ATR vier 10 jaar: Die ATR het haar kinderskoene ontgroei

  • 0

Die Afrikaanse Taalraad is op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington in die historiese Goodnowsaal gestig. Ter viering van die 10-jaar-mylpaal het die vorige direksievoorsitters, Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, sowel as die huidige voorsitter, Japie Gouws, boodskappe ter gelukwensing geskryf.

Anne-Marie Beukes, derde voorsitter van die ATR 

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) bereik op 24 Mei met die viering van ons eerste dekade op die Suid-Afrikaanse taalakker ’n besonder belangrike mylpaal. Die beweging om, in die rosige gloed van ons jong demokrasie in die vroeë 2000’s, ’n nuwe taalliggaam vir Afrikaans te vestig, was in baie opsigte opwindend, en op die keper beskou, nogal dapper. Dit was indertyd duidelik dat ons diverse taalgemeenskap verenig moes word en dat ’n inklusiewe liggaam van Afrikaanse taalbelanghebbers ‘n rol sou kon speel om ’n vaste staning vir ons taal in die nuwe dagbreek te bewerkstellig.

Oor die loop van die afgelope dekade het die ATR sy voete moes vind en die akker daadwerklik begin bewerk. Daar is koppe bymekaar gesit en gestamp, daar is saam besin en gestry, gewik en geweeg oor hoe om ’n inklusiewe en lewenskragtige “tuiste in eie taal” in te rig, om Jaap Steyn se woorde te gebruik. ’n Tuiste vir die Afrikaanse taalgemeenskap moes ’n woning wees met verskillende kamers waarin ’n verskeidenheid huisbewoners in geborgenheid tereg kon kom.

Nou, aan die begin van die tweede dekade, het die ATR haar kinderskoene ontgroei en word toenemend aktief op voetsoolvlak betrokke. Daarby word daar nou, in erkenning van ons land se taalverskeidenheid, ook uitgereik na ander inheemse taalgroepe. Die energieke uitleef van Afrikaans se verbondenheid by ’n diverse taallandskap aan die suidelike punt van Afrika bring die moontlikheid van nuwe sinergie en taalkontak. En dít bied die hoop dat die vele oorgelewerde mites oor die aard en rol van Afrikaans en haar sprekers – waarvoor ons steeds gekortwiek word – oor ’n breë front konstruktief uitgedaag kan word.

Die vraag onstaan dan wat die uitwerking sou wees van sulke transformerende kragte op Afrikaans se rol in die onderwys en die ekonomie, om maar twee domeine te noem, en ook in Suid-Afrika se onverkwiklike taalpolitiek in die breë. In hierdie tye waarin ons leef, sal die verhouding tussen die staat en die burgery herskryf moet word ten einde ’n deelnemende demokrasie te vestig. In só ’n konteks sal die rol van die burgerlike samelewing en nieregeringsliggame soos die ATR al hoe belangriker word om ’n gees van deelnemende, aktiewe taalburgerskap in Suid-Afrika te laat posvat.

Ek is vol vertroue dat die ATR in die toekoms ’n beduidende rol gaan speel om Afrikaans haar regmatige plek in ons taallandskap te laat inneem. Ek glo dat ons daarin sal slaag om ’n “goedvoel”-idee oor Afrikaans in ons taalgemeenskap te vestig, ’n gevoel van welsyn ín en déúr Afrikaans. Daarby glo ek ook dat die ATR daarin sal slaag om groter kennis en begrip oor Afrikaans by ons medelandsburgers en ons owerhede te kweek. Dit is van groot belang dat die ATR in ons ontluikende demokrasie ’n opwekker van taalvitaliteit en -sinergie sal wees. Ons bydrae om ’n gesonde taalekologie vir Suid-Afrika te verseker is van kardinale belang.

Lees ook:

ATR vier 10 jaar: Geluk liewe maatjie ... Die ATR is 10!

Wannie Carstens
Menings

"Die Afrikaanse gemeenskap durf nie die impak van die ATR se werk onderskat nie, omdat die ATR die ruimte help skep het (en dit nog verder verfyn) waarbinne ons ons Afrikaansheid in die land uitleef en ook waarbinne ons stappe gedoen het om nader aan mekaar as gemeenskap te beweeg."

 
ATR vier 10 jaar: ’n Droom bewaarheid

Michael le Cordeur
Menings

"Die kokerboom versinnebeeld die onstuitbare groei, uitreiking en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans ten spyte van dikwels ongunstige omstandighede en die harde natuur van die politiek."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR is uitstekend geposisioneer

Japie Gouws
Menings

"Die ATR is onvermoeid besig om Afrikaans as een van die belangrikste inheemse tale van Suid-Afrika te bemark."

 
Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening

Wannie Carstens
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

"In hierdie artikel kom die toekoms van Afrikaans ook ter sprake [...] vanuit [...] hoe die taal se toekoms verseker kan word deur die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hierby te betrek. In watter mate die Afrikaanse Taalraad (ATR) hierdie rol kan vervul, en die werk wat hierdie liggaam sedert 2003 gedoen het, word hier bespreek."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top