Blou is nie ’n kleur nie : ’n leeskring se bespreking

  • 2

 

Blou is nie 'n kleur nie deur Carin Krahtz was die onderwerp van ’n LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel deur Elize Vos en Ronel van Oort (https://www.litnet.co.za/n-selfgerigte-leesproses-traumabelewing-en-verwerking-in-die-jeugroman-blou-is-nie-n-kleur-nie-deur-carin-krahtz) waarin daar onder meer ’n baie goeie ontleding en verwysing na resensies en gesprekke met die skrywer voorkom.

Estelle Kruger het besluit om Krahtz se boek by die leeskring in Sedgefield waarvan sy ’n lid is, te behandel en het ’n interessante benadering daarvoor gebruik. Sy vertel hier hoe sy te werk gegaan het.

Ek deel graag met LitNet-lesers wat ek Vrydag met ons plaaslike leeskring hier in Sedgefield gedoen het in my aanbieding van Blou is nie 'n kleur nie – ’n jeugroman wat Sanlam en die MER-toekenning se goue pryse ontvang het.

Na aanleiding van Elize Vos en Ronel van Oort van NWU se artikel oor die boek einde Oktober verlede jaar het ek baie inligting op die punte van my vingers gehad.

Omdat ek nie 'n spreker of ’n letterkundige is nie, maar 'n groepsfasiliteerder, het ek die gesprek op die volgende manier gestruktureer:

My inleiding was dat omdat dit 'n omstrede boek is, die ATKV besluit het om die boek vir 'n ATKV-Veertjie te oorweeg. Die ATKV wou egter nie beoordelaars se mening kry nie (dit was daar klaar met die Sanlam- en MER-beoordelings), maar eerder die menings en reaksies van leeskringe in Suid-Afrika.

Ek het die dames (ons was 10) vir die doel van die bespreking in drie groepe ingedeel volgens hulle keuse:

  • Ja, die boek moet voorgeskryf word vir gr 10–12.
  • Nee, die boek moet nie voorgeskryf word nie.
  • Onseker of dit voorgeskryf moet word of nie.

Het ek pret gehad om hulle so interaktief te laat deelneem! 'n Klassieke debatsvorm of skynhof...

Sodra hulle 'n mening gelug het, moes hulle skyfies (rooi vir nee en wit vir ja) in blikkies gooi sodat die “onseker” groep uiteindelik die laaste sê hiermee kon sê.

Ook het ek vir hulle 'n responsvraelys gegee, en die lys van kriteria (wat ek kwansuis gebruik het toe ek ‘n beoordelaar vir die MER-prys was), waarvolgens hulle kon besluit na aanleiding van die literêre waarde en hul response.

Die was 'n heerlike oggend, met baie energie – selfs intensiteit.

Uiteindelik het ek vir hulle gesê dat dit net 'n verbeeldingspeletjie was en ons nie regtig vir die ATKV ons reaksies gaan stuur nie.

Wat 'n gelag het dit nie uitgelok nie, wat sommer dadelik die spanning (en gevoel van openbare verantwoordelikheid) verbreek het!

Volg hierdie skakels vir nog artikels oor die boek:

Blou is nie ’n kleur nie deur Carin Krahtz: ’n resensie

MER-prys vir jeugromans 2018: Wenner- en kortlysmotiverings

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Francois Verster

    Estelle, as jy betrokke is, is daar altyd goed beplande struktuur, humor en 'n lekker leerervaring. Sedgefield se mense het 'n groot aanwins gekry toe jy soontoe is. Alles van die beste in die mooi Suid-Kaap.

  • Dankie, Estelle Kruger, dat jy dapper genoeg was om Blou in jou leeskring te bespreek. Drie hoera's dat jy dit met 'n goeie tikkie humor gedoen het!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top