Pieter Marais se dunnerige debuutroman Konkel is verlede jaar met die Jan Rabie-Rapport-prys bekroon. Onder links op die mooi voorplat van Hanli Deysel leun EL, die klein kroegeienaar, windmakerig teen ’n muur aan. Agter hom glip die son verby die einder weg – ’n maraschinokersie uit een van die drankies op sy drankkaart, tussen die punte van twee tandestokkies met assegaaikontoere.
Gou begin die leser sommige van dié legkaartstukke bymekaar sit. In die eerste van die baie kort aflewerinkies in drie dele waaruit die verhaal aaneengesit is, maak mens met Maat Niekerk kennis, wat in sy blou Mustang padlangs die kusdorpie Joegaai binne-“kronkel” (7) en sommer so, sonder aansiens des prys, ’n huis met ’n helder uitkyk aanskaf. En dit – ahem – deur bemiddeling van Soekie Plott, ’n agent vir die verkopers van onroerende bates.
...........
Uit die staanspoor weet die leser dus dat ook name hier betekenisvolle leidrade is. Dat hulle by die skrywer se opdrag aansluit, wat breedweg satiries is, sy stem sardonies. Dat daar hier volop van ’n spel sprake is.
............

Behendig gee die verteller in die eerste episode heelwat oor die nuwe intrekker, Maat, se lewe te kenne. Daar’s Anneke, sy eksvrou, wat nou in Sydney is, maar wat nog intiem deel van sy lewe is: Vroeg kry sy ’n WhatsApp-kiekie van die son wat kleurryk sy nuwe tuisdorp ontglip. Dan’s daar hul seun, Markus, wat, so wonder hy nou, dalk die lym was wat “hulle bymekaar gehou het” (8). Uit die meer onlangse verlede onthou hy vir Jenny, wat hy gevat-en-sit het.
Presies hoekom Maat juis nou hier aangesuiker gekom het, weet mens vir eers nie.
In die tweede kort flits gooi die verhaal ’n wye es. In die Kalahari is die son eweneens aan ’t sak. Die leser maak met ene Assegaai kennis. Ons ontmoet hom kort voor hy die tyding kry dat die duistere gewer-van-opdragte weer sy dienste benodig, om êrens in die suide van ’n “oorlas” ontslae te raak (12). Gou kom Assegaai – alias Gunther Bosch, alias Hannes Lubbe – én die leser te wete dat die bestemming van dié digtende oudrecce Joegaai is, van alle plekke.
Dís ’n dorp, besef die leser, wat uit ’n koor eksentrieke karakters bestaan. Net in die bodorp is daar die skoonste dokter Laetitia Snoek, met ’n kultiese vrouegevolg. Ook die amateurgholfspelers danige Danie en Gert en Jaap. Daar’s Lena en Branson, wat in die watergat EL’s handjie bysit; die regsekretaresse Jurida de Wet en bibtannie Bibi; en Betta van die Buurdorp. En dis maar net die falsetto’s!
..........

Aan die rand van die bodorp is daar San en haar vier vrouelakeie wat na die munisipaliteit se spogtuin omsien. Deur haar inheemsheid beskik sy oor ’n vorm van heldersiendheid. Sy sien voor haar geestesoog ’n assegaai lank voor sy verpersoonliking tussen die lankstaankaravane aankom, wat onder die septer van haar man Anneries staan.
En dan is daar die hupse Adam en Eva in ’n wipwaentjie van ’n Kia Picanto.
Dis uit die naasmekaarsit van die twee teenpole Maat en Assegaai (is hulle dit ooit?), teen die agtergrond van dié rare rolverdeling, dat die sentrale spanningslyn in die roman ontspring. Soos Maat in sy nuwe tuiste – die kasteel op die kruin by nommer 42 – met ’n aanvanklik versweë doel wortel skiet, sirkel die geskuilnaamde Assegaai – vanuit ’n karavaan neffens die brekende branders – in al kleiner wordende kringe rondom hom.
Daar’s heelwat sjarme wat dié storie omgeef. Vir ’n laterige debutant het Marais die selfvertroue om met soms oop en soms meer verskuilde literêre verwysings dit, dat en allerlei in sy verteller se kielsog saam te sleep. Om ’n moeilike stemtoon goed te bemeester, en om ’n koherente geheel uit baie onderdele te bou.
Ook is Marais se waarnemings dikwels fyn, en sy prosa mooi of gevat. Ek sien nou nog hoe Soekie haar rok se lae halslyn “aan weerskante met beide hande” vasvat en “dit saam met haar borste” optrek (18). (Mens wens egter iemand het Marais teen sy taalhebbelikheid beskerm om die stilisties lomp “soos wat” te gebruik waar “soos” of “terwyl” sou gedeug het.)

...............
Tog, vrees ek, het die eindproduk my nie volledig oortuig nie.
Die intrige is nie sterk en geolie genoeg nie. Dis eers diep die boek in dat ’n mens agter die kap van Maat se byl kom, dat jy besef die lys ideale wat hy skooldogteragtig op aanplakvelle uitskryf en nastreef en die vyfuursaamkomgroepie deel van iets groters is. Met die herlees besef mens daar is vroeër in die boek wel suggesties hiervan. Wat my betref, is hulle egter so vaag en dun gesaai dat hulle aan trefkrag ontbreek, en die verhaal daarom aan die beloofde spanning inboet.
Daar is ook te veel karakters wat te buitelynig geteken is; wat soms net enkele kere verskyn. Eksentrieke name en gewoontes is goed en wel, behalwe wanneer hulle byna al is wat mens van ’n karakter te lere kry. Selfs met die herlees moes ek soms terugblaai om te onthou waar ’n sekere karakter inpas.
Ook het ek stukke van die humor redelik saai gevind, veral die lengte- en hoogte-moppe wat soos klokwerk uit EL, die erkende dorpshanswors, stroom – wat die verteller boonop dikwels as grappies sinjaleer.
Op drie of so geleenthede het ek die woord “konkel” in die teks bespeur en hul gebruik en konteks fyn bekyk. Dáár sou ek immers die sleutel vind wat Marais se satiriese oogmerk ontsluit. Maar ek het die boek se slot bereik sonder om ooit te ontdek waar die snykant van die satiriese assegaai is. Só ’n werpding het ’n skyf nodig, ’n skyf wat tipies mag oor ander uitoefen, en waarmee daarom dwingend die draak gesteek moet word.
Die mannebraai wat onverwags bachannaals afloop en die boek se beheptheid met verdoeselde lesbianisme laat my nou nog kopkrap.
...........
Tog, voorbehoude ten spyt, hoop ek Konkel se baie sonsondergange is nie ’n bedekte teken nie. Ek hoop dat Marais reeds ’n tweede boek aan ’t skrywe is.
............
Tog, voorbehoude ten spyt, hoop ek Konkel se baie sonsondergange is nie ’n bedekte teken nie. Ek hoop dat Marais reeds ’n tweede boek aan ’t skrywe is.
Maar dat hy die waagmoed het om dán, in die naderende donker, meer bloed en derms te giet.
Lees ook: