, nooit boeke oor politiek of politieke figure gelees nie, en ook maar goed: Hulle was meestal leuens. Nou het ek Max du Preez se boek gelees en Meyer s’n en vir die eerste keer kry ek ’n blik agter die skerms waar ons nooit as te nimmer insae gehad het nie, en lees van alles wat van ons weggehou is.

Meyer is nie een van daardie mense wat in die nuwe Suid-Afrika hand en mond sweer dat hulle altyd liberaal was en nooit apartheid voorgestaan het nie. Inteendeel. “Hy kry skaam … oor wat hy as studenteleier geglo en gesê het toe hy apartheid verdedig het.” Hy erken dat hy ingekoop het in die ideologie en met ywer vir die Nasionale Party gewerk het. Maar toe hy ANC-lede uiteindelik van naby leer ken het, het hy besef hulle is Suid-Afrikaners soos hy, toe hy begin kuier en visvang het saam met die opposisie. “Dit was asof mense van verskillende poolstreke mekaar vir die eerste keer ontmoet.”

......
Hy erken dat hy ingekoop het in die ideologie en met ywer vir die Nasionale Party gewerk het. Maar toe hy ANC-lede uiteindelik van naby leer ken het, het hy besef hulle is Suid-Afrikaners soos hy, toe hy begin kuier en visvang het saam met die opposisie. “Dit was asof mense van verskillende poolstreke mekaar vir die eerste keer ontmoet.”
........

Dit was besonder interessant om vanuit die binnekring ’n verslag te lees van die Groot Oorgang, die magsoorgawe deur die Nasionale Party. Dit het alles op ’n mespunt gedraai en dit was eenvoudig ’n idee waarvan die tyd aangebreek het. Daar was min voorbereiding, geen plan anderkant die vrylating van Mandela nie. Dit kon enige kant toe geval het. “Die onderhandelingsproses oor ’n nuwe grondwet was nog nie eens naastenby op die tafel nie.” Meyer vertel ook: “Vir my was dit ’n soort avontuur. Dit het my aan witwaterry herinner: Aan die een kant was ek erg onseker, aan die ander kant was dit ’n ongelooflike adrenalienskoot.”

Daar is dinge wat ons nasionale psige begin uitblok het, soos hoeveel mense gesterf het in die onrus en opstand in die vier jaar voor die eerste demokratiese verkiesing: “‘Tussen Mandela se vrylating en die begin van die onderhandelinge is meer mense dood as in die hele apartheidsera,’ merk Meyer strak op. Die geskatte dodetal tussen 1990 en 1994 staan op 14 000.”

Wat vir my in hierdie memoires van waarde was, is die uitstekende onderhandelingsbeginsels wat uitgestip word, soos: “Die Nasionale Vredesakkoord getuig van die krag van inklusiewe onderhandeling en die belang daarvan om ruimtes te skep waar teenstanders vennote kan word. Dit herinner ons daaraan dat die belangrikste deurbrake soms gebeur omdat toegewyde mense bereid is om die geduldige, noukeurige werk te doen om die skeiding te oorbrug.”

Daar is voorvalle waarvan ek vergeet het, soos toe die ANC besluit het om op te ruk na die Ciskei met twee eise: Gqozo moet uit, en hulle dring aan op die vryheid om polities aktief te wees in hierdie tuisland wat hulle nie erken nie. Hulle is toegelaat om in ’n stadion buite die hoofstad te vergader, maar die stadion is met lemmetjiesdraad versper. Ronnie Kasrils het ’n groep deur ’n gaping in die heining gelei in die rigting van die sakekern. Die Ciskeise weermag het op hulle losgebrand. 29 mense is dood en meer as 200 gewond. Toe Meyer ’n foto sien van Ramaphosa met sy gesig plat op die grond om koeëls te ontduik, het hy besef: “Dis die einde van die rollende massa-aksie.”

Die onderhandelinge moes uiters frustrerend gewees het en het dikwels dooie punte bereik. Die geduldige Meyer het by geleentheid ’n tafel omgegooi en uitgestorm.

