Titel: Siobhán van die sirkus
Outeur: Jaco Fouché
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798167543
Koop Siobhán van die sirkus by Kalahari.com
Siobhán van die sirkus is Jaco Fouché se eerste jeugboek, alhoewel van sy vroeër romans, veral Ryk van die rawe (1996), ook tot jong volwassenes spreek. Siobhán van die sirkus het ’n heeltemal ander, meer hoopvolle, toon as Ryk van die rawe, en gaan oor ’n graad 11-meisie, Siobhán, wat vir ’n tien dae lange skoolvakansie na ’n sirkusskool-kamp naby Wellington gaan.
Aanvanklik het ek gedink die boek gaan oor, en is geskryf vir, ’n veel jonger tiener, dalk 13 of 14 jaar oud. Miskien is dit die groot druk en die font op die voorblad wat my hierdie indruk gegee het, en die feit dat Siobhán naïef en onskuldig is, soos wat sy haarself ook beskryf.
Nog ’n moontlike rede waarom ek gedink het die boek gaan oor ’n jonger tiener, is dat dit min of meer val in die Amerikaanse genre van “summer camp”-verhale, wat gewoonlik gaan oor kinders wat probeer om sin te maak van die oorgang na puberteit. Die naaste wat ons in Afrikaanse het, is seker die Uile se avonture van ouds, of die Maasdorpmeisies se koshuispret.
Met hierdie verwysings probeer ek nie impliseer dat Siobhán van die sirkus verouderd is nie (die voorblad desnieteenstaande), maar dat dit gebruik maak van die universele formule van tieners wat weg van hulle ouers (gewoonlik in ’n natuuromgewing) deur inisiasie-ervarings gaan en die eerste stappe neem na ’n onafhanklike volwasse lewe. Hierdie motief van ’n inisiasiereis beteken dat Siobhán van die sirkus nie soveel van Fouché se ander romans verskil as wat mens aanvanklik sou dink nie.
Soos reeds genoem, is Siobhán van die sirkus net veel meer positief as die res van Fouché se ouevre en aan die een kant is dit verblydend dat Fouché nie, soos vele ander Afrikaanse jeugromanskrywers, probeer om so donker moontlik te gaan en te veel hamer op “issues” nie. Ook Fouché se taalgebruik is onopgesmuk en probeer nie te hard nie (die haakplek van vele belowende jeugromans). Dit is miskien wel bietjie ongeloofwaardig dat twee verskillende tieners die woord “bliksem” gebruik – as dit net Siobhán was, kon mens dit dalk nog toeskryf aan ’n idiosinkratiese gewoonte.
Aan die ander kant kan ’n ligte toon ook gesien word as patroniserend – asof die skrywer dink dat tienerlesers nie te veel ontstel moet word nie. Die roman word egter gered deur Fouché se kenmerkende dubbelsinnigheid – heelwat gebeure in die roman word nooit volledig verklaar nie en dit word aan die leser oorgelaat om daarvan te maak wat hy of sy wil.
Soos die kampmotief is die verhaal van die kind wat weghardloop en by die sirkus aansluit, ’n ou een. Siobhán is veels te verantwoordelik om dit te doen, maar haar vakansiekamp het dieselfde effek: dit laat haar toe om onafhanklik te wees en plaas haar in ’n eskotiese omgewing wat heeltemal verskil van haar en haar ouers se middelklaslewe.
Fouché gebruik die sirkusomgewing om op ’n subtiele manier kwessies rondom identiteit, geslagsrolle, seksualiteit en verhoudings te verken. Soos Siobhán oor haar narklere sê: “As ’n mens vermom is, kan jy enigiets doen.” Wat Fouché se presiese boodskap rondom hierdie temas is, is nie duidelik nie. Ek beskou dit as ’n positiewe eienskap van die roman, omdat dit die werklikheid weerspieël. Volwassenes het nie noodwendig die antwoorde op hierdie kwessies nie, en dit is nie noodwendig by die volwasse kampleier, Klein-Piet, se lesse dat Siobhán die meeste leer nie, maar eerder by die goed waarmee hy self sukkel. Só probeer Fouché nie vanuit die posisie van volwasse skrywer antwoorde bied nie, maar beeld hy soos met sy ander romans op ’n genuanseerde manier karakters se soeke en reise uit en laat die interpretasiewerk aan die leser oor.