Verstevlei – byna soos ’n droom

  • 0

Titel: Verstevlei
Skrywer: Jaco Fouché
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798157797

 

 

Koop Verstevlei by Kalahari.com.

 

 

Enigiemand wat al ’n boek deur Jaco Fouché gelees het, ken al sy hoofkarakters – “karakters wat weerloos is, maar tog bereid is om moeilike dinge aan te pak,” soos hulle beskryf word in Willem de Vries se onderhoud met Fouché. Hierdie karakters herinner aan dié van Anita Brookner, ’n Britse skrywer wat net so onderskat word soos Fouché. (Sy werk wen literêre pryse, maar bly steeds op die kantlyne van die kanon. Dit word byvoorbeeld nie vertaal nie en die titel van Jaco Botha se resensie van Verstevlei is “Nie vernuwend, maar plesierig”.) Beide Fouché en Brookner se protagoniste is altyd eensame persone vol twyfels en spyt, buitestanders en waarnemers.

Soos Fouché se ander hoofkarakters het ook Renier Proot ’n onsekere en skeptiese siening van manlikheid. Dit is asof dit ’n raaisel is wat hy net nie kan uitwerk nie, iets waaraan hy altyd net te kort skiet. Reeds op bladsy 11 noem hy byvoorbeeld dat hy die naam van sy suster, Michelle, gebruik as vae liefdesbelangstelling wanneer hy voel sy heteroseksualiteit word bevraagteken. Die verwagting van ’n ander karakter, Lena, dat ’n man haar moet versorg en beskerm, word sonder kommentaar weergegee, maar dit blyk dat Renier verward is oor hoe hy aan hierdie vereistes moet voldoen.

Renier se onsekerheid oor manlikheid is emblematies van sy ervaring van die samelewing en van sy eie identiteit in die algemeen. Hy is ’n middeljarige man op soek na ’n familie (die roman begin met herinneringe aan sy kinderjare en ander karakters word as vaderlike figure beskryf) en na ’n plek in Suid-Afrika. Die roman se effens melodramatiese subtitel, “Een lewe, twee bestemmings”, dui op hierdie soektog(te) en die manier waarop die roman daarrondom gestruktureer is: in afwisselende hoofstukke word twee verhale oor Renier teenoor mekaar gestel.

In die eerste verhaal verlaat hy sy tuisdorp Vereeniging ná die dood van ’n vriendin, die voormalige alkoholis Pamela, ’n “bejaarde vrou wat na sigaretrook en motballetjies ruik en vir almal kans sien”. Hy gaan na die plaas Verstevlei naby Wellington om vir haar familie te werk, as assistent en oppasser vir haar bejaarde neef.

In die tweede verhaal woon hy in ’n (klaarblyklik psigiatriese) tehuis, Huis Genade. Daar word geïmpliseer dat hy nie ’n permanente inwoner is nie, maar slegs daar is om sy skisofreniese suster, die reeds genoemde Michelle, te ondersteun. Sy posisie daar word egter nie eksplisiet uitgespel nie en is ambivalent, veral aangesien Michelle klaarblyklik met vakansie is en nie tans in die tehuis nie. Hy besluit om self met ’n tipe vakansie te gaan. Hy koop ’n kamera by ’n inwoner en woon, na aanleiding van opmerkings deur ’n vriend van hom, ’n weerbaarheidsnaweek by om ’n dokumentêr te maak oor die verregse groep wat dit aanbied.

In Vereeniging tussen sy “vriende” en in Huis Genade is Renier ’n buitestander, iemand oor wie die ander karakters bespiegel, omdat hulle hom nie verstaan nie. Dit is egter ook die geval by die (prototipies tradisionele Afrikaner-) groepe waarna hy reis. Verstevlei is ’n ou Bolandse plaas, en die Andrais-familie aan wie dit behoort, is afstammelinge van Franse Hugenote. Renier vra aan Lena Andrais (die jongste dogter van die gesin) of boere die adel van die land is, soos wat dit genoem word in “’n boek” (dit is moontlik ’n verwysing na Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux, waarin ’n onsekere karakter ook na ’n Bolandse plaas gaan en probeer aansluit by die familie wat dit besit en alles waarvoor hulle staan).1 Lena sê nee, hulle was nog nooit nie. Daar is ook ander maniere waarop Renier ontnugter word ten opsigte van sy idees oor “Die Plaas” en “Die Boer” en alles waarvoor dit staan. Hy is byvoorbeeld ambivalent oor die plaaswerkers, “die volk” op Verstevlei, en dit kom voor asof hy nie werklik Bill Andrais (die siek patriarg vir wie hy sorg) se gemoedelike siening van hulle onironies kan opneem nie. Hy bly ook ’n buitestander as gevolg van die klasverskil tussen hom en die Andrais-familie: hy beskou homself as middelklas, maar noem dat hy in die armste buurte van Bronkhorstspruit grootgeword het; en al is hy in sy veertigs, het hy nog nooit regtig ’n loopbaan gehad nie.

Hy handhaaf ook ’n ironiese afstand tussen hom en die verregse groep, veral as gevolg van die kamera tussen hom en hulle. Sy posisie word gesimboliseer deur die T-hemp wat hy dra: dit het ’n oranje-blanje-blou-landsvlag op – sy halfhartige poging om in te pas – maar met die “geheime” boodskap (in verwronge en onderstebo skrif) bo dit: “Advice to all Dutchmen. Go screw an aardvark.” Die “troepe” aanvaar hom ook nie – hulle dink om een of ander rede dat hy ’n Engelsman is.

Agter op die boek is ’n aanhaling van Louise Viljoen wat meld dat dit “verras met ’n onkonvensionele aanpak van bekende temas in die Afrikaanse literatuur”. Dieselfde is waar van die wenboek van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd van 2012 (waarin Verstevlei die derde plek behaal het), Ingrid Winterbach se Die aanspraak van lewende wesens. Daardie roman het ook ’n reismotief en ironiserende blik en beide die plaas- en regse militaristiese ruimtes, sowel as enigmatiese en satiriese karakters figureer ook daarin. Daar kan bespiegel word of hierdie ooreenkomste iets sê oor die beoordeelaars van die wedstryd se smaak en belangstellings, of oor die stand van Afrikaanse literatuur en moontlik die dinge waaroor die hedendaagse sogenaamde Afrikaner twyfel. Dat Fouché wel moontlik iets oor laasgenoemde probeer sê, word geïmpliseer deur Renier se uitspraak aan Lena dat hy as gevolg van sy middelklas white guilt voel dat hy dit sal verdien om in ’n plakkershuisie of “’n tehuis” in te trek.

Veral die verband tussen die tehuisverhaal en die Verstevlei-verhaal hou die leser egter verward en aan’t interpreteer en herlees oor wát dit is wat die roman “beteken”. Ook die vreemde karakters en soms irrasionele, surrealistiese gebeure veroorsaak dat die leser Renier se vertwyfelinge deel en saam met hom Suid-Afrika, Suid-Afrikaners en hulself probeer lees, sodat die leeservaring intensief ontledend is, nes Die aanspraak van lewende wesens. Renier sê: “Wat ek hier weergegee het, is nie die waarheid nie. Dis ’n droom, of miskien ’n bietjie beter as ’n droom, in die sin dat dit nie binne minute ná wakkerword verdwyn nie. Dit kan met ander gedeel word.” Soos ’n droom nie geïnterpreteer kan word vir definitiewe antwoorde nie, maar jou tog uitlok tot verwondering en wonder, só is Renier se verhale.

Drome kan egter ook soms net vir die dromer self betekenisvol en interessant wees. Die moontlikheid dat dit miskien waar kan wees van dié boek, waarin (om ’n ander Winterbach-boek, Klaaglied vir Koos, aan te haal) daar voortdurend beweeg word tussen “temas van ’n breë en samehangende aard” en “nóú gepartikulariseerde tema[s]”, word geopper wanneer een van die regses vir Renier sê: “Jou visie moet nooit te persoonlik wees nie [...] Persoonlike visies is in werklikheid psigoses.”

Dit is dus miskien geen wonder dat Jaco Fouché se werk ’n beperkte gehoor het nie. Die vervreemdende leeservaring, die weerlose verteller en sy verskillende verhale wat by mekaar spook, herinner my aan die werk van my gunsteling Engelse skrywer, Kazuo Ishiguro. Soos sy werk affekteer Verstevlei my op onbeskryfbare maniere, maar dit is waarskynlik nie waar van alle lesers nie – soos Botha beweer, sal “sekere letterkundiges [...] hierdie boek uitmekaar kan trek en totaal verpulp met soliede argumente”. Tog sal hierdie selfde letterkundiges moet erken dat die boek ook ’n genotvolle skryfstyl het wat soms humoristies en deadpan is, en soms uiters poëties.

1 Soos Jaco Botha in sy resensie in Beeld bespreek, sluit die boek ook in ander opsigte by Leroux se werk aan.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top