Karen de Wet se studies in die Afrikaanse poësie begin met ’n meestersgraad oor die ars poëtikale in Joan Hambidge se oeuvre (1992) en ’n doktorale studie oor literêre sisteme, spilfigure en die literêre gesprek: “Eiendoms Onbeperk: Die onvoltooide groot gesprek met D.J. Opperman” (1995). Sy gee klas in die Afrikaanse poësie aan die universiteite van Noordwes, Pretoria en Johannesburg en ook vir ’n semester as gasdosent aan die KUL (Katholieke Universiteit Leuven). Sy is die skrywer van die hoofstuk oor Afrikaanse kinder- en jeugpoësie in die kinderliteratuurgeskiedenis Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom (2005) en was die voorsitter van die literêre advieskomitee, en ook lid van die finale redaksie, vir die direkte vertaling van die derde Afrikaanse Kerkbybel: Die Bybel 2020. Sedert 2013 is sy voorsitter van die UJ-pryse vir Afrikaans.
Sedert 2020 verskyn drie bloemlesings waarvan sy die samesteller is: Vers en vrou (2020) ’n tematiese versameling gedigte oor vroue deur vrouedigters - van Eybers tot Kamfer; ’n Vry vrou: gedigte van Antjie Krog (2020) met ’n keuse uit 50 jaar van Antjie Krog se poësie-oeuvre; en Atrium (2025) ’n keuse uit die oeuvre van Marlise Joubert. Vir die SAAWK se huldigingsreeks vir Hertzogpryswenners is De Wet die redakteur van Die skerpgevylde oomblik (2022) die boek oor Petra Müller, en van Oktober 2023 tot April 2025 is sy die reeksredakteur vir drie verdere volumes, Ina Rousseau: digter van die kwiksilwerwoord (redakteur: Daniel Hugo), Antjie Krog: ’n ondersoekte lewe (red. Louise Viljoen) en Wilma Stockenström: met my wysvingertop (redakteur: Ronel Foster).