Boekevat met Deborah: Aanstap Boere deur Max du Preez

  • 0

Boekomslag: Jonathan Ball-uitgewers

  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Aanstap Boere
Max du Preez
Jonathan Ball-uitgewers
SKU 9780624096863

........
Dis ’n verslag en ontleding wat selfs my, wat min niefiksie lees, enduit geboei het. Dank die hemel vir Max, uitsonderlike bobbejaan wat die Boere vererg, asook elke groepering en faksie en al wat leef en beef. Hy is my gunstelingwaarsêer.
.........

Laat ek my vlag aan die mas hang: Ek is ’n groot aanhanger van die kontroversiële korrelkop Max du Preez. In my lewe het ek al vir heelparty mense gewerk en oor min van hulle het ek ’n goeie woord te sê, helaas. Maar vir Max het ek net respek. Hy is ’n regvaardige man, sy hart op die regte plek. Hy is êrens op die spektrum, onbeholpe, totaal taktloos en sosiaal ongemaklik. ’n Rebel met ’n voorliefde vir revolusionêre figure. Maar cool en met ’n onteenseglike liefde vir sy land en al die mense van sy land. En met ’n onweerstaanbare skryfstyl.

Hierdie is nie soseer memoires nie as ’n terugblik op die afgelope vyf onstuimige dekades in ons stormagtige land en die mespunte waarop alles gedraai het en waarby Max dikwels teenwoordig was, soos Forrest Gump by groot oomblikke. Ek het die gebeure van ver af beleef, en dis fassinerend om dit te herbesoek met agtergrondkennis waaroor ons nie beskik het nie. Mites en propaganda word die nek ingeslaan, soos dat Tsafendas stapelgek was en bevele van ’n wurm ontvang het. Wie het geweet die demokrasie kon al 10 jaar vroeër aangebreek het as PW Botha, op die punt om ’n nuwe bedeling aan te kondig in die Rubikon-toespraak, nie insgeheims ’n beroerte gekry het nie? Die aar wat in sy kop gebars het, het hom strydlustig en defensief gemaak, grootpraterig en rigied. Hoe anders kon dit nie gewees het nie, sonder die terreur en diensplig van die tweede helfte van die tagtigs.

Dit gaan nie oor Max nie, al verneem ons kortliks waar en in watter huishouding hy gebore is en skoolgegaan het. Hy is teenwoordig soos die lens van die kamera, wat waarneem, vasvang en rapporteer.

So herbesoek ek die Inligtingskandaal, dié keer nie deur die rooskleurige bril van ’n nasionale pers nie. “Die mite dat die leiers van Afrikanernasionalisme eerlike, reguit en godsvresende mans was wat vertrou en blindweg gevolg moes word, is ernstig ondermyn in die oë van hulle eens getroue volgelinge. Hulle is ontbloot vir wat hulle was: opgeblase, selfbelangrike, moreel korrupte, onbevoegde, leuenagtige charlatans.”

Max was eers parlementêre verslaggewer en het dit gehaat. Hy het die opposisielede soos Van Zyl Slabbert, Helen Suzman en Alex Boraine interessant gevind, maar “John Vorster, sy kabinet en die Nasionale Party-lede was grys mannetjies, te oppervlakkig om te besef dat die meeste mense buite hulle party hulle kragdadigheid, etniese bravado en arrogansie nogal vulgêr gevind het.” Amen. En selfs sommige kinders wat binne die party grootgeword het. Dinge wat ek as (apolitiese) kind reeds vermoed het, word uitgespel, soos oor PW Botha: “Buiten wit partypolitieke straatgevegte, was Botha geen strateeg nie. Hy was ’n hanswors wat sy pa se ou Mauser sit en troetel het.”

Hulle het deur hulle tande gelieg oor die Suid-Afrikaanse weermag se teenwoordigheid in Angola en jong seuns as kanonvoer geoffer. Dié wat oorleef het, het geen sielkundige hulp ontvang nie. Hulle is aangesê om “groot te word”. ’n Mediese dokter wat by ’n militêre hospitaal in Oshakati gestasioneer was, het voor die WVK getuig dat sy seniors hom aangesê het dat ’n toestand soos posttraumatiese stresversteuring glad nie bestaan nie. Hierdie ongediagnoseerde en onbehandelde versteuring het gelei tot my twee broers, valskermsoldate, se selfvernietiging en dood voordat hulle 60 was. Soms wil ’n mens dit op papier sien: “Suid-Afrika se vyftien jaar lange militêre avonture in Angola, wat miljarde rande en baie honderde lewens gekos het en ’n generasie jong wit mans getraumatiseer het, was alles tevergeefs.” En onnodig.

Tussen die moreel korruptes en arrogantes is daar portrette van mense van integriteit, soos Dirk Mudge in die destydse Suidwes-Afrika wat vir Pik Botha stilgemaak en die deur gewys het. Soos Van Zyl Slabbert en Thomas Sankara, gewese president van Burkina Faso.

’n Mens word bewus van hoe lukraak alles is, hoedat dit in ’n alternatiewe wêreld maklik anders kon uitgespeel het. Die ANC het saam met die Sowjetunie in die bed geklim omdat laasgenoemde die enigste borg was wat die organisasie militêr wou ondersteun. As dit nie gebeur het nie, sou die internasionale antiapartheidsbeweging ’n belangriker demokratiese invloed op die party gewees het. Tot vandag toe predik vetkat tenderpreneurs “revolusie”: “Daar is iets obseens aan korpulente mans in ontwerpersklere, met Rolex’e op die arm en opgepimpte Mercedes G-Wagons of Lamborghini’s, wat mekaar ‘kameraad’ noem.” Vintage Du Preez – hy maak almal kwaad, oor die hele spektrum, deur die spyker op die kop te slaan. Sy kredo is dan ook: “Calviniste, selfs nie-godsdienstiges soos ek, is nie veronderstel om gemak, loopbaanbevordering, rykdom of gewildheid in jou eie kring te soek nie.” En: “Wel, ek het gekry waarvoor ek help veg het, so hoe kan ek nou weghardloop? Hoe eervol sou dít wees?”

Dakar word herbesoek, van binne af. Hoe die afgevaardigdes as mense saamgedink en -gedrink het. Van die aantygings deur die jare teen Max, soos deur Chris Louw (Boetman), dat Max breinskade opgedoen het in ’n vliegtuigongeluk waar hy later hospitaal toe gevlieg is met sy kop op Martti Ahtisaari se skoot. Toe sy ouer suster om kommentaar gevra is, het sy gesê: “Nee, hy was nog altyd só, lank voor die vliegongeluk.”

Daar is ’n lekker nostalgiese terugkyk op die eerste inkarnasie van Vrye Weekblad, wat swere soos die Vlakplaas-moordeenheid oopgesteek het. Soos Max self het die koerant alle kante kwaadgemaak: “Die ANC het gedink Vrye Weekblad was die beste ding ooit – totdat ons kritiese berigte oor die menseregteskendings in sy kampe in Angola en die rol van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party geplaas het.” En onthullings oor Winnie Mandela. Die Lothar-Neethling-saak het hulle gekelder en Max finansieël uitgeroei, soos die laaste herlewing van die koerant, waarvan ek deel was. Toe die blad se onverskrokke uitgesprokendheid laasjaar vir borge ’n verleentheid word, het Max (dit vertel hy nie) sy eie neseier gebruik om dit staande te hou en selfs salarisse te betaal, tot die mate dat hy onlangs sy en sy gesin se droomhuis in Simonstad moes verkoop. Hy wys geen vingers nie.

Adriaan Vlok, wat “medaljes op die borse van die slagters van Vlakplaas vasgespeld het asof hulle nasionale helde was”, het later ook Max se voete kom was, maar was nie bereid om te praat oor die verskriklike dinge wat hy hom aangedoen het nie.

Afrisol word ook bygekom en as oneerlik ontmasker. Hulle het sanksies bepleit, en toe hulle nie die gevolge daarvan kon vermy nie, het hulle hul hande in onskuld gewas. En: “Dit pas nie Afrisol se agenda dat Afrikaners goed in Suid-Afrika vaar nie.”

Spoiler alert: Só eindig dit:

’n Boer maak ’n plan. Dit moet net ’n plan vir ons almal hier aan die suidpunt wees, nie weer eenkant-plannetjies nie. Ons voorsate het dit probeer en dit het sleg uitgewerk. Ons lot is met die van ons landgenote verweef. Hulle tale en kulture verryk ons lewens. Ons vaar saam of sink saam. Aanstap Boere.

Dis ’n verslag en ontleding wat selfs my, wat min niefiksie lees, enduit geboei het. Dank die hemel vir Max, uitsonderlike bobbejaan wat die Boere vererg, asook elke groepering en faksie en al wat leef en beef. Hy is my gunstelingwaarsêer.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Seuns weet deur Frederick Botha en Grensloos deur Wilna Adriaanse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top