Wenner: Pieter Marais vir Konkel (Protea Boekhuis)
Commendatio: Francois Smith
Dit is nogal seldsaam dat ’n wildvreemde nuweling op die literêre toneel met soveel beheer en trefsekerheid skryf. Wie is dié Pieter Marais? Wie skryf sy debuut met so ’n vaste greep op komplekse verteltegnieke dat die storie veerlig voel, asof dit geheel en al moeiteloos geskryf is? En die oneerbiedigheid! Nee, die chutzpah! As jy dit waag om Deon Meyer en Douglas Adams te parodieer – eintlik die ganse speurverhaalgenre – dan moet jy nogal literêre albasters hê. Maar om dit so snaaks te doen, met so ’n goeie oor vir die segswyses en gemeenplase van gegoede Afrikaanse dorpenaars ... Dit is tog ’n wenner!
Hoewel byna niks in hierdie boek ernstig opgeneem kan word nie, is dit een vir die fynproewer, veral vir die liefhebber van burleske humor. Stel jou ’n verhaal voor wat afspeel op ’n kusdorp met die naam Joegaai, met ’n hoofkarakter wat hom as Maat Niekerk bekend stel (en dan telkens moet verduidelik dat hy nie Van Niekerk is nie). Dan is hierdie mater boonop ’n bedryfsielkundige en gewese staandemaglid, en werk (konkel!) hy vir ’n geheime organisasie met die naam NEST (New Earth Settlement Territories), en is hy ligweg geamuseerd deur die kronkels en draaie wat mense op ’n groot kusdorp gooi. Hy hou sy binneste warm deur gesprekke met sy troeteldiere, Honne en Katsel, en as die nood hoog is, internet dating. Dit doen hy salig onbewus daarvan dat daar nog ’n man op die dorp aangekom het, een wie se bynaam nie verniet Assegaai is nie. ’n Moordmasjien. Indien dit te ernstig klink – hy is ’n moordmasjien wat dig. Sý verhaal word van begin tot einde – en jy ys lank voor die einde oor dáárdie einde – behendig vervleg met dié van Maat en sy omgang met dorpenaars soos die veearts dokter Schaap en die algemene praktisyn dokter Goedhart, die prokureur-sekretaresse Jurida de Wet en die burgemeester Vrede Volmoed. Almal tipes, almal so skerp geteken; selfs die heldersiende kruievrou en die beeldskone lesbiese dokter. Hoe kan ’n mens nou ’n Suid-Afrikaanse roman daarsonder skryf? En dit word lakoniek lighartig aangebied, so lig dat jy die swetterjoel toespelings, die satiriese kaphoutjies, die woordspelings en ironie met hoek, sinker en rooiaas sluk. Selfs die weeïge kroeggesprekke met ’n vertikaal gestremde kroegman met die naam EL de Lange is nogal ... ja, aandoenlik.
Een van die sjarmantste aspekte van die roman is die hantering van die hoofkarakter se beperkte perspektief. Jy weet meestal meer as die goedige ou Maat Niekerk. Dis deels hoekom jy jou so verkneukel aan sy ingehoue oorbluftheid by ’n kuiergeleentheid vir mans wat net as Die Samekoms bekend staan, en waarom jou hart pyn vir hom en die vrou van die buurdorp wat gedink het geleentheidseks is ’n bolwerk teen die eensaamheid. En jy sien die einde lankal kom en hou asem op. Maar meestal hou jy asem op dat die pret met hierdie doodgewoon eksentrieke spul tog nie verby moet gaan nie.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024.