
Hierdie prent is gemaak met Canva-elemente, onderhewig aan hierdie gratis lisensie-voorwaardes: https://www.canva.com/policies/content-license-agreement/; die omslag van Die seun met die swaeltjie is afkomstig vanaf LAPA en Die vrou met nege lewens is afkomstig vanaf Queillerie.
Die vrou met nege lewens
Debbie Loots
Queillerie
SKU 9780795803444
Die blou huis
Erika Murray-Theron
talkingtable.pub@gmail.com
Die seun met die swaeltjie
Fanie Viljoen
LAPA
ISBN: 9780637012621

Wat is low-key in Afrikaans? Rustig, stil, onderbeklemtoon? So is hierdie roman. Ek het gewoond geraak daaraan om te lees oor rampspoedige ingrepe en aardverskuiwende katastrofes wat karakters moet hanteer en navigeer.
Hier is ’n sestigjarige vrou wat stoei om betekenis te vind, om haar plek in die wêreld op te spoor. Wie se obsessiewe liefde vir straatkatte soos ’n string blikkies agter haar aansleep. Wie se beroepskeuses nie altyd sinvol is nie en vir wie werksbevrediging uitbly. Wat haar verhoudings bevraagteken en ooranaliseer. Vir wie die rus elders is. Wat berge van molshope maak. Selfs wanneer sy kanker kry, is dit ’n redelik onaggressiewe borskanker.
Sy lees kompulsief selfhelpboeke, gaan op tien dae lange meditasietoevlugte, beoefen joga, mikrodoseer met towersampioene, swem in die ysige Atlantiese Oseaan, bedank haar werk en verbreek haar verhouding. Sy lees dat die drang om hawelose katte te versorg, te doen het met ’n gebrek aan bemoedering, met ’n gebrekkige verbintenis met haar ma. Dat om met ’n kat oogkontak te maak en oor ’n katlyf te streel, dopamien vrystel. Dat sy in die Enneagram-toets ’n 4 is: die individualis of romantikus. “[A]lhoewel persoonlikheidstipe vier dink hulle is spesiaal, dink hulle ook daar is fundamenteel iets verkeerd met hulle. Hulle het nie ’n essensie nie. Daarom is hulle gedurig op soek na hulle ware, unieke self. Viers is ook geneig tot melankolie, verlang na iets wat hulle nie verstaan nie en ooridentifiseer boonop met hulle gevoelens.”
Haar ooridentifikasie met rondloperkatte, haar gekrabbel na selfaanvaarding en vrede is nie minder geldig as enigiemand anders se pyn nie. Bevoorregting vrywaar jou nie van lyding nie. Sodra die onderste lae van die piramide vervul is, gaap die boonstes.
Die leser raak geheg aan hierdie neurotiese vrou sonder essensie wat ooranaliseer en nawelstaar en sukkel om wortel te skiet.
Maar hoe aanvaar ek myself? Die gewraakte wit vrou; my bevoorregte lewe, my futiele pogings om te wees wie ek nie is nie. My erge ongemak, my misplaaste idee oor diens. My stilswye.
Dalk is aanvaar nie die regte woord nie. Is dit nie eerder beliggaam nie? Nie om reg te probeer maak wat verkeerd is nie. Net om binne-in my donker geskiedenis te klim en ten volle in die ongemak daarvan teenwoordig te wees.
Die verteller is ’n chaotiese werk-in-wording. Dis ’n aangrypende reis, lieflik verwoord.

