
Titel: Blinde kol
Skrywer: Martin Steyn
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781779860590
- Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Martin Steyn is een van die mees opwindende misdaadskrywers in Afrikaans. Ná sy bekroonde debuut, Donker spoor, was al sy romans topverkopers. Blinde kol tref weer die teiken.
Dis hedendaags, naby aan die huis en iets waarmee lesers kan identifiseer. Wie was nog nooit eensaam en het verstote en ongeliefd gevoel nie? Wie het nog nooit gevoel iets afgrysliks wat gebeur het, was hulle skuld nie?
Hierdie twee gevoelens ervaar die protagoniste. Altus Malherbe is ’n incel – ’n involuntary celibate. Wêreldwyd vorm sulke mans ’n verenigde front en blameer vroue wat glo altyd die sterkste en aantreklikste man kies en nie met hulle seks wil hê nie. Ek het ’n paar vrae hieroor. Is seks ’n basiese mensereg? Waarom agiteer vroue wat op die rak bly sit nie? As jy my vra, word mans (deur vroue) grootgemaak om te glo hulle is alleen op grond van hul manlikheid spesiaal. Hulle wil, sonder veel uitset, vroue verower, en nie sommer enige vrou nie, hoor. Hulle wil mooi meisies hê en glo dit kom hulle toe. Ek glo nie enige man word tot selibaatheid gedwing omdat hy nie aantreklik, ryk, lank of intelligent genoeg is nie. Ek dink as ’n man nie vroue kan kry nie, is dit omdat sy persoonlikheid afstootlik is.
Altus Malherbe is ’n student. Hy is 21 en ’n maagd. Hy het nog nooit ’n meisie gesoen nie. Daaroor is hy verbitterd. Hy rig sy woede op meisies, wat volgens hom sulke swak smaak het dat hulle aanhoudend val vir barbare wat nie vir hulle omgee nie. Altus se probleem is duidelik dat hy tou opgooi voordat hy begin: Hy besluit reeds dat ’n meisie hom sal verwerp en knoop dus nooit ’n gesprek aan nie. Hy sit en wag dat meisies na hom toe kom. En dit gebeur nie.
Nou het sy woede oorgekook en hy het op die parkeerterrein van ’n dameskoshuis ’n meisie geskiet en ’n ander gedwing om die deur vir hom oop te maak met haar studentekaart, waarop hy beslag lê. In die koshuis het hy nog ’n hele paar meisies geskiet. Nou wag ’n taakmag buite die deure. Altus hou ses meisies gyselaar en ’n onderhandelaar is op die foon met hom. Hy sê hy sal slegs met Karla Blanckenberg praat.
Karla is ’n polisieonderhandelaar met haar eie demone en geraamtes in die kas. Iets het met haar stiefsussie gebeur toe Karla haar moes oppas. Al wat verligting bied van haar allesverterende skuld is wanneer sy haar bobene met lemmetjies sny. Sy is in terapie.
’n Interessante dilemma is dat Karla, toe Altus 16 was en van ’n gebou wou afspring, hom omgepraat het om af te kom. As dit nie daarvoor was nie, het meisies nie op hierdie dag gesterf en in lewensgevaar verkeer nie.
Dis ’n lewe-en-dood-situasie, ’n resies teen tyd. Dis duidelik dat Altus nie verwag om lewend daar uit te stap nie. Dat daar niks is wat hy wil hê nie, behalwe wraak. Hoe onderhandel ’n mens met so iemand?
Die spanningsvolle situasie in die koshuis word afgewissel met terugflitse na Karla se verlede en haar terapiesessies. Sy is ’n lekker donker, beskadigde heldin vol kwessies. AO Colin Menck, wat ook in vroeëre boeke verskyn het, daag op en begin delf in Altus se verlede op soek na ’n sleutel om sy troebel binnewêreld te ontsluit en agter te kom wat hom tot so ’n drastiese situasie gedryf het.
Dis uiters spannend en die dialoog en dinamika tussen karakters is fassinerend. Ek beveel dit hoog aan.
Titel: Seil
Skrywer: Morné Dieperink
Uitgewer: Reach Publishers
ISBN: 9781037054938
Aspirantskrywers vra dikwels vir my of dit nie meer lonend is om self jou boek te publiseer nie. Dit mag wees, mits jy die geld het om ’n goeie redakteur, proefleser, bladuitlegkunstenaar en bemarker aan te stel. Daar is allerlei klein uitgewers wat jou boek teen betaling sal uitgee, waarna die wins uit verkope alles joune is. Hierdie boek is uitgegee deur Reach Publishers. Ek sien aanlyn hulle bied onder andere ’n redakteur (haar naam is voorin). Ek weet sowaar nie wat sy gedoen het behalwe om ’n speltoetser in te span nie. Die taalgebruik is lomp, geyk en sommer plein verkeerd. Voorbeelde: “a possible explanation” in plaas van “a plausible explanation”; “a very overly enthusiastic voice”; “in her own little unique way”; “your little visage may work on the others”; “I will derive another plan”. En dis maar net ’n paar.
Dan is daar ook hinderlike stereotipering en toondoof inkorrektheid: Die held se fraai vroutjie bly tuis om die kinders groot te maak en te skrop en te kook. Sy dra ’n voorskoot met die woorde: Kiss the cook. Hy ontmoet ’n man wat hy beskryf as oud, met ’n spierwit baard. Die man is sestig.
Die skrywer, sien ek, is in Bethal gebore. Waarom in Engels skryf? Jong skrywers glo dikwels hulle sal ’n groter gehoor hê in Engels. Dis nie waar nie, hoor. Afrikaanse boeke het ’n lojale lesersgehoor; plaaslike Engelse boeke moet met die bestes uit Europa en Amerika kompeteer.
Ek sien ook die skrywer het elektriese ingenieurswese gestudeer en dit prysgegee om voltyds te skryf. Ahem. Dis duidelik dat hy oor ’n verbeelding beskik en ’n storie kan vertel, maar hy het nog heelwat leiding nodig. So nie sal hy net lyding veroorsaak.
Die verhaal handel oor ’n skaduagtige jong man wat die volmaakte lewe leef. Hy is ’n toetser van rekenaarspeletjies. Dan word hy ingesluk deur die virtuele werklikheid en wonder later of hy self ’n konstruk is, ’n byspeler. Of sy beeldskone vrou en volmaakte kinders ooit bestaan. Of hy vrye wil het. Wie se herinneringe hom so teister.
Dis nogal ambisieus, maar, liewe skrywer, as jy van my verwag om gewilliglik twyfel op te skort en in jou verbeelde wêreld te belê, moet jy, ter wille van geloofwaardigheid, ten minste funksionele, korrekte taal inspan.
Ek hoop Dieperink neem sy volgende manuskrip na ’n gerespekteerde uitgewer wat bereid is om die risiko aan te gaan om sy boek te publiseer. Of nie.

