ATR vier 10 jaar: ’n Droom bewaarheid

  • 0

Die Afrikaanse Taalraad is op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington in die historiese Goodnowsaal gestig. Ter viering van die 10-jaar-mylpaal het die vorige direksievoorsitters, Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, sowel as die huidige voorsitter, Japie Gouws, boodskappe ter gelukwensing geskryf.

Michael le Cordeur, tweede voorsitter van die ATR

Dit was in Maart 2011 dat Breyten Breytenbach voorspel het dat Afrikaans binnekort sou uitsterf omdat dit nie meer dieselfde amptelike status as tevore geniet nie en veg om oorlewing by universiteite. Wannie Carstens, toe die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), en ek self, toe nog ondervoorsitter van die ATR, het egter ander planne gehad.

Ons was allermins bereid om boedel oor te gee. Met ons ywer en passie vir Afrikaans wou ons as twee goeie vriende die gevierde digter en voormalige politieke gevange verkeerd bewys.

Die struggle en apartheid    

In haar artikel beskryf die Beeld-joernalis Susan Cilliers (2011:3) my en Wannie Carstens se verskillende belewenisse van apartheid as volg:

Vir Michael het apartheid onder meer beteken dat sy klere in die struggle-jare letterlik in sy lyf in geslaan is, en sy ma dit uit die wonde moes trek. Prof Wannie Carstens se beperkte ervaring van apartheid was volgens homself dat hy weens Suid-Afrika se isolasie in die ‘70’s nie as akademikus na Nederland kon gaan nie. Carstens het in die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) grootgeword, grootliks onaangeraak deur segregasie, terwyl Le Cordeur as bruin jongeling in Wellington in die Wes-Kaap die lelikste momente daarvan beleef het.

Dié omstandigheidskontraste sou egter nie in die pad staan van twee vriende wat ’n diep liefde vir Afrikaans deel nie – ’n vuur wat in albei begin brand het danksy onderwysers soos Hennie Brand (in Suidwes) en Adam Small (in Wellington) wat die wonderlike wêreld van die Afrikaanse woord vir twee jong seuns oopgemaak het.

Carstens (in Cilliers 2011:3) onthou apartheid so: “Dit was ’n tyd van intense politieke woelinge. Die 1976-Soweto-opstand teen Afrikaanse onderrig het die persepsie oor Afrikaans as onderdrukkerstaal op die spits gedryf. Ironies genoeg het die UDF destyds ’n stem vir die massas geword – in Afrikaans.”

Dit was duidelik dat die Afrikaanssprekende gemeenskap nie so kon aangaan nie. Dit was Carstens en Le Cordeur se droom om die Afrikaanse gemeenskap te help versoen.

Hierdie besef en die legio Afrikaanse organisasies wat op hul “eie hopie koning gekraai het” (Cilliers 2011), was die motivering agter ’n gedagtegang wat veral sedert 2003 onder Carstens en ander taalliefhebbers begin posvat het.

Die twee mense wat as die mede-stigters van de ATR beskou kan word, Wannie Carstens (eerste voorsitter) en Michael le Cordeur (eerste ondervoorsitter en tweede voorsitter)

Aanloop tot die stigting

Die stigting van ’n taalbelangeraad is gefundeer op die Suid-Afrikaans Grondwet (1996) wat dit vir elke taal in die land moontlik maak om ’n taalbelangeraad vir elke taal te skep.

’n Historiese taalberaad is in Februarie 2007 in Pretoria gehou waar ek ’n pleidooi vir die stigting van ’n raad wat Afrikaanssprekendes kan verenig, gelewer het:               

Daar moet wyd gekonsulteer word om die raad inklusief en verteenwoordigend te maak.   Pogings moet veral aangewend word om ook Afrikaanssprekendes te betrek wat nie aan bestaande Afrikaanse organisasie behoort nie. Ons moet absoluut seker maak dat ons niemand uitsluit nie. (Le Cordeur 2007)

Die vergadering is opgevolg deur ’n byeenkoms op 14 April 2007 by die Universiteit Stellenbosch (US) onder die vaandel van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA), die voorloper van die latere ATR, en is deur verteenwoordigers uit ’n breë spektrum van die Afrikaanse taalgemeenskap bygewoon. Die hoofdoel van die byeenkoms was om ’n strategie te formuleer vir die totstandkoming van ’n inklusiewe taalbelangeraad. Die gesprek is deur die destydse rektor van die US, Russel Botman, geopen.

Wannie Carstens het veral drie redes aangevoer waarom ’n taalbelangeraad nodig was:

Eerstens maak wetgewing voorsiening vir die stigting van ’n taalraad wat as statutêre liggaam na die belange van Afrikaans sou omsien. Tweedens is daar die groeiende gevoel dat Afrikaans gemarginaliseer word. Die derde grootste rede is die voortsetting van die bemagtiging van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe deur die ontwikkeling van vaardighede deur Afrikaans. (Merton 2007:3)

Op my beurt het ek die inklusiwiteit van die voorgenome raad beklemtoon:

Die stigting van ’n Afrikaanse taalbelangeraad sal slegs bestaansreg hê as hy al die sprekers van Afrikaans kan bemagtig terwyl dit ook tot voordeel van Suid-Afrika se ander inheemse tale behoort te wees. (Merton 2007:3)

Die vergadering het eenparig besluit dat in beginsel die stigting van ’n taalbelangeraad in die vooruitsig gestel word. Carstens (in Merton 2007:3) het beklemtoon: “Dis nou die era van dinge DOEN vir Afrikaans.”        

Op sy beurt het die uwe (in Merton 2007:3) as volg gereageer: “Die tyd was nog nooit so ryp as juis nou nie.”

Die eerste bestuur onder leiding van Wannie Carstens

Die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR)

Op 4 Augustus 2007 is daar ná bykans vier jaar se gesprekke geoordeel dat die tyd aangebreek het om aansoek te doen vir die registrasie van ’n liggaam wat sou instaan vir die belange van Afrikaans ingevolge artikel 185 van die Grondwet. Die Taalraad het gevolglik aansoek gedoen om akkreditasie by die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe.

Die ATR het op Saterdag 24 Mei 2008 amptelik sy beslag gekry as ’n liggaam wat die Afrikaanse taalgemeenskap wou versoen en byeen wou bring. Dié geskiedkundige oomblik het afgespeel in die ewe historiese Goodnow-saal in my tuisdorp, Wellington. Altesaam drie gassprekers het by die geleentheid opgetree.

Henry Jeffreys, toe nog Die Burger se redakteur, het die historiese belang daarvan uitgelig dat bruin en wit leiers die visie gehad het om saam ’n tree vorentoe te gee in die belang van Afrikaans.

Die tweede gasspreker was Theuns Eloff, op daardie stadium die rektor en visekanselier van die Noordwes-Universiteit. In sy referaat getiteld “Sê sjibbolet” maan hy dat die pad vorentoe nie maklik gaan wees nie. Eenheid tussen wit Afrikaanstaliges was reeds moeilik, wat nog te meer tussen wit en bruin en swart sprekers.

Franklin Sonn, eertydse ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN) en deesdae ’n sakeman, was die derde gasspreker. Hy het daarop gewys dat Afrikaans in die toekoms ten beste slegs een taal tussen baie sal wees. Gevolglik pleit hy dat Afrikaanssprekendes hulle stem in die diversiteit eerder as net binne die Afrikaansgroepvorming moet laat hoor.

Die tweede bestuur onder leiding van Michael le Cordeur, saam met Adam Small by die eerste ATR Kokergeleentheid in die Paarl.

’n Droom bewaarheid

Uiteindelik, na ’n lang proses wat op 13 September 2003 begin het, het die breë Afrikaanse taalgemeenskap die voorgestelde Akte van Oprigting eenparig aanvaar.

Die byeenkoms is deur meer as 40 organisasies bygewoon – die grotes, die kleineres, van die noorde tot die suide. Die organisasies is verteenwoordig deur ongeveer 100 beraadgangers wat meer as 500 000 mense verteenwoordig het.

Wannie Carstens is as voorsitter verkies en ek is verkies tot ondervoorsitter met Jacques van der Elst as sekretaris en Danny Titus, uitvoerende direkteur van die Afrikaanse Taal-en Kultuurvereniging (ATKV), as die fondsbestuurder.

Die ander lede van die eerste direksie was Alana Bailey, Gerrit Brand, Francois Bredenkamp, Louise Combrinck, Hennie de Wet, Ria Olivier, Karel Prinsloo, Hendrik Theys, Piérre Theron en Christo van der Rheede.

Logo en leuse

Die kokerboom is as simbool vir die ATR se logo gekies omdat dit ’n toonbeeld van oorlewing is. Dit is ’n vaalgroen plant met heldergeel blomme wat floreer in ’n dorre landstreek al is daar min hoop op oorlewing. Die kokerboom versinnebeeld die onstuitbare groei, uitreiking en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans ten spyte van dikwels ongunstige omstandighede en die harde natuur van die politiek (ATR 2008:4).

 

Die ATR is gestig as “’n geregistreerde, niewinsgewende sambreelorganisasie wat Afrikaans wil bevorder deur met ander Afrikaanse organisasies saam te werk en projekte help. Dit wil die Afrikaanse taal en taalgebruikers bemagtig en beskerm.” Gevolglik het die eerste bestuur dit goedgedink om die volgende leuse vir die ATR te aanvaar:

         Bemagtig – bevorder – beskerm.

Kerneels Lourens (Beskerming van Afrikaans) en Adam Small (Bevordering van Afrikaans) en ontvang die eerste Kokertoekennings van die ATR.

Ton Vosloo ontvang 'n Kokertoekenning van die ATR vir Bemagtiging deur Afrikaans.

Bronnelys

Afrikaanse Taalraad (ATR). 2008. Bekendstellingsblad. http://www.afrikaansetaalraad.co.za.

—. 2009. Akte van Oprigting. http://www.afrikaansetaalraad.co.za.

Brand, Gerrit. 2008. Taalraad gestig in Wellington. Carstens tot voorsitter gekies. Die         Burger, 26 Mei, bl 4.

Carstens, Wannie. 2009. Eerste Jaarverslag van die Afrikaanse Taalraad, Pretoria. 26        Augustus.

Cilliers, Susan. 2011. Een van daardie WOW-oomblikke: Afrikaanse organisasies deel nou hul kennis. Beeld, 3 Januarie, bl 11.

Eloff, T. 2008. Sê sjibbolet. Referaat by die Stigting van die ATR te Wellington. 24 Mei.

Jeffries, Henry. 2016. In DF Malan se stoel. In Ons kom van vêr. Kaapstad: Naledi.

Le Cordeur, Michael. 2007. Inklusiewe taalliggaam benodig. Referaat by Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA). 16 Februarie. Pretoria.

Merton, Millicent. 2007. Afrikaanse Taalraad moet ook ander dien. Die Burger, 16 April, bl 3.

Michael le Cordeur is die voorsitter van die Departement Kurrikulumstudies van die Universiteit Stellenbosch.

Lees ook: 

ATR vier 10 jaar: Geluk liewe maatjie ... Die ATR is 10!

Wannie Carstens
Menings

"Die Afrikaanse gemeenskap durf nie die impak van die ATR se werk onderskat nie, omdat die ATR die ruimte help skep het (en dit nog verder verfyn) waarbinne ons ons Afrikaansheid in die land uitleef en ook waarbinne ons stappe gedoen het om nader aan mekaar as gemeenskap te beweeg."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR het haar kinderskoene ontgroei

Anne-Marie Beukes
Menings

"Dit is van groot belang dat die ATR in ons ontluikende demokrasie ’n opwekker van taalvitaliteit en -sinergie sal wees. Ons bydrae om ’n gesonde taalekologie vir Suid-Afrika te verseker is van kardinale belang."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR is uitstekend geposisioneer

Japie Gouws
Menings

"Die ATR is onvermoeid besig om Afrikaans as een van die belangrikste inheemse tale van Suid-Afrika te bemark."

 
Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening

Wannie Carstens
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

"In hierdie artikel kom die toekoms van Afrikaans ook ter sprake [...] vanuit [...] hoe die taal se toekoms verseker kan word deur die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hierby te betrek. In watter mate die Afrikaanse Taalraad (ATR) hierdie rol kan vervul, en die werk wat hierdie liggaam sedert 2003 gedoen het, word hier bespreek."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top