Titel: Boei
Skrywer: Jean Meiring
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485316220
Watter soort leser sal ’n bundel resensies aanskaf? Lesers wat graag kla oor die gehalte van resensies in Afrikaans behoort hierdie een beslis te koop. Jean Meiring is die koning van ingeligte kritiek en sy bundel is ’n meesterklas in resensieskryf. Hy was al meermale Resensent van die Jaar, hoewel hy die afgelope jare min resensies skryf weens tyddruk.
Op universiteit het ons in dramakunde die bekende Britse resensent Kenneth Tynan se gebundelde teaterresensies bestudeer, en dit was tegelyk ’n tydsdokument – sir Laurence Olivier of Maggie Smith in dié en daardie rol – en leersame, vermaaklike leesstof, vanweë sy vermoë om ’n oomblik, ’n gevoel, ’n gewaarwording so raak en treffend te verwoord dat ’n mens hardop lag en jouself op die bobeen klap.
Ek lees op die agterflap van hierdie bundel dat Jean Meiring op Oxford reeds die Kenneth Tynan-prys vir resensies ontvang het. Hy is ’n praktiserende advokaat by die Johannesburgse balie en Afrikaanse letterkunde kan dankbaar wees om sy belese, analitiese kop met die regswese te deel. En sy woordvaardigheid, soos Tynan. Sy skerp oog.
In die voorwoord verduidelik Kerneels Breytenbach, nog een van ons gerekende resensente: “In die geledere van Afrikaanse boekresensente is hy ’n onbetwiste reus; sy besprekings merkwaardig nie alleen danksy hul peil nie, maar veral omdat hy intellektueel ernstig is, maar nie pedanties nie, moreel sensitief, maar nie moralisties nie, en sy uitsprake grond in die oortuiging dat boeke saak maak.”
Die skryf van elke en enige resensie bied ’n reuse uitdaging. Hoe pak ek dit aan? Hoe begin ek, wat laat ek weg? Hoe beteuel ek my wanneer die boek my teleurstel, om nie tewerig en bitter te raak nie, kwetsend en met ’n pen gedoop in gif? Hoeveel van die storielyn mag ek verklap? Hoeveel toegewings moet ek maak vir debuutskrywers? Daar bestaan nie ’n resep nie en dit berus alles op aanvoeling. Soms is swyg veelseggender as die uitspreek van kritiek, soos die titel van Tynan se een bundel, The sound of one hand clapping, suggereer.
Ek het by die Woordfees vir Meiring gevra hoe hy ’n resensie aanpak en hy het bevestig dat daar geen templaat is nie (die slim woord wat hy gebruik het, was natuurlik sjabloon). Hy maak notas terwyl hy lees en ja, hy lees die boeke waaroor hy skryf meer as een keer. Dan begin hy eenvoudig met wat hom die sterkste opgeval het.
Wat my veral beïndruk het van hierdie resensiebundel – resensies wat die afgelope 20 jaar in die media verskyn het – is die manier waarop hy genre in ag neem en nie appels met pere vergelyk of bloed uit klippe probeer tap nie. Sy aanslag is dikwels lig, speels sonder om uit die hoogte te wees. So skryf hy met ewe veel gesag en respek oor Elsa Joubert, Etienne van Heerden, Steve Hofmeyr en Deon Meiring. Hy is ’n onbeskaamde aanhanger van Hofmeyr se grinterige misdaadfiksie! Sy uitspraak oor een van Hofmeyr se krimi’s: “Die onaantasbares is ’n blinkgeoliede bliksemstraal van ’n spanningsverhaal wat by die bestes van weleer en vandag kan kers vashou – wat ’n mens verrassend nuut na Afrikaans en al die moontlikhede daarvan laat kyk.”
Die bundel bied ’n oorsig oor die belangrike fiksie en niefiksie wat oor die afgelope twee dekades uitgegee is. Twintig jaar gelede het daar verskeie ingeligte resensies oor elke nuwe publikasie verskyn, maar met die val van koerante het die landskap verskraal. Lesers is ook vandag minder bereid om ’n volbladresensie te lees en wil glo nie graag dom of oningelig voel nie. Meiring se resensies is vir die fynproewer en die leergierige bedoel.
Van waar die titel? Toe hy soveel van sy resensies op een slag lees, het hy besef dat hy ’n “darling” het – die woord boei of boeiend om ’n boek te beskryf. Die titel is dus selfironiserend. Hy het nog ’n paar lieflinge, soos “metterwoon” en “oopknakbaar”. Maar sy woordvaardigheid verstom en verruk. So het ek, soos ’n sekere resensent, gereken ek het ’n spelfout raakgesien: “Nyg” in plaas van “neig”. Maar nou weet ek hoe perfeksionisties Meiring is en hoe uitstaande Protea se redakteurs en proeflesers is en daarom het ek dit nageslaan: Sowaar, nyg beteken ’n kopknik.
Meiring raak nooit emosioneel of beledigend nie. Eers noem hy die positiewe aspekte van ’n sekere boek op, “boeiende etiese en ander kwessies onder die loep”, navorsing. ens. Dan lê hy die karwats in: “Maar lesers wat op samehang, konsekwentheid en welluidende Afrikaans gesteld is, sal op bladsy 1 al die rooi pen opneem. Die boek se gebreke is volop én baiekantig.” En oor ’n ander boek: “Wat dié resensent egter veral die bliksem in maak, is dat die boek met ’n paar klappe van die uitgewersweep soveel beter kon gewees het.”
Daar is resensies oor romans, brieweboeke, biografieë en geskiedskrywing, ook resensies van Engelse romans en niefiksie, in Afrikaans natuurlik. Wat opval, is Meiring se belesenheid en fenomenale geheue. In sy resensies wys hy mense wat jare lank navorsing gedoen het oor ’n bepaalde onderwerp, op feitefoute.
Daar is soms ’n baldadige speelsheid aan sy resensies, ’n vrolike verbositeit. Soos: “Ná jare se swyg kletter en rammel Riana Scheepers se stem skielik weer ’n woordryke storm los. Met die sprokiesroman Stormkind strek sy haarself soos ’n wafferse Rip van Winkel op ’n digte suringbed op ’n Bolandse wynplaas wakker – om ’n dikwels onpeilbare storie uit onsigbare slierte rooi te spin.”
Oor Carié Maas se roman Die miskruier en die maan sê Meiring: “Afrikaans het immers ’n tekort aan boeke met ’n tematies ligter, eleganter aanslag wat slim en woordvaardig glim. Soos die maan vir die miskruier.” Soos Meiring vir lesers van resensies.
Soos sy outeur maak Boei aanspraak op aandagtige lees in ’n tyd van vervlakking, aandaggebrek en ’n oordaad stimuli. Dit kan van Protea Boekehuis gesê word dat hulle dikwels boeke publiseer bloot omdat hulle verdien om uitgegee te word. Boei wys weer dat die skryf van resensies, as dit reg gedoen word, op sigself kuns is. Hierdie resensiebundel is boeiend en oopknakbaar en laat die leser weer besef dat boeke saak maak.
Lees ook:
Kruger se goud deur John Buchan (vertaal deur Marietjie Delport): Veldponde en klatergoud
The blood’s quest for silver: a book review on Blood and silver by Jan Glazewski