Beginsels vir onderhandeling wat hy noem, is: “Eerstens, geloofwaardigheid … Tweedens, legimiteit … Derdens, respekteer die integriteit van die proses … dit beteken daar is altyd ’n vaste punt of basislyn waarheen jy kan terugkeer.”

En ook: “Daar moet ’n keerpunt kom waar jy besef jy kan nie nou meer terugdraai nie – dit is die oomblik van onomkeerbaarheid … Dit bied ’n besonder sterk dryfkrag om vorentoe te beweeg, want jy weet jy móét eenvoudig die antwoorde vind.”

Hy vertel ook van twee soorte gesag. “Die een is die mag wat ’n grondwet aan jou verleen. Dan is daar mense wat eenvoudig gesag het omdat hulle dit verpersoonlik.” Toe Mandela vrygelaat is, het hy geen wetlike gesag gehad nie, net die egtheid van gesag wat al was wat tussen Suid-Afrika en die afgrond gestaan het.

Meyer, wat ek bevoorreg was om persoonlik te leer ken, is die vergestalting van die Bybelse uitspraak: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.” Hy vertel hoedat ’n jong polisiesersant, toe die AWB die World Trade Centre binnegeval het, ingegryp en ’n AWB-leier hoflik aangespreek het: “Kolonel, gaan ons mekaar skiet of gaan ons praat? Ek wil môre die rugbywedstryd gaan kyk.” Die ongenooide betreding is voorlopig afgeweer.

Hy vertel hoedat hy en Ramaphosa algaande gewoond geraak het aan mekaar se styl en geweet het hoe om probleme op te los. Dit het nooit ’n konvensionele vriendskap geword nie. Hulle was nooit huisvriende nie. Daar was net wedersydse respek en vertroue. Ramaphosa het dit beaam: “The magic that is formed between two people often determines what happens in the broader superstructure of dealings at the political level.”

Ons lees weer oor die Waarheid-en-versoeningskomissie. “Meyer glo steeds dat die WVK 85 persent suksesvol was en baie meer kon vermag het as wat ’n andersoortige afrekening of ’n tribunaal sou kon bereik.”

Die Nasionale Party se uittrede uit die destydse Regering van Nasionale Eenheid beskou hy as ’n taktiese mislukking en ’n mislukking van visie: “[A]s ons die vyf jaar suksesvol voltooi het, sou die kanse op ’n vrywillige koalisie daarna aansienlik groter wees."

Nadat hy hom uit die politiek onttrek het, het Meyer se volgende loopbaan as vredesonderhandelaar begin. Hy glo dat geen konfliksituasie uniek is nie en dat universele reëls geld. Tog bestaan daar nie ’n templaat wat afgedwing kan word nie. “Elke situasie het sy eie kenmerke” en benodig ’n spesifieke oplossing. Hy was onder andere aktief in konflikresolusie in Noord-Ierland, Miannar, Palestina, Kameroen, Kosovo, die Soedans, Colombia en Irak.

Hy glo daarin om te erken dat apartheid bestaan het en dat hy daaruit voordeel getrek het. Hy beskou die ANC-regering nie deur ’n rooskleurige bril nie: “Ons het 30 jaar gehad en kon al baie meer vordering gemaak het. In werklikheid is ons nou armer as 15 jaar gelede.”

Daar is ’n nuttige hoofstuk oor die proses van transformasie. Hy stip drie voorwaardes vir transformasie uit: Jy moet die werklikheid vierkantig in die oë kyk. Jy moet erken dat jy verkeerd was. Jy moet die behoefte laat vaar om jou “stam” te verdedig. En as jy daarin slaag om daardie skuif te maak, ervaar jy nie verlies nie. “Jy sien die genade daarvan om bevry te wees van die las van rassevooroordeel.”

Ons ambassadeur in die VSA is ’n vredemaker. En: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Goedheid en guns deur Sophia Kapp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top