ATKV-Woordveertjies vir romanses en liefdesverhale

  • 0

In ’n tyd waar sosiale interaksie aan bande gelê is deur die Covid-19-pandemie, het boeke die ideale geselskap geword.

Ongeag ’n uitdagende jaar het die uitgewersbedryf daarin geslaag om puik boeke die lig te laat sien.

“Dit is vir die ATKV ’n voorreg om uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord te bekroon. Die voorafgaande kalenderjaar is een wat vir ewig in die geskiedenisboeke opgeteken sal word en ons glo dat die wenners van die ATKV-Woordveertjies bygedra het om ’n moeilike tyd meer draaglik te maak,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.

“Die Amerikaanse skrywer Jhumpa Lahiri sê ‘Boeke laat jou reis sonder dat jy voete hoef te beweeg’, en hoe waar was dit nie, veral in 2020.

“Die ATKV is dankbaar vir elke skrywer wat vir Afrikaanse lesers die geleentheid te gee om hul horisonne te verbreed al was dit net met reise op die rusbank. Baie geluk aan elke wenner.”

Die Prys vir Romanses is deur Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Amanda Claasens beoordeel met die wenner: Liefste rooikop – Elize Davies (Romanza).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor dié wenboek:

Wanneer Eldri in die maanlig deur ’n vreemdeling gesoen word, is dit alles behalwe die begin van ’n feëverhaal met ’n gelukkige einde. Die volgende oggend stort haar hele lewe inmekaar, alles te danke aan haar “prins” se speurwerk ná die korrupsie van haar ouers – iets waarvan sy glad nie bewus was nie. 

Eldri se selfstandige onafhanklikheid wat sy van kleins af moes aanleer, sorg dat sy weer ’n nuwe lewe kan begin – ’n lewe waarin hulle paaie weer kruis en die aanvanklik onwillige held en heldin leer om mekaar te vertrou.

Die emosionele spanningslyn word aangevul deur humoristiese insidente en interessante karakters. ’n Heerlike leeservaring.

Die kategorie vir Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Malene Breytenbach, Shireen Crotz en Ilse Salzwedel met die wenner: Kanaän – Sophia Kapp (LAPA Uitgewers).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor dié wenboek:

Kanaän is ’n meesterlike, puik nagevorste roman met lewensgetroue karakters wat diep in die leser se hart inkruip. Belangrike temas soos vergiffenis, vooroordeel, naasteliefde en oorlog met al sy wreedheid vorm die agtergrond van hierdie woordskildery, sonder om die liefdesverhaal te oordonder.  

Sophia Kapp se taalgebruik is bekoorlik, genuanseerd en poëties.Die tyd rondom die Tweede Wêreldoorlog en die lewe op ’n boereplaas is goed nagevors. Die gebeure in Europa het ’n direkte impak op wat op die plaas gebeur. Kapp het die omstandighede wat daardeur geskep is soomloos by haar verhaal ingewerk, sodat ’n mens begrip kan hê vir hoe die mense van daardie tyd dink en doen.

Die verhoudings tussen die mense van verskillende nasies met hulle konflikte, vooroordele en afkeure word uitstekend uitgebeeld. Kanaän is een van daardie boeke wat jy nie wou of kon neersit nie. Hierdie boek neem die leser in elke opsig op ’n reis van fisiese en emosionele oorwinning.

Lees ook:

Kanaän: ’n onderhoud met Sophia Kapp

"My karakters klim uit hulle stereotipes en word menslik"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top