
Titel: Goedheid en guns
Skrywer: Sophia Kapp
ISBN: 978-048336634
Uitgewer: Boekdiva Uitgewers
Toe my ma ’n kind was, het haar sewe ouer susters haar genadeloos geterg wanneer sy ’n liefdesroman lees: “Het hulle mekaar al, of kry hulle mekaar nog?” En: “Die liefde brand soos ’n warm kerrie-aartappel!” Ek het ook as kind liefdesverhale skelm en koorsagtig gelees: Konsalik, Tryna du Toit, Eleanor Baker, Catherine Gaskin en natuurlik Barbara Cartland. Daar is eenmaal iets aan romanse, aan die groot liefde wat so amper-amper wegkom. Vandag lees ek graag huishoudelike noir wat handel oor die verwoeste landskap wat oorbly nadat die groot hartstog hom uitgewoed het en liefde tot haat geskif het. Maar ai, daar is nog altyd ’n bange vlinder in my wat hunker na ’n gelukkige einde vir ewig en altyd. Na die laaste deel van die aanhaling waaruit die titel kom: “Al die dae van my lewe.”
As liefdesverhale reg bedryf word deur verbeeldingryke, begaafde en taalvaardige skrywers soos Helene de Kock, Chanette Paul en Irma Joubert, lees ek dit steeds graag. En soos Sophia Kapp. Kapp se beiteltjie is blinkgeslyp en daar is ’n vonkel in haar oog. Haar karakters is stroomop en springlewendig.
Dit was ’n vreugde om haar jongste, Goedheid en guns, te lees. Dis die tweede boek oor die Barnard-susters en hierdie een fokus op Marié, die beeldskone internasionale model. Op 31 word haar kontrak by Victoria’s Secret nie hernu nie en eensklaps is haar loopbaan verby. Sy het geweet haar boobs lyk goed in sagte lig en dat modelle se vervaldatum vroeg is, maar sy het nooit ’n Plan B gehad nie. Sy het nog ’n jaar in New York rondgehang in die hoop dat iets sou opduik en in die proses al haar kredietkaarte uitgemax.
Nou is sy druipstert terug in haar liefdevolle ouerhuis in Kaapstad en gaan steek kers op by haar ouer suster, Elinor, die HUB van die beleggingsfirma wat hulle pa gestig het. Elinor is ’n formidabele vrou wat gelukkig in die vet jare vir Marié geld belê het. Sy kan van die beleggings losmaak, ná ’n preek oor verantwoordelike finansiële bestuur en beplanning, natuurlik. Ja, ek weet, eerstewêreldprobleme, maar wat.
Terwyl Marié in die botaniese tuin naby Elinor se kantore wag vir haar suster om klaar te werk, sien sy ’n dogtertjie wat bedreig word deur ’n rondloperman. Die kind lyk ongeveer vier en is op haar eie. Marié gryp in en red haar, want só is die Barnard-vroue: moederlik, beskermend en vreesloos. Hulle vat nie kak nie en huiwer nie om kak te sê nie. Toe sy vir die verskrikte kind pienk melkskommel en tjippies in die restaurant koop, kom ’n beer van ’n man met dieselfde rooigoue hare as die kind ingestorm, radeloos van bekommernis.
So ontmoet sy vir Lily en Dawid McGregor. Marié het ’n sterk voorgevoel dat hulle deel van haar lewe gaan wees, deel van haar Plan B en haar pad vorentoe. Sy volg hulle hof toe, waar Lily se vervreemde fortuinsoeker-ma, Heather, Dawid dagvaar vir toesig oor haar. Hy is nie haar pa nie, maar haar oom. Sy was getroud met Dawid se broer, Martin, het sy hart gebreek en hom en Lily versaak. Hy is intussen dood. Die regter is bekommerd dat die kind eensaam is en verwaarloos word op Dawid se plaas. Marié laat dit lyk asof sy en Dawid in ’n verhouding is en sy saam teruggaan plaas toe. Soos sy vir die verdwaasde Dawid sê: Jy daag nie met ’n pea shooter by ’n gunfight op nie. Dit oortuig die regter en sy gee hulle ’n maand voordat sy uitspraak lewer, mits Marié deel van die prentjie is. So beland sy in hulle lewe, ’n redder en raakvatter.
Op die plaas lê ’n swaar pad vir Marié voor. Dis gou duidelik dat Dawid en die Wildschutz-gesin wat werkers op die plaas is, soos ’n hegte familie funksioneer. Hulle eet saans saam. Koba is kok en huishoudster en hulle dogter Jennifer sien na Lily om. Marié voel soos ’n vyfde wiel aan die wa. Sy wonder waarin sy haar begewe het en wat haar rol is. Vir haar gaan dit om die kind se welstand. Lily het opgehou praat ná die ongeluk waarin sy saam met haar ouers was en waarin haar pa dood is.
Boonop is daar ’n onteenseglike aantrekking tussen Marié en Dawid. Soos ystervylsels in ’n magnetiese veld is hulle, maar hy trek hom telkens terug in sy dop. Sy kinderjare was nie ’n maanskynpiekniek nie en hy het deur die jare skanse opgebou om hom te vrywaar teen seerkry. Hy is geensins bereid om die skanse te laat sak vir ’n beeldskone stadsvrou wat na sy mening nie op ’n plaas hoort nie en hulle tog net weer gaan verlaat.
Nou moet jy weet, Kapp se vroue is sterk, hoor, en vasberade. Marié weet toenemend dat sy nooit weer op ’n ander plek wil wees nie as die plaas Goedgegun saam met Dawid en Lily. Sy konfronteer hom wanneer hy onbeleefd is met haar. Vonke spat. Sy wil graag agter die kap van die byl kom: Waarom is hy immer uit op die verdediging? Wie het hom so verniel?
Dis natuurlik die onontbeerlike bestanddeel in elke liefdesverhaal: die belemmering wat die saamkom uitstel tot dit bykans ondraaglik word. TT Cloete het geskryf oor sierskaatsers wat telkens die paring uitstel. Kapp het al gewys dat sy vrytonele kan skryf wat die vensters laat opstoom. Haar heldinne is nie net mooi gesiggies nie. Ek hou ook daarvan dat die patriargale orde hier omgekeer word: Dit is Marié wat die kopsku Dawid die hof moet maak en oortuig van haar bona fides en opregte liefde.
Gesoute liefdesverhaallesers glo vas dat sy dit sal regkry en hulle sien uit na die onvermydelike troue, soos in Jane Austen. Jy moet maar self lees of en hoe sy daarin slaag om ’n man in te palm wat glo dat sy te goed vir hom is en teen hom beskerm moet word.
Lesers sal altyd voel dis wel met hul siel wanneer ’n man uit een stuk en ’n knap, onverskrokke vrou wat terloops beeldskoon is, uiteindelik in mekaar se arms beland. Welgedaan, me Kapp!