Die blou huis deur Erika Murray-Theron
Ek onthou met ’n warm gevoel om die hart die kinderboeke van Alba Bouwer en Elsabe Steenberg. Daardie gevoel dat die lewe uiters gekompliseerd is maar dat dinge tog geneig is om uit te werk. ’n Goeigheid en menslikheid wat die gees verbly. Deernis en wysheid. Erika Murray-Theron het op 85 haar eerste kinderboek geskryf. Genoemde eienskappe is oorvloedig teenwoordig. Lesers van Theron se boeke, fiksie en niefiksie, vermoed ’n skeutjie outobiografie.
Jeannie en Katryn is niggies: Jeannie die jongste van haar sibbe en Katryn die oudste. Hulle is geheg aan mekaar en bring Desembers by hulle ouma en oupa se strandhuis deur saam met die res van die uitgebreide familie. Dis ’n regte seehuis, blou en van hout. Hierdie jaar vra hulle ouma dat die twee meisies vir ’n ruk agterbly toe die res huis toe gaan. Katryn se ma sukkel om haar af te staan – haar ma leun swaar op haar om na die kleintjies te kyk. Jeannie het ’n gesprek tussen haar ma en ’n tannie afgeluister wat haar laat glo het sy is aangeneem.
Hulle is op die rand van puberteit, steeds kinders. Hulle is ekstaties gelukkig om alleen saam met Ouma en Oupa in die strandhuis te wees, maar daar is ook onweerswolke in die blou lug. Oupa raak toenemend vergeetagtig en val op die trap. Hy en Ouma is hospitaal toe en die meisies moet by die praatsieke buurvrou gaan eet en slaap. ’n Feeagtige meisie verskyn op hulle stoep en begin bou aan hulle legkaart van ’n vuurspuwende draak. Elf is beeldskoon, blas en geheimsinnig. Sy bly in ’n groot huis saam met haar tannie (’n draak volgens haar) en haar kunssinnige ma, wat skynbaar nie altyd funksioneel is nie. Haar ouers is geskei en haar pa is Deens. Dan daag hy ook op in die stranddorpie – Elf het in Denemarke by hom gewoon en hy het elke jaar vir haar ’n vliegkaartjie gekoop om in die vakansie by haar ma te kom kuier, maar vanjaar het haar ma haar nie laat terugvlieg nie. Sy is dus onwettig daar en haar pa wil haar terugneem. Elf is verskeur tussen die twee.
Die niggies wil help, maar hoe?
Die leser onthou hoe dit was om amper 13 te wees en bewus te raak van die onherbergsaamheid en onheilspellendheid van die grootmenswêreld. ’n Eerste kennismaking met die horings van ’n dilemma: hoe om te probeer planne prakseer en te besluit waarheen om jou te wend.
Dis ’n gevoelvolle, dromerige roman vol diepte en humor.

Die seun met die swaeltjie deur Fanie Viljoen
Ek is nie bekend met Fanie Viljoen se werk nie. Toe hy begin skryf het, was ek druk aan die lees aan grootmensboeke. Ek weet Lionel Schriver, een van my helde, het gesê enigeen mag oor enigeen skryf – dis trouens skrywers se werk om in ander se skoene te klim en hulle hoede op te sit. Tog maak die idee van toe-eiening my nog altyd effens ongemaklik. Viljoen het met hierdie jeugroman LAPA se jeugromankompetisie gewen. Ek móés dit lees.
Ek is oortuig. Ek is ’n aanhanger. Hoe gevoelvol gaan Viljoen met ’n ander kultuur en leefwêreld om, en meer nog, hoe suksesvol wys hy dat ons almal verwant is en dieselfde vrese, onsekerhede en drome huisves – al verskil ons omstandighede so drasties. Dis ’n ontroerende, spannende storie wat jou op die puntjie van jou stoel hou.
Tumelo woon saam met sy pa, ma en twee sussies in Metati, ’n township wat grens aan Mautse buite Rosendal. Ek was al daar. Hulle kry swaar. Sy pa, Lenka, het sy werk op ’n plaas verloor en is sedertdien ’n hopelose dronklap. Sy ma is ’n sterk, liefdevolle vrou wat hard werk. Sy word (aan die begin van die boek) doodgery. Nou sit Tumelo en sy streng sussie, Dikeledi, met hulle babasussie Mosa en ’n nikswerd pa wat al die spaargeld in die fles uitgedrink het en kort voor lank die hasepad kies.
Tumelo het in die veld ’n beseerde swaeltjie opgetel en versorg. Fumane, die voëltjie, word ’n simbool van hoop en gaan in ’n kartondoos saam wanneer Tumelo besluit om sy pa in Johannesburg te gaan soek. Dikeledi dring daarop aan om saam te gaan. Tumelo se vriendin Bokgang en haar ma kyk na Mosa.
Hulle avonture in die Goudstad is nagmerrieagtig. Dis nie nodig om apokaliptiese landskappe soos in Mad Max te versin as ’n plek soos Hillbrow krioel van gevaarlike figure wat deur ellende verontmenslik is nie. Strate, steë en verwaarlooste geboue is die dekordoek. Bier en bloed vloei. Dis nie net ’n goedvoelkinderboek hierdie nie, hoor; dis grinterig en angswekkend.
Viljoen vertel die verhaal sonder soetsappigheid of onnodige sensasie; doodluiters. Die karakters kry lewe en die leser belê stewig in hulle welstand. Soos alle goeie kinderboeke is dit eintlik gerig op alle ouderdomme. Dis ’n boek vir mense.
Lees ook:
Cliff-hanger: Die fluisteraar deur Jacolet van den Berg – ’n skrywersonderhoud

