Bibi Burger is ’n dosent by die Universiteit van Kaapstad se Skool vir Tale en Letterkundes en ’n Iso Lomso-navorsingsgenoot van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing. Sy voltooi in 2016 haar PhD-proefskrif onder die leiding van Louise Viljoen aan die Universiteit Stellenbosch. Haar doktorale projek het gefokus op die uitbeelding van die stad in Afrikaanse en Engelse romans. Haar navorsing fokus steeds veral op die uitbeelding van ruimte in die Afrikaanse literatuur, met ’n spesifieke klem op hoe dit verband hou met gender, ras en die niemenslike natuur. Sy is deel van die redaksionele spanne van Tydskrif vir Letterkunde en Matatu, en bestuur saam met Azille Coetzee die feministiese projek Turksvy.