ATR vier 10 jaar: Geluk liewe maatjie ... Die ATR is 10!

  • 1

Die Afrikaanse Taalraad is op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington in die historiese Goodnowsaal gestig. Ter viering van die 10-jaar-mylpaal het die vorige direksievoorsitters, Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, sowel as die huidige voorsitter, Japie Gouws, boodskappe ter gelukwensing geskryf.

Wannie Carstens, eerste voorsitter van die ATR

24 Mei 2018. Dit is een van daardie gedenkwaardige datums in die geskiedenis van Afrikaans. Dit wat as gevolg van hierdie datum tot stand gekom het, gee vir Afrikaans ruimte vir beweging vorentoe.

Ek verduidelik hier onder waarom ek so sê.

Ek het die voorreg gehad om betrokke te wees by die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad – as medestigter en as eerste voorsitter (2008–2011). Ek kyk daarom met vreugde en ’n groot mate van trots terug op die pad wat geloop is om hierdie liggaam gevestig te kry.

Die agtergrond

Afrikaans se verlede tel teen hom, of ons dit wil weet of nie. Die rede is heel eenvoudig: dit is voorgehou as ’n taal van hoofsaaklik wit sprekers terwyl die werklikheid anders was, want daar was nog altyd meer bruin sprekers van Afrikaans as wit sprekers. In hierdie proses het daar enorme verwydering ingetree tussen die wit en bruin en swart sprekers van Afrikaans, en die toepassing van die apartheidsbeleid – wat in ’n groot mate uitgevoer is in die monde van wit sprekers van Afrikaans – het hierin ’n groot rol gespeel. Laat dit duidelik gesê word.

Die kloof tussen die wit en bruin sprekers van Afrikaans was groot en die woede teenoor wit sprekers se betrokkenheid by negatiewe politieke gebeure was nog groter.

In die belang van Afrikaans en sy inklusiewe sprekersgemeenskap moes hierdie gaping op die een of ander manier oorbrug word. Maar hoe oorbrug ’n mens so ’n gaping, een wat aan die een kant gebou was op ’n kloof tussen gemeenskappe op grond van velkleur, maar aan die ander kant van mense wat dieselfde taal praat? Hoe kom ’n mens op die punt dat jy wantroue, woede, skaamte oor die verlede en die begeerte om nouer te skakel, versoen?

Die proses

In September 2003 het so ’n proses begin. Die FAK het toe in Pretoria ’n simposium aangebied met as tema “’n Groter voetspoor vir Afrikaans”. Oudjoernalis Annie Olivier het die konteks hiervoor geskep toe sy in ’n artikel in Beeld gevra het hoe Afrikaans meer inklusief kan wees. En ek en Christa van Louw het aansluitend hierby gewerk met die idee van ’n “nasionale strategie vir Afrikaans”.

Dit het ’n uiters belangrike proses aan die gang gesit (en dis die proses wat hier van kardinale belang is, omdat die produk sonder die proses van min waarde sou wees). Dit het naamlik gelei tot die FAK se simposium (georganiseer deur Hennie de Wet), die totstandkoming van ’n voortsettingskomitee (wat die gedagtes verder moes neem), die eerste nasionale Afrikaanse Taalberaad (Augustus 2004), die tweede nasionale Afrikaanse Taalberaad (2007), die Nasionale Forum vir Afrikaans (2005–2007), talle kleiner en ook groter gespreksbyeenkomste op verskeie plekke in die land, en uiteindelik tot die gedenkwaardige stigting van die Afrikaanse Taalraad op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington se beroemde Goodnow-saal op die Wellingtonkampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT).

Ons was gelukkig dat befondsers ook ons drome gedeel het en aan ons die middele (geld, lokale), gegee het om te kon aangaan met die proses: eers Rapport (dankie Tim du Plessis!), Solidariteit (dankie Flip Buys!) vir die beginfondse en daarna die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ATKV, FAK, Vriende van Afrikaans, Dameskring, en andere. Lokale van verskeie instansies (SA Akademie, FAK, Solidariteit, SBA, ATKV, Afrikaanse Taalmuseum, universiteite (Stellenbosch, Pretoria)) kon gratis benut word vir gesprekke, vergaderings, berade, simposiums. Dikwels is daar selfs vir die verversings betaal. Dankie! Toe het die Dagbreektrust ingekom en soveel deure oopgemaak sodat die ATR finansieel kon voortgaan (dankie Theuns Eloff!)

Nie net die proses om te praat was belangrik nie, maar veral dit waaroor gepraat is.

Ons het gepraat oor ons drome vir ’n inklusiewe Afrikaans, van ’n Afrikaans waaroor anders gedink sal word as in die verlede (as ’n taal waarin apartheid toegepas is), van ’n Afrikaans wat sy volle sprekersgemeenskap sou betrek by denke oor ons taal in die nuwe Suid-Afrika, van ’n Afrikaans wat sy volwaardige plek in die nuwe bedeling ná 1994 moes inneem.

Ons het ook gepraat – en by tye heel indringend, reguit, eerlik en opreg – oor hoe ons onderlinge wantroue kan afbreek, hoe ons nader aan mekaar as mense kan beweeg, hoe ons ons denke oor ons taal en ons sprekersgemeenskap kon verruim. En by tye was die gesprekke pynlik. Maar ons het veral gepraat oor hoe ons kan versoen. Want versoening in die kringe van Afrikaans was die hooftema op die tafel.

As sprekers van Afrikaans moes ons opnuut ontdek wat die volle gemeenskap deel, maar ons moes ook leer hoe om oor die gaping van die verlede te kom.  En dit was nie maklik nie. Aan die wit kant moes geleer word om te luister, harte oop te maak en te help om deel van die oplossing te wees, en aan bruin kant moes daar die kans kom om die pyn van die verlede te verwoord, ook oor die talle verlore kanse vir soveel mense.

Gesamentlik moes ons die strewe deel om te versoen: om reg te maak, maar ook om te vergewe en saam te werk in die belang van ons almal se hartstaal. Dit beteken nie dat vergeet word nie, maar dat ’n manier ontwikkel moes word om dit te hanteer. Ons moes Afrikaans dus transformeer van een toestand na ’n ander, na een waarin álmal in die Afrikaanse gemeenskap deel het. Dit was nie maklik nie, sal diegene kan getuig wat by die stigtingsproses betrokke was.

Die resultaat

Tien jaar later (2008–2018) is die ATR goed gevestig, en doen die ATR wonderlike werk op hierdie herstelpad van die Afrikaanse gemeenskap. Die ATR bemagtig steeds (daar is nog baie werk te doen om die volle Afrikaanse gemeenskap in die hoofstroom in te trek), bevorder (ons kan nie op ons louere rus nie) en beskerm steeds (Afrikaans kan nie aan ander se genade oorgelaat word nie).

Die werk hiermee is nog ver van klaar en ons moet die huidige bestuur van die ATR (en toekomstige besture) die nodige steun gee om hulle werk te kan doen. Die vorige besture wat die spit- en vestigingswerk gedoen het, in die besonder die eerste bestuur, verdien hier besondere vermelding. En dit is ook nie altyd maklik om samewerking te kry nie, want in die Afrikaanse taalgemeenskap wil elkeen mos graag “sy eie ding doen”.

In hierdie proses het soveel mense baie hard meegewerk, dikwels ten koste van gesinstyd, van die verwaarloos van loopbane, en dikwels ook op eie koste. Hierdie mense is die ware helde van Afrikaans, want vir hulle was die groot ideaal van ’n versoende Afrikaanse gemeenskap belangrik genoeg om hierdie opofferings te maak.

Die ATR se vestigingstyd is nou verby. Hierna volg die regte werk! Bemagtig, bevorder en beskerm het oneindig baie dimensies wat in die toekoms aandag moet kry, ook in die lig van die enorme (politieke?) druk op Afrikaans. Afrikaans loop gevaar om van sy funksies te verloor, en hierdie proses moet omgedraai word.

Die Afrikaanse gemeenskap durf nie die impak van die ATR se werk onderskat nie, omdat die ATR die ruimte help skep het (en dit nog verder verfyn) waarbinne ons ons Afrikaansheid in die land uitleef en ook waarbinne ons stappe gedoen het om nader aan mekaar as gemeenskap te beweeg.

Doe zo voort!

Geluk, ATR, met jou tiende verjaarsdag!

Lees ook:

ATR vier 10 jaar: ’n Droom bewaarheid

Michael le Cordeur
Menings

"Die kokerboom versinnebeeld die onstuitbare groei, uitreiking en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans ten spyte van dikwels ongunstige omstandighede en die harde natuur van die politiek."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR het haar kinderskoene ontgroei

Anne-Marie Beukes
Menings

"Dit is van groot belang dat die ATR in ons ontluikende demokrasie ’n opwekker van taalvitaliteit en -sinergie sal wees. Ons bydrae om ’n gesonde taalekologie vir Suid-Afrika te verseker is van kardinale belang."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR is uitstekend geposisioneer

Japie Gouws
Menings

"Die ATR is onvermoeid besig om Afrikaans as een van die belangrikste inheemse tale van Suid-Afrika te bemark."

 
Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening

Wannie Carstens
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

"In hierdie artikel kom die toekoms van Afrikaans ook ter sprake [...] vanuit [...] hoe die taal se toekoms verseker kan word deur die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hierby te betrek. In watter mate die Afrikaanse Taalraad (ATR) hierdie rol kan vervul, en die werk wat hierdie liggaam sedert 2003 gedoen het, word hier bespreek."

  • 1

Kommentaar

  • francois verster

    Afrikaans het ontwikkel en - tot dusver - oorleef weens hoofsaaklik die wil en die kreatiwiteit van leiersfigure binne die kulturele raamwerk daarvan. Hiervan getuig die ATR nogmaals, dog met 'n verbreding van die raamwerk, en dit is wonderlik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top