Fyn porselein – te min krake

  • 2

Titel: Fyn porselein
Skrywer:
Helena Hugo
Uitgewer:
LAPA Uitgewers
ISBN:
9780799355130

Klik hier om Fyn porselein te koop by Kalahari.com.

Fyn porselein deur Helena Hugo bevat baie gedetailleerde beskrywings van vroulike rituele. Tee-rituele, meestal – die lees van teeblare, en Maria van Riebeeck-klub-teepartytjies – maar ook diëte, klere en parfuum, resepte. Die drink van tee, en versameling van teestelle, is in die roman simbolies vir die verskillende maniere waarop vroue hulle lewens en verhoudings inrig, terwyl hulle tog uiteindelik nie kan ontsnap van die dood nie en hulle liggame uiteindelik soos porselein kan en sal breek.

Fyn porselein gaan oor die lewe van drie generasies vroue: Hanna, wat op 92 in die versorgingseenheid van ’n aftreeoord op sterwe staan, haar oorgewig dogter An, en dié se dogter Mariëtte. Al drie vroue verwyt mekaar om verskeie redes, maar almal steek ook goed vir mekaar weg. Naby die einde van die roman onthou An iets wat haar ma se tweede man, ’n historikus, vir haar gesê het: “Jy kan boeke lees en argiewe omdolwe, jy kan met mense praat en hulle uitvra, jy kan briewe en kaste omkeer. Jy kan hoe ver in die verlede terugdelf en hoeveel kruisverwysings maak, daar is altyd die onverklaarbare, die dubbelsinnige wat jy nie kan ken of verklaar nie.”

Die woorde verwys na die feit dat die karakters mekaar nooit heeltemal sal ken of verstaan nie, maar miskien moes Hugo dit self meer in gedagte gehou het in die skryf van die roman. Die verskillende hoofstukke van Fyn porselein het elk een van die drie hoofkarakters as fokalisator, en in elke hoofstuk word die hede beskryf waarin daar gewag word op Hanna se dood, maar dink die karakter ook terug op die verlede. Die manier waarop die herinneringe geïnkorporeer word, is egter nie heeltemal oortuigend nie.

Dit is seker te verwagte dat ’n bejaarde vrou wat aan demensie ly, deur die dag in dagdrome sal verval en aan die slaap sal raak en oor die verlede sal droom, maar die manier waarop die ander karakters se herinneringe geïnkorporeer word, laat mens dink aan ou TV-programme waarop karakters ’n wasige uitdrukking op die gesig kry en die skerm ook wasig word om aan te dui dat die kyker nou ’n terugflits gaan sien. Dan is die herinneringe en gedagtes ook chronologies en logies en word daar te alle tye seker gemaak dat die leser verstaan wat aangaan. In my ervaring is dit nie hoe die mens se bewussyn werk nie. Aan die einde is daar niks wat nie vir die leser uitgespel word nie – en dit is tog teenstrydig met die historikus-stiefpa se uitspraak, wat ook op die agterblad van Fyn porselein aangehaal word.

Fyn porselein is indrukwekkend omdat al die verskillende karakters – oud, jonk, middelklas en ryk, Gautengers en Kapenaars – se lewens oortuigend uitgebeeld word. Die uitbeelding van die verhouding tussen Mariëtte en haar kêrel Laurie is al wat nie heeltemal klop nie: in die werklike lewe is daar definitief verhoudings waarin die vrou die man finansieel ondersteun en hy die fisies mooi en seksueel begeerbare een is, maar dit is net te duidelik wat Hugo hier probeer sê (die aard van verhoudings verander, maar vroue stres nog oor soortgelyke goed) en sy kon dit meer subtiel gedoen het.

Die teks is duidelik goed versorg en versigtig afgerond. Helena Hugo is ’n bekroonde skrywer en regisseur van radiodramas, en dit wys – Fyn porselein sou ’n goeie episodiese radio- of televisiereeks kon maak, media waarin die verhaallyn redelik eenvoudig en sterk moet wees. Die fokus op die visuele, op styl en modes en omgewings herinner aan iets soos die TV-reeks Fees van die ongenooides. As roman is Fyn porselein egter té netjies afgerond. Aanvanklik is die beskrywings van rituele mooi en vermaaklik, maar daar is net te veel van hulle en die (baie) fetisjagtige beskrywings van teestelle en eetgoedtafels begin geforseerd lyk.

Daar is twee uitsonderings op die hede/herinneringe-struktuur van die hoofstukke: twee drome, een van Mariëtte en een van Hanna. Miskien sou meer drome (of meer verwysings na vreemder vroulike rituele – soos die lees van teeblare) gehelp het om die irrasionele en onverklaarbare elemente van die mens se lewe en denke in die roman in te bring. Miskien sê dit meer oor my smaak in literatuur as oor die boek self. Vir wat dit is, is Fyn porselein ’n kwaliteit-boek – aan te beveel vir mense wat hou van Die uurwerk kantel en soortgelyke boeke oor vroue se lewens, en mense wat soek na ’n paar ure se moeitelose vermaak.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top